Breyten Breytenbach. (m)aanwesig: die saamnaat ‘n landelike berig

(m)aanwesig : die saamnaat ‘n landelike berig

vir Johnny Blom

« in search of brothers no longer alive

… I will speak to you, even if you’re dead »

– Pasolini

.

het ek jou vertel dat ek met jou wil dans ?

het ek jou meegedeel skrywe is

om stilte met die hand groot te maak

tot die weggooipit in vervulling kom

om ander betekenisse van voëls

en brommers en miere en vrot te verken ?

 

in die kuns van soeke na ritme en maat

moet jy jou lewe weggooi vir skaduwee

passies se volg en behoud :

sonder musiek

is elke skrywe

soos die lewe ‘n fout

 

het ek dit bekend kon maak

dat daar met wakkerword

‘n vlieënde skilpadjie op my vinger kom sit het ?

die lieweheersbesie verdwaal oor die laken

waad van ons woordeboek in dooie taal

duskant lietsjie en lieweling neffens gottabeentjie

 

se skryn wanneer pyn oorbly ook al dans

die hand nie meer haar tekens en selwe

omdat alles daarmee gesê sou wees ?

want sonder beweging

is ook die dood

soos die lewe ‘n fout

 

 

*

met skemeroggend se skuinsreën motte

kom verslind ‘n jakkals fyn-fyn sywaartsstap die perskes

van gister se wind uit die boom gewaai,

lig sy snoet na die hemel op soek

na ‘n blinde tekenweging van aanwesigheid

om te verdwyn soos ‘n deuntjie in die skaduwees

 

palmiet en struik wat die kuil  omsoom.

die een-saam goudvis rooi met banierstert

wit rimpelende vinne onder blaar

mymeringe op die oppervlak tussen wier

en waterblomme sal die saammaat droom

waarvan afskeid geneem moet word

 

o moenie glo die dood is alleen die eenmalige

sluis waar in- en uitsluiting gesleutel

in die sloot verroes tot water nie –

afsterwe is immers ‘n lewenstog

om aan die hand van sluimerdroomvaarte

oor te gaan na die land van beskrywing, die einde

 

en einderloosheid waar verloop

se uitlooptyd ritmies die maatsdans

sal wees vir die verslingerde rympiesmaker

wat met elke vastrap se koue rilling

‘n kors afbreeklewe weg laat kalwer

sodat afskeid weer en weer geneem mag word

*

 

het ek jou al vertel dat ek met jou wil dans

ook wanneer die afskeidsritueel makeer ?

nou skemersilhoeëte die aandskap vlek

wéét jy ook deursigtigheid is die skermskyn

behoefte om bloed te deel met die geboortelyn

van nie kerm om die besinning van bevraagtekens nie

 

soos die singende sinmaak van my pa

wanneer hy gehoed en –das berg-oor ry

om die uitboek se afskeidvaart saam te neem

vir sy sterwende broer in daardie voorkamer

langs die watersloot deur groentetuin en boord beskerm –

loekwart, koejawel, kweper, appelkoos –

en die hemel silwerblou babbelend in die stroom.

 

waarnatoe gaan die gesprek tog langs die bed ?

boodskappe vir oorkant en ‘n soengroet toevertrou

aan die verdonkerde vertrek wat ruik na kanfer

en gestrykte linne ? my oom se bril

het al die jare moes blink onder die bleek

 

voorkop beskadu deur die werkershoed se rand

en nou is dit vaal. tant Joey bring koffie

met doilies onder pierings op die etenstafel,

sy lê haar lippe aan niks en draai weg

om verwese die waas

doodgaanglans uit haar oë te vee

 

waarmee sal ons die oorgangsriel begelei ?

vry ? soos my ma en haar susters

uitvlug na Nagwag om nog één keer

musiek op te tower en eie skaduwees

te maak dans oor die werf

en bevry die donkerkom uit te lag ?

 

ons skaduwees van skrywe is stil

huisbediendes, skaapwagters wat geen afstand

onderskei tussen skaap en ster, verre gesante

met die glinsterende brokaat

van ou-ou woorde oor verslete klede

*

 

 

 

elke keer wanneer ek

‘n vars perske eet sommer met die hand

uit die pit gegroei

toe oorgeplant

om kamma boom te word

maar die vrug o so soet o so rooi

 

moet ek dink aan die verblindende

skittering van my pa se knipmeslem

waar hy met die goiingsak onthousels

agter die huis hurksit in die son

om die moere van die aartappels te skei

en die oë te skreef teen die muur

 

se witkaatsing. my viooltjie-ouma

is gister weggesluier sodat haar lyk

mag lewe in ons gedagtekuil.

