Wicus Luwes. Hoe om ‘n stoel te teken

My kinders het ‘n nuwe toepassing op die selfoon ontdek. Dit is soos Pictionary van ouds. Jy moet ‘n prent teken sodat jou spanmaats die item in die prent kan identifiseer. Jy as tekenaar mag natuurlik nie praat terwyl jy teken nie. Slegs jou spanmaats mag praat terwyl hul raai. Terwyl jy byvoorbeeld ‘n appel probeer teken, sal jou spanmaats raai dat jy ‘n bal teken, of ‘n wiel. Jy probeer noodgedwonge om die minste hoeveelheid lyne of potloodstrepe te gebruik. Die spel gaan natuurlik ook oor die raaklyne wat ons met verskillende mense het: die manier waarop jy iets soos ‘n stoel sien is van minder belang; dit gaan eerder oor die manier waarop jou spanmaats ‘n stoel sien.

 

regterstoel
skuif agter waterpas tafel in
met ‘n stukkie papier onder een poot

 

die stoel
‘n poot vir elke windrigting
‘n sitplek vir waar jy nou is

 

kroegstoel
sit terwyl jy staan
halfvolglas lyk leeg van bo

 

die bokser se sitplek
staan in die hoek
van ‘n ronde kryt

 

die restaurant sluit
die feestafel is leeg
behalwe vir ‘n omgedraaide stoel

 

Elke sitvlak moet een of ander tyd tot sit kom. Sonder dat ons dit besef, sit ons dan ook nog op meer as een stoel op enige gegewe tyd. Sommige van die stoele word vir jou aangegee of onder die tafel uitgetrek. Ander stoele word deur die persoon self opgeneem.

Ek dink weer terug aan Oom Jannie. Sy seun het vir my die storie oor Oom Jannie vertel. Oom Jannie het buite ‘n winkelsentrum gesit en wag op sy vrou. Die oom kon met enigiemand ‘n gesprek aanknoop. Ek sien al vir Oom Jannie terwyl sy seun praat: Hy het ‘n kraaghemp aangehad en lang sokkies. Die voorgeslagte het altyd netjies aangetrek as hul dorp toe gegaan het. Langs Oom Jannie was ‘n jongman wat vasgehou het aan ‘n winkeltrollie. Hulle het ‘n betonbankie gedeel, so dit was amper ‘n gegewe dat Oom Jannie met die jongman sou begin praat.

“Wag jy ook vir jou vrou om uit die winkelsentrum te kom?” het Oom Jannie gevra.
Die jongman het geknik.

“My vrou is al gister by die deur in. Dink jy sy gaan nog terugkom?” het Oom Jannie die ewe droog laat val.

Al wat Oom Jannie en die jongman gedeel het, was ‘n bankie aan die buitekant van ‘n winkelsentrum. Oom Jannie het egter die gedeelde sitplek gebruik om meer raakpunte te skep.

Die mens kyk anders na iemand wat dieselfde sitplek as jy deel. Jy herken die man wat langs jou in die bus gesit het. Jy gedra jou op ‘n sekere manier uit respek vir die ‘voorsitter’ of ‘chairman’ wat aan die oorkant van die raadstafel sit. ‘n Stoel is ‘n raakpunt, ‘n deelpunt, ‘n verwysingspunt. ‘n Warm stoel dui daarop dat iemand voor jou daarop gesit het. ‘Die warm stoel’ is self ook deel van die spreektaal of idiome.

Om terug te beweeg na die teken-speletjie: hoe sou jy ‘n stoel teken? Het dit vier pote en ‘n sitplek? Miskien het jou stoel ‘n rugleuning en armleunings. Wat is die verskil tussen ‘n koning se stoel en ‘n sekuriteitswag se stoel? Watter stoel sit lekkerder – ‘n ou stoel of ‘n nuwe stoel?

Aristoteles het niks van Pictionary geweet nie, maar hy het oor die definisie van dinge gedink. Indien jy sy ‘Vier Oorsake’-metode op die stoel sou toepas, sou jy die volgende vrae kon vra: Waarvan word die stoel gemaak? Die moontlikhede is legio, maar dit is goed om dit op een stoel toe te pas. Ek gebruik dus ‘n hout eetkamerstoel as voorbeeld. Volgende sou ek kon vra watter vorm die stoel aanneem. In die geval van die eetkamerstoel, sou dit vier pote met ‘n sitplek en rugleuning wees. ‘n Mens sou ook kon vra wie so ‘n stoel sou maak. Ek neem aan dat ‘n jy aan ‘n skrynwerker of meubelmaker se deur sou kon klop. Aristoteles sou vierdens wou weet waarom die stoel gemaak is. Een rede sou wees om genoeg sitplek vir die gesin te hê tydens etes. Die stoel sou vir baie doeleindes gebruik kon word, maar ek dink dat die hoofdoel vir sy ontstaan opgesluit lê in die naam wat ons vir hom gee: eetkamerstoel.

Einstein het sekerlik ook nie Pictionary gespeel nie, maar miskien kan relatiwiteit ons help met die tekening: definieër jy ‘n stoel of word die stoel deur jou gedefinieër? ‘n Menslike hulpbronne-bestