Breyten Breytenbach. Vir die skryfmaat


vir die skryfmaat, Ene Nee-Een

« wéét jy waarom ons sterwe ?

   omdat ons léwe ! »

  • Jean d’Ormesson

 


liewe hand : jy moet nou basta

die dood so aanhou te wil tart

en koggeltérg met jou sywaartse skuifel

asof dit wat jy beskryf in knokke en skubbe

‘n lokbokkom sou kon wees

vir beweging in die diepte

van die mensdier gesoog in die waterlabirint

se skaduboggel                               by wyse van spreke

waar hoor en sien vergaan

 

jou skrywe is nog geen lint

na die onderwêreld nie :

ganôg es ganôg smartvraatsug, madoda

 

vir nou behoort jy jou te hou

by die taal se smal oewers :

ophou strepe en patrone trek

op die water                                    om dan

hoor en sien

tromp-op te daag om uit te haal

en te kom wys vir die meet

van matelose kragte                       asof

daar iewers ‘n beweging

in die dieptes kan luister

wat verlei sal word deur die vrot

hoender-hondevleis van jou hand as aas

 

wie is jy om so krokodillerig te wil snotter

dat jy genoeg genade kon skep

om die volmaan te laat baai in die gedig ?

 

die gesleep van vlerke in die stof

die bôjanerige pronk-pronk woordspronge

soos die sywaartse danspassies van ‘n vreeslose kryger

haantjie astrant

haantjie manhaftig

maak geen hond haaraf nie :

jou potsierlikheid beïndruk g’n dooie iemand

se uitgetrekte siel

ou maat, jy wiel vir niks

jy trap te hoog

jy krap te laag

 

daar is nie ‘n maan om jou te bevry

al ry jy die wind ook hoe boud-boud bloots

al huil jy snags uit volle bors

en besmeer die vergesogte verejas met slym en trane

 

jy kan nie weet van gefluisterde ritme

die offerlam word nie van spoor gedu

deur die snuf in die neus van visvieserigheid nie

jy kan nie beide wind én vlag

se gewapper wil vergestalt

kan nie die bruid by elke graf

en die doodsklok by iedere troue wil lui

vir die gesiene gehoor nie

 

hasta la vista, baby

vaya con dios, compadre

bon vent !

en moet in liefdesnaam nie omdraai

om ‘n hond in die bos te gooi nie

 

jy soek gemeenskap ?

probeer jou ‘n samelewing verbeel ?

dit sal in asemmerking geneem

die nodige aanddag geniet

om van die hand gewys te word

 

waarom so hans en so angstig ?

met al die jare van buk en begrawe

van die hand se dolhede

om die holle verlede weer oop te krap

behoort die letsels jou te help onthou :

die been het lankal versteen

dit maak geen sin

of kop of stert

om hangstig te wil wees

nou die nalaatsel as is

want dis nie nodig om enigiets aan te jaag

nie nou nie

 

sy wéét van jou

 

elke hond kry sy dag

en die vlugsoekende hand

hoe kaal dan ook

kry ‘n vuis se vers vol vere in die nag

indien jy gereed sou wees om te wag

tot jou beurt ryp genoeg is

vir die pluk

en die sluk

 

al jou woorde saamgebundel

is één miershoop se skarrelende bewussynskring

om die knetterende gekou van mondjiesmaat klei

te wil karwei                                    vir die voed

en behoed

van die blinde oer-koningin in haar doolhoftombe

en haar sing-sing aan die lewe se ombring te verraai

 

moenie dat die halsoorkop haas na spoed en betekening

jou besinning verdraai

soos ‘n doodgebore kind

wat aan die woordestring versmoor

nog bebloed om jou nek bly bengel

 

dis waarvan daar gesing word in die slawelosie :

dat jy nie ‘n vreemdeling in die paradys is

en die bekende vreemde sal kom om te skree of te kerm

wanneer haar beskermende ritme

in jou asemspasie pas

en jou hortende samehang

die wik-weeg beweging van vingers

te bang om afgelek te word

die mik-mik tot volvoering bring

 

die in en uitgangsholte smaak wit

soos die maan

wat groot geswel het in die water

se roering

dis nie myne nie

dis nie joune nie

 

wees geduldig :

leer skryf sywaarts : haal

diep asem

om tot die vreemd

bekende verhaal te kom

 

jy is haar lyfverslaafde

en sy die slavin van jou asemstilte :

want wanneer die tyd geskik en gerangskik

hier en daar is

sal sy kom op gedoekte voete

om die lyk van alle skyn onthef te laaf

en die gedig vers en pootjies en beendere

toe te wikkel

vir die weglê

in die inkbekladde waad van ontbinding

 

moet haar nie uit die oog verloor nie :

wat daarvan as sy aanbid wil word ?

sy is jy

jy is sy

van agter en van voor

van sien en van hoor

van binne en van buite

van twyfel en van toor

 

wanneer deur ruite van pyn

die brandglas in die maan

die sterreskuite in hulle hemelskynvaart

reflekteer en inspekteer in één introspeksie

 

ineengestrengel en verbind

aan één naelstring

kan niks julle onderkry

maak die niks julle bly

 

sien-sien julle kans om selfs die self

in skrywe se gang tot vernietiging

wanneer asem                              die eerste en laaste

teugtuig se naam is

te konfronteer : te hanteer, geliefde :

bly-bly te dans in die donker hart

weer en weer

keer op keer

op en neer

totdat die halssnoer woordstringkraaltjies van klei

die lig vang in ‘n wéérlewing

van bewende lewe

San Pedro de Alcantara

30 Desember 2017

 

[© Breyten Breytenbach]

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Vir die skryfmaat”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Mooi. Die labirint van innemende woorde.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Insuigende betekenisse hierbo. Die gevoel van insuigend laat my dink aan die onlangse beskrywing wat ek gelees het in die kulturele filosoof Hans Blumenberg se boek “Arbeit am Mythos”, waarin daar verwys word na Heinrich Heine se enigste ontmoeting met die stokoue Goethe. Heine het die ontmoeting aan sy broer beskryf. Heine se teenstrydige gevoelens jeens Goethe is ooglopend. Hy bewonder die ou man, maar beskryf hom as verskriklik onbeskof (geen bedekte verwysing na BB of sy gedig nie), en ja: hy wat Heine is het gevoel hy moet net daar weg sodat hy nie ingesuig (my verkorte omskrywing) word nie. Hy het Goethe nooit vergewe vir sy Goethe-skap nie. Ha ha : Die wyse waarop betekenisse, wat deur die ou man gevloei het na buite nie, eggos van betekenisse, die jonger man, so te se, aangerand laat voel het nie.

    Vandag, na soveel postmoderne filosofiese besinnings deur vele en allerlei, weet ons dat dit die aard van betekenis is om dit te doen. As dit behoorlik uitgedruk word.

Los kommentaar