George Seferis. Vertaling in Afrikaans

George Seferis – vertaling deur Helize van Vuuren

*

 

Ons son

            

Die son was myne en joune; ons het dit gedeel.

Wie ly agter die goue sy, wie gaan dood?

Slanend op haar droë bors, het ‘n vrou uitgeroep: ‘Lafaards,

hulle het my kinders gevat en flenters geskeur, jul het hul

doodgemaak

turend na vuurvliegies in die skemer met ‘n snaakse blik,

verlore in blinde gedagtes.’

Die bloed was aan’t verdroë op ‘n hand vergroen deur ‘n boom,

‘n vegter aan’t slaap, vasklouend die lans wat lig gewerp het

teen sy sy.

 

Dit was ons s’n, die son, ons het niks gesien agter die goue

borduursel

toe het die boodskappers gekom, vuil en uitasem,

stotterend aan onverstaanbare woorde

twintig dae en nagte op die barre grond slegs met dorings

twintig dae en nagte met die buike van die perde

aan’t bloei

en nie ’n oomblik se rus vir reënwater drink.

‘Rus eers en praat dan’ het jy gesê, deur die lig

verblind.

Hulle het gesterf, prewelend ‘Daar is geen tyd’, rakend aan enkele strale

van die son.

Jy’t vergeet dat niemand rus.

 

‘n Vrou het geskreeu ‘Lafaards’, soos ‘n hond in die nag.

Eens moes sy mooi gewees het soos jy

met ‘n nat mond, are polsend onder die vel,

van liefde.

***

Die son was ons s’n; julle het alles gehou, jy wou

my nie volg.

En dit was toe dat ek uitgevind het van die dinge agter

die goud en die sy:

ons het geen tyd. Die boodskappers was reg.

 

.

George Seferis – uit Logbook I, 1940.  [vert. Helize van Vuuren, Mei 2018]

             ______

 

Hier eindig die werke van die see, die werke van liefde.

Hulle wat eendag hier sal lewe waar ons eindig –

as die bloed sou verdonker in hul geheue en

oorloop –

laat hul ons nie vergeet nie, die swak siele daar tussen die affodille,

laat hul die slagoffers se koppe draai na Erebus:

 

Ons wat niks had sal hul leer van kalmte.

 

Desember 1933-Desember 1934

George Seferis – uit Mythistorema, 1935 [vert. Helize van Vuuren, Mei                                                                                                                   2018]

_____________________________________________

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “George Seferis. Vertaling in Afrikaans”

  1. Dit is ’n baie welkome vertaling hierdie, Helize. Goeie vertalings is altyd ’n bate vir ’n letterkunde. Dit is interessant dat wanneer ek die Engelse weergawe lees, daar ’n afstand is tussen my en die gedig. Die Afrikaanse weergawe spreek intiem en amper oorweldigend met my. Knap werk.

    Daar is een reël wat my laat wonder:

    Hulle het gesterf, prewelend ‘Daar is geen tyd’, rakend aan enkele strale
    van die son.
    Die Engelse weergawe:
    They died saying ‘We don’t have time’, touching some rays of the sun.

    Die frase: “Daar is geen tyd” kan nogal dubbelsinnig wees. Dit kan beteken dat tyd nie bestaan nie, daar is nie soiets soos tyd nie. Of dit kan beteken dat “Ons het nie tyd nie,” of “Ons tyd is verby”.

    Mens wonder wat Seferis se bedoeling was?

  2. Helize van Vuuren :

    Dit lyk my

    ONS TYD IS VERBY

  3. leendert dekker :

    Dankie, Helize. Hierdie (min of meer) eietydse Griekse digter, “in die bouvalle van die oudheid met die verdriet van vandag”, is vervul met’n erfenis waarvan ons moeilik ‘n realistiese begrip kan vorm. Sy digterskap is een lang worsteling daarmee. Hy ervaar die verlede in die hede, en sy eie eeu sien hy duisende jare gelede afspeel. Wat gedink, gesê of uitgebeeld kan word, is deur die erflaters in taal, beeldhou, bouklip, mites uitgedruk. Die swaar word deur Atlas gedra.

