Karen Kuhn. Die Winter Heks

Już wiosenne słonko wzbija się po niebie

W tej wezbranej rzece utopimy ciebie!

 

Soos die lenteson opkom in die lug van blou

in hierdie geswelde rivier verdrink ons jou!

(losweg vertaal)

Foto: Monika Akinom

Einde Maart se ekwinoks dui die koms van lente in die Noorde aan en dié jaar het ek saam met die Pole Topienie Marzanny (die verdrinking van Marzanna) gevier.

Marzanna is ‘n Baltiese en Slawiese godin wat geassosieer word met onder andere: dood, winter, wedergeboorte en drome, ook bekend as die Winter Heks. ‘n Jaarlikse ritueel om van winter afskeid te neem deur ‘n strooi pop aan die brand te steek en haar dan eindelik in ‘n rivier, meer of dam te gooi.

Hierdie winter in Pole was niks in vergelyking met 20 jaar terug nie, steeds het ons ‘n week van -15 grade gehad. Maar dis op die ou einde die grys wat die skoonheid en kompleksiteit vir myself meebring. Rede om lente te vier.

As Heidense godin, (Pagan), die naam “Mara” heel waarskynlik oorspronklik van Proto-Indo- Europese wortels, geleen van die ou Noorweegse mitologie as die demoon wat nagmerries veroorsaak. Bekend as “Mora” in Tsjeggië, Kroasië, Slowenië  en Serwië.

Foto: Monika Akinom

Maar ook belangrik binne die Heidense tradisie is die godin Marzanna nie net eensydig boos nie. In antieke tye is Marzanna aanvanklik in die omgewing van Kievan Rus as tuisteskepper, vir vrugbaarheid en oeste aanbid.

Die ritueel van Topienie Marzanny behels die maak van ‘n strooi pop geklee in wit linne of tradisionele drag met krale en linte versier. Die Marzanna pop is ook hier in Poznań deur die  strate geparadeer tot by die Warta rivier.

Foto: Monika Akinom

Daar is sy aan die brand gesteek en in die rivier gegooi en met die verdrink van Marzanna was daar  ook hier in Poznań simbolies afskeid van winter geneem. Bygelowe rondom die ritueel behels dat sodra Marzanna in die water is, mag niemand aan haar vat nie, jy mag ook nie omdraai en vir haar kyk nie, dit kan slegte oeste meebring en sou jy val op pad huis toe, gaan daar siektes uitbreek.

Die Katolieke Kerk se sinode hier in Poznań het reeds in 1420 die opdrag gegee dat die Heidense ritueel nie toegelaat sal word nie, maar helaas 600 jaar later duur die tradisie voort. Nie net in Pole nie, maar ook in ander Slawiese lande. Interessant genoeg skryf J.C Kannemeyer in sy boek oor die digter  Peter Blum dat sy een ouma waarskynlik van Kroasië was. Hierdie ouma se naam was Draga Tereza Rogošic. As kind het Blum dalk met sowel ’n paar van die Oos-Europese Slawiese tale, as rituele kennis gemaak.

Foto: Luiza Stosik-Turek

Oor neem

 

As haar kaak deur klip

kraak en ‘n engel raak

sy haar oor laat

val deur haar tong

sny en stilte stol

sy haar oor laat

en Sy oorneem

seer agter sit

nou innie middel

en Sy van voor

ba-la soos ab-ra

oorleun en uiterstes

in pole toor

laat sy haar oor

heks word.

Fok, die wyf

is dít in liefde.

Foto: Luiza Stosik-Turek

Bronne

Kannemeyer, JC. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes en ’n naspel. Kaapstad: Tafelberg.

Kannemeyer, JC (red). 2008. Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel & See Boeke.

https://www.britannica.com/topic/Slavic-religion [1 April ‘18]

https://www.interesly.com/march-21-drowning-marzanna/ [1 April ‘18]

https://www.thespruce.com/the-drowning-of-marzanna-holiday-1136558 [1 April ‘18]

http://www.tuitam.net/ [1 April ‘18]

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Karen Kuhn. Die Winter Heks”

  1. Annora Eksteen :

    Gooi! So ‘n blerrie heks ! Shaais, en ek kon nie eers dat my kids help slaan aan die pop van die Suid-Amerikaanse tradisie toe ons in Massachussets die mere en wonderlike speelparke verken het nie. Mar nou sal ek dalk kan toekyk na die strooipop verbranding. Self haar aan die brand steek. o jimmel.. nee my swak hart. arme. pop.