my pa dra lanferband

om bo-arm en hoed

om die rou by te hou

*

het ek jou vertel dat ek met jou

op ‘n jakkalsdraffie die foxtrot en flamenco

en galoppie en tango en die keelklop vashou

van die konsertinahuil wil kotiljons

wanneer daglig die opstal soen vir die nag

om te mag verdwyn soos stilte

 

verskuil in die skaduwees ? elke keer

as troureën uitsak oor die land van beskrywing

omdat ek ‘n vars perske sou pluk

uit die tuin of optel in die gras

waar wespes en muise en maaiers

dit nog nie gestroop het van skyn

 

om niks oor oor te laat bly

vir jagter of jakkals of wildevark nie,

moet ek onthou hoe my pa

se sakmes se lem die wind sny,

vlees blootlê om die lewe

sigbaar te maak in skywe

 

offerhandskrywe

vir die verorbering van innigheid

en so die tong te versoen

met woordslyt. o neem

hiermee my vrug

uit die droom,

 

my aandgesig en my aangeepyn.

omring my met jou liefde

vir die dans,

vir wanneer ons

jakkalskaal nog één maal

afdaal in die poel stilte

 

 

en dat daar altyd

altyd perskes mag wees

rooi in die oggendwind

om die boom vir jou

bedelaarbruidegom se besoek

om te praat

 

 

25 Julie 2017, Can Ocells – 4 Augustus, Paname

 

[© Breyten Breytenbach]

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Breyten Breytenbach. (m)aanwesig: die saamnaat ‘n landelike berig”

  1. Breyten Breytenbach :

    Versindabiêrs,

    Ver in die wêreld – dis ons dese en ons gene – altyd ‘n oopmaakverlede en ‘n oopgaantoekoms wat veel verder strek as ons eie toegaan – word ‘n eerste kleindogter (Juffroutjie Naamloos) vir Marlise gebore… En tegelykertyd, nog verder, en in volle medewete en sonder dat die een van die ander weet, ‘n kleinseun vir Louis. ‘n Rabbyntjie. Mag hulle albei Rabi’s wees – én digters: net om nie te heilig te wees en hulself in al die twyfels van syn nie te ernstig te bejeën nie. En mag hulle tog, waar hulle ook groot en mooi en sterk gaan word, ook leer van die wakende en sardoniese donker oog, welwillend en beskermend, van hulle groot-oom Jan Rabie.

    Ons is saam met Marlise en Louis hartseer en verheugd. Hartseer omdat hierdie vreugdevolle aankomste in die verte moet wees, die verspreiding is ons voorland – maar bly omdat ons weet dat danksy julle hulle ook reeds die erfgenames en draers is van ‘n see en van wind en van berge en van ‘n soeke na regverdige en beskermende en respekvolle menswees.

    En ons wéét hoe besonder bevoorreg hierdie twee aankomelinge is om so ‘n ouma van ma-kant en so ‘n oupa van pa-kant te mag ‘erf’.

    Viva!

  2. Lewies & Meraai :

    Baie dankie Breyten! Ons is die bevoorregtes van verre ienkies-op-n-ry, en ook om jou (m)aanwesigheid op hierdie web-dam te geniet!

  3. Veels geluk ouma en oupa! Sulke kleinkindertjies is wonderlike wesentjies. Hulle bekyk die wêreld met splinternuwe oë. Mag hulle vir julle groot vreugde bring deur die jare.

  4. Annora Eksteen :

    hoe lieflik ~ om so iets moois op silfe-dag te lees

  5. Waldemar Gouws :

    Waar anders kan woorde nog so verbroeder – of “saamnaat,” en “saammaats” word – as in die konteks van hierdie gedig?

    En die oorspronklike landelike “jakkalskaal” (BB se voorlaaste strofe) hom beter distansieer van die geykte, metropolitaanse “poedelnaak”?

    Mag die “offerhandskrywe,” soos dié van Sophokles op sy 86 destyds, versterk bly.

  6. Annora Eksteen :

    maar ‘n jakkalsie het tog altyd sy pels, terwyl ons… ons is baie kaal, maar ons kan dans
    saamnaat laat dink my ook aan om iets saam te stik… soos twee lappe aanmekaar vaswerk… van Sophokles weet ek ongelukkig.. sopho… maar van sapho weet ek darem al

  7. Annora Eksteen :

    Verskoning: Sappho of dan Sapfo?

  8. Waldemar Gouws :

    (tussen hakies, Annora, die laaste jakkals wat vir my self gesê het hy’s ‘n jakkals se van was Versfeld)

  9. Annora Eksteen :

    die veld van verse.. en die jakkalsie se draf-draf.. hm.
    mooi Waldemar