Resensie: Weer-lig (Fransi Nieuwoudt)

Weer-lig (Naledi, 2018) is Fransi Nieuwoudt se tweede bundel: ’n Vlerkslag van kleur word in 2016 deur Cordis Trust gepubliseer.

Resensent: Gisela Ullyatt

Die persverklaring stel dit as volg: dat weer-lig ’n “metamodernistiese” bundel is waarin die digter aangehaal word om te sê dat woord en beeld “interverweef” is en daarom “’n unieke en kunssinnige leeservaring” uitmaak. Ongelukkig word die leser nie ingelig wat presies met “metamodernisties” bedoel word nie. Ek is nie seker daarvan dat ’n digter haarself ooit moet etiketteer  nie. Kategorisering kom gewoonlik na vore uit resensies en wanneer die digter tot die kanon toetree. Selfs dan hoef ’n digter geensins saam te stem met etikettering nie.

Luidens die verklaring spreek die bundel ook “die positiewe sy van die transformasieproses in Suid-Afrika” aan. Behalwe een of twee gedigte is hierdie nie ’n daadwerklike tema wat deur die bundel resoneer nie.

Voorts word die leser vertel hoe om die bundel te lees en hinderlik is die woorde en frases “natuurlik”, “immers” “en kan insien” wat die indruk skep dat die leser voorgesê word en aan ’n morele sedeles onderwerp word :

Die titel sinspeel natuurlik op verskeie elemente van transformasie, soos onder andere die metaforiese blink toekoms wat Suid-Afrika inwag indien die betrokkenes die “ligte” sy van sake kan insien. Dit spreek van hoop en versoening. Lig troef immers die donker.

Laastens word Nieuwoudt aangehaal oor die inspirasie vir die bundel wat volgens haar Goethe se kleurteorie was: “Hy het nie donkerte gesien as die afwesigheid van lig nie. Lig en donker werk op mekaar in. Speel met mekaar en in daardie tussenspel verskyn kleur”. Behalwe die digter se aanhaling hieroor, kom Goethe se kleurteorie nooit werklik na vore nie: die verwysing na skadu, lig, kleur of die afwesigheid daarvan bly vaag en die leser kry nie daadwerklike verwysings deur middel van motto’s of ander intertekstuele gegewe nie.

Nieuwoudt se eerste bundel word deur onder andere Joan Hambidge geresenseer, asook deur Ingrid Woudstra op Versindaba.  Let veral op die lys wat Hambidge saamstel. Die enkele positiewe opmerking wat gemaak word deur Hambidge is van toepassing op weer-lig: “Die kort, haikoeagtige verse op bladsy 61 het wel moontlikhede”.

In hierdie opsig is daar ‘n verbetering in Nieuwoudt se digkuns: daar is meer gedigte wat bondiger is soos “haikoe happening” (16):

swarthalms drup kriekies

bietjies bietjies grond toe nes

waterige verf

“paneel” (17) is nog ‘n voorbeeld van ‘n vers waarin die bondigheid  ‘n veertjie in die digter se hoed is:

plein air skilder

sy in oopte son mergel

kleur uit buise blikker

ver (on)weer kwas

aanskouers sprinkane vas

“vlugtig” (49) is ook ’n gedig wat bondig is. Alhoewel “ummuthi uzalwanyone” (43) nie as ’n haikoeagtige gedig klassifiseer nie, is die refreine, “omdat voëls die moeder van bome is” en “sweef en blerts hulle spore” ’n geslaagde poëtiese bindmiddel wat die gedig verstegnies versterk. Alhoewel die gedig streng gesproke nie as ’n villanelle kwalifiseer nie, is daar raakpunte, inmiddels die herhaling van die twee refreine:

omdat voëls die moeder van bome is

sweef en blerts hulle spore

in die sonnige leivore tussen sterbolle amarillis

omdat voëls die moeder van bome is

klinker snawels sinne nes saad vanuit ’n geheuenis

spriet metafore in die nis van pasgebore

omdat voëls die moeder van bome is

sweef en blerts hulle spore

met vlerkslae wat doelbewus vlieg

Nog ’n kwessie wat die digter duidelik aan gearbei het, is die lukrake gebruik van leestekens wat Hambidge in haar resensie noem: behalwe een of twee gedigte word die enkele leestekens in weer-lig spaarsamig gebruik en met ’n doel. Meestal word geen leestekens gebruik nie, wat verder bydra tot die kohesie van die bundel.

