Resensie: “Openbare domein” (Daniel Hugo)

 

Resensie: [O]penbare domein deur Daniel Hugo.

(Naledi, 2018, ISBN: 978-1-928426-07-3, Formaat: Sagteband, 103pp.)

 

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

Die titel van hierdie sestiende eie digbundel van Daniel Hugo – hy is ook bekend weens sy bloemlees- en vertaalwerk – is een wat ’n mens opnuut laat nadink oor sy digterskap.

Die omslagfoto van die bundel, geneem deur Hugo se eggenote Marlene Malan, toon ’n oopstaande bodeur waardeur ’n vroegson na binne hul huis op Prins Albert skyn. Tesame met die bundelmotto en die bundelagterplatgedig (laasgenoemde deur Hugo geskryf na aanleiding van Malan se foto), word ’n leidraad gebied na, of dan ’n deur geopen op, ’n spanning wat Hugo se poësiebeskouings en -praktyk wesenlik kenmerk.

Dit is juis sprekend van dié poëtikale spanning dat die twee genoemde gedigte wedersyds ietwat ironiserend ten opsigte van mekaar staan wat tematiese strekking betref. Die bundelmotto is opgedra aan Hugo se eggenote:

        Vir Marlene

alles wat rym, gee ek prys

aan die openbare domein:

die ongerymde vers bly

versweë – dit is ons geheim[.]

“Voordeur” is die opskrif van die agterplatgedig. Dit  lui:

die dag dring die kamer binne

met klank en kleur, met geur en lig

die woordventer kom tot sinne

begin stamel aan ’n gedig

die teks het sy eie drumpel

waaroor woorde versigtig tree:

wat binnerym sag laat rimpel

word in die buitelug geskree[.]

Hugo het al meer as een maal getuig dat hy die digterlike verwoording (die talig-stilistiese en verstegniese bewerking) van onderwerpe wat hoofsaaklik aan persoonlike belewenisse ontspring, as ’n proses en selfs voorwaarde sien om sulke materiaal te omskep tot iets wat ’n meer algemeen-menslike waarde (kan) besit. Dis uit sy vakmanskap dat die digter se (skamele) openbare aansien en invloed spruit, luidens ’n gedig soos “Gilde”; nie uit geopperde heftige gevoelens en groot gedagtes nie. Vandaar dat Hugo sy oorlede digter-vriend Gerrit Komrij, na aanleiding van skandalige belewenisse in die werklikheid, die volgende “Trooswoord” te bied het:

“Nee, wij hebben geen goed indruk gemaakt,”

sê die beroemde digter van Nederland.

Hy is deur ’n dronk vent, sy lewensmaat,

een nag op straat gedug aangerand.

Van die houe lyk sy lyf soos kladpapier.

Die liefde is soms ’n morsige keuse

wat ’n mens manhaftig moet verduur

ter wille van ’n onmisbare muse.

Bloedbroer, toemaar, dit is tog welbekend:

die verskuns – soos die lewe – vereis konflik.

Die enigste goeie indruk wat ons moet maak

gebeur nugter in gestolde drukkersink.

Eweneens ironieserwys word die ruimte van die gedig dan ’n eiesoortige private ruimte, ’n domein vry van die aansprake van die openbare – maar van waaruit min of meer profeties-krities met juis die openbare omgegaan kan word.

Vers-set

Vir Breyten Breytenbach

van voortye reeds weet hul dit

die setlaar en die soldaat:

wat jy beset sal jy besit

dit word ’n stat ’n staat

ná die stigter volg die digter

wat hom verset teen die wet,

die prediker en patronaat:

op versvoete vat hy die pad

oor grense heen – ál ketting

wat hy erken is die rym

wat rinkel, ál reël dié van

die vers in sy vry domein[.]

In sy vroeë bundels, soos in Breekware vir die revolusie van 1984, was Hugo se maatskaplik-politieke betrokkenheid opvallend. Algaande het dit meer op die agtergrond begin staan in sy verkuns, eerder uiting gevind in ’n blywende besorgheid oor die lot van Afrikaans of oor die impak van die mens se doen en late op die natuur.

