Digter en resensent Tom Gouws sterf

Tom Gouws

Dis met groot skok en leedwese dat ons verneem het van die sinnelose moord op Tom Gouws se lewe, een van Afrikaans se vernaamste digters en as resensent ‘n gereelde bydraer tot Versindaba. Gewis sal sy entoesiastiese deelname en gewaardeerde ondersteuning gemis word.

Die berig kan hier gelees word:

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bekende-digter-in-huis-op-landgoed-doodgeskiet/

Ook:
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/
tom-gouws-die-sudoku-sal-oningevul-bly-20180726

Gouws, bekend as letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg (Nag van die lang messe). was ook digter (Diaspora, Troglodiet, Syspoor, Ligloop en Stigmata). In 2011 ontvang Gouws met Ligloop die ATKV-veertjie vir Poësie. Hy het o.a. gedoseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Die gesin woon op ‘n kleinhoewe buite Pretoria, waar die tragiese voorval gebeur het.

Ons innige meegevoel met sy vrou, Retha, en gesin.

Versindaba Redaksie: Marlise Joubert & Louis Esterhuizen

 

Bookmark and Share

16 Kommentare op “Digter en resensent Tom Gouws sterf”

  1. Yves T’Sjoen :

    Zojuist las ik het tragische bericht. Het is vreselijk. Voor familie, vrienden en collega-dichters mijn diepste betuiging van medeleven.

  2. Maria Snyman :

    ‘n GROOT verlies vir Versindaba – en vir Afrikaans! Ek ligloop al die heeldag om die donker van dié ding ligter te probeer maak! Ligloop is een van my gunsteling Afrikaanse digbundels! Ek brand om te weet wat daar lig in sy laaie lê? R.I.V. Tom Gouws.

  3. Maria Snyman :

    Tom Gouws se rekenaar is gesteel – mens hoop maar sy werk is êrens gerugsteun, of op ‘n wolk êrens op die internet. Ek dog ek laat net weet – wie bêre woorde nog in ‘n laai?
    https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/
    tom-gouws-die-sudoku-sal-oningevul-bly-20180726

  4. Louis Esterhuizen :

    Spiegel im spiegel

    Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld,
    maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
    – 1 Kor. 13: 12

    Hoe futiel is dit nie – ʼn spieël
    wat in ʼn ander reflekteer en selfsaam
    die een aan die ander
    wys –

    ʼn man en sy gesin kom tuis
    sewe rowers wag hulle in: drie met wapens
    vier daarsonder
    goedsmoeds en trompop
    is nie woorde
    van verdriet nie, want hulle
    reflekteer
    mekaar nie, maar verklaar tog

    die man op die kombuisvloer in eie bloed
    sy vrou op haar knieë langs hom, rewolwer teen die kop
    vir ʼn selfoon
    en ʼn skootrekenaar
    terwyl buite die tralies
    ʼn amperse volmaan hierdie raaisel
    buig tot eendag van aangesig
    tot aangesig

    soos musiekstukke wat mekaar terugkaats
    as treursang vir ʼn digter.
    Maar in godsnaam, hoe futiel
    is dit nie.

    – In memoriam: Tom Gouws, 25.07.18

    (c) Louis Esterhuizen / Julie 2018

  5. Nicolaas :

    Die ANC regering weet seker nie eens hiervan nie. ‘n Onskuldige weerlose man. Neem Solidariteit en Afriforum kennis hiervan? Kan ons dit wyd uitbasuin in die wêreld asb? Daar word alewig ‘n ophef gemaak van sekere ikone tot dit by mens se keel wil uitloop. Wat van die regte begaafde mense soos Tom wat sonder rede koelbloedig vermoor word? Is die literêre wêreld maar net stil en aanvaar dit? Kan ons groot stemme soos Breyten Breytenbach en JM Coetzee asb iets sê?

  6. Clinton V. du Plessis :

    Verwond
    (Vir Tom Gouws)

    In die begin was die woord
    en in Stigmata, die skrywes juis óók oor die dood.

    In hierdie land moet jy leer om lig te loop
    katvoet, rats,
    die rot,
    die roes,
    die roof
    te (probeer) ontduik,
    grotbewoner word,
    ten einde te oorleef.

    Hier op God se kleinhoewe
    bestaanboer jy met vers, brand jy jou kers,
    in Afrika, vir Afrika.

    Maar, lewensgevaarlik word die besit van:
    Handsak.
    Selfoon.
    Skootrekenaar.

    En Iewers in hierdie droewe land is die geheue
    van jou skootrekenaar nou reeds skoongevee
    gestroop van gedig, van vers, van woord.

    En al wat bly, die koeêlwond en jou stil mond.

  7. Nicolaas :

    Baie netjies geskryf Clinton. Dis hoe dit is ne. Vee die hardeskyf skoon en verkoop die gesteelde goed. End of story, regering apaties, literêre gemeenskap apaties

  8. Nicolaas :

    Kritiseer ‘n gedig dan is hulle op die agterpootjies. Praat oor ‘n literêre reusetalent wat vermoor is, nee wat sal later as ons kans kry

  9. Charl-Pierre Naude :

    Hierdie in memoriam gedigte moet gewaardeer word deur almal wat ooit deel was van hierdie literere dampkring. Mooi Clinton en Louis.

  10. Groot waardering Clinton en Louis, gelyktydig oorweldigende hartseer, Tom.

  11. Ek eer ‘n man wat deurgaans toeganklik vir die bevordering van Afrikaanse woordkuns deur aspirant woordkunstenaars was deur keuring, insette en ondersteuning van my ideale tot groter sinergie tussen alle Afrikaanssprekendes. Daarvoor is hy in 2015 met die Cordis Trust Orde van die goue Pen vereer.Ek sal sy geesgenootskap op ander lewensvlakke mis.

  12. Marie Bredenkamp :

    Ek treur oor die verlies: daar is ‘n sekere onvervangbaarheid in ‘n mens soos Tom se dood – die wrede losruk uit die omhelsing van sy woorde laat die gebeure herhalend voor die gees afspeel. Dis daardie ding van die spieel en/in die raaisel.. Rus in vrede.

  13. Huldigingshaikoe aan Tom Gouws

    Somer het gebreek,
    blare hang leeg en stil –
    hy verken verder.

  14. Yves T’Sjoen :

    Vandaag publiceert de Vlaamse krant De Standaard een bijdrage van Breyten Breytenbach en mijzelf naar aanleiding van de dood van een dichter in Zuid-Afrika.

  15. Yves T’Sjoen :

    Helaas staat de bijdrage vandaag achter een betaalmuur. Ik kan de integrale tekst die is voorgelegd aan de krantenredactie hier online plaatsen voor Zuid-Afrikaanse en andere Nederlandssprekenden. Dank voor de belangstelling. Ook de SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sinds vanmiddag de zusterinstelling in Gent, de Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde, besteden aandacht aan het tragisch overlijden van Tom Gouws en de desastreuze spiraal van geweld en angst in Zuid-Afrika.

  16. Marlies Taljard :

    Ons het een van die mees begaafde Suid-Afrikaners verloor. Ironies word daar in Nederland meer gewag gemaak daarvan as in Tom se vaderland. Tog sal Tom deur sy werk ‘n kosbaarder nalatenskap laat as die sogenaamde Groot Kanonne wie se dood tot vervelens toe op die voorbaaie van koerante en op die internet uitgebasuin word. Rus in vrede, Tom.

Los kommentaar