Paul Celan. Vertaling in Afrikaans (Corona)

Paul Celan. Vertaling in Afrikaans deur Helize van Vuuren

.

vir Marlise J.

(wat daarvoor gevra het)

en vir Breyten B.

(vir inspirasie met die moeilike beginreël)


Corona

 

Die herfs het sy blaar so mooi uit my hand geëet: ons is vriende.

Ons dop tyd uit die neute en laat dit loop:

die tyd kruip terug in sy dop.

 

In die spieël is dit Sondag,

dromend word geslaap,

die mond praat waar.

 

My oog sak na my geliefde se geslag:

ons kyk mekaar aan,

ons sê die donkerte,

ons het mekaar lief soos roes en herinnering,

ons slaap soos wyn in die mossels,

soos see in die bloedstraal van die maan.

 

Ons staan omhels in die venster, bekyk vanuit die straat:

dit is tyd, dat hul weet!

Dit is tyd, dat die klip ryp word vir bloei,

dat die onrus ‘n hart slaan.

Dit is tyd, dat dit tyd word.

 

Dit is tyd.

 

Paul Celan uit Mohn und Gedächtnis, 1952; vert. Helize van Vuuren, Junie 2018

_________

Corona

.
Aus der Hand frißt der Herbst mir sein Blatt: wir sind Freunde.
Wir schälen die Zeit aus den Nüssen und lehren sie gehn:
die Zeit kehrt zurück in die Schale.

Im Spiegel ist Sonntag,
im Traum wird geschlafen,
der Mund redet wahr.

Mein Aug steigt hinab zum Geschlecht der Geliebten:
wir sehen uns an,
wir sagen uns Dunkles,
wir lieben einander wie Mohn und Gedächtnis,
wir schlafen wie Wein in den Muscheln,
wie das Meer im Blutstrahl des Mondes.

Wir stehen umschlungen im Fenster, sie sehen uns zu von der Straße:
es ist Zeit, daß man weiß!
Es ist Zeit, daß der Stein sich zu blühen bequemt,
daß der Unrast ein Herz schlägt.
Es ist Zeit, daß es Zeit wird.

Es ist Zeit.

 

.

Paul Celan uit Mohn und Gedächtnis, 1952

 

 

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Paul Celan. Vertaling in Afrikaans (Corona)”

  1. Elza Lorenz :

    Vir my ‘n lieflike vertaling in soveel opsigte. Die oorspronklike gebruik die allitererende “m” met groot vrug. Net een vraag: Is die vertaling van “Mohn”, wat ek as papawer/papawersaad ken, as “roes” vertaal omrede die assosiasie met herfs of is daar ander redes hoekom daar so ver van die oorspronklike afgewyk is?

  2. Hallo Helize

    Ek hou baie van hierdie vertaling van jou. Dit klink en lees heerlik eg in Afrikaans. Jy het baie treffende beelde raakgevat:
    “uit my hand geëet”

    “die tyd kruip terug in sy dop”

    “dromend word geslaap” en ’n hele paar ander.

    Ons weet natuurlik dat daar verskeie tipes vertaling is wat wissel van presies op die letter af, so na aan die oorspronklike as moontlik, tot ’n “hervertolking” van die oorspronklike teks.

    Jou vertaling hier tref ’n goeie balans tussen die uiterstes. Maar daar is ’n paar reëls wat my ’n bietjie laat wonder het:

    “Ons dop tyd uit die en laat dit loop:”
    As mens kyk na ’n Portugese vertaling, kry jy” “ensinamo-lo a andar” “Ons leer dit om te loop”.

    In Frans is dit: “et lui apprenons à marcher”. Weer eens “leer om te loop”.
    In Engels kry mens “teach to walk”.

    Die reël: “wir sagen uns Dunkles” is vertaal as” “ons sê die donkerte”.

    In Engelse vertalings kry mens: “we exchange dark words”

    Frans: “nous nous disons de l’obscur,” “Ons vertel onsself van die donkerte”.

    Laastens die reël: “wit lieben einander wie Mohn und Gedächtnis”
    “ons het mekaar lief soos roes en herinnering”.

    In Frans: “nous nous aimons comme pavot et mémoire,” Die word “pavot” of “Mohn” se algemeenste vertaling is “papawer”

    In Portugese vertaling ook: “nós nos amamos como papoulas e memória,” Die woord “papoulas is “papawers”.

    Ek wil dit duidelik stel: ek beweer nie dat die voorbeelde hierbo genoem “verkeerd” is nie. Die idee is net om die vertaler attent te maak op aspekte wat ’n leser opval en hom laat wonder waarom so sterk afgewyk word van die oorspronklike teks.

