De Waal Venter. Deur die eeue het vroue gedig

 

Sappho. Skildery deur August Mengin

Vroue was digters van die vroegste tye toe ons beskawing begin het. Trouens, die heel eerste digter wie naam aan ons bekend is, is ’n vrou1. Ongeveer 2 300 v.C is ’n dogter van koning Sargon van Akkadië gebore. Die koning het haar as jong vrou aangestel as ’n priesteres van die maan en sy het die naam Enheduanna gekry. Haar gedigte is op kleitablette aangeteken en baie daarvan het tot vandag toe behoue gebly.

Deur die eeue was daar vrouedigters, en afhangende van die kultuur waarin hulle geleef het, was hulle bekend en geëerd, in ander gevalle onbekend en onderdruk. Die beroemde Griekse digter, Sappho is ’n voorbeeld van die eerste geval. ’n Voorbeeld van die tweede geval is die Griekse digter Praxilla wat ongeveer 450 v.C. gebore is. Haar manlike tydgenote het haar werk as “nonsens” beskryf.

Selfs in die huidige tyd het alle vrouedigters dit nie ewe gemaklik nie. 

Eavan Boland is ’n bekroonde digter en professor aan Stanford University, Kalifornië. In ’n onderhoud met Stanford News2, het sy gepraat oor die “Status of Woman” klousule in die Ierse grondwet. Sy is in Ierland gebore en het die eerste deel van haar lewe daar deurgebring.Hierdie klousule definieer die vrou se bydrae tot die staat duidelik as ’n tuisteskepper. Dit is een van die baie min grondwette in Europa wat bepaal dat die vrou se plek in die huis is. Daar word tans in Ierland gedebatteer om hierdie “anachronistiese” klousule uit die grondwet te verwyder.3Sy het verder gesê dat die verwagtinge van die staat, sowel as die gemeenskap, dit vir haar moeilik gemaak het om haar droom te verwesenlik – om ’n digter te word. Hierdie probleem was nie beperk tot Ierland nie, maar het ook ’n rol gespeel in die lewens van baie jong vroue in Boland se geslag. Sy praat van “’n interne gevoel van toestemming om die digter te word wat sy wou”. 

7e – 6e deeu v.C.

Sappho

Sy is in haar tyd baie hoog aangeslaan deur haar tydgenote oral in die destydse beskaafde wêreld. Die filosoof Plato het haar die “Tiende Muse” genoem. Hier is een van haar liriese gedigte. Daar is geen bekende titel vir die gedig nie.

Kom weg uit Kreta en kom na hierdie heilige tempel

waar die grasieuse laning appelbome

kronkel om die altaar met geurende wierook.

.

Hier maak die rose skadu’s op die grond

en koel fonteine fluister tussen appelbome

waar trillende blare diep slaap laat neerdaal.

.

In ons weiveld waar perde wei

en veldblomme bloei in die lente,

vul anyslote die lug met geur.

.

En hier giet Aphrodite

hemelse nektar in goue bekers

en vul hulle met wonderlike, skielike vreugde.

ca. 450 v.C.

Praxilla

Praxilla 

Praxilla was van die Argolis-gebied van Griekeland. Sy het baie poësie geskryf in verskilende metrums. Wat van haar oeuvre oorgebly het, is grootliks aanhalings van destydse kritici van haar werk. Hulle het die “nonsens” in haar poësie aangeval. Op hierdie ompad het haar verrassend vars beelde en sensualiteit behoue gebly. Zenobios, een van die toentertydse kritici, het byvoorbeeld gesê: “Net ’n dwaas sal komkommers en diesmeer gelyk stel aan die son en die maan.

Die fragment waarna hy verwys is hieronder:

Die pragtigste ding waarvan ek weet, is sonlig;

dan is daar glansende sterre en die maan se gesig;

dan ryp komkommers en appels en pere.

Middeleeuse Latyn

Die skrywer van hierdie vroue-klaaglied (planctus) is onbekend. Dit kom uit die “Cambridge Songs” van ca. 1 000 n.C. en is die bekendste vroue-weeklag uit die Latynse middeleeue.

Wind is yl,

son warm,

die aarde vloei oor

met goeie dinge.

Lente is purper

juwele;

blomme op die grond,

groen in die woud.

Diere leef

en loop rond. Voëls

maak nes. Op bloeiseltakke

sing hulle van vreugde!

My oë sien, my ore

hoor so baie, en

ek is verruk.

Tog hou ek sugte in.

Hier sit ek alleen

en word bleek. Wanneer

ek sterk genoeg is om kop te lig,

hoor en sien ek niks nie.

Lente, hoor my.

Ten spyte van groen woude,

bloeisels en saad,

vergaan my siel.

Franse Middeleeue

Christine de Pisan

Christine de Pisan

Christine de Pisan het geleef van 1363 tot 1430. Sy is in Venesië gebore, die dogter van Thomas Pisani, ’n dokter en astroloog aan die hof van Karel V van Frankryk. Sy trou op vyftienjarige ouderdom met Étienne de Castel. Tien jaar later sterf haar man en sy moes hard werk om haarself en haar drie kinders van die nodige te voorsien. Sy het in die Frans van daardie periode geskryf.

