Resensie: Insektarium (Johann Lodewyk Marais)

In die kleinste organismes, is die grootste patrone sigbaar – vir wie dit kan raaksien

Resensie: Insektarium – Johann Lodewyk Marais

Resensent: Heilna du Plooy

Lesers van Afrikaanse poësie het Johann Lodewyk Marais se oeuvre oor baie jare leer ken en ek het self al oor meer as een bundel ’n resensie geskryf. Dit is nie poësie wat jou soos ’n hamerslag teen die voorkop tref nie, dit stamp nie jou asem uit nie, dit skok jou nie, dit manipuleer jou nie openlik en eksplisiet nie, maar by die lees van die gedigte in Insektarium, het ek spontaan gedink: “Dit is werklik goeie poësie hierdie.”

Enige toegewyde poësieleser weet dat die huis van die poësie baie wonings het, meer as wat ons tot nog toe ken, want die vernuwende moontlikhede en die variasie van kombinasies van style en tegnieke is vindingryk en verrassend en oneindig. Daarom vra mens jouself dan af waarom spesifieke verse jou op ’n dag tref as … wel nie as iets spesifieks nie, maar as iets wat jy niks anders kan noem as poësie nie. Mens weet immers dat daar soveel soorte poësie en soveel soorte poëtikas is as wat daar digters is. Mens weet dat aanleg en konteks in elke digter se geval ’n ander en unieke rol speel, dat digterlike kommunikasie soos alle kuns op talle maniere op modes en strominge en tydsgewrigte reageer. Van die romantici se spontane uitinge van oorweldigende emosie en die mymerende oproep van emosionele ervaringe, deur die era van tegniese en esoteriese modernistiese verse tot by die betrokke digter se uitroep teen die gemeenskap omdat nóg smaak nóg skoonheid relevant is as onreg te hemele skrei, skryf die digter soos kennis en aanvoeling hom lei, maar wel binne die tydsgees en die openbare gesprekke en menings wat sy of haar kennis en aanvoeling vorm en rig. Die baie wonings van die poësie huisves tans inderdaad die hele spektrum, van luidrugtige podiumpoësie tot by eksperimente met vorm, klank en medium, tot by intieme verse, die kamermusiek van die letterkunde wat met ’n sagte hoewel deurdringende stem praat.

As mens oor baie jare oor die poësie klas gegee het, weet jy verder dat net soos wat sekere poëtiese strominge met die korrelerende teoretiese en filosofiese raamwerke van ’n tydperk, met die hele paradigma van ’n era dus, saamhang, net so goed kan ’n digter se werk uit verskillende paradigmas bestudeer word of gewoon net gelees word. ’n Leser wat haarself dus wil verantwoord oor ’n reaksie op bepaalde verse, moet weet dat kennis en aanvoeling en skoling en intuïsie gelyktydig werk, maar dat die interaksie met bepaalde verse of met een spesifieke gedig op daardie oomblik steeds ’n momentele en direkte reaksie sal ontlok.

Die digter Johann Lodewyk Marais se oeuvre word gekenmerk deur sy bemoeienis met die natuur, van die grootste dinge in die natuur af tot by die heel kleinste, ’n spektrum wat direk afgelees kan word uit die beweging van In die bloute (2012) tot by Insektarium (2018). Hy is eindeloos geboei deur die verhouding tussen die mens en sy omgewing (Verweerde aardbol, 1992; Plaaslike kennis, 2004; Diorama, 2010). Deurlopend is die onderliggende tematiek van sy werk die verhouding tussen natuur en kultuur. Mens sou hom as ’n ekologies-bewuste digter kon beskryf, maar die ekologiese bewussyn wat so duidelik uit die onderwerpe van die gedigte na vore kom, is inderwaarheid op ’n subtiele wyse die draer van groter filosofiese vraagstukke: die mens in die wêreld (Diorama, 2010), die mens in en as deel van die natuur (Aves, 2002), die mens as bewaarder en vernietiger van die natuur en van homself (Verweerde aardbol, 1992), die natuur se selfgenoegsaamheid. Daarby kom die etiese en ideologiese implikasies van die mens se eksistensiële ruimtelike plasing (Nomade, 2014). Die digter identifiseer hom eksplisiet met die plekke waar hy hom bevind: sy grootwordwêreld, Afrika as die kontinent waar hy hom as behorende-tot ervaar en die aarde as deel van die heelal.

