Marlies Taljard: Op soek na die wildehond wat in haar hou

Op die voorblad van Aniel Botha se bundel pirouette word glasskerwe met spatsels bloed uitgebeeld. Verwonding, emosionele krisisse en ineenstorting is die vernaamste tematiese materiaal wat ook in besprekings van dié bundel die meeste aandag geniet. Daar is egter ook ‘n ander leesstrategie moontlik wat ek in hierdie blog gaan aanraak. Eerstens fokus ek egter ook op die narratief van verwonding en vernietiging wat die bundel onderlê.

In ‘n vorige blog het ek aangetoon dat eetversteurings en selfvernietigende gedrag blykbaar redelik algemeen onder balletdansers voorkom. Dit is ook dié mite wat in ‘n film soos Black Swan en die TV-reeks Flesh and Bone ontgin word. Hoeveel waarheid werklik agter dié mite steek, is moeilik bepaalbaar. Daar is wel studies (soos dié wat ek in my vorige blog aangehaal het) wat dit bevestig. Ander navorsers beweer dat dit moeilik is om ‘n longitudinale studie uit te voer, aangesien dansers nie altyd gewillig is om op die lang termyn eerlike antwoorde te  verskaf nie. Wat wel duidelik is, is dat die meeste balletgeselskappe en -teatergroepe deesdae bewus is van die gevare om eetversteurings op te doen en pro-aktiewe stappe neem om dit te verhoed. Wat ek hiermee wil sê, is dat die digter, hoewel sy baie gedigte in die ek-modus skryf, in die bundel pirouette nie noodwendig die verhaal van ‘n spesifieke danseres vertel nie, maar met ‘n mite (‘n suburban myth) werk. En wanneer mitologiese stof in verhale (soos dié wat ontvou in die bundel pirouette) figureer, moet die leser bedag wees op betekeniskonstruksie wat universele geldigheid het.

Die ordenende metafoor in die bundel pitouette is die geleidelike aftakeling van die liggaam en die gees van die balletdanser wat dikwels as “ek” in die bundel figureer. In die eerste gedig van die eerste afdeling, “Selfportret” word byvoorbeeld ‘n ongelukstoneel uitgebeeld:

Asimmetriese kontoere

sper die gesig af.

‘n Ongelukstoneel.

Wange onherstelbaar

ingeduik, die neus

‘n skeefgetrekte wrak.

Skerwe glas blink

op die dowwe vel.

Bokant die ken

‘n gapende wond

waaruit woorde

onkeerbaar bloei.

In dié gedig vereenselwig die digter haar deur middel van die titel met die slagoffer van ‘n motorbotsing wat in grafiese besonderhede uitgebeeld word. In plaas van bloed, vloei daar egter woorde uit die “gapende wond” (wat rym met “mond”). Deur reeds in die openingsgedig die verband te lê tussen verminking en woorde, deur woorde aan lewensbloed gelyk te stel, word gesuggereer dat woorde en – metonimies gesien – gedigte en die skryf van poësie ook ‘n belangrike aspek van die digterlike diskoers in die res van die bundel sal uitmaak. Hierdie metafore dwing die leser om ook elders in die bundel na metatekstuele kommentar of digterlike selfondersoek en die aard van woorde, gedigte en digterskap te soek (iets wat deedsae byna verpligtend as deel van elke nuwe digbundel aangebied word!) Die suggestie word reeds hier aan die begin van die bundel gelê dat woorde/gedigte voortvloei uit verwonding en pyn. Verwonding is blykbaar ‘n voorvereiste vir die skryf van poësie. Ook in ander gedigte speel woorde ‘n belangrike rol. Een so ‘n gedig is “Spieëlskrif” waarin woorde en pyn weer in noue verband met mekar staan:

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand,

sien jy hierdie pen in my hand?

En sien jy my woorde soos skerwe glas

wat breek en sny en stukkend kerf?

 

Sien jy hierdie pen? In my hand

is ‘n spieëlsaal vol leuens

wat breek en sny en stukkend kerf.

My verse is spieëlglad en penskerp,

 

‘n spieëlsaal vol leuens,

weerkaatsings van weerkaatsings.

My verse is die spieëlgladde, penskerp

dubbelskrif aan die muur,

 

weerkaatsings van weerkaatsings

van spieëltjies, spieëltjies aan die wand.

Die dubbelskrif is aan die muur.

Sien jy? My woorde is skerwe glas.

