Herdruk: Kitaar my Kruis (Adam Small)

 

Kitaar my kruis

Adam Small

(Herdruk)

 

Adam Small is een van enkele bruin Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is. Hy was, met die gebruik van Kaaps, ’n voorloper van ’n hele generasie bruin Afrikaanse digters, wat ’n opbloei in protespoësie in die jare tagtig teweeggebring het.

In 2012 het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre, met spesifieke verwysing na Kanna hy kô hystoe wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns beskou word. In 2009 is hy ook met die SA Akademie se Eeufeesmedalje bekroon vir sy hele oeuvre.

AGTERGROND

Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef. In sy huldeblyk getiteld “Die Groot Small”, gelewer te Stellenbosch op 7 Maart 2006 (op LitNet beskikbaar), maak Steward van Wyk die volgende opmerkings oor Small se werk:

’n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ’n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, oa die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Só lui die openingsgedig byvoorbeeld:

KÔ, LAT ONS SING

 

Vrinne

lat ons die Bybel oepeslaan

en lat ons daaryt lies –

o Allahoegste Gies

lat hierie woorde na onse harte gaan! –

yt die twiere boek van Mosas

yt die Exoras

yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –

o God

maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

 

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat

as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat

as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

 

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei

wat’s in djou hand?

en Mosas sê: ’n staf

 

nou vrinne

dit was al wat hy gahad het

hierie man van God

’n staf

’n dooie stok

en boenop het hy nog gahakkel ok

 

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat

oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat

het die Egiptanaar

en Mosas het sy groote kop lat hang

en toe

toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

 

nou vrinne

die Here het gabring

aan my sy wonnerwerke oek so

hy het gavra wat’s in my hand

en vrinne

in my hand was my kitaar

 

kô, lat ons sing

 

*

GENRE: Poësie  PRYS: R170.00 (BTW ingesluit)

VERSKYNINGSDATUM: April 2018, Herdruk,  Protea  Boekhuis

Boek: 978-1-4853-0965-9   FORMAAT: 137 x 213 mm  BINDING: Sagteband   AANTAL BLADSYE: 112

 

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Herdruk: Kitaar my Kruis (Adam Small)”

  1. Kitaar my Kruis belewe weer ‘n herdruk, na enkele dekades. Adam Small se werk is van groot belang nie net poëties nie maar as teenwig vir die giftige apartheid-ideologie wat nog gladnie dood is nie, temeer nog van die pen ‘n bruin Afrikaner. Die gevestigde literatuurgemeenskap het destyds lof vir die werk gehad en het ten minste een herdruk gewaarborg. Meer het gevolg.

    Small se eerste twee gepubliseerde digbundeltjies (1957, 1958) was in amper pynlik korrekte, pril Afrikaans oor die liefde en in streng godsdienstige verband, ietwat ongerymd vir ‘n toe reeds briljante jong akademikus. In 1962 bars Kitaar my Kruis op die toneel waar hy in nou baie ryper werk juis wat rou nie-“korrekte” Kaaps digterlik besig om die onderdrukte kleurling-gemeenskap te sinnebeeld. Nog niemand na my kennis het kommentaar gelewer nie oor dié verbluffend vinnige evolusie in Small se digwerk.

    In die jaar 1958 was Uys Krige ‘n ryp skepper van ‘n aansienlike oeuvre van digwerk, drama en prosa, ook in Engels, nog woonagtig met sy gesin in Nuweland. Sy woning was altyd oop vir almal, altyd gretig om te gesels en uit te vra. Baie van die jonger skrywers en digters het gereeld daar bymekaar gekom, onder andere die toe 22 jarige Small. Uys het gereeld uit eie werk voorgelees en veral toe ook uit sy manuskrip-siklus wat reeds in 1952 in ‘n paar maande ontstaan en eers in 1960, agt jaar later by Balkema gepubliseer kon kry. Daaroor meer.

    Onder die titel Ballade van die Groot Begeer en ander gedigte was dit die neerslag van sy diep onsteltenis en verontwaardiging oor die onreg gedoen aan sy bruin mense onder apartheid. In dié 37 korter tot epiese gedigte kom verskillende kleurlinge aan die woord, visverkopers, skollies, klopse, middestanders: soms rasend snaaks, soms tragies en wanhopig. Ook met kenmerkende aardse uitdrukkings:
    *die vrou met baba in die ras-geskeide bus: “…toe opskud, Piet Patat, my skaaplam, pak die praam!.. dê, toe, vat die têt!” (Onthou, die 50er was preutse jare!)
    * aangaande ‘n krematorium: “dis vier man, brand, ons moet dit stop! -kom ons gaan foun die faaierbrieghyt! Dan gee die baas ons dalk ‘n dop…”
    * die vis-smous filosoof met sy vishoring:
    “Onthou die laaste wekroep
    God se Groot Basuin!…
    Dink aan julle siele tog
    Swart, wit en bruin…
    En ruim julle harte op
    Maak skoon die tuin!”
    * Die mees onomwonde aanklag teen apartheid is die gedig Kom Dokter Kom – ‘n hartstogtelike pleidooi van ‘n bruin man aan die Kaapse Dokter, die suidooswind, om ook algar se siele skoon te vee:
    “Sê dokter wind – is ons nie mense nie ? of is ons kieme, swere, smette, swamme…?”
    “Waar kan ons gaan met ons gedagtes vol opstandigheid en gans verward?
    Strand-toe miskien? Skree al die meeue daar nie dalk apart, apart, apart?”