Hy skryf ’n soort digkuns wat meteen as “digterlik” herkenbaar is, maar toeganklik bly. Hy is ’n klankgedrewe en -gerigte digter; die gedig is vir hom in hoofsaak ’n klankkonstruksie, vertel hy in die onderhoud oor openbare domein elders op hierdie selfde webblad. Ten spyte daarvan dat hy meer as een maal in die bundel met homself as “rymer” die spot dryf, kan hy ook ietwat gunstiger oor die aangevoelde resultate daarvan in ’n gedig soos die volgende getuig:

Die gerymde

vir altyd sal ek jou vurig liefhê

dit bly makliker gedoen as gesê

want woorde het net soos metaal gewig

en moet prut in die kroes van ’n gedig

’n fyn ketting kan ek dan vir ons twee

met klingelende skakels silwersmee

hulle kunstigheid sal ons broos omsluit

en die barbaarse tyd kortstondig stuit[.]

Die taal- en interteksspel en die dikwels spitsvondige beeldingsvernuf vonkel egter ewe helder as die klankkomposisie in Hugo se digwerk. Raaksê is die strewe – om die wat en hoe van die sê as ’t ware te laat voeg soos in uitnemende skrynwerk. Dáárop eers is iets van die dinge en die menslike belewenisse en aanvoelings stewig staan te maak, is die private met groter geldigheid in die openbare domein te plaas. Nie om dowe neute nie is die taal, die poësie self en digterskap durende motiewe in sy oeuvre.

Dis op grond van sodanige digterlike ervaring dat Hugo genoop kan voel om ’n “Leestekenles vir beginners” te waag:

mag jy lewe sonder beletsel

of vreesbevange pouse

(dubbelpunt)

die oomblik as jy gaan staan om uit te rus

(komma)

om na te dink oor jou lewe

(aandagstreep)

haal die dood jou in

(punt)

en wat dan vir ons wag …

(oor daardie finale beletsel

sal ons punteneurig bly verskil)[.]

Met onblusbare humorsin en sanerende selfspot en –ironisering pak Hugo sy digterstaak aan, al steek daar erns in die sake ter sprake. Hy dwing hom as ’t ware om realisties (beskeie) in sy selfinskatting te bly. Soos volg, byvoorbeeld (beeldspraak ontleen aan die boukuns-vakmanskap duik herhaaldelik op waar dit oor digterskap in die bundel gaan):

Studeerkamer

dis die plek waar ek my daagliks wegmoffel

my eie ruimte met ’n uitsig op die straat

hier kan ek my pen hanteer soos ’n troffel

ek maak dagha aan vir my lugkastele

met hope dor gedagtes, emmers emosie

en taalsement in afgemete dele

op die sypaadjie lê baksteenrommel

tussen die draadsteiers van my snippermandjie

groei die groot odes aan, diggefrommel[.]

Naas geboeidheid met die taal- en verskunsvernuf, put die leser dus veel wat innemend onderhoudend is in Hugo se verse. [O]penbare domein bevestig en versterk wat ’n mens van Hugo se oeuvre leer verwag het. Temas kenmerkend geword van sy digkuns, staan weer in die kalklig. Hiervan getuig al die groepering van die gedigte in vier afdelings wat, breedweg gesien (en telkens aangedui in kort mottogedigte), handel oor I) ’n (nuwe) tydelik-aardse verblyfplek (Prins Albert in die Groot Karoo), II) die (nooit volprese) liefde, III) digterskap en digterlike kreatiwiteit (wat digterhuldigings en –satirserings insluit) en IV) ’n (meermaals religieus getinte) nietigheidsbesef. Die genoemde temas word uiteraard nie geskeie van mekaar gehanteer nie; iets van die vervlegtheid in die aanbod daarvan blyk al uit die titelloosheid van die bundelafdelings.

Temas wat openbare domein wel betreklik onderskei van Hugo se vorige bundels, is die prominensie daarin van die Karoolandskap (waar hy en sy vrou hul meer blywend bevind sedert die verskyning van sy vorige bundel, Takelwerk); die swartgalligheid oor Afrikaans en sy hoër funksies in die toekoms, meer uitgesproke as ooit; laastens, in veral die slotafdeling, ’n ietwat opvallender verwoording van spirituele gewaarwordings (naas grinterig uitgesproke twyfel oor godsdienstigheid).