’n Mens sou graag wou sien dat die digter met haar tweede bundel vele van die debuutbundel se hebbelikhede sou kon uitskakel. Daar is egter talle poëtiese jakkalsies wat steeds die wingerd van die tweede digbundel verniel. Hierdie word in die volgende afdelings bespreek.

(1) Neologismes en woordopstapelings

Op sigself is neologismes nie iets wat aan ’n digter verbode is nie; inteendeel. Twee Hertzog-bekroonde bundels, naamlik Mede-wete deur Antjie Krog en Kaar deur Marlene van Niekerk maak ruim gebruik van neologismes en woordopstapelings. Die vraag is waarom juis hierdie digters dit (meestal) suksesvol kan uitvoer waar ander digters nie die paal in hierdie verband haal nie? Dalk is dit ’n kwessie van subjektiewe smaak van pryskomitees, maar dit mag ook wees dat hierdie twee bundels (meestal) omgaan met neologismes wat nié onsinnig is en afbreuk maak aan die gedigte nie.

Nieuwoudt se debuut had ’n oormaat neologismes. Dis dus ’n jammerte dat sy nie briek aangedraai wat dit aanbetref in weer-lig nie. Ek noem enkele voorbeelde:

“glimmergeflakker” (5)

“mymertjilp” (35)

“kringels”: (39)

“witgeswagtel”; “vingerploegskulpsak” (41)

“skrotumstringe”; “heeltalsee” (44)

“sterretros”; “onderbos” (50)

“Opperlug”; “kloddersuis” (53)

“alomklokkenis”; “crescendo-bel” (57)

“afdrifsel-bloublasies”; “inmekaargekringde”; “weë-klaende” (59)

“kromstert-lettergrepe” (61)

.

(2) Oneffektiewe beeldgebruik in sommige gedigte

In Nieuwoudt se debuut kom daar heelwat beeldgebruik voor wat die digter nie behoorlik deurdink het nie, met die gevolg dat dit eienaardig voorkom tydens die lees daarvan. Dis van uiterste belang dat ’n digter (saam met ’n mentor/redakteur) sit en hierdie tipe van probleem uitskakel. Verder van belang is dat ’n bundel onderwerp moet word aan ’n streng keuringsproses met ten minste twee of drie keurders wat mankemente kan uitwys en ook positiewe korrektiewe kan verskaf.

Die digter hoef natuurlik nie met alles saam te stem nie, maar vele manuskripte is al gered van ’n té vroeë publikasie waarvoor die digter nog nie gereed was nie. Nes ’n slaapspesialis ’n pasiënt slaap-higiëne leer (donker kamer, stilte, geen tegnologie voor slapenstyd nie) moet ’n jong digter (chronologiese ouderdom is nie hier ter sprake nie) aan dig-higiëne blootgestel word (versbou, verstegniek, logika van metafore en beelde).

Die volgende beeldgebruik in “(kwantum) eggo” (11) laat die res van die gedig die onderspit delf omdat die digter nie ten volle die gevolge van haar beeld besef nie. Die woorde in vetdruk is hier ter sake:

 

Torynesis orangica

 

’n digter skryf oor aardsbruin

engele wat vlug in ’n genese

reuseskrede hulle eiers laat val

Die eenvoudige vraag is hier: hoe laat engele hul “eiers” val in ’n “genese reuseskrede”? Die digter mag dalk ’n goeie verklaring hiervoor hê maar dit skakel steeds nie die eienaardige of selfs karikatuuragtige beeld uit nie.

’n Tweede voorbeeld is “skaamteloos” (19)

skaduwees soos pixels op ’n skerm

soos tepels wat inkennig wel

teen foelie aanvly

Nie net is dit moeilik om skaduwees en pixels as tepels te sien nie, maar word die leser verder verwar met paradoksale personifikasie: die tepels wat hulself inkennig teen foelie aanvly. “Aanvly” en “inkennig” weerspraak mekaar, eersgenoemde impliseer ’n erotiese aksie waar laasgenoemde ’n inhiberende gevoelswaarde het.