Sy was ’n stoere verdediger van vroue en het ’n verhandeling geskryf oor die opvoeding van vroue. Sy het inkomste verdien deur haar skryfwerk, die eerste Franse vrou wat soiets gedoen het. Christine het haar laaste jare in ’n nonneklooster deurgebring.

Haar gedigte is hoofsaaklik aan mans gerig. Sy het ook die styl van adellike liefdesverhoudinge gebruik om met ’n manstem ’n minnares in gedigte aan te spreek. In die volgende gedig kan dit ’n man of ’n vrou wees wat die verlies van liefde bekla.

Alleen is ek

Alleen is ek, en alleen wil ek wees;

Alleen en my liefling het my verlaat,

Alleen is ek, sonder vriend of metgesel,

Aleen is ek, treurend en woedend.

Alleen is ek, lusteloos wag ek,

Alleen is ek, verdwaal in die verte.

Alleen is ek, sonder my liefling.

Twintigste eeu

Iran

Forugh Farrokhzad

Forugh Farrokhzad

Die digter Forugh Farrokhzad (1935 – 1967) is in Teheran, Iran, gebore. Sy word beskou as een van die beste digters in die Midde-Ooste. Sy was ook ’n filmmaker en kritikus. Sy is op die toppunt van haar loopbaan oorlede in ’n motorongeluk.

Op die aarde

Ek wou nooit ’n ster wees nie

in die lug se newelbeeld,

’n verkose siel

of ’n woordelose vriend van engele nie.

Ek het nooit die aarde verlaat 

of met sterre gesels nie.

Ek staan op die aarde

en soos ’n plant

absorbeer my liggaam wind, son en water

om te bly lewe.

Ek kyk by die venster uit.

Ek is ’n eggo,

nie ewig nie,

en soek na net ’n lied se eggo.

In die kermende treursang is vreugde

en beter as die eenvoudige stilte van pyn.

Ek soek na geen skuiling

in die dou op die lelie van my liggaam nie.

Mense wat verbyloop het geskrewe herinneringe

met ’n swart reël van liefde

op die mure van my lewe se huisie.

Daar is pyle in my hart,

die kers is onderstebo.

Wat oorgebly het is stil kolletjies vervaagde kleure

in onverstaanbare woorde van waansin.

Elke lip teen my lippe

het ’n ster verwek

en het gedryf op die nagrivier van my herinneringe.

Wat is ’n ster werd?

Hedendaagse digters

De sus ojos ornados de arenas vítreas

Coral Bracho

Coral Bracho

Desde la exhalación de estos peces de mármol,
desde la suavidad sedosa
de sus cantos,
de sus ojos ornados
de arenas vítreas,
la quietud de los templos y los jardines

Van hulle oë versier met sandkorrels van kristal.

Van die uitaseming van hierdie visse van marmer,

van die sysagtheid

van hulle sye,

van hulle oë versier

met sandkorrels van kristal,

die stilte van die tempels en tuine

.

(in hulle akante* skadu’s in die klippe

waaraan hulle raak en mee saamsmelt)

.

hulle het hulle rivierbeddings oopgemaak,

hulle het hulle weg gevind

onder die louwarm blare van die amandels.

.

Hulle vertel van die aanraking

van hulle skittering,

die stil spelery wat aan die kant verbyglip,

by die stadige rand van die sonsondergang.

Van hulle bevrore lippe.

.

Oë van edelgesteentes.

.

Van die skuim wat hulle uitskiet, die geur wat hulle uitgiet

(In die voorkamers: die kerse, die amarante**.)       

op die veerligte altaar van die saaityd.

.

(Van die tempel: 

die geur van koringare.

visskubbe,

takbokke. Hulle vertel ons van hulle weerkaatsings.)

.

In die nagte,

die delikate marmer van hulle stilte,

die kosbare tatoeëring, die skoon lyne

( hulle het die lig oorweldig

aan die kus; in die sand)

. 

op daardie marmergladde beeld,

die roerlose offerandes

van die lande.

Op die webruimte Poetry Translation Centre is daar die volgende inligting oor die digter:

Coral Bracho was born in Mexico City in 1951. She has published six books of poems: Peces de piel fugaz [Fish of Fleeting Skin] (1977), El ser que va a morir [The Being that is Going to Die] (1981), Tierra de entraña ardiente [Earth of Burning Entrails] (in collaboration with the painter Irma Palacios, 1992), La voluntad del ámbar [The Will of Amber] (1998), Ese espacio, ese jardín [That Space, That Garden] (2003), and Cuarto de hotel (2007). Her poems were translated for the PTC’s 2005 World Poets’ Tour by Tom Boll and the poet Katherine Pierpoint.