Marais se jongste bundel, Insektarium, uitgegee by Imprimatur, sluit by Marais se oeuvre aan en hier word die fokus gerig op die klein lewende organismes, die insekte. Op die titelblad is daar ’n lyntekening van ’n vlieg waarvan die regterpootjie mooi parallel loop met ’n potlood aan die linkerkant van die vlieg. Al gaan dit dus oor die insekte, gaan dit ook oor skryf, oor skryf oor die insekte, oor die vaslegging van die insekte en hulle uniekhede, maar juis ook oor die vaslegging as sodanig.

In die gedig “Oorsprong” in Marais se vorige bundel, Nomade (2014) bely die digter sy verbintenis aan sy oorsprong op Afrika as kontinent: “kom ek nou weer tuis by die riviere,/ vleie en heuwels van hierdie moeder/ met die chromosome van lank, lank terug.” En in Insektarium open die eerste afdeling met ’n motto wat ’n uitspraak van Thabo Mbeki bevat:

At times, and in fear, I have wondered whether I should concede equal

citizenship of our country to the leopard and the lion, the elephant and

the springbok, the hyena, the black mamba and the pestilential mosquito.

By die openingsgedig van hierdie afdeling is daar egter ’n aanhaling uit Dante Alighieri:

Midway this way of life we’re bound upon,

I woke to find myself in a dark wood,

Where the right road was wholly lost and gone.

Die digter openbaar hiermee indirek sy band met twee wêrelde, daar is die fisiese plasing in en sy uitgesproke verbintenis met Afrika as kontinent, maar daar is ook sy erkenning van die kulturele erfenis wat sy visie op sy Afrikatuiste en sy lewe as mens beïnvloed. Die gedig, met die titel “Beatrice teken” wat Dante nog skerper oproep, illustreer verder ook die digter se deurlopende bewustheid van ’n spesifieke ruimtelike plasing – hy ervaar alles om hom in detail en gee daarmee erkenning aan die ruimtelike dimensie van die menslike bestaan.  Hier gaan dit om die maak van biologietekeninge, die geluid van die rangeerwerf by die stasie, die gewone daaglikse aktiwiteite van mense. Maar die digter is die een wat dinge anders aanvoel, wat na die “halfklaar insek” kyk en “benieud deur die huis” stap, wat laatnag luister na naggeluide “waar ek deur die slapende huis dwaal,/ onseker soos in ’n donker bos.” Die digter het ’n intense gewaarwording van nie-sigbare dinge en wat hom uiteindelik bybly, is die unheimische atmosfeer wat om die gewone lewe hang. Die gedig het die datum 1966 onderaan en aangesien die digter toe 10 jaar oud was, verwys die datum dus eerder na die tyd van die insident wat deur die digter in herinnering geroep word. Die sensitiwiteit en invoeling van situasies kom dus ’n lewe lank met die digter saam.

Drie belangrike temas word aangesny in hierdie gedig, Afrika en die werklikhede van die lewende dinge van Afrika, die kulturele herkoms van die digter, en dan veral die digterskap, wat sowel die skryfhandeling en tegniese digterstake insluit as ’n baie spesifieke soort lewensaanvoeling. Die ander vier gedigte in hierdie afdeling van die bundel speel dan ook op die Afrikatema sowel as op die kulturele tradisie terug. In “Afrikaan” identifiseer die digter met Afrika met sy riviere (die riviere uit die streek waar die digter grootgeword het), met die geskiedenis in fossiele vasgelê, met die wildlewe van elande en muggies en die eerste mense, en in “Ditsong Natural History Museum” val die klem op die natuurlewe wat daar bewaar word, maar ook op die kriek in die glaskas. In die volgende gedig “Uitstalkas” sluit die digter weer aan by die tradisie van vroeë wetenskaplikes in die Westerse tradisie as hy sy glaskas in sy sitkamer beskryf in terme van die onmiddellike natuurlike omgewing, die Afrikadinge wat hy bewaar en Charles Darwin wie se gees ook daarbinne lewe.

