Carina van der Walt. Bootjies

Bootjie uit En Route van Ellen Rijk

 

Klein bootjies. Oorvol bootjies. Stukkende bootjies. Bootjies sonder petrol. Die woord “boot” het in Europa al net so belade geword soos “roete” en “grens”. Dit dui ’n verskynsel aan wat wêreldwyd voorkom, maar veral afspeel op die water van die Middellandse See – VLUGTELINGE. Stadig maar seker word die water warm. Dit is somer. Volgens die statistiek sal méér mense weer die oortog na Europa toe aandurf. Daar sal wéér bootjies omslaan. Hierdie bootjies is propvol met verskillende soorte vlugtelinge, waarvan die lot van die oorlogsvlugtelinge die skreiendste is. Die aantal slagoffers tel 12 019 sterftes tussen 2015 en 2017. So skryf die Nederlandse tydskryf ZAM (Zuidelijke Afrika Magazine) in hulle uitgawe van hierdie maand. Sommige dele van die Middellandse See het in ’n massagraf ontaard. Eén van die foto’s wat die nuuswêreld in 2015 tot stilstand geskok het, is dié van die 3-jarige Aylan Kurbani. Hy het met sy rooi hempie, denim kniebroekie en tekkies uitgespoel naby die luukse Turkse badplaas Bodrum. Met sy oë toe het dit gelyk asof hy rustig op sy magie lê en slaap in die vlak branders. Saam met sy Siriese gesin was hy op pad na die Griekse eiland Kos – wat vir hulle ’n springplank na vrede toe sou wees in die Weste. Hulle bootjie het nie ver gekom nie. Sy 5-jarige boetie en sy ma het ook verdrink in die agttien kilometer tussen die Turkse kuslyn en en die hawe van Kos. Van hulle gesin het net die pa dit oorleef.

 

Duimpie spoel met skoentjies & al aan land

Duimpie se maat sink af na die bodem

Langeraat dryf soos ’n lap op die water

Filafooi hang bewusteloos oorboord

Pinkie drink sy piepie in die hoekie van die boot

 

@ Carina van der Walt

(voorgelees in De Brakke Grond, Amsterdam 2015)

 

Maar die kraan met nuusberigte oor die lot van vlugtelinge is intussen amper heeltemal toegedraai. Net so nou en dan sypel daar nog ’n druppel nuus deur soos in ZAM. Wat gaan aan? Vlug niemand meer nie? Sit alle oorlogs- en ekonomiese vlugtelinge nou tevrede tuis en TV kyk? Of het die publiek oorvoer geraak met hierdie humanitêre ramp en draai die nuus hulle rug daarop? Sluit die joernaliste hulle oë?

 

Nee, die skokkende nuus is dat Europa se grense na Noord-Afrika verskuif het. Daarvoor word boonop duur betaal: minstens 15,3 biljoen euro tussen 2014 en 2016. Vlugtelinge word in hulle spore gestop, terug die woestyn ingestuur, in hegtenis geneem of in sogenaamde opleidingskampe opgesluit. Die desperaatstes gaan soek ander (nog gevaarliker) roetes oor die see uit. “The EU is about to embark on a dark chapter of its history… towards a foreign policy that serves one single objective, to curb migration, at the expense of European defense of fundamental values and human rights.” (uittreksel uit ’n verklaring van 100 NGO’s op die Europese Beraad in Junie 2016 volgens die ZAM-artikel Expanding the fortress). Die Noord-Afrikaanse lande waarin die meeste Europese weermageksperts gestasioneer is, is Marokko, Algerië en Egipte. Verhoudinggewys met betrekking tot landoppervlakte staan die aantal eksperts in Tunisië ook nie terug vir bogenoemde verteenwoordiging nie. In Libië, waardeur die hoofroetes vir vlugtelinge uit Afrika loop, is minder eksperts en meer soldate uit Europa gestasioneer. Dit is as gevolg van verskillende vegtende groepe in hierdie land. Nadat Gadaffi uitgeskakel is, is Libië in chaos gedompel. Die ekperts wat die vlugtelingprobleem hanteer, moet deur hulle eie soldate beskerm word. Terselfdertyd is hierdie eksperts se “opleidingskampe” ’n totale mislukking. Die mensesmokkelaars het steeds werk. In plaas van om mense uit te melk en hulle ten duurste oor die see te stuur, maak hulle nou geld deur die einste mense deur die woestyn terug te begelei na hulle lande van herkoms. Seesterftes word woestynsterftes. Eintlik kan geen Europeër vingerwys na Trump se muur teen Mexiko nie.  Daardie muur is konkreet en sigbaar. Fyntjies buite sig trek Europa sy muur op dwarsoor Noord-Afrika.

 

Gelukkig is daar ook joernaliste, skrywers, kunstenaars en sangers wat besef hoe skandalig Fort Europa se omkoophouding is; wat besef dat mense nog steeds probeer om te vlug – weg van lande wat vernietig is deur oorlog of weg van hongersnood en ander mensonterende ellendes. Eén so ’n kunstenaar het vir drie weke in Meimaand haar omvattende installasie in die Vredeskerk in Tilburg ten toon gestel. Die installasie het onder andere uit ’n ry bootjies en ’n omgekeerde katedraal bestaan, genaamd Catamadraal. Laasgenoemde is gemaak om op water te dryf. Ellen Rijk het haar ruimte en tyd goed gekies. En Route, een tentoonstelling onderweg is op 4 Mei geopen – Nasionale Dodeherdingsdag – en is afgesluit op 21 Mei – tweede Pinksterdag. Tydens die drie weke het sy soveel moontlik opinievormers, skrywers, digters, sangers en dansers by die tentoonstelling betrek – as dit enigsins kon, ook vlugtelinge. Vir hierdie tentoonstelling is onder andere ook gedigte geskryf.

 

‘n Bootjie word te water gelaat.

 

Rijk het my troosgedig teen die simboliese waarde van vyf eurosent gekoop om dit na willekeur in die toekoms by haar installasie te gebruik. ’n Dag voor die opening is die gedig in ’n bootjie gevou en te water gelaat in die doopkapel van die Vredeskerk. Ook ander skrywers het hulle bootjies met tekste te water gelaat. Ek en ’n mededigter uit Marokko moes egter herken dat ons nooit as kinders geleer het om bootjies te vou nie. Maar ons kan goed vlieërs bou! Tydens die afsluiting is ek gevra om dieselfde gedig tussen die keramiekskerwe op die bodem van die doop-“vijver” voor te dra. Beeld en teks het mekaar kabbelend in die vlak water ontmoet, presies soos die kunstenaar Ellen Rijk dit beplan het.

 

engelhart der liefde ek vou vir jou ’n bootjie

& laat dit te water in hierdie vredeskerk

want ek glo nog in ons liefde

 

die liefde wag vlerke ingevou

die liefde vaar uit op jou asem

die liefde dobber in die storms

 

ook as ons bootjie omslaan & sink

my allerenigste engelhart der liefde

ook dan glo ek ons liefde is soos ’n anker

 

@ Carina van der Walt

(voorgelees by En Route, Tilburg 2018)

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. Bootjies”

  1. Elaine du Plooy :

    Hartverskeurend roerend. Ons besef nie wat in die wereld aangaan nie.