Nuwe publikasie: weer-lig (Fransi Nieuwoudt)

weer-lig

Fransi Nieuwoudt

 

Die Lichtenburgse kunstenaar en digter, Fransi Nieuwoudt, se nuutste bundel Weer-lig gaan binnekort die rakke tref. Hierdie metamodernistiese bundel is voorwaar besonders omdat dit ook van Nieuwoudt se eie kunswerke bevat. “Woord en beeld is interverweef,” sê sy. “Daarom is hierdie ‘n unieke en kunssinnige leeservaring.”

Die bundel spreek die positiewe sy van die transformasieproses in Suid-Afrika aan. Dit het ‘n sterk sintuiglike aanslag en oorspronklike beeldgebruik. Die titel sinspeel natuurlik op verskeie elemente van transformasie, soos onder andere die metaforiese blink toekoms wat Suid-Afrika inwag indien die betrokkenes die “ligte” sy van sake kan insien.  Dit spreek van hoop en versoening. Lig troef immers altyd die donker.

Nieuwoudt sê dat sy groot inspirasie uit Goethe se kleurteorie geput het. “Hy het nie donkerte gesien as die afwesigheid van lig nie. Lig en donker werk op mekaar in. Speel met mekaar en in daardie tussenspel verskyn kleur.”

Nieuwoudt is ook die skrywer van ‘n Vlerkslag van Kleur. Weer-lig word uitgegee deur Naledi en sal vanaf Mei beskikbaar wees by ww.naledi.online. (Naledi, 2018,  ISBN 978-1-928426-11-0)

.

Bookmark and Share

Los kommentaar