Waar woorde in die gedig “Selfportret” metafories die lewensbloed van die skrywende ek verteenwoordig, gebruik die digter woorde in hierdie gedig om te verwar, pyn toe te dien en te lieg – sou die tipiese gedrag van iemand wat aan eetversteurings ly dalk in hierdie handelingspatroon gevind kan word? Die woord “skerwe” lê ‘n duidelike verband met die gedig “Selfportret” en motiveer die leser om die twee gedigte saam te lees as die tipiese simptome van iemand wat aan ‘n eetversteuring ly. So ‘n persoon kan nie anders as om te lieg en haarself en ander (fisiek en geestelik) te beseer nie – leuens, verminking en selfmisleiding het ‘n lewenswyse geword. Hierdie simptome is vir die danser meestal die begin van die einde (“die dubbelskrif is aan die muur”). Klem op woorde lei die leser veral om in hierdie gedig die “dubbelskrif” raak te sien en die verband te lê tussen die afgetakelde danser en die digter wat met woorde lieg, verwond en verwar.

Hierdie insig verhoed ons dan om die bundel “enkelvoudig” te lees deurdat daar eksplisiet na alternatiewe lae van betekenis (“dubbelskrif”) verwys word. Op die mees sigbare vlak van betekenis is die bundel pirouette beslis gemoeid met die suburban myth van die balletdanser wat haarself vernietig om liggaamlik aanvaarbaar te wees vir haar rol op die verhoog, in die proses allerlei neuroses, psigoses en eetversteurings opdoen en uiteindelik fisiek en geestelik ten gronde gaan. Hierdie geleidelike aftakelingsproses bespreek ek vervolgens volledigheidshalwe en omdat die bundel dalk nie meer so geredelik beskikbaar is nie.

In die inleidingsgedig kom reeds verminking en versplintering voor. Dit word voortgesit in talle ander gedigte. In die tweede gedig, “Aan skerwe” word die gebreekte Noritakebord ‘n metafoor van die spreker:

Toe self geval en gebreek, dié keer

die skerwe net daar gelos vir jóú

om in ‘n plastieksak toe te knoop.

Hier sien ons reeds die eerste keer tekens van ‘n problematiese liefdesverhouding. ‘n Lae selfbeeld (ook ‘n terugkerende tema) is ‘n tipiese kenmerk van mense met eetversteurings – die lyer aan anorexia nervosa hou immers op eet omdat sy selfs kort duskant die dood nog dink dat sy oorgewig is! Hierdie psigose word metafories vergestalt in die gedig “Woordvraat”: “ek vergryp my aan woorde” en in “Weigh Less” waarin klem gelê word op die verband tussen woorde/skryf/gedigte en die siektetoestand van die danser. In etlike gedigte is sprake van emosionele en psigologiese versteurings: die spreker word “gesertifiseer” (in die gedig “Stikland”) en verkeer “Agter tralies … van dié gestig” (“Inrigting”). Die verband tussen geestesiekte en die skryfhandeling word soos volg verwoord in die tweede afdeling van die bundel:

My brein is ‘n malhuis,

‘n gestig waar ek gek idees

in klein grys selle aanhou.

(…)

Meestal kan ek die dromende

dwaler betyds keer,

maar elke dan en wan,

in ‘n onverhoedse oomblik,

glip een deur die tralies

en beland op papier.

Problematiese verhoudings met familielede en vriende word in die derde afdeling onder die soeklig geplaas en vind weer eens met die woordmetafoor verstrengel uiting in ‘n gedig soos die volgende:

Ek kou jou woorde stukkend,

eet gebreekte letter-

grepe een-een op. Vind

liefde is nie net blind nie,

maar ook ‘n bitsige sjef.

Die ek-is-lief-vir-jou proe

skielik bitter op my tong, brand

soos rissies, trek my keel toe.

 

Kyk gerus hoe ek stik, my lief:

woorde uitgebrak op papier.

Die titel van die laaste bundelafdeling dui op ‘n finale afskeid, ‘n laaste buiging. In hierdie afdeling is die dood ‘n belangrike motief wat in die slotgedig, Sans révérence, vergestalt word in die dood van Odette/Odile, die swanedanseres wat sterf sonder “laaste buiging”. Ook in hierdie afdeling word die sterf-motief met die skryf van woorde in verband gebring (in die gedig “Ompad”).

