Wicus Luwes. Oor beweging in skilderye, gedigte en spietkops

Daar is sekere benamings wat ‘n mens net nie meer ‘n ander persoon kan noem nie. Dit beteken dat jy nie die persoon van aangesig tot aangesig so kan aanspreek nie. Sekere benamings kan jy slegs voor jou huismense gebruik, miskien dalk slegs voor jou eggenoot. Jy wil die kinders nie verkeerd leer nie: ons almal weet dat hul voorbeeld gebruik om te leer. ‘Spietkop’ is een so ‘n benaming. Ek neem aan dat ‘verkeerskonstabel’ die beter opsie is, maar tussen die tyd dat jy ‘n ‘verkeerskonstabel’ gesien en die woord ‘verkeerskonstabel’ gesê het, is dit heel waarskynlik te laat.

Ons almal ken daardie verlammende gevoel. Daardie hand wat omhoog gehou word, somtyds met ‘n handskoen. Ander kere met ‘n flits. Hulle spring agter bosse, brûe en eiendomsagente se borde uit. Die ontmoeting impliseer dat jy iets verkeerd gedoen het. Jy sit jou beste ‘officer’, oom of ‘sir’ voor. Jy soek al na jou bestuurderslisensie wanneer die geregsdienaar aangestap kom (selfs al het jy nie bestuur nie).

“Besef jy hoe vinnig jy gery het?” is sy eerste woorde.
“Ek moet eintlik R2000 vir jou vra,” sê hy, maar dan bly hy stil.

Daardie stilte impliseer mos iets.
“U lisensie, asseblief.”
Jy oorhandig dit.

Weer die stilte.

Ek vermoed dat dit impliseer dat die skroef so ‘n bietjie stywer gedraai word.

Dan verbreek hy die stilte en vra dat jy saam met hom na sy motor moet loop. Die kaartjie is lank, met klein skrif op – ‘n pienke. Dit word in duplikaat of triplikaat uitgeskryf. Hy spel my naam verkeerd, maar my ID nommer is reg. Ek wonder of ek ‘n saak uit te maak het oor die spelling.

Ek gaan eerlikwaar nie baklei oor iets wat ek verkeerd gedoen het, want tyd is duurder as die verkeerskaartjie. As ek bewyse gehad het, was dit miskien ‘n ander saak. Die boete is op die ou end slegs R250. Wat impliseer R250? Ek kon die uitgestrekte hand se implikasie duidelik verstaan. Ek wonder steeds oor die stilte en wat die implikasie daarvan sou wees.

Ek dink die afgelope tyd aftief na oor wat dinge rondom my impliseer of beteken. Wat impliseer die klere wat ek dra? Kan mense aflei watter werk ek doen deur die klere wat ek dra? Wat impliseer die woonbuurt waar ek bly? Ek word gefassineer deur daardie afleidings wat mense oor my en oor mekaar maak op grond van sekere dinge. Die afleidings is tog sekerlik ‘n vorm van beweging, al vind daardie beweging slegs in die gedagtes plaas?

Ek is selfs versot op beweging in gedigte:

moya

gisteraand toe ek op my hoë stoep staan
het jy weer by my verbygewaai
oor die Makatinivlakte en die Mosambiekse see
en weer het jy my geïgnoreer
toe ek vra neem my saam neem my saam
ons kan my lyf hier lat staan

– deur Oloff de Wet uit ‘Nuwe stemme 5’, Tafelberg, 2013

Ek hou baie van skilderye wat beweging voorstel (of impliseer): daardie kringe en sirkels op Van Gogh se skilderye. Daar is ‘n paar maniere om beweging voor te stel. Een manier is lyne rondom ‘n objek in die skildery. Nog ‘n metode is om lig en donker kleure langs mekaar te verf. Herhaling word gebruik om beweging te skep. Sommige skilders gebruik selfs growwe en gladde teksture.

Italiaanse simfonië word gekenmerk deur drie bewegings: die eerste beweging is vinnig, die tweede een is stadig en sluit dan af met ‘n vinnige een. Beweging is dus ‘n wisselwerking tussen vinnig en stadig, baie dieselfde as die grof en glad of lig en donker van die skilderye.

Om terug te kom by die verkeerskonstabel: vir my is die ongemaklike stilte wat ek daardie dag ervaar het ‘n vorm van geïmpliseerde beweging: geïmpliseerde beweging of handeling is miskien die interessantste soort beweging. geïmpliseerde beweging vind plaas sonder dat beweging plaasvind – soos ‘n stillewe. Soos die besef wat jy kry wanneer die stilte iets vir jou probeer sê. Geimpliserde beweging steek die beweging agter ‘n stilstaande persoon weg. Digkuns is vir my een van die pragtigste geïmpliseerde bewegings – dit laat stilstaande woorde beweeg. Elke digter en leser weet dat geen gedig eindig by die punt nie.

vir klaasman

geliefde broer die seisoene verander hier tydsaam soos ‘n ou vrou met rumatiek
wat soggens pynlik stadig haar trui toeknoop haar misvormde vingers soek en vat
soek en vat sy stap saam met my op die grondpad stasie toe gebukkend onder
die koue wat vat en los vat en los skuifelend stap ons geliefde broer daar is ‘n kroeg
in soho jou vingerafdruk blink op ‘pint staropramen die reuk van jou tabak talm
in die lug terwyl ek drentel my gedagtes vat en los vat en los die grate van ons midnag-
gesprekke lê die huis vol broer in jou kamer sit ek soms toe-oog en dink en die lente
bloei soos ‘n diep sny in greenwich park my kamera-oog is ‘n kamer vir twee mense
broer ek raam die lente daar vir jou terwyl die lewe vat en los vat en los

– deur Hilda Smits uit ‘die bome reusagtig  soos ons was’, Protea Boekhuis, 2016

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Oor beweging in skilderye, gedigte en spietkops”

  1. Gert :

    Hi Wikus

    Daar’s een radikale vollengte fliek met geen beweging en geen dialoog in nie – die 1968 Sowjet fliek “Die Kleur van Granaat”, oor ‘n Armeense digter.

    Elke skoot is ‘n tableau van stilstaande mense, met net geringe bewegings – die bladsye van ‘n boek wat vladder in die wind, of ‘n donkie wat verbystap.

    Jy moet dit sien om dit te glo.

  2. Wicus Luwes :

    Gert, baie dankie vir die verwysing. Ek het nou ‘n paar skermskote uit Youtube daaroor gekyk en dit lyk na iets wat ek beslis moet sien.