Onderhoud met Koos Kombuis (Vandag wil ek my blou skoene dra)

Koos Kombuis gesels met René Bohnen

oor sy nuwe bundel ‘Vandag wil ek my blou skoene dra’

Koos, baie geluk met nog ‘n gedrukte digbundel en met ‘n onthoubare voorblad! Ons ken Crocs, hulle is soort van komies-ikonies. Van die skrywer-sanger Koos Kombuis het ons ook ‘n paar ikoniese frases (ek dink sommer vinnig aan boer in beton, ou tannies, bicycle sonder ‘n slot, huisie by die see, ek het ‘n vriendin) wat opgeneem is in gesprekstaal, sonder dat almal die bron daarvan ken. Ons weet ook Koos Kombuis se tong is stewig in sy kies en dat hy besig is met konstante ondermyning van die hele bestel. Spot, selfspot, ironie en parodie is vir jou bekende gereedskap. Hoe hanteer of bewerkstellig jy die verskillende gedaantes van komedie in jou gedigte? Werk jy byvoorbeeld hard om ‘n parodie te skryf, of gebeur dit maklik?

Dankie vir die mooi woorde! Ek moet erken, hierdie keer het dit maklik gekom. “Vandag wil ek my blou skoene dra” is inderdaad my eerste gedrukte bundel, uitgegee deur ‘n behoorlike uitgewer, in meer as twee dekades. Dis nie dat ek opgehou het gedigte skryf nie. Met die jare het ek aanvaar en begin glo dat ek waarskynlik nooit weer ‘n digbundel van myself in my hand sal vashou nie. Gedigte is soos aknee; dis iets waarmee baie mense hulleself in hul jeug besig hou voordat hulle tou opgooi of oorslaan na prosa. Die groepie gedigte in hierdie boek het ek net vir my eie plesier geskryf, en op die ingewing van die oomblik aan Naledi gepos, sonder om vir een oomblik te dink dat hulle dit sal aanvaar!

Hoe voel jy oor ikone?

Ek het self ikone gehad toe ek nog met aknee gesukkel het, so mens kan nie die rol wat hulle speel sonder meer afskiet nie. Maar ek moet erken dat die rol van “ikoon-wees” nie gemaklik aan my kleef nie. Dalk is ek, meer as ander digters, bevoorreg in die sin dat my lesers en gehoor dikwels fisies voor my sit wanneer ek opvoerings hou. Daar is egter ‘n ‘down-side’; heldeverering kan ongesond wees en ‘n mens laat vergeet wie jy regtig is. Ek dink hierdie bundel, hoe onvolmaak ook al, is ‘n blik op die persoon wie ek regtig is wanneer ek nie perform nie. Die regular “doos van Bellville-Oos” sonder sy masker.

In die lieflike “vier gebede by jaargetye in die boland”[1] tree jy kragtig met NP van Wyk Louw in gesprek en bied jy ‘n heel nuwe scenario aan, in hoogs persoonlike terme. Jy gebruik bekende skrywers soos Van wyk Louw, Uys Krige, Ingrid Jonker, Eugène Marais en Anton Goosen dikwels as interteks op hierdie manier (en teken apologie aan!). In jou bundel die tweede reën vind ons ‘n heerlike spel met rook en oker, rook en poker, ook ‘n roker – daar is ook ‘n afdeling tripwerk[2].  

Word jou gedigkeuses vir ‘n parodie en interteks bepaal deur ikoniese tekste, bekende liedjies (soos van die Briels),  persoonlike herinneringe; in watter mate hou jy die verwysingsraamwerk van die waarskynlike leser in gedagte? Ek veronderstel jy lanseer daardie gedigte van jou vanaf ‘n platform om doelbewuste funksionele redes – kan jy bietjie meer vertel, vir die nuuskierige leser? Is alles kommentaar? Of soms net binnegrappe?