In hierdie diskoers van geleidelike aftakeling, vernietiging, pyn en dood is daar egter ook ander motiewe verweef. Die sleutelgedigte is hier “La Loba” en “Vasalisa” – die eerste twee gedigte van die tweede afdeling Échappé wat letterlik “ontvlugting” beteken. Hierdie twee gedigte verwys inderdaad na ‘n ontvlugting uit die ou bestaan en die skep van ‘n nuwe identiteit in die plek van ‘n ou, uitgediende identiteit. Ten einde die impak van hierdie twee gedigte optimaal te verstaan, moet die leser eintlik vertroud wees met die interteks wat dié gedigte onderlê, naamlik Clarissa Pinkola Estés se boek Women who run with the wolves. Ek kan hier maar slegs by benadering ‘n idee verskaf van die ryk simboliese betekenis van die verhale “La Loba” en “Vasalisa” soos dit in Estés se bekende werk uiteengesit word. Albei dié verhale is inisiasierites, soos ook die verhale van Rooikappie, Sneeuwitjie (“spieëltjie, spieëltjie aan die wand”) en Alice in Wonderland wat elders in die bundel geaktiveer word.

La Loba

In Tarahumara, Phoenix, El Paso

maak sy droë bene bymekaar. Sy is

La Huesera, La Trapera, La Loba, die been-vrou.

 

Sy is wolfmens wat kruip en grou

deur woestyne, berge en rivierlope

van Tarahumara, Phoenix, El Paso,

 

op soek na die wildehond wat in haar hou.

Sy maak ‘n beeldwerk van been, noem dit

La Huesera, La Trapera, La Loba, been-vrou.

 

Sy sing die lied wat almal ken, maar min onthou.

Haar stem weergalm in die wind en waters

van Tarahumara, Phoenix, El Paso.

 

Sy sing, en die wolf word vlees en bloed en vel en klou;

word danser, digter, dogter van

La Huesera, La Trapera, La Loba, been-vrou.

 

Luister na haar stem, soek haar – maak gou.

Neem jou droë wit bene na haar grot

in Tarahumara, Phoenix, in jóú,

La Huesera, La Trapera, La Loba, been-vrou.

Estés het die verhaal van La Loba in die Tarahumara reservaat by ‘n inheemse Amerikaase vrou gehoor. Dit is ‘n bekende en argetipiese verhaal wat wyd bekend is by Indiane in baie streke van Amerika en Mexiko. La Loba (die wolfvrou) word ook genoem La Huesera en La Trapera. Sy is ‘n wilde vrou – die argetipe van die oer-moeder wat die vrou in kontak kan bring met haar dieper self wat verborge lê onder lae en lae kultuur en beskawing. Hierdie proses noem Jung individuasie (Estés gebruik dieselfde term). La Loba klouter rond in droë rivierlope en canions om wolfsbeendere bymekaar te maak wat sy rekonstrueer in ‘n wolfgeraamte. Wanneer sy die allerlaaste beentjie het, sing sy haar magiese gesange oor die beendere totdat hulle tot lewe kom en ‘n wolf voor haar staan. Die wolf vlug, maar sy sit hom agterna. Uiteindelik word sy een met die wolf. La Loba is dus die argetipiese vrou/moeder van wederopstanding uit die dood. Elke vrou is terselfdertyd die bossie bene wat iewers onder lae sand en klip begrawe is én die wolfvrou wat dié bene tot lewe oproep. Dit gebeur wanneer ons na die dieptes van ons psige afdaal (dit is ‘n gevaarlike proses) en daar begin om in liefde die “ek” wat aan skerwe lê, te vertroos deur sang, musiek, dans, meditasie en liefde. Dit is ‘n proses wat net onsself kan voltooi sonder hulp van buite. Wanneer die doodgebloeide psige uiteindelik sterk genoeg is om uit die skemeragtige tussenruimte te voorskyn te tree, kom daar inderdaad ‘n nuwe mens, ‘n varsgebore identiteit wat sterk genoeg is om die skadukant van ons psige te konfronteer, te voorskyn. Sing, dans en skryf is dié aktiwiteite wat individuasie aanhelp.

Die verhaal van La Loba is ‘n tipiese inisiasierite in dié sin dat die ou self moet ly en sterf om uiteindelik in ‘n nuwe, gesuiwerde hoedanigheid haar plek in die volwasse lewe vol te staan. Dood is hier slegs ‘n simboliese proses waarin die ou identiteit moet sterf om nuwe lewe te genereer – soos dit ook sigbaar is in die seisoenwisselinge.