“gedagtiggang” (50) laat nie werklik reg geskied aan die Minotaurus-mite nie omdat die beeldgebruik oordrewe is en die seksuele innuendo platval:

uit ’n sterretros geboog

het een losgeraak

in die skuimende kom gestort

as ’n kretaanse bul uitgestap

“ewige” (57) kon ’n allerlieflike gedig gewees het met die troop van die ouma as “nou-weer-die-boom” en die “windharp” van takke. Ongelukkig ondermyn die digter die eerste twee versreëls met die volgende  (sien vetdruk):

die alomklokkenis sy stingelkling

’n laaste noot

teen stoflike bas

en vibreer haar crescendo-bel  l   u   g    r         u          i         m

 

Hierdie gedig dien ook as goeie voorbeeld van hoe ’n digter nie verby die slot van ’n gedig moet skryf nie. “teen stoflike bas” sou as ’n heel skaflike einde kon dien of selfs “’n laaste noot”. Die uitbasuin van nog ’n neologisme (“crescendo-bel”) en die té konkreetheid van die spasiëring van “lugruim” versaak die gedig.  Eksperimentele bollemakiesies kan alte maklik geforseerd voorkom.

(3) Gedigte waar die logika van beelde skeefloop; botsende metafore/beeldgebruik

Nog ’n kwessie wat die digter nie in haar tweede bundel uitgeskakel het nie, is botsende metafore en/of beeldgebruik. Een van die mees opvallende voorbeelde hiervan is “tydmaat” (43):

die heelal vlieg uit-

een en alles fladder:

pêrelborsswaels speel aan-aan met die branders

wiegende skilpaaie is seeskimme met eiers

(skuimlig in dieselfde broeigebied) en tortels

roei stroombewuste orrelmusiek hulle dryf

hulle onderwaterklanke tussen koraaldigtebome is peule

wind in my keel skielik weer die soet barsting

van ertjiekorrels (uit my oupa se tuin)

        kinderlik sluk ek sfere in

Myns insiens lê die kern van hierdie gedig in die volgende reëls: “wind in my keel skielik weer die soet barsting/ van ertjiekorrels (uit my oupa se tuin)”. Die beeld van ertjies uit die oupa se tuin en die sintuig van proe maak vir pretensielose poësie. As die digter hierdie beeld verder kon uitbou met dieselfde treffende beeldgebruik en taal, sou die gedig kon skitter. Ongelukkig word die gedig versuur met botsende metafore en verhewe taalgebruik.

Die verloop van die gedig is meestal ingebed in ’n onlogiese poëtikale verloop. As ’n mens hierdie verloop van beelde en metafore sou plot, sou dit soos volg kon lyk:

pêrelborsswaels ›

branders ›

wiegende skilpaaie ›

tortels ›

koraaldigtebome ›

peule ›

wind ›

keel ›

ertjiekorrels ›

sfere ›

Die beelde bots soos volg: het pêrelsborsswaels en tortels (tortelduiwe?) iets te make met die see; hoekom “koraaldigtebome” opstapel as beelde en nie “koraal so dig soos bome” of iets in dier voege nie? Hoe bind die koraal met peule wat skielik wind inlaat wat die leser dan na ertjies uitbring en sfere? Is ’n sfeer nie meer ellipties van aard nie en as dit wel die idee van rondheid bevat, korreleer ’n sfeer werklik op ’n effektiewe manier met ’n ertjiekorrel?

Dieselfde tipe problematiek met metafore en beelde en logiese verloop word ook gevind in gedigte soos “fotosintese” (52); “onbeslis” (58) (“etterstof” as samestelling is hier die basis van die probleem), en “Dit wat klaar is, vergaan” (63).

(4) Selfstandige naamwoorde wat ondoeltreffend as werkwoorde gebruik word

Daar is voorbeelde in die bundel waar selfstandige naamwoorde nie geslaagd as werkwoorde gebruik word nie. Een hiervan is “al-om-gedop” (41):

kroos manteldier buikpotig voort”

en verder in “vlugtig” (49):

“broeiend  vliering ek

die reën agterna”

 

(5) Soms ondermyn ’n enkele voegwoord ’n hele gedig wat andersins geslaagd was:

Gelukkig is hier nie te veel voorbeelde van in weer-lig nie, maar “skuimery” (59) staan uit in hierdie verband:

by Yzerfontein was die waterlyf

ysig met bare uitskotdoppe –

ek het pienkbruin skulpe opgetel

die afdrifsel-bloublasies

die inmekaargekringde ooievare (nee) weë-

klaende meeue wit ibisse van soutwater

amper vermy

en met my handsak vol tampons weggooidoekies

na die ablusieblok gestap

Die tematiek van die gedig word op ’n kreatiewe wyse ontgin: die spreker besoek Yzerfontein vir die seelewe en natuur om dan, ironies genoeg, by te dra tot die besoedeling van die natuurlewe. Daar is egter ’n probleem met die voegwoord “vol” in die tweedelaaste reël wanneer die leser dit visueel probeer voorstel: ’n handsak wat vol tampons en weggooidoekies is. “Vol” impliseer dat die vrou se handsak ’n hele spul tampons en doekies het en dat daar dus nie werklik plek sal wees vir iets anders in die handsak nie. Vrouens dra uiteraard hierdie produkte saam met hulle, veral tydens menstruasie, maar dis nie “[prop]vol” tampons en doekies soos ’n mens byvoorbeeld dosyne Pampers of Huggies in ’n doeksak sou vind nie.

Ook word ’n dubbelsinnigheid duidelik wat dalk onwetend deur die digter geskep is: dat die handsak vol reeds-gebruikte tampons en sanitêre doekies gestop is en dat sy hierdie items in haar handsak saamdra al die pad na Yzerfontein sodat sy daarvan ontslae kan raak in die ablusieblok.

’n Eenvoudige omkeer van die reëls en ’n dubbelpunt sou die visuele op sy kop kon keer, met die onlogiese “vol” wegdoen en die slotreël meer effektief maak deur dit te eindig met die tampons en doekies wat die double entendre van die gedig is. Hierdie is maar een voorstel:

na die ablusieblok gestap:

in my handsak tampons en weggooidoekies

(6) Tipografiese foute, probleme met aanhalingstekens en gebruik van aanhalings; spelfout

  • Die akuutaksent ontbreek by Cézanne waar hy aangehaal word aan die begin van die bundel.
  • Die agterplat en die persverklaring gebruik nie konsistente spelling nie: is dit meta-modernisties of metamodernisties?
  • Die gebruik van aanhalings en aanhalingstekens in “hoe om skilderye en staatsgeboue te brand” (5): Dalk is dit die “in-house” styl van die uitgewer, maar die volgende manier van aanhaal kom vreemd voor:

 hoe om ’n skildery en staatsgeboue te brand

“I am a part of all that I have met” – Alfred Lord Tennyson

Gewoonlik word die motto in ‘n gedig nie in aanhalingstekens aangehaal nie en word daar ’n spasie gelaat tussen die titel en motto.

Ook is die aanhalingstegniek aan die einde van die gedig eienaardig:

“The iron hand crush’d the Tyrant’s head

“And become a Tyrant in his head.” – William Blake, The Grey Monk.

As die digter met hierdie aanhaling wou eindig, sou dit dalk minder onooglik vertoon het as sy ’n voetnoot gebruik het vir Blake en The Grey Monk. ’n Verdere onduidelikheid is of dit twee aparte aanhalings is of een? Hoekom is daar ’n aanhalingsteken voor “And”?

  • ’n Tipografiese fout kom voor in “na die meditasie” (15): Sien vetdruk van die afkappingsteken.

.

aardsabdy lenig

met lig vonk ’n vuurvink

.

’n Growwe spelfout wat twee keer voorkom in “gedagtiggang” (50) is “labarint” wat “labirint” moet lees. ’n Afrikaanse Speltoetser en skerp proefleser sou hierdie onmiddellik kon raaksien en regstel.

(7) Gebrek aan ’n bundelkern of sentrifugale tema

Laastens wil ek die belangrikste kwessie van die bundel aanspreek, naamlik die kern van die bundel. Myns insiens lê dit in die twee gedigte wat die labirint en mandala as temas gebruik.

’n  Geleentheid om ’n visuele voorstelling van ’n labirint aan die leser te bied, het hier verlore gegaan.

Verstommend is dat Nieuwoudt wat ’n kunstenaar is en talle van haar kuns gebruik het in die bundel nie ’n beeld van ’n labirint geutiliseer het nie. ’n Verdere moontlikheid sou wees om die Minotaurus met die labirint te swaelstert, in woord en beeld. Dit sou selfs vir ’n wonderlike voorblad kon maak, veral omdat ’n labirint soveel vlakke van simboliek bevat.