  3. helize van vuuren :

    Oor “Mohn” (dankie vir waarderingswoorde, Elza en De Waal)): die woord het baie, dikwels verwante betekenisse (sien https://www.duden.de/suchen/dudenonline/Mohn). Dit is bekend dat Paul Celan die taal wou oopbreek, uitbrei en vernuwe (soos seker enige digter van formaat). En daarvoor woordeboeke geraadpleeg het, veral oor ouer gebruike van woorde. Een bekende tegniek is ontginning van meer betekenisse as bloot die voor-die-hand-liggende. So ook met “Mohn”. Ja, dis papawer, papawersaad, opium, vergetelheid deur gebruik van opium, en ook genadekruid, galkruid, ‘n Joodse dis (“die Naute”) geëet met Purimfees ( ‘n fees gevier in Februarie/Maart ter herinnering aan die redding van die Persiese Jode, soos beskryf in die boek Esther). Dié dis bestaan uit papawer, neute en heuning. Verder kan “Mohn” ook ‘n onderaardse gang, en ‘n digterlike procédé wees in “Meistersang” (‘n Duitse gilde in die 15de en 16de eeu, met sterk voorgeskrewe reëls vir hul liedere), waar die tweede helfte die afgang, afsang ondersteun.

    Dit lyk my asof veral vergetelheid, maar ook die skakerings van genade, gal, die Purimfees en “Naute”-dis van papawer, neute en heuning, sowel as die onderaardse gegraafde berg, en die verwysing na die Duitse Middeleeuse liriek hier almal saamspeel (die ten tyde van skrywe “verroeste” sang, gestigmatiseer deur Wagner en sy 1868 opera Die Meistersinger von Nürnberg.

    Oor “roes”: die tweeling-begrippe aan die hart van Celan se oeuvre is vergeet en onthou (vergetelheid en herinnering): ‘n konstante proses van dwingende onthou (herinnering met dwanggedagtes) en die weiering om te vergeet, of toe te laat dat vergeet word, of onmoontlikheid om self te kan vergeet, met die uiteindelike, onontsnapbare donker einde, soos vir baie holocaust oorlewendes. Uit die donkerte belewe kom die byna dwangmatige terugkeer na die donkerte, uiteindelik, van die psigies-verskeurdes en verstoordes deur ervaring van die ondenkbare poging tot uitwissing van ‘n hele volk deur Hitler en sy magte. Ek moet bieg dat ek ‘n veertjie gesteel het by Ton Naaijkens wat “Mohn” as “roes” vertaal het, omdat dit so ‘n treffende rooierige kleur soos papawers is, maar die idee van verganklikheid ook in die woord “roes” sit. Hieroor merk Naaijkens op:

    Met het thema van de roes – en letterlijk van de papaver die vergetelheid brengt – verwoord Celan de keerzijde van die verplichting je de dingen te herinneren (inderdaad ook als talent om te rouwen, zoals Alexander Mitscherlich dat noemde). Ik kan me voorstellen hoe Celan, de verdrevene, in Parijs (…) aan het raam gaat staan en oostwaarts staart, in de richting van het land waar hij vandaan komt, om aan het firmament de sterrenbeelden van zijn jeugd te zien (Naaijkens 2003:823).

    Die sielkundige Mitscherlich (saam met sy vrou Margarete) was die skrywer wat in 1967 ‘die boek geskryf het wat die swye verbreek het’: Die Unfähigkeit zu trauern [Die onbekwaamheid om te rou]. Die titelhoofstuk is aanlyn beskikbaar in Duits:
    http://www2.hu-berlin.de/sachbuchforschung/CONTENT/SBDB/pix/PDF/Mitscherlich-Trauer-Inhalt.pdf
    Met hierdie boek het die sluise oopgegaan en die beweging van “Vergangenheitsbewältigung” as verwerking van die Nasionaal-Sosialistiese verlede het hierna in Duitsland begin.

    “Corona” staan in Mohn und Gedächtnis tussen twee allerverskriklike verse: “Spät und tief” wat eindig met die reël “Es komme ein Mensch aus den Grabe” [Daar kom ‘n mens uit die graf] aan die een kant, en “Todesfuge” met “swart melk van die voordag drink ons saans” as beginreël. Dit is Celan se debuutbundel, verse van 1944, in ‘n notaboek in the werkskamp Tabaresti en Czernowitz ontstaan, “Corona” in 1948 in Wenen vir Bachmann, en daarna die deurreis na Parys in 1949. Verse uit 1944-1952. Al dié feite het te make met die lesing van “Corona”.
    (Jammer dat ek so lank geskryf het!)

  4. Joan Hambidge :

    Helize, skitterende vertalings en dankie vir jou uitleg. Jy moet ‘n boek hiervan maak.