Die afdeling sluit af met die vers “Ontmoetings” waarin die digter homself beskryf waar hy aan die skryf is oor die wêreld van vlooie, luise en kakkerlakke terwyl ’n muggie om hom sirkel. En daarmee is die digter binne sy afsonderlike maar verbonde wêrelde geplaas.

Ek dink hier aan ’n aanhaling uit e.e.cummings se boek A Miscellany Revised wat ’n versameling essays en korter prosastukke van cummings bevat, minder bekende werk van hom maar waarin hy hom ook die aard van die digter uitspreek. Daar is verskillende soorte mense wat die kunste beoefen, maar die ware kunstenaar, digter of skilder, is die enkeling met ’n eie visie, iemand met ’n alternatiewe aanvoeling en unieke interaksie met sy omwêreld:

First we have the ultrasuccessful artist, comprising two equally insincere groups: “commercial artists,” who concoct almost priceless pictures for advertising purposes, and “fashionable portrait painters,” who receive incredible sums for making unbeautifully rich women look richly beautiful. Very few people, of course, can attain the heights of commercial and fashionable art. Next we have the thousands upon thousands of “academicians” — patient, plodding, platitudinous persons, whose loftiest aim is to do something which “looks just like” something else and who are quite content so long as this undangerous privilege is vouchsafed them. Finally there exists a species, properly designated as the Artist (with capital A) which differs radically from the ultrasuccessful type and the academic type. On the one hand, your Artist has nothing to do with success, his ultimate function being neither to perpetuate the jeweled neck of Mrs. O. Howe Thingumbob nor yet to assassinate dandruff. On the other hand he bears no likeness to the tranquil academician — for your Artist is not tranquil; he is in agony.

Nou is die digter as kunstenaar hier nie noodwendig noodlydend en aan die wroeg nie, maar hy is deurlopend aan die interpreteer, hy vind en maak betekenis. En dit is nie ’n voor-die-hand-liggende of ligtelike taak nie.

Nadat Marais die leser in hierdie inleidende afdeling bewus gemaak het van sy hooftemas, die wêreld en wat daarin leef, die kulturele ruimte waarbinne die digter leef en werk en die digter en sy vak as sodanig, handel die tweede afdeling oor die insekte in sy insektarium. Die insekte word nie slegs wetenskaplik beskryf nie. Hoewel die gegewens absoluut korrek is en elke insek se uniekheid uitgelig en sy funksie beskryf word, skep die verse betekenis na aanleiding van die insekte se rarighede en skoonheid. Die “Eendagsvlieg” leef een efemere dag en tog is die arestruktuur van sy vlerke in fossiellae bewaar sodat oerbron en hede bymekaarkom. Die “Liewenheersbesie” beweeg oor die houtgroewe van die tafel en skryf “in geheimskrif” terwyl die “Grysbesie” se naam sy skel kleure weerspreek. Die “Sonbesie” se energie word “kragtig deur die hemelruim opgewek” en die “Pouoogmot” vervul sy “sikliese nagtaak” in samehang met die planeet se wenteling.

Die insekte word dus beskryf in ’n wisselende spel van waarneming en identifikasie, maar altyd met erkenning van die bestaan, die fisiese aanwesigheid  van die insekte, elkeen geldig, waardig, uniek en funksioneel. Die mooie naam van “Goudogie” behoort aan ’n insektivoor: sy horings tas rond, sy gevoude vlerke is vangnette en sy oë glans “goud en grimmig”. Elke insek het dus ’n bepaalde karakter en die digter teken dit op, sy werk is ’n poging om te begryp en te waardeer wat die insek is en wat dit doen. En daarin lê ’n aspek van die taak van die digter opgeslote.

