Wicus Luwes. Om verf te meng

Ek pen hierdie woorde neer met die doel om voornemende self-doen entoesiaste te laat besin oor die verfproses. As jy nie weet dat ‘duck egg’ en ‘coral’ beide kleure is nie, sal jy vinnig moet leer. Woorde soos ‘groen’, ‘blou’ of selfs ‘rooi’ sal uit jou woordeskat moet verdwyn. Ek verwys hier spesifiek na die verf van mure in jou woonstel of huis. Die kleur wat ‘n mens ook meer dikwels sien, is ‘n kleur genaamd ‘rose gold’. Ek is nie seker of benamings soos ‘eend-eier’ of ‘roosgoud’ in jou area verstaan sal word nie, maar probeer gerus.

Soos met enigiets, word die meeste van die tyd aan voorbereiding spandeer. Jy wil seker maak dat jy die regte kleur kies. Miskien iets wat jou opbeur of kalmeer. Ek is op die oomblik besig om die bokse in ons garage se dak uit te sorteer. Ek kom toe af op my ma se ‘Çolor me Beautiful’-boek. Dis die boek wat vrouens in die 80’s volgens seisoene aan laat trek het. (Ek neem aan dat sommige vrouens ook hul mans met die seisoenkwas geverf het.) Dit was die tyd toe skouerkussings hoogmode was. ‘n Mens het seker ‘n geneigdheid tot verskillende kleure in die winter of somer. Die winter sou miskien meer kleure met ‘n bruin ondertoon oproep.

In my onderbewussyn wonder ek natuurlik of daar ‘n verwantskap tussen verf en digkuns is. Wat is die ooreenkomste? Wat is die verskille?

geel

die oggend trek die son
soos ‘n hemp aan
elke straal
soos ‘n knoop
deur ‘n knoopsgat

bo-oor die skouers van die paaie
om die nek en valleie
oor die nag se naaktheid

asof dit nog altyd so was

 

Die ondertoon

Die veiligste is miskien om ‘n wit verf te kies, met ‘n skynsel van die kleur wat jy eintlik wou gehad het. Daardie skynsel is die ondertoon. Dit is soos ‘n mineur of majeur in musiek – dit wag vir jou by elke kruis en mol. Die skynsel is bloot ‘n ondertoon, maar in die onderbewussyn is dit deur elke verfblik gemeng. Daar is duisende soorte skakerings. Dit is hoekom ek vir jou aanbeveel om die standaard benaming van kleure liefs te vermy as jy verf wil laat meng. My wit motor se kleur word ‘candy white’ genoem. Die enigste probleem is dat my motor ouer as vyf jaar is en gevolglik kan ek nie meer ‘candy white’ bestel om skrape op my motor uit te poleer nie. Die son en omgewing het my motor al te veel laat verouder. ‘Candy white’ is dus nie meer ‘candy white’ nie.

Daar is natuurlik iets soos ‘n fokus-muur, wat ‘n ander of donkerder kleur kan wees. Jy kan op die fokus-muur jou ondertoon na die oppervlak bring – miskien kontras skep. Die verfwinkels het dikwels tydskrifte en boeke wat jou kan begelei oor watter kontraste bymekaar sou pas.

“Ek het jou ontmoet in al daai geel”
– uit Geel (Julie) van Spoegwolf

 

Van al my liggeel dae
teken ek hierdie een op;
dat ek later kan weet hoe swerms
duiwe van die dakke waai,
en dat ek, as ek wil,
later kan lees van ‘n liggeel
dag en van jou hier langes my.

– deur Wilma Stockenström uit ‘Vir die bysiende leser’

 

Die soort verf

Die verfwinkels verkoop hoofsaaklik twee soorte verf aan voornemende kopers – waterbasis en emalje. Waterbasis verf kan bo-oor waterbasis verf aangewend word. Jou kwaste en rollers kan ook met water skoon gewas word. Emalje verf kan oor waterbasis of ander emaljeverf aangewend word. Die kwaste moet met terpentyn skoongemaak word. Geen verf sal lank hou as dit oor verkrummelende of klam mure geverf word nie.

Verf wat jy vir portrette of skilderye gebruik verskil so ‘n bietjie. Die skilder meng net genoeg water by die waterverf om dit te laat uitkring. As ouer het ek so bietjie waterverf gebruik om items vir my kinders se konsert te maak – visse en voëls! Ek het weer besef hoeveel talent en geduld skilders moet hê om die medium te bemeester. Verder kan ek net dink hoeveel blydskap en satisfaksie daarmee gepaard gaan as die water net genoeg uitkring om die regte lyne te vorm!