    Mededoë oor die lyding van Spanje in die dertiger jare en sy vlammende digterlike aanklag teen fascisme; onsteltenis oor die groei van Nazisme onder die “mense van my ras..(en) alles wat ons skei”; oop brief aan Verwoerd oor sy Nazi-simpatië; daarna na noord Afrika as oorlogs-korrespondent teen die Nazi’s, krygsgevangenskap en heelwat digterlike neerslag van altwee ervarings terug na sy stryd vir menseregte in eie land met fel toesprake op groot anti-apartheid saamtrekke. Alreeds toe, nog voor die ontstaan van die Ballade siklus het die “stablishment” sy fatwa oor hom uitgeroep en is hy doodgeswyg.

    Adam Small se oë is ongetwyfeld in 1958 ge-open, netsoos later die kwesbare Ingrid Jonker en ander, vir wat alles in hulle moedertaal uitgedruk en bereik kon word. Dit het selfs die 18 jarige regsstudent, later regter Albie Sachs ge-inspireer in sy later anti-apartheid aktivisme. In besonder vir Small, met Kaaps vertroud, was dit ‘n lig op sy pad na Damaskus. Hy het dié ongetwyfelde inspirasie na my wete nooit openlik erken nie. Was dit vanweë die fatwa van die einste “establishment” wat hom so gretig aanvaar het? John Vortster, magtige broederbonder in die 1930’s en na 1948 daadkragtige minister van polisie en staatshoof het in 1968 die Akademie gedreig met arres van die digter as dit vir Krige die Hertzog-prys sou toeken. Eers in 1975, ná Vorster is Uys, toe reeds 65, eindelik onderskei.

    Small kan tereg gehuldig word met die Herzog prys en ere-doktorsgrade vir sy werk en bydrae tot die digkuns en versetstryd, al mis hy ten ene male die sprankel van ‘n Krige. Maar dis skandalig dat die fatwa op Uys, nou nie meer van die owerheid nie maar tog steeds werksaam, ‘n kwarteeu ná apartheid, voortduur. Krige se inspirerende diep-poëtiese skeppings as siener en stryder vir menseregte bewys dat hy behoort in die geselskap van groot en moedige anti-apartheid Afrikaners soos Jan Hofmeyr, Bram Fischer en Beyers Naudé.

    Die bundel Ballade van die Groot Begeer het nooit ‘n herdruk belewe nie. Dit moet nou eindelik reggestel word, met die nodige publisiteit en hernude litererêre kritiek. Dit sal ongetwyfeld verkoop, nou juis onder die hele jonger en baie ruimer denkende generasie. So ook in die lig van groeiende bedrywigheid op die vertaalfront (e.g. de Waal Venter se uitstekende Neruda-verwerkings in Versindaba) is Krige se uitstekende versameling van vertalings Spaans Amerikaanse Keuse (1969). Sekerlik ook van sy ander digterlike en sy vele dramatiese werke. Die eenbedryf Arrestasie is ‘n sprankelende juweel wat net wag om verfilm te word.

    Balt Verhagen

  2. Balt, ek het onlangs Guy Butler se outobiografie “A local habitation” gelees en hy skryf uitgebreid in hoofstuk 13 oor Uys Krige, onder meer ook oor sy ongewildheid by die Nasionliste. Van John Vorster se dreigement teenoor die Akademie het ek egter nog nooit gehoor nie.

  3. Hi Daniel

    Is jy nie bewus van J.C. Kannemeyer se 2002 biografie van Krige ‘Die Goue Seun’ nie? Dis m.i. die beste van sy reeks biografië. In ‘n los leestrant geskrywe en mede ‘n stukkie Suid- Afrikaanse geskiedenis van die 20e eeu beveel dit as selfs sommer lekker boeiende leesstof aan.