Die skynbaar eenvoudige verse oor die insekte, is egter tegnies fyn versorg. Baie van die verse bestaan uit reëls van 10 lettergrepe elk, maar die patroon word nie pynlik volgehou nie. In die gedig oor die malariamuskiet, bevat die tweede deel ’n tweeledige poëtikale stelling: nie net pas die woord dichlorodifenieltrichlooretaan in 10 lettergrepe nie – wat die aandag vestig op die struktuur en reëlmaat van die gedig – maar die gedig word ook gesien as “die draer van die parasiet”: die digter parasiteer dus op die natuurlike dinge.

In die gedig “Bloubrommer” gaan dit oor die paradoksale van die brommer se aktiwiteit: hy soek betowering in ’n “miskoek se klank”, maar die aanhoudende brommende geluid word tegnies nageboots deur die woorde, wat almal met b begin, in die gedig in omgekeerde volgorde te herhaal, met die woord berusting in die middel. Op dieselfde paradoksale manier werk “Miskruier” met teenoorgesteldes: die miskruier maak ’n etmaal van mis, wat omgewerk is tot “stinkende, goeie aarde”.

In die vers “Bloukeiser”, opgedra aan die natuurfotograaf Warwick Tarboton, beskryf die digter die sirkelende naaldekoker wat met sy spieëlbeeld flankeer soos volg:

Dié twee begryp die kontras tussen lig

en donker en raak-raak vas aan mekaar

die waterspieël vir die poësie van paar.

In al hierdie verse kom daardie ander eienskap van die digter en die poësie na vore, naamlik verwondering, oor klein en groter dinge en die drang om hierdie verwondering in die woorde van ’n vers vas te vang. Die hemelstertjie, die mierleeu, die sakwurm, die boorkewer, die pragkewer en die mieliekalander word almal besing. Die reusestokinsek word ’n simbool van transformasie:

Wanneer sy opskrik, flits-flits haar vlerke

oop tot ’n dubbele mopanieblaar.

En die landmeter beoefen sy eie (en die digter se?) lewensfilosofie:

Word lewe dan so uitgemeet?

Met altyd ’n einde in sig

word die siklus van seisoene

dan onontkombaar voortgesit.

Die vers “Renosterkewer” speel in op Van Wyk Louw se gedig “Die narwal” daarin dat in beide gevalle die vis en die kewer ’n horing of ’n pen dra, één horing soos die mitologiese eenhoring wat simbool van die kunste is. Waar dit in die geval van die narwal nie biologies te verklaar is nie en so teken word van die nuttelose nut en waarde van die digter, is die renosterkewer se horing wel biologies te verklaar. Nogtans spreek die poëtikale voorgangergedig ook hier mee, soos wat verskeie gedigte met verse van Hans Faverey in gesprek tree. In die vers “Natalse termiet” is die digter saam met Eugène Marais op stap om na die termietneste te kyk. Johann Lodewyk Marais is inderdaad ’n groot kenner van Eugène Marais se werk en ook van die Die siel van die mier en hier eindig die gedig met die gedagte van die miernes as ’n eenheid, wat as daar skade kom deur die mierwerkers soos selle in ’n liggaam weer heelgemaak word. Maar hierdie helende werk van die soldaatmiere word in verband gebring met die verwonding en die helende werking van skryf:

Skielik neem hy die graaf en steek een kant

van die nes oop, sodat die lopende

skrif van soldate die wond weer moet heel.

Die derde afdeling van die bundel gaan oor giftige insekte, spinnekoppe en skerpioene en die digter tree in gesprek met ’n ander natuurkundige,

Jacques Cousteau. Die pilduisendpoot skryf tekens in die sand “as raaisel uit die ouhout” waarin hy broei maar die gewone duisendpoot se verwoede selfverdediging as hy homself opkrul toon “[d]aar’s in die natuur dié wat teëpraat soek”. Hierna is die oorgang na bakterieë en insekte wat siektes veroorsaak en oordra in die derde afdeling logies, juis onder die sprekende subtitel “mense kan doodgaan van mekaar”. Hierdie siektes lê in die geskiedenis en die hede van die mensdom, internasionaal maar hier veral soos dit in Afrika gemanifesteer het, polio, ebola, hondsdolheid, marburgkoors. Die griepepidemie van 1918 leef in die herinnering wat deur grafte sigbaar is, eintlik opgeskryf is:

Van die akute slymvliesontsteking

en koors van lank gelede is dié bakens

die onvaste skrif van ’n eeu tevore.