    Seferis se digterskap lyk vir my na sy eie Odusseia. Onskeibaar is sy lewensreis een met dié van Homeros. Toe en nou dool hulle saam. Tyd is opgehef. Saam met Ulysses se reisgenote beleef hy intiem, intens baie van wat Homeros noem maar nie uitspel nie. Hulle hele lewe is momente, kleiner en groter togte, beproewinge, rondhang en geduldig wag. Sin en doel vind hulle nie, net lyding, pyn, oomblikke van geluk. Hede en herinneringe smelt saam.
    As ‘n nietigheid in die tyd binne ewige oneindighede kan ek nie oor tyd spekuleer nie. Hoewel hy dit anders sien, dink ek dat Seferis se digterskap baie met tyd te doen het. Ek weet ook te min van sy werk en denke om meer daaroor te sê. Kan die woord teleskopering iets tot die kwessie bydra?
    op soek na doel en sin. Dis interessant om Seferis se hantering vayn besonderhede rdie kolossale weeklag met

  4. leendert dekker :

    (Ignoreer asseblief my laaste twee reëls weggooigoed hierbo.) Min mense is soos Seferis deurdrenk van ou Grieksheid, maar elkeen van ons het wel ‘n ietsietjie daarvan ingekry. Dis interessant om teenoor die swaarmoedige mymeraar in Seferis se gedigte die dinamiese toeëiening van ‘n stuk Griekse mitologie deur ‘n tydgenoot te stel. Die waaghals en denker Picasso, op sy beurt gedrenk in die mistiek van die stiergeveg, is die doolhof onder koning Minos se paleis in en het uitgekom met die wete dat hy die monster Minotaur is. As bulmens worstel hy met homself en met menswees in Doolhof Europa, waar ideologieë en leërmagte op mars is na weer ‘n wêreldoorlog. Sy ontwikkeling kan gevolg word tot waar hy wyn en vroue in innerlike rus geniet.

    ‘n Hoogtepunt in die skilderkuns is die minotaur se verskyning in Guernica. Hy het sy aard oorwin en omgekeer, is nie meer ‘n reus met ‘n bulkop nie, maar bul met menslikheid in sy kop. Hy storm nie soos ‘n Spaanse bul in die arena blindweg af op die mens wat hom inwag en na sy dood toe nie. In Arena Guernica staan hy, wag hy en kyk met mensoë. Heftige beweging in die skildery stuit teen sy roerloosheid. Sy snoet vorm ‘n doodskop. Dit sê: “Franco, ek gaan jou kry.” Franco is weg. Die oerkrag van Guernica se bulmens is nog hier

    Deurdrenk van die twintigste eeu, kies ek nie tussen die twee kunstenaars se ingesteldheid nie, maar ek be-gryp (be-raakvat) miskien tog ‘n klein bietjie meer van Seferis as van Picasso.

  5. Helize van Vuuren :

    Dankie, Leendert. Insiggewend wat jy skryf. Trek soveel perspektiewe netjies saam. Ek hoor selfs DJO se “Vuurbees” weerklink in Picasso se “Guernica”.
    Min mense het so n fyn insig en so n illuminerende greep. Opwindend om te mag meemaak, veral in ons duistere tye.

  6. Charl-Pierre Naude :

    Helize, hierdie is ‘n pragtige bydrae. Welgedaan!

  7. Louis Esterhuizen :

    Leendert, jou beskouing van Seferis is een van die mees interessante perspektiewe wat ek in ‘n baie lang tyd teëgekom het. Dankie, dankie. Summier gaan ek hom herlees. En dankie vir jou vertaling, Helize. Dit is verruklik.

Los kommentaar