A selection from her first two collections was included in the definitive anthology of contemporary neo-baroque writing from Latin America, Medusario (1996), edited by Roberto Echavarren, José Koser and Jacobo Sefamí. Like many of the writers who operate in this line that runs from Luis de Góngora through José Lezama Lima, Bracho’s early poems marry verbal luxuriance with a keen intelligence and awareness of artistic process. Yet that artistic consciousness doesn’t lose sight of world. When she visited London in 2005 she described the way that her tour-de-force‘Agua de bordes lúbricos’ [Water of Jellyfish] operates: ‘It tries to get close to the movement of water’ with images that are ‘fleeting’; ‘you can’t grasp them, they are very fluid. What remains is that continuity of water.’

Coral Bracho is also a translator of poetry and has been a member of the Sistema Nacional de Creadores since 1994.

’n Duitse digter

Eva Ström

Eva Ström is in 1947 in Lindingö, Stockholm distrik, in Swede gebore. Sy is ’n liriese digter, romanskrywer en literêre kritikus. Haar eerste gedigte is in 1977 gepubliseer in versameling Den brinnande zeppelinaren (Die brandende zeppelins). 

Sy is opgelei as ’n mediese dokter en het in hierdie professie gewerk van 1974 tot 1988. Daarna het sy haar voltyds toegespits op haar skryfwerk.Sy het in 2003 die Nordiese Raad se Literatuurprys verwerf vir haar bundel Revbensstäderna (Ribbebeen-stede). In Januarie is sy verkies tot lid van die Koninklike Akademie vir Wetenskap.

Hier is een van haar kort gedigte:

Moeder sê dis ’n herinnering

Moeder sê dis ’n herinnering

en ek kan dit kry

Ek kan haar herinnering kry

en dit vaswerk aan myne, dit het uitgerafelde kante

Dis nie ’n grys lap nie, dis van sy

en jy sal my sekerlik nie verlaat nie, sê moeder

Wonderwerke gebeur, sê sy en ek sê

ek sal ’n soom insit en die serp heelmaak.

Vars uit die Afrikaanse oond

In 2017 het René Bohnen se jongste digbundel, “Op die vingerpunte van die heelal” by die uitgewer Naledi verskyn.

Die digter het my die vriendelike vergunning gegee om die volgende gedig van haar te plaas.

Die bundel kan direk by die uitgewer bestel word.

Mensboom

(my bloed fluister name)

laas nag het wortels uit my lyf gespruit,

in skynlote oor ’n vleiland gekruip

ek was magies en hoog ’n haselboom –

my oë het vervloei en gestol tot murg van neut

tot roomkwaliteit en die pit van weet

ek groei voor die aangesig

van die oppergees van ’n gedig

ek is ’n haseldroom en ek is salm-oud

oor mý heers mercurius en die see

daarom swem visse en ’n god stroomop in my takke

daarom is die name silwer in my bloed

(René Bohnen)

Bronne

1. Verwys na my vorige essay “Die eerste digter was ’n vrou” op Versindaba gepubliseer.

2. Stanford News

3. The Irish Times

Inligting

* Akant – blomplant

** Amarant – blomplant (Hanekam)

Nota

Die gedigte van Sappho, Praxilla, die gedig uit “Cambridge Songs”, Christine de Pisan en Forugh Farrokhzad is uit Engels verwerk deur De Waal Venter.

Coral Bracho se gedig is uit Spaans vertaal en Eva Ström s’n uit Duits deur De Waal Venter.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “De Waal Venter. Deur die eeue het vroue gedig”

  1. Marie Bredenkamp :

    Hoe heerlik het ek my nou in die laature van die nag verdiep in hierdie blog van jou De Waal – met agtergrondmusiek die breek van baie branders van Outeniquastrand, Dankie.

  2. Marlise :

    Lekker gelees hieraan, De Waal. Hoop daar is ‘n vervolg hierop.

  3. Ek is bly jy het lekker gelees, Marlise. Ek sal graag ‘n vervolg hierop skryf, daar is baie ander vrouedigters wat blootstelling verdien, en dit gee mens ook kans om van ons eie digters in die kalklig te plaas.

    Maar, dit is die tweede essay hierdie met naastenby dieselfde tema. Sal lesers belang stel in nog een? Wat dink jy?

  4. Marlise :

    De Waal, daar is geen beperking daarop hoeveel essays jy oor vrouedigters wil plaas nie! Dit sal dus absoluut welkom en verrykend wees as jy nog van hulle kan plaas. Vrouedigters kry myns insiens nie helfte soveel aandag soos die manlike digters nie. Ek het nou geen statistieke daarvoor nie, dis maar net ‘n persepsie oor jare heen. Danksy die internet ontdek ek nog steeds vrouedigters waarvan ek geen kennis dra nie, soos onlangs met May Ziade , wat ‘n baie interessante geskiedenis gehad het en rol gespeel om die digkuns te bevorder. Go for it!

  5. Dankie Marlise. Ek stem heeltemal met jou saam dat vrouedigters nog steeds afgeskeep word. Ek sal graag nog ‘n essay met hierdie onderwerp skryf. Ek het reeds ‘n idee: Twintigste Eeuse en hedendaagse digters wat in die Europese tale skryf, asook een of twee Afrikaanse digters. Ek dink nog aan die boeg waaroor ek dit wil gooi.