In die slotafdeling van die bundel staan die gedig “Ongerepte aarde”, ’n liriese vers oor ongerepte plekke, oor ’n ongetemde plek met riviere en spruite en wildgroeiende gras, geheimsinnige bome en baie voëls. ’n Gebied met hellings en hoogtes waar ’n pan lê waaroor naaldekokers sweef. Al is hierdie plek die bedroomde utopie van die digter, juis in terme van sy hartsgebied in Suid-Afrika, is dit inderwaarheid die geesteswêreld van die digter, die ruimte waarin en waaruit gedigte kan groei:

Dáár sal eenhorings uit die niet uit kom

en in die heilige ongereptheid

hulle koppe laat sak en begin drink.

Hier stap die swart kriek, vroeër in die bundel in die glaskas van die natuurkundige museum met ’n speld vasgesteek, vry uit en so word die digter en sy skryfwerk en sy omwêreld van natuurlike dinge een:

Ek het my oor die swart kriek ontferm,

my vooroordele netjies opgeskort

en hom uit my handpalm laat ontsnap

om sélf vry in die daglig uit te stap.

Dit is juis hierdie subtiele vervlegting van mens en wêreld en skrywerskap wat mens bybly na die lees van die bundel. Hierdie eenvoudige verse is slegs oënskynlik eenvoudig: dit is eintlik uitgekristalliseerde gedagtes wat geëssensialiseer is in woorde, min woorde maar die juiste woorde. Die helderheid van gedagte en vers, in vorm en formulering, die onpretensieuse maar trefsekere hantering van woord, versreël en strofe, van klank en ritme sodat betekenis oorspoel na die leser, dit is sekerlik wat poësie veronderstel is om te doen.

Die bundel sluit af met hierdie pragtige gedig:

DER UNTERGANG

Na die dialek van die insekte

het ek geluister, na hulle gaan soek

in die name van my moedertaal;

die heilige wetenskap afgekyk

en die plaasvervangende liggaamsdele

van die woord stuk vir stuk uitgepak.

Terwyl die einde nader kom, sien ek

op die plaas grafte waar wurms gewerk

en nooit skoenlappers geword het

om na die Laaste Oordeel te vlieg nie.

Met die wete van die dood skryf ek

die estetika van die lewe na.

Julle wat die grond ná my sal besit,

wees goed vir die aarde en alles hier.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Insektarium (Johann Lodewyk Marais)”

  1. Annora Eksteen :

    Lieflik! Baie geluk met Insektarium Johann Lodewyk Marais. (En ook allermoois die prent op die omslag van die hande wat die kosbare mot/skoenlapper so versigtig vashou.)(Asook wonderlike inleidende skrywe oor poëtika deur Heilna du Plooy.)

  2. Waldemar Gouws :

    Baie dankie vir hierdie resensie, me. Heilna, en vir die bundel, Johann Lodewyk, wat die nagkriek laat leef.

    Isaac B. Singer se kortverhaal “Brother Beetle” kom by my op. Twee perspektiewe op insekte kom voor in daardie verhaal: Die eerste formulering spruit uit ‘n situasie toe ‘n hotelbalkondeur een aand te lank oop laat staan is in ‘n warm Tel Aviv, waardeur insekte binnegelaat is: “The moths beat against the walls with unbelievable strength, as if in preparation for the final war between man and insect.”

    En dan, op ‘n ander aand en bo-op die dak van ‘n woonstelblok: “A huge beetle crawled at my feet. It stopped, changed its direction, as if it realized it had gone astray on this strange roof. I had never felt so close to a crawling creature as in those minutes. I shared its fate. Neither of us knew why he had been born and why he must die. “Brother Beetle,” I muttered, “what do they want of us?”

Los kommentaar