Laastens werk die gedig “’n mandala” (8) inhoudelik goed kragtens die metaforiek en die geboorte-lewe-dood gang. Visueel werk dit nie as sodanig sleg nie: dit het vier dele wat veronderstel is om ’n tipe sirkelgang voor te stel.

Wanneer ’n mens dink aan wat ’n kunstenaar egter met moderne tegnologie sou kon verrig, is hierdie mandala skamel omdat dit byvoorbeeld nie ’n kern het nie maar ’n nommer vier (van die vierde gedig in die reeks) wat lukraak as kern dien. ’n Mandala het gewoonlik ’n vierkantigheid in die middel wat dan deur sirkels (wat nog ’n moontlike tema van liminaliteit sou kon aanspreek in die bundel) omring word. Hierdie ontwerp word veral gebruik in die Nepalese, Tibettaanse en Indiese mandalas wat ter meditasie of ghoeroe-joga gebruik word en Yantras genoem word. Daar is ook mandalas in die Christelike tradisie wat meer konsentries vanuit die kern beweeg en nie sodanig werk met vierkantigheid nie. Dié tipe kan gesien word in heilige katedrale soos die Notre Dame se roosglasvensters.

Een van die beste Westerse bronne oor die mandala is Jung se geskrifte waarin hy die mandala soos volg definieer:

The mandala (Sanskrit “circle”) is a basic form which can be found in nature, in the elements of matter, in the plant and animal worlds, as well as in objects and images created by man and his psyche. (77)

Vervolgens onderskei hy ook tussen die Yantriese tradisie en die Christelike een:

In Lamaism and Tantric Yoga the mandala is a circular representation of the cosmos in its connection with divine powers. It is used as an instrument of contemplation. (77)

en

“In the Christian mandala, with Christ at the center, the four Evangelists or their symbols mark the four cardinal points. The rose windows in Gothic cathedrals are abstract or cosmic mandalas”. (77)

Hier het Nieuwoudt wel die vier punte in haar gedig gebruik wat ’n mens laat dink dat sy eerder dit op die Christelike mandala geskoei het, maar dis net ’n raaiskoot.

Wat ontbreek in hierdie gedig, wat dan wyer uitkring in die bundel, is die gebrek aan ’n sogenaamde sentrifugale krag wat die gedigte as mandala saamsnoer. Alhoewel die bundelmotto’s lig, kleur en idees uitlig, is die bundel in geheel in psigiese chaos, iets wat opsig self wel ’n goeie tema sou kon uitmaak met die hulp van sleutel-temas soos die mandala en labirint. Die kern van die bundel is egter wankelrig:

Things fall apart; the centre cannot hold;

mere anarchy is loosed upon the world (W.B. Yates: “The Second Coming”, 210)

Aniela Jaffé skryf soos volg oor Jung en die mandala (77):

Jung interpreted the mandala as a symbol of human wholeness or as the self-representation of a psychic centripetal process (individuation). In dreams and fantasies the four-part mandala appears spontaneously, usually as an unconscious attempt at self-cure in states of psychic disorientation. It portrays a system of order which superimposes itself, so to speak, on the psychic chaos in such a way that the centrifugal tendency of the whole is held in check by the protective, enclosing circle, while at the same time the individual is given a place in a nonpersonal context.

Dit is nie te betwyfel dat Nieuwoudt as digter potensiaal het nie. Sy kan ’n belangrike bydrae lewer tot talle denkrigtings wat nog nie deur die Afrikaanse digkuns ondersoek is nie mits sy die logika van beelde en metafore streng ondersoek en die neologismes tot ’n absolute minimum hou en die kern van die bundel kan identifiseer. Talle  digters het ’n ‘rocky start’ gehad met hul eerste en selfs tweede bundels, maar na goeie advies geluister en die bloudruk van hul nuwe werk dermate verander dat hulle later suksesvolle argitekte van die digkuns geword het. Hieroor kan meer gelees word in J.C. Kannemeyer se Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004 en Hennie van Coller (samest.) se Perspektief & Profiel.

.

Jaffé, A. (red.). 1979. C.J. Jung. Word and Image. Princeton, New Jersey: Princeton            University Press.

Yeats, W.B. 1963. The Collected Poems of W.B. Yeats. Londen: Macmillan .

 

Bookmark and Share

Comments are closed.