Van laasgenoemde is die volgende gedig ’n sprekende voorbeeld:

Ikoon van die uil

Waarom duik God so dikwels

in jou gedigte op soos ’n uil

op die nok van ’n plakkershut?

Hy sit dag en nag daar soos

(rug aan rug) twee vraagtekens

en hou jou woorde dop.

Waarom Hom duld in jou kop?

Ek kan die plakkershut verklaar:

tentmakers Paulus en Omar

het lank gelede reeds geweet

die mens is maar net ’n bywoner

en nomade op hierdie aarde.

En aangaande die ewige uil:

die vraagtekens sê dit al.

By die geboeide, genoeglike lees van openbare domein het ’n vraagstuk my bly kwel. Dit betref die klaarblyklike voorrangplekke wat nuutmaking/vernuwing en (hermetiese) digtheid in literêr-estetiese en -kritiese oorwegings geniet, sy dit op tematiese, stilistiese of vormlike vlak (of kombinasies daarvan) – soos dit byvoorbeeld in prystoekennings binne die Afrikaanse literêre wêreld uiting vind. Steek die inkrementele bekragtiging van ’n skrywerskapbeeld, in bundel op bundel, noodwendig af by publikasies waardeur ander digterskappe op kennelik (en doelbewus) vernuwende koerse geplaas word? Is verfyning en nuansering van ’n vertroude blik en aanpak wesenlik minderwaardig aan ’n heruitvinding of -ontwerp van mededingers s’n?

Hugo hekel in openbare domein – én in byvoorbeeld Takelwerk – nie om dowe neute die kleed van profeetskap (of geesteseienaarskap) wat hy in ’n gedig soos die hierbo aangehaalde “Vers-set” die digter, dus ook homself, wil omhang nie. “[P]rofete teel aan soos vlieë,” skryf hy in “Stoepsermoen IV”, daar waar hy uitkyk op die vetplanttuin voor sy dorpshuis in die Groot Karoo:

[…] die groot probleem is

as jy een doodslaan, bring dit allesbehalwe rus

oftewel: slaan jy een profeet op sy bek

kom daar tien met taaier idees in sy plek

[…]

ek swyg: as rym jou gedagtes begin skik

raak jy in ’n spekboomlabirint verstrik[.]

Hugo gaan trouens satiries om met die opvatting van kunstenaarsoorspronklikheid, onder andere vanweë sy eie religieus getinte verwondering oor die grootsheid van die kosmos en alles daarin. Die kunstenaar kan hoogstens ’n “skepper op klein skaal” (bladsy 13) wees; ’n ná-skepper, indien nie blote na-aper nie. Menslike oorspronklikheid en kreatiwiteit behels, in heelalverband gesien, per definisie iets kunsmatigs, iets afgeleids, iets onwesenliks. Die slotgedig in die bundel is een van meer waarin Hugo hom in dier voege uitlaat.

Dekonstruksie  

die digter filosofeer:

trek ’n streep deur stilte

dan het jy woorde

trek ’n streep deur nag

dan is dit dag

trek ’n streep deur dood

dan is daar lewe

trek ’n streep deur streep

om die kansellasie te kanselleer

en daar is nag, dood en stilte weer

trek ’n streep deur digter[.]

Met openbare domein kom staan Daniel Hugo poësieliefhebbers opnuut, met onmiskenbare sprankel, as ’n toonaangewende Afrikaanse digter voor die oog. Hierdeur is kwalik ’n streep te trek.

 

(c) Bernard Odendaal / April 2018

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: “Openbare domein” (Daniel Hugo)”

  1. Bernard, ek deel jou kommer oor die klem wat op vernuwing geplaas word wanneer literêre pryse toegeken word. Is sodanige “vernuwende” gedigte inderdaad op poëtiese en verstegniese vlak altyd beter as dié van digters wat hulle werk – soos Hugo – in bundel na bundel verfyn en afwerk? Ek beskou sulke digters as vakmanne wat – soos meesterskrynwerkers – iets maak wat deur geslagte na hulle gekoester word.

Los kommentaar