    Op bladsy 559 verskyn die volgende: “(B.J. Vorster het) aan Dan Goosen tydens ‘n byeenkoms by die Voortrekkermonument gedreig met die woorde ‘Bekroon julle hom en julle sal seerkry’. Vorster het (P.J.) Nienaber kort daarna gebel en gesê ‘As die Akademie Krige vandag bekroon sal ek sorg dat die Veiligheidspolisie hom môre gryp’… die dreigement was genoeg om Nienaber se broek te laat bewe….
    Adam Small het gesê: ‘…(Uys) moes alreeds lankal bekroon gewees het…Daar is duidelik politieke en persoonlike vooroordele in die Akademie teen mnr Krige.”

    Uiteindelik is die Herzogprys wèl in 1974 aan hom (hy was toe reeds 64) toegeken, al was Vorster toé ook nie gelukkig daaroor nie. In sy besrywing vanaf die dertiger jare skets Kannemeyer in die biografie die groei van wat ek bestempel as ‘n ‘fatwa’ oor Krige. Wat my so pla is dat nou nog steeds, in volledig ander politieke tye, daar nog steeds iets van die fatwa te bespeur is in die algemene onkunde oor Uys en sy werk in Afrikaans-literêre kringe. ‘n Doodswye wat juis steeds die jonger geslag onbewus laat van sy groot betekenis as geniale digter-sanger, talekenner en pionier in vertaling. Afrikaners behoort trots te voel oor die feit dat hy, seun van hulle geledere, onverskrokke in woord en daad ‘n stryder was teen die misdaad van apartheid en skending van menseregte in die algemeen.

    Daniel: die ding het met my weggehol, maar ek kan nie genoeg beklemtoon dat Uys se werk, uit geskiedkundige èn literêre oorwegings, net weer in druk moét verskyn.

  4. Bart, dankie vir die verwysing na Kannemeyer se biografie oor Uys Krige. Ek moet bely dat ek nie ver genoeg daarin gelees het nie – miskien juis vanwee die “los leestrant”! Ek stem natuurlik met jou saam oor die durende varsheid van Krige se skryfwerk.

  5. Bart, ek bedoel natuurlik Balt!

  6. Man, in my 84 jare is ek baie name gegee – Bart was een. Dis kort vir Balthazar. vernoem na my vader, wie verskyn in Kannemeyer se Goue Seun. My ouers het my Baltje genoem, op Afrikaanse skool en vroeë jeugvriende Baltie, maar ook Balbal, Baltus – you name it. My ervaring met die Goue Kring was baie soos joune. Ek het dit kort na verskyning heeltemal deurgelees en vir Kannemeyer gelukgewens daarmee. Hy was toe vas van plan om ‘n opstel oor my pa en sy werksaamhede alhier in die 40’s vir die bevordering van Afrikaanse toneelspeelkuns. Jammer genoeg het John hom doodgewerk aan sy lywige Coetzee-biografie vóór hy daarby kon uitkom.

    Die Goue Seun is oorweldigend propvol insidente, persoonlikhede, stromings, aanhalings en tog moes ek, wat die grootste agting vir Uys gehad het, jare later weer na die werk verwys word oor inligting wat slegs moeilik bekombaar is op die ‘net. Ek het Uys reeds op sesjarige leeftyd ontmoet en hy was vir ‘n groot deel van my lewe ‘n hegte vriend, digter subliem van wie ek van sy “kleurlinggedigte” voorgedra het jare voor publikasie in die 50’s.

    Dat dié skat dreig om in die vergetelheid te raak is myns insiens ondenkbaar en een van die spykers in die doodskis van wat ek my moedertaal noem al was dir nie my moeder se taal nie.

    My e-pos adres is balt.verhagen@gmail com

  7. Ek het nou pas jou vader se “Faust in die geskiedenis, legende, drama en musiek” van die rak gehaal. Ek sien hy noem jou daarin “Baltie” (p. 63).

  8. Balt, ek sien op die internet dat jou vader op die begrafnis van Mahler was. Is sy lewensverhaal al opgeteken?

  9. Dis ‘n enorme lewensverhaal waaroor ek heelwat dokumtêre materiaal het. Dit wag net vir ‘n toepaslike skrywer om dit enigsins saam te vat, soos ek gehoop het Kannemeyer sou onderneem.

    Ja nee, my liewe pa. Hy het ‘n baie moeilike tien jaar in Suid Afrika belewe. My ma en hy het gewerk vir ‘n ideaal wat nooit verwesenlik is nie. Kyk gerus na die opdrag voor in sy Faust. Ná my pa se dood in 1950 is ek in die natuurwetenskaplike rigting waarin ek my lang loopbaan gehad het. Maar daar is ander diep belangstellings in my lewe, soos bv. dit waaroor ons gesels.
    Ek stel voor ons verlaat ons openbare gesprek en sit dit meer privaat voort. Groete.