Die kleur van ‘n gedig

Die kleur van ‘n gedig werk so bietjie anders as verf. Wat is die ooreenkomste tussen verf en ‘n gedig? ‘n Mens sien die kleur van die verf deur die lig wat daarop val. Ek wonder so by myself hoe die kleur van ons bestaan verander word deur die gedigte wat ons lees of skryf. Sou die kleur van die verf werklik saakgemaak het as ons dit nie gesien het nie? Sou die woorde wat ons lees werklik anders gelyk het as dit nie deur die verfkwas van die digkuns geverf was nie? Kan die mees sombere omstandighede ingekleur word deur die verfkwas van die gedagtes?

“Let me, O let me bathe my soul in colours; let me swallow the sunset and drink the rainbow.”
– Kahlil Gibran

 

Colour Of Water

the water I drink
from the bowl of the moon
silver as the stream

– deur Charl  JF Cilliers uit ‘Grains of Sand’

 

Die winkel-opsie

Die verfwinkels meng jou ‘rustic yellow’ of ‘sandy brown’ klaar volgens ‘n formule – 2 dele geel, 5 dele wit en 3 dele bruin. Dit is die veiligste manier om te verseker dat jy altyd dieselfe kleur kry. Jy kan natuurlik verf self meng totdat jy tevrede is met die kleur. Dit kan wel vir klein hoeveelhede verf werk. En een ding om in gedagte te hou – daar is noodwendig ‘n klein verskil tussen die manier hoe nat verf en droë verf lyk.

Verf is ‘n langtermyn projek. Roer die blik goed – eers kloksgewys en dan anti-kloksgewys. Kies ‘n lang genoeg stok, sodat die onderste verf saam met die boonste dele geroer word. Die verf van die mure is slegs een van die stappe. Kies die verf wat jy meng baie goed, want jy
gaan sekerlik ten minste vyf jaar daarteen vasstaar. Die digkuns lê in die meng van die verf. Digkuns is ‘n langtermyn projek. ‘n Mens sien die kleur van die gedig deur die lig wat daarop val. Ek wou eers my ma se ‘Colour me Beautiful’-boek weggooi, maar besef toe dat dit my in die stilligheid iets geleer het: dit gaan nie altyd oor die seisoen nie, maar oor die manier waarop jy op die seisoen reageer. Die winterlig wat op die gedig val verskil van die somerlig. Daar is meer as een seisoen om te meng in jou gedig – moenie net op die somer-oppervlak roer nie, want miskien is dit juis die winter-kleur wat dit mooi gaan laat lyk teen die muur.

verf

die hale oliekruine val kwistig oor ‘n doek,
die hand het ‘n glas rooiwyn in en die lyf ‘n hele paar

opera is in die agtergrond (en soms sagte lig) –
mens moet gereeld verf om jou tegniek te temper

nog voor die hand aan die kwas raak
laat hy sagte nek- en keel-kleure vloei

net voor die nat punt die kaal doek ‘n eerste keer
betree kom die huiwering van lig en tyd saam

‘n vlietende oomblik – ‘n duif se afdruk wat wasig teen
‘n ruit sit net nadat hy hom daarteen te pletter vlieg

die klein dood van die nou
wanneer die lyf sag die ongesêde stilte ritmies vorm gee

 

– deur Johannes Prins uit ‘een hart’

Bronnelys
1. Cilliers, CJF. Grains of Sand. Malgas Uitgewers. 2013
2. Prins, J. Een Hart. Lapa Uitgewers. 2009
3. Stockenström, W. Vir die bysiende leser. Reijger Uitgewers. 1970

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Om verf te meng”

  1. Oulik. Ja-nee: klassieke kleurname is alreeds lank in die gedrang.
    In die laat vyftiger jare was daar ‘n onsterflike paar Engelse conferenciers wat hul eie liedjies uitgevoer het – dikwels rasend snaaks maar altyd erudiet in hulle taalgebruik wat my Engels sestig jare gelede ongetwyfeld aansienlik ver-ryk het. Hul name was Michael Flanders en Donald Swan wie se mees beroemde liedjie was “Mud, mud, glorious mud!”.

    Maar wat het dit met kleurname uit te waai? In een van hul nommertjies praat hul van die jongste modes van huis uitverf wat die volgende frase bevat:
    “…you paint your wall in alternating stripes of telephone black and white….white”.

    Jy sien, dié kleurstorie loop al ‘n lang pad… As jy dié, nou amper klassieke satiriste nie ken nie, Google hulle.

  2. Wicus Luwes :

    Dankie vir die lees! Sal beslis Google.

  3. Waldemar Gouws :

    Wicus het duidelik verby die plasconkleurkaart gebeur. Picasso se periodes in sy vroeë tyd sal hul name behou, Goya se laaste swart tyd ook, en Sheila Cussons se “geel kombuis is bourgeois” maar haar swarte nie.

Los kommentaar