Toe ek klein was en nog rond gekruip het in my doeke, het ek myself leer lees deur ou Dertiger-digbundels wat in my ouerhuis se boekrak was. Hulle was die enigste boeke wat ek kon bykom, want hulle was op die onderste rak. So het ek grootgeword op ‘n swaar dieet van Skoppensboer, Winternag en ander wroeginge. Ek dink die enigste twee gedigte uit daardie tyd wat ek werklik kon verstaan, was “Muskietejag” en “Met Dapper en Stapper”. Maar die beelde en taal het my bygebly. Later  was die F.A.K.-sangbundel ‘n groot invloed op my vroeë protes-liedjies. Dis waar, baie van hierdie kruisverwysings skiet my sommer vanself te binne, sonder dat ek altyd besef waar dit presies vandaan kom. Soos Obelix (van die Asterix-boeke) altyd sê: “I fell into the cauldron when I was a baby.” Die feit dat ek dikwels die aanhalings verander of parodieer, is waarskynlik ‘n poging om die oer-invloede vir myself te stroop van swaarmoedigheid, of om dit van toepassing te maak op die tye waarin ons nou leef. Paul Kruger was reg toe hy gesê het ons moet “haal uit die verlede en die goeie behou”. Of was dit Paulus?

Voordat ek die bundel lees, suggereer die titel en voorblad vir my gedigte wat bietjie hartseer en bietjie snaaks is. Bietjie see, bietjie hemel, bietjie gly op nat teëls. Vanaf Die Bar op De Aar waarvan die eerste gedig “Rapsodie in blou” is, verken jy die blou-begrip in verskillende vorme. (Ons vind in genoemde bundel ook “Sweet Paradise-blues” en “Saxofoon-blues”) Wat is hierdie blou skoene wat jy nou aantrek in die titelgedig op bladsy 21 van die nuwe bundel? Noodwendig vind verskuiwings en wendings deur die jare plaas. Nogtans: kan die leser in die nuwe bundel vintage Koos Kombuis verwag?

Ek kan dit nie help nie, ek is baie lief vir my blou Crocs. Hulle is skreeulelik, maar hulle is so gemaklik. Toe ek die eerste keer met daai skoene by die huis aankom, toe sê my vrou vir my: “Jy mag dit net nie dra as ons gaan uiteet nie.” Aanvanklik het ek dit net op die strand gedra. Toe begin ek shows doen met die skoene aan. En nou, ewe skielik, het dit my embleem geword, amper soos David Kramer se rooi vellies! Dis waar, die kleur “blou” speel ‘n deurlopende rol in baie van my werk – my volgende boek, ‘n jeugverhaal wat in September verskyn, het ook die woord “blou” in die titel – maar die kleur van hierdie skoene en hoe hulle hulleself pens en pootjies tot op my voorblad ingewurm het, is suiwer toeval. Of dalk nie? Dalk is hierdie kommen skoene juis die perfekte metafoor om te verduidelik wie ek nou is en wat vir my deesdae, op die ouderdom van 63, belangrik is?

vandag wil ek my blou skoene dra

vandag wil ek my blou skoene dra.

want vandag is ’n blou dag,

blou soos die half-

edelgesteente van die oggendlig,

blou soos saffiere.

blou.

.

vandag wil ek my blou hemp dra.

vandag wil ek blou

deur die lewe loop

soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,

gewigloos

en geurig.

blond en blou.

blosend, bronstig,

diepblou

soos die aand wat stadig aankom.

.

vandag wil ek vaar soos ’n skip

oor blou deinings,

wieg soos die meeue in die wind,

woel soos ballonne

wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,

soel en soepel en swewig en snoesig

soos die oggenddou,

soos die briewe

van my

aan jou.

.

soos die smarterige jare wat van my afval

ou bloedpleisters weg in die grou

van al my christelike gisters.

groet daardie dae,

want hulle is

vir altyd verby.

.

hulle is ingesluk.

verby is al die rou.

ja, hulle is ingesluk

vandag

.

en nou proe alles

soos die soene

van ’n waterdraer-vrou.

.

aquarius.

libido.

net blou.

.

so lief

is ek vandag

vir jou.

Jy het al gesê: “ In my hart wil ek egter steeds eerder skrywer as musikant wees”[3] en tog word sommige van jou digbundels beskryf as “songs  in ‘n boek”[4] en in die gedigte word die digkuns self gekritiseer en ondermyn. In hierdie postmodernistiese styl vervloei die grense tussen gedig en liriek natuurlik, en tog ervaar die leser sekere tekste pertinent meer gedig as liriek. Maak dit vir jou saak in watter genre jou teks val? Verskil jou benadering wanneer jy die een of die ander skryf? Waar lê groter bevrediging; is dit moontlik om te sê?