  10. Terug by Uys Krige. Guy Butler skryf soos volg oor hom in die gedig “Ode to Dead Friends”:

    Gifted with tongues; a cave of resonance;
    declaiming French and Spanish down Long Street,
    you brought Neruda into Afrikaans;
    and still I hear you speak
    to radical poets on their difficult art:
    “Ideas will come; words won’t, without technique.
    Don’t chase abstraction, write from your own raw heart.”
    When asked to speak – for no more than an hour –
    you smiled: “But Madam, can you throttle
    the Atlantic in a bottle?”
    Artesian wit and prodigal of power,
    they called you idler, jongleur, communist, clown.
    Laughing, you tapped your frown,
    “Three plays composed this month:
    I’ve just to write them down.”

  11. Dankie Daniël

    O.K., dis nie ‘n slegte idee om hierdie dialoog in die “openbaar” te voer want dit is leersaam vir ander lesers.

    Inderdaad hoë lof toegeswaai aan twee klassieke versetstryders teen apartheid, veelseggend resp. Butler (Engels) en van Wyk (Afrikaans). Small deur almal vereer maar Krige juis nie deur Afrikaners nie. ‘n Profeet word in sy eie volk nooit vereer nie.

    Ek neem aan dat jy met Small se werk vertroud is (so baie is dit met die swetterjoel herdrukke oor vyf en vyftig jare maar nie een van Krige nie wat boonop duidelik ‘n sterk invloed op jonger bruin digter gehad en Adam ongetwyfeld in sy werk aangemoedig het. Onbekend maak onbemind.

    Jy het my pa se Faust op jou rak maar blykbaar nie Ballade van die Groot Begeer van Krige nie. Ek sou jou aanraai om die e.g. van ‘n bibiioteek te bekom. Indien moeilik sal ek ‘n paar van die sleutelgedigte daarin skandeer en vir jou stuur mits ek jou e-pos kan bekom.

    Hoe dan ook is dit duidelik dat vir die algemene belang hierdie werk net MOET plaasvind en dan nie eers oor jare wanneer dit nog meer klassiek is as nou. Met die groot vooruitgang in die land en getalle goed onderlegde jongeres sal dit vinnig groot opgang maak, veral as die verset-aspek van Uys benadruk word.

  12. Nee, man, Balt natuurlik staan “Ballade van die groot begeer” op my rak! Ek is ‘n bietjie skepties oor jou verwagting dat ‘n digter soos Krige (of enige ander digter) se werk “groot opgang” sal maak in hierdie land.

  13. Verskoon my Daniël

    Jy het duidelik groot belangstelling vir my pa se werk getoon maar verder niks gesê oor Uys se Ballade nie. Ek kon skaars glo dat jy as literator dit NIE op rak sou hê nie moes dit desweë bevraagteken.

    Goed, die kommersionele kant van sy verkoopbaarheid is oop vir debat. Dit daargelaat moet daar êrens die noodsaak en oortuiging bestaan vir al is dit dan aanvanklik net ‘n klein oplaag in sagteband met die nodige publisiteit en objektiewe kritiek vir die werk op suiwer poëtiese basis bo en behalwe die groot geskiedkundige betenis daarvan. Dan is dit weer in die publieke bewussyn en nie net op rakke soos joune en mynenie. Die verkoopbaarheid sal dan gou genoeg duidelik word.

  14. Daniël

    Nog net dit toegevoeg. Ek sou graag ons gesprek op ‘n meer private vlak verder gevoer het, maar gebruik tog maar ons enigste oop kanaal. Ek verstaan dat ek as literêre buitestaander versigtiger behoort te wees as vakgenote en my opmerkings het by jou duidelik ‘n grens oorskry.
    Ons het dit in besonder oor Uys Krige en meer in besonder oor Ballade van die Gtoot begeer gehad en die wenslikheid, indien nie noodsaak, van ‘n herdruk van dié werk, ná 58 jaar nie. Adam Small se Kitaar my Kruis is óók nie net nòg ‘n (amper antieke!) versamelinkie nie. L.g. het oor hierdie period sowat agt herdrukke belewe en het dus in the publieke oog gebly, dus aanvraag lewendig gehou. Krige het in net in dié bewussyn verdwyn en bygaand sy hele onverbiddelike verset teen die aaklige Zeitgeist wat sy eie volk beetgekry het .

    “O mense van my ras, ondanks alles wat ons skei
    steeds aan my bloed, my siel my, my hart verwant
    wees groot en ruim en sterk – wees vry
    vol lig en stilte sso dié Suiderland”

    Ek het reeds genoem dat juis Afrikaners (en ek beskou myself as een) Krige as volksdigter by uitstek moet sien as ‘n tasbare bewys van die verset teen onreg, ook in eie boesem

    “Kent gij dat volk vol heldenmoed
    en toch zoo lang geknecht?
    Het heeft geoffert goed en bloed
    voor vrijheid en voor recht!”

    Waarom moet dit juis ‘n Guy Butler wees wat dit só duidelik raakgesien het?

Los kommentaar