Die verhaal “Vasalisa” is ook ‘n tipiese inisiasierite wat in Estés se boek vertel word. Dit begin met die tipiese motief waarin die jong dogter se ma sterf en daar ‘n stiefmoeder met twee dogters op die toneel verkyn wat allerhande onredelike eise stel aan die onskuldige dogter (hier Vasalisa – elders bv. Aspoesterjie). In die verhaal van Vasalisa moet sy na die bose heks Baba Yaga gaan om vuur te gaan haal, aangesien die stiefma hulle haardvuur laat doodgaan het. Baba Yaga stel eweneens eise, waaraan Vasalisa kan voldoen deur bemiddeling van ‘n pop wat haar oorlede moeder voor haar dood aan haar gegee het (die simbool van haar vroulike intuïsie). Uiteindelik gee Baba Yaga vir Vasalisa ‘n gloeiende kopbeen wat sy dan deur die gevaarlike, donker woud huis toe neem. Wanneer die vuur in die haard weer brand, verbrand die kopbeen die stiefma en stiefsusters tot net ‘n hopie as oorbly.

Vasalisa

Eendag was daar, en was daar nie,

‘n dogtertjie met ‘n poppie

in haar sak: pequeña vida,

klein lewe.

 

Op pad na die Baba Yaga

se huis in die woud fluister

die stukkie asem in haar sak

die pad na die een wat kan toor,

kan vlieg, kan seën én vervloek.

‘n Bietjie vuur is wat die meisie soek.

Die Yaga gee haar ‘n kopbeen

wat gloeiend brand, ‘n geskenk

van die voorvaders wat wéét.

Die skedel ‘n derde oog

wat die pad na die huis

in die woud nooit sal vergeet.

‘n Lewe in haar sak: oeroud.

Ook hierdie is ‘n verhaal waarin dit wat moet sterf, toegelaat moet word om te sterf ten einde ‘n nuwe identiteit te verkry. In hierdie inisiasierite moet die vrou bepaalde opdragte uitvoer waarin sy op haar intuïsie moet staatmaak (die stem van die poppie in haar voorskootsak). Volgens Estés is Baba Yaga ‘n variant van die wilde aardgodinne wat in die oerverlede van die mens regeer het. Hulle het oor bomenslike kragte beskik en kon willekeurig van gedaante verander (shape shift) sodat hulle aan verskillende mense dié hoedanighede kon skenk wat hulle op ‘n bepaalde oomblik in tyd in hulle soeke na hulleself nodig het. In die verhaal van Vasalisa moet sy leer om selfstandig te funksioneer, onafhanklik van haar oorlede moeder, ongeag die negatiewe lewensomstandighede wat haar kniehalter deur van haar intuïsie gebruik te maak wat sy van haar moeder (en al haar voormoeders) geërf het. Die gloeiende skedel wat sy as geskenk van die wilde (bevryde) Yaga ontvang, is vir haar sowel ‘n bron van vrees (bevryding kan inderdaad vreesaanjaend wees!), maar ook ‘n bron van insig in die donker van haar bestaan. Dat dit ook ‘n “derde oog” is, suggereer boonop spirituele heldersiendheid.

Hierdie twee gedigte impliseer dat die proses van aftakeing wat in die bundel pirouette die skering en die inslag vorm, gelees moet word as deel van die inisiasieproses met sy simboliese prosesse van dood en wederopstanding wat noodwendig met pyn, verwerping en lyding gepaard gaan. Dit lyk dan asof die digter in hierdie bundel haar eie individuasieproses as digter beskryf. Die oplettende leser sal in baie ander gedigte in die bundel – benewens dié wat ek bespreek het – ook op heenwysings na dié proses afkom.

 

Die visuele materiaal wat in die blog gebruik is, is gevind op die volgende webtuiste:

https://www.google.co.za/search?biw=1366&bih=673&tbm=isch&sa=1&ei=TOU0W9aJLMvPgAb-wIGYCg&q=old+ballet+toeshoes&oq=old+ballet+toeshoes&gs_l=img.3…152186.160175.0.161009.36.21.0.0.0.0.433.2320.2-3j3j1.7.0….0…1c.1.64.img..29.5.1486…0j0i67k1.0.2U70v50DTEI#imgrc=QTUZ0KH1HkbmVM:

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Marlies Taljard: Op soek na die wildehond wat in haar hou”

  1. Annora Eksteen :

    So lieflik – die prosesse van dans, van dig, uit die pyn kom wonderbare kuns tevoorskyn