Dis waar dat poësie en lirieke dikwels vervloei – dit het ons al by die Dertigers geleer met hulle rym en ritme – maar tog is daar ‘n verskil. Ek glo nie ek sal meer as een of twee van hierdie gedigte toonset nie, en beplan glad nie om daardie toonsettings op te neem op ‘n album nie. Hulle is te kort om werklik liedjies te wees, en die ‘koortjie’ ontbreek! Ek dink dat dit vir my ‘n soort tuiskoms is om na twintig jaar weer gereken te word as digter, al is dit net vir paar weke! Poësie, was, soos dagga, my ‘gateway drug’ in die wêreld van die literatuur in. En, soos dagga, was dit nou my ‘gateway drug’ na buite. Dalk skryf ek nooit weer ‘n gedig nie. Ek sal beslis nooit weer dagga rook nie! Ek is okei. Hierdie laaste groepie gedigte vertel die storie van my nuutgevonde vryheid as gewone mens. In daardie sin is dit nogal privaat. My liedjies is “out there” vir almal om te herken en saam te sing; hierdie goed het as’t ware van onder my kopkussing uitgepeul tot op die bladsye van ‘n boek. Daar is hulle nou. Hulle moes uitkom, ek kon niks doen om hulle te keer nie.

Die huisie by die see is nou vol kitare. Telkens in hierdie bundel word verklaar dat dinge anders is, dat ‘n nuwe tyd aangebreek het, ‘n nuwe toestand betree is (byvoorbeeld “van vandag af is alles moontlik”, op bladsy 6, “ek lê nou anders” op bladsy 18 en “alles vergeel” op bladsy 23 – slegs enkele voorbeelde) Die gedig op bladsy 43 eindig met die woorde

net ek

net jy.

net.

andré.

 

Indien die leser weet dat die digter Koos Kombuis se doopnaam André is, vervaag die grense tussen persoon en persona, verlede en hede en word ‘n nuwe-ou identiteit geaktiveer. Beskou jy die gedig, die bundel, of die fase as ‘n tipe versoening? ‘n Volsirkel tydsverloop? Of voortsetting van die metafories-psigologiese huis wat jy tot aan die einde sal meubileer en herdefinieer? Of het hierdie leser in die strik van die spel getrap?

Dis vir my ‘n einde, maar, soos met ‘n sirkel is daar nooit ‘n einde nie, maar altyd nog ‘n begin. Ek weet dat ek in my lewe die afgelope paar jaar ‘n deurbraak beleef het. Dit het al begin met my geestelike album ”dertien”, al weier Radio Kansel nou nog om dit te speel. Ek het die afgelope paar jaar weer die geloof ontdek wat my geïnspireer het as tiener, maar ek beleef dit nou anders, sonder die aknee van vormgodsdiens.  Is ek ‘n Christen of nie? Wat de hel is ek? Dalk is ek ‘n gelowige ateïs! Wat het I.L. de Villiers destyds gesê? “As niks heilig is nie word alles heilig en die wind waai waar hy wil”. Ek is deesdae weer so gelukkig en vervuld soos wat ek gevoel het toe ek en my pel Etienne van Heerden in standard nege saam die wonder van die woord ontdek het in Breyten Breytenbach se vrye verse. Vir my was daar destyds ‘n konflik tussen kreatiwiteit en die kategismus. Dit was Calvyn se skuld. Die ou gode is, dank die hemel, nou dood en irrelevant, maar die waarheid leef voort. En niemand kan ons uit sy hand ruk nie. Of dalk moet ek sê “uit haar hand”, want wie weet, dalk is die Waarheid eintlik ‘n Vrou… soos Kytie?

huis vol kitare

.

eendag wil ek aftree

in ’n huis vol kitare

met ’n uitsig oor die see

waar die wind spoel

deur die snare

.

eendag wil ek koffie drink

op ’n veranda vol herfsblare

en deur ou digbundels blaai

terwyl ek ryp word

met die jare

.

eendag wil ek huis toe gaan

eendag

wil ek als verstaan

eendag

wil ek opstaan

uit my graf van woorde

en leë gebare

.

eendag wil ek wegkom

van die groot jillende

skare

.

eendag wil ek aftree

in ’n huis vol kitare

.