  5. Hallo Helize

    Ek het jou verduideliking van die “Mohn” begrip baie interessant en openbarend gevind. Dankie daarvoor. Ek dink nie jy hoef veskoning te vra omdat jy “te lank” geskryf het nie. Inteendeel, ek sou ook graag ook wou hoor wat jy te sê het oor jou vertolking van die volgende twee reëls. In albei het jy ook anders vertaal as bv. Franse, Portugese en Engelse vertalers.
    “Wir schälen die Zeit aus den Nüssen und lehren sie gehn”
    en
    “wir sagen uns Dunkles”

  6. Helize van Vuuren :

    Tydsproblematiek is ‘n sentrale tema in dié bundel en later by Celan (soos by Bachmann, met haar Die gestundene Zeit). Verder staan sy werk in die teken van donkerte (dink maar aan die “swart melk van dageraad”).

    Maar dit gaan tog nie oor die vertolking nie – daar is letterlik honderde “vertolkings” wat almal maar nawater, kassaterwater is teen wat die digter geskryf het, soos ‘n partituur oop vir interpretasie deur vertalers en lesers. ‘n Gedig wat vasgepen word vir interpretasie is die meer die naam gedig werd nie, het Celan ooit geskryf.

  7. De Waal :

    Dankie vir die toeligting, Helize.

  8. De Waal, ‘n Omvattender nagedagte (tegniek het my gepootjie – hierdie antwoord die vorige aand probeer stuur):

    In “Corona” as titel lê die antwoord op albei jou vrae, lyk my. ‘n Korona of corona is die dowwer kroon of krans om ‘n hemelliggaam, geskied deur ‘n penumbra (halfskaduwee) van die felle ligstraling van die hemelliggaam.

    1. Donkerte [“Dunkles”]:
    a) “the tenuous outermost part of the atmosphere of the sun appearing as a halo around the moon’s black disk during a total eclipse of the sun” (Webster’s). Die swart skyf van die sonsverduistering suggereer die totale vernietiging van alle beskawingsvorme, soos met Auschwitz en Hiroshima (Nancy in After Fukushima). Celan het gevlug en verkeer soos alle oorlewende slagoffers agterna in ‘n totale synsverduistering – ‘n uitsiglose “stupor, a distractedness, a horror, a hopeless torpor” (Nancy 2015). Donkerte alom, buiten vir die klein ligstraal van die verhouding met Bachmann (vanaf 20 Mei 1948 – gemerk deur bosse room papawers wat hy na haar gebring het volgens ‘n brief aan haar ouers. Altemit sou papawers inderdaad ‘n beter woordkeuse as “roes” wees vir die vertaling?) In Junie reis hy verder na Parys. die samesyn is dus ‘n luttele paar weke.
    b) Die “tongkroon” (voorste deel van die tong, waarmee die digter ‘praat’) is ook ‘n korona (WAT VII).
    c) Coronach = ‘n Ierse begrafnislied gespeel op doedelsakke.

    2. Neute-krakery: die middeldeur-breek langs die neutnaat heet die koronale naat volgens die WAT.

    Daar is klaarblyklik in Mei 1948 by die skryf van die vers (een van net see wat Celan in Wene geskryf het), groot donkerte in die digter-psige, te lees as ‘n algehele maan- of sonsverduistering, en tyd wat ‘gestol’ het, stil gaan staan het, op ‘n hopie getrek het in reaksie. Via die kortstondige verhouding “leer ons die tyd (vroulik in Duits, daarom “sie”) weer loop” – die gestolde tyd raak vir ‘n kort wyle weer bevry…

  9. GESKEI (nie geskied nie! -daar is ‘n lastige Nederlandse spel-checker wat heeltyd die skryf bebodder op hierdie webtuiste. Jammer)

  10. EN SEWE verse (nie “see” nie)

  11. Hallo Helize
    Weer eens dankie vir die interessante feite rondom die titel en teks. Ons is gelukkig in hierdie tyd dat daar ‘n podium soos Versindaba is waar mens belangrike sake kan debatteer. Jou verskeie kommentare het die leser heelwat insig gegee oor Celan s agtergrond en werk.

    Ek dink ook nogal dat “papawer” beter sou deug as “roes”. Lg. woord beweeg m.i. darem ‘n bietjie ver weg van wat ek meen die digter se bedoeling is. Bowendien het “roes” ook nog ‘n verdere ongunstige (en hier onvanpaste) konnotasie, nl. “dronkenskap”.

    Joan Hambidge praat van ‘n “boek maak” oor hierdie onderwerp. Ek stem saam jy kan heelwat baie nuttige inligting oor hierdie belangrike digter oordra in ‘n essay, verhandelingh of ander vorm. Ek hoop jy kom by soiets uit!

Los kommentaar