De Waal Venter. Die eerste digter was ‘n vrou

 

                                                   ‘n Voorstelling van Enheduanna

Die eerste digter was ’n vrou

Ongeveer 2 300 v.C is ’n dogter van koning Sargon van Akkadië gebore. Die koning het haar as jong vrou aangestel as ’n priesteres van die maan en sy het die naam Enheduanna gekry. Hierdie vrou het gedigte geskryf in die spykerskrif wat destyds gebruik is. Van die kleitablette met haar gedigte het deur die eeue behoue gebly. Enheduanna is die eerste digter wie se naam aan ons bekend is en so verdien sy dan die titel van die “Eerste Digter”.

Enheduanna se gedigte het hoofsaaklik oor haar persoonlike geskiedenis gehandel. Haar kosmiese visie en standpunte oor moraliteit in haar gedigte herinner aan die Bybelse Jesaja. Sy het talle gedigte geskryf waarin sy die Sumeriese godin van liefde, Inanna, aanspreek. Sy praat met ’n godheid wat afgekom het aarde toe as ’n bondgenoot en ’n vriendin wat haar in haar nood gehelp het.

Die sensualiteit, verrassende metafore en intimiteit in die gedigte laat mens dink aan die Griekse digteres, Sappho, se gedigte wat sy gerig het aan haar bondgenoot, Aphrodite.

Die gedigte wat volg, het ek verwerk uit die Engelse weergawes van Aliki en Willis Barnstone.

Inanna en Ninshuhur

Inanna en die goddelike wesenlikhede

Vrou van al die wesenlikhede, volle lig,

goeie vrou geklee in helderheid

bemin deur die hemel en aarde,

tempelvriendin van An,

u dra wonderlike versierings,

u begeer die tiara van die hoëpriesteres

in wie se hand die sewe wesenlikhede lê.

O my meesteres, bewaker van al die groot wesenlikhede,

u het hulle gevat

in u hand.

U het die heilige wesenlikhede bymekaargevat en styf

op u borste gedra.

Engelse titel: Inanna and the Divine Essences

Inanna en An

Soos ’n ondier het u die land gevul

met gif.

U brul soos donder oor die aarde,

bome en plante vee u weg voor u.

U is ’n vloedgolf wat stort uit ’n berg,

o hoogste wese,

maangodin Inanna van die hemel en die aarde!

U vuur vlam uit en kom oor ons volk.

Vrou wat ry op ’n wilde dier,

An skenk u vermoëns, heilige opdragte,

en u besluit.

U is in al ons belangrike rites.

Wie kan u verstaan?

Inanna en Enlil

Storms gee u vlerke, verwoester van lande.

Bemin deur Enlil, vlieg u oor ons volk.

U voer die dekrete van An uit.

O my meesteres, heuwels en vlaktes buig

wanneer hulle u klank hoor.

Wanneer ons voor u kom,

beangs, bewend in u stormagtige helder lig,

ontvang ons geregtigheid.

Ons sing, treur en huil voor u

en loop nader aan u op ’n pad

vanaf die huis van geweldige sugte.

Egipties

Naamlose hiërogliewe-tekste

Daar was ook ander vroue-digters in antieke tye in ander wêrelddele. Egiptiese liefdesgedigte (ca. 1 500 v.C.) klink merkwaardig persoonlik, intiem en modern, selfs in die letterlike vertalings uit die hiërogliewe-tekste. Poësie deur vroue van die Midde-Ooste van daardie tydperk kom hoofsaaklik uit Egipte. Baie van die lirieke herinner aan die Shir Hashirim, die Bybelse Hooglied van Salomo.

Vreugdevolle lied

O blomme van Mekhmekh, skenk ons vrede!

Vir julle sal ek doen wat my hart sê.

Wanneer jy my omhels

is die lig wat uit jou skyn so helder

dat my oë salf moet kry.

Ek is seker jy is lief vir my,

ek lê snoesig langs jou.

My hart is seker dat van alle mans

jy die beste een is vir my.

Die hele wêreld is glansend.

Ek wens ons kan aanhou by mekaar slaap,

soos nou, tot die einde van die tyd.

Ek het hierdie gedig verwerk uit die Engelse weergawes van Ezra Pound en Noel Stock

‘n Voorstelling van Sappho deur William Adolphe

Grieks

Sappho

Sappho is op die eiland Lesbos gebore in die 7e of 6e eeu v.C. Sy het getrou en het een dogter gehad wat sy Kleis gedoop het. Sy het verskeie van haar gedigte aan hierdie dogter toegewy.

Sy het liefdesgedigte aan verskeie vriendinne geskryf. Plato het van haar gesê: “Mense praat van nege Muse – maar tel weer. Die tiende een is Sappho van Lesbos.” As gevolg hiervan het dit mode geword om ’n besonderse vrouedigter die “Tiende Muse” te noem. Hierdie titel is al toegeken aan Sor Juana Inés de la Cruz, Louise Labé, Alfonsina Storni, Gabriela Mistral en ander.

Sappho word beskou as die belangrikste liriese digter van die Westerse oudheid. Catullus, die Romeinse digter, het haar styl nageboots en sy belangrikste liefdesgedigte aan Lesbia gerig.  Baie van die Griekse en Latynse digters van daardie tyd kon Sappho se hele kanon uit hulle geheues voordra.

Haar werk het bly voortbestaan tot die jaar 1 000 n.C. Maar toe het die Rooms Katolieke kerk alles wat hulle van haar in die hande kon kry, vernietig. In 1073 is haar werk in die openbaar verbrand in Rome en Konstantinopel in opdrag van Pous Gregorius VIII.

Die meeste van Sappho se oorgeblewe werk is fragmentaries. Dit is opgeteken in verweerde papirus hoofsaaklik ontdek in Crocodilopolis in Egipte, of in aanhalings deur skrywers uit die antieke tyd. Daar is een gedig wat as geheel behoue gebly het. Dit is “Gebed aan Aphrodite” in ’n boek van Dionysius van Halicarnassus met die titel “Literêre Komposisie”. Nog ’n beroemde gedig van haar, “Vir my is hy soos ’n god”, is deur die eeue vertaal deur digters van Catullus tot William Carlos Williams.

Willis Barnstone het baie van Sappho se gedigte in Engels vertaal. Die gedigte hieronder het ek uit Engels in Afrikaans verwerk. Die gedigte het nie titels nie.

My moeder het altyd gesê

dat sy in haar jeug

hoog in die mode was

sy het ’n purper lint

in haar hare gedraai. Maar die meisie

wie se hare meer glansend geel is

as fakkellig het nie nodig

om gekleurde linte uit Sardis te dra nie –

maar ’n krans van vars blomme.

My liewe Atthis, alhoewel ons geliefde Anaktoria

is die verre Sardis woon,

dink sy voortdurend aan ons, en

van ons lewe saam in die dae toe sy

jou gesien het as ’n wonderlike godin,

en jou sang haar diep vreugde gegee het.

Nou is sy glansend tussen die Lidiese vroue

soos wanneer die rooi vinger van die maan

opstyg ná sonsondergang, en die sterre

rondom haar uitwis, en lig ewematig uitgiet

oor die sout see

en oor blombegroeiede velde;

en skitterende dou sprei oor die aarde om rose

te laat blom en ook die tingerige tiemie

en soet-geurende heuninglotus.

Nou terwyl ons liefling rondstap dink sy aan

ons beminde Atthis se liefde,

en verlange gryp diep in haar bors.

Sy roep hard uit na ons om te kom! Ons hoor,

want die nag se vele tonge

dra haar roep oor die see.

Op jou glansryke troon, Aphrodite,

listige dogter van Zeus,

ek smeek jou: moet my nie verpletter

met droefheid nie

maar kom na my – soos jy altyd

my daar ver hoor roep het, en toegegee het,

en weggeglip het

uit jou vader se huis

om die voëls voor jou

goue strydwa in te span, en na my te kom.

Sierlike swane het jou

vinnig afgevlieg donker aarde toe,

hulle vlerke swiepend deur die middelruimte.

Vreugdevol, met onsterflike lippe, het jy geglimlag:

“Wat is verkeerd, Sappho,

hoekom roep jy my?

Wat begeer jou deurmekaar hart?

Wie moet ek jou laat liefkry,

wie draai haar rug

na jou?

Laat haar weghardloop, netnou kom sy jou soek;

jou presente is geweier, maar netnou gee sy vir jou,

sy sal jou liefhê, alhoewel

onwillig.”

Kom dan na my en bevry my

van angstige smart. Wees

aan my deurmekaar hart se kant, en wees

my bondgenoot.

Indië

Sanskrit

Sanskrit was ’n literêre taal en lingua franca in antieke tye in Suid-Asië. Dit was ook ’n taal van hoë kultuur gedurende die vroeë Middeleeue in Sentrale en Suidoos-Asië. Dit was die hoftaal in verskeie koninkryke in daardie gebiede en was dus die taal van die adellikes.

Die taal is ’n gestandaardiseerde dialek van Oud Indo-Aries en het ongeveer twee duisend jaar v.C. ontwikkel uit Proto Indo-Europees. Dit is die oudste Indo-Europese taal wat goed gedokumenteer is en gevolglik is dit ’n belangrike studieveld vir Indo-Europese taalnavorsing.

Die meeste Europese tale het ontwikkel uit Indo-Europees. Dit sluit Nederlands in en dus Afrikaans ook.

Die presiese tye waarin die meeste Sanskrit digters in antieke tye geskryf het, is taamlik onbekend. Vidya (ca. 659) was ’n koningin, die vrou van Candraditya (’n seun van Pulakesin II) van Nerur.

Vidya

Vriende,

julle is gelukkig julle kan praat

oor wat julle as minnaars gedoen het:

die fratse, gelag, die woorde,

die ekstase.

Ek sweer dat sodra my liefling

vat aan die knoop van my rok,

vergeet ek alles.

Hou jou oë op my huis vir ’n rukkie,

goeie vrou en buurvrou.

My kind se pa hou nie van putwater

wat geen smaak het nie,

nou gaan ek rivier toe,

alleen,

na die oewer donker van die tamala bome

en die dwergwoud van suikerriet

met hulle skerp, gebreekte stingels,

wat my borste kan krap.

Sila (tussen 700 en 1050)

My man is dieselfde man

wat my die eerste keer binnegedring het.

Ons het lang aande geniet, nat van die maan.

Wind uit die heuwels van Vindhya

was belaai met vars jasmyngeur.

Ek is dieselfde vrou

en tog verlang ek na die stroom en sy riete

wat ons so gelukkig gesien het. Wat ons

so grasieus gesien het

in die eindelose aande van liefde maak.

Hierdie gedigte het ek verwerk uit die Engelse weergawes van Willis Barnstone.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Die eerste digter was ‘n vrou”

  1. Annora Eksteen :

    Hoe lieflik! So groot verskil darem tussen prosa – en poësie

  2. De Waal :

    Dit is waar. En daardie verskil kom telkens na vore oor letterlik duisende jare.

Los kommentaar