Dankie vir jou antwoorde, vir die bundel en veral dankie vir die feit dat Calvinia en Mordor in één versreêl, in één Afrikaanse gedig verskyn[5]. Inderdaad is alles van vandag af moontlik!

… En daar dog ek Mordor is net anderkant Calvinia!

***

[1] Vandag wil ek my blou skoene dra, Naledi, 2018  Bladsy 21.

[2] die tweede reën, Bittercomix 1998, Bladsy 57.

[3] . https://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/Koos-is-nie-meer-cool-nie-      20141121

[4] 4. Die Bar op De Aar, Tafelberg, 1988. Hoe “Die Bar” ontstaan het.

[5] Vandag wil ek my blou skoene dra, Naledi, 2018. Bladsy 47.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Koos Kombuis (Vandag wil ek my blou skoene dra)”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Geluk, Andre. Ek onthou nog, jy en ek en jou meisie van die tyd, hoe ons na die eerste “Die geel kafee” in ‘n kroeg kyk laataand in Claremont Kaapstad. Ek dink dit was proewe. Nog voor die bundel vrygestel is. Ek het dit daar op die plek deurgelees. En dis steeds iets wat vir my nooit sal vergeel nie. As ‘n soort agterbanker van Johannesburg so ver van die see, oftewel ‘n marsbanker van die lugspieelings, het ek amper vergeet ek ken jou, maar dis miskien net ‘n illusie. Mag hierdie bundel soveel genot saai in die blou-uur as daardie eerste een in die geel uur. Groete. Charl

  2. Ja dankie vir die mooi woorde Charl en die goeie herinneringe van laatnag gesprekke. Ek het nog nooit weer iemand ontmoet wat so baie groen tee kan drink soos jy nie!! Koos

  3. Elza Lorenz :

    Hierdie onderhoud was suiwer genot – van my eerste herinnering aan die man met die hoedjie op in Bakoven en die vreemde boekie deur Andre Letoit. Op ‘n keer het ek my vervies vir die sanger wat byna ‘n uur (gerook) opgedaag het vir sy show en toe onsmaaklike grappe vertel het. Die Crocs het egter my blou hart laat vermurwe. Voorspoed met die bundel en die hele boksemdaais.

  4. Charl-Pierre Naude :

    Nee, Koos, die tee was gewone bruin tee. Baie van, ja. Deesdae probeer ek na “groen” oorslaan. Ek voel al soos ‘n Tretsjikof-skildery. Gesondheid!

  5. Annora Eksteen :

    eendag wil ek wegkom

    van die groot jillende

    skare

    .

    eendag wil ek aftree

    in ’n huis vol kitare

    .
    Dit klink pragtig. Ek is ook lief vir my swart crocs (wys nie so gou vuil nie, al was ek hulle gereeld), en hulle stap te lekker – met sokkies, anders kom die sand tussen die tone. En die rustige aftreehuis vol kitare, [sjoe, ek het al van rooi, na swart na bruin na blou kitare gehad en nou enetjie wat my dogtertjie ‘n hele klein kunswerk op geverf het], fluite, kunstenaars se werke, klaviere, kleure, kwaste en blomme en blare is vir my ook baie aanloklik: asook geel Kamilletee. ‘n Musikant skryf altyd musikale verse. Dit is waarvan ek ook dikwels hou; van woorde wat gemaklik en maklik oor die tong rol soos klippies al kabbelend af in ‘n bergstroom, en tog geniet ek deesdae ook die ander tipe gedigte al meer en meer.
    Liewe Koos Kombuis: Wees gegroet met een van my rympies:
    .
    koerend wieg ‘n duif
    in ‘n nes aan ‘n tak in ‘n boom
    sy murmur van ‘n groen blaar
    ‘n hand op ‘n snaar
    lang vingers
    wat op die klawers baljaar
    dit word ‘n lied ‘n storie
    ‘n woordmusiekeffek
    so dierbaar
    vir my waar ek woon
    in Huis Herfsblaar nommer sewe
    op ou Oudtshoorn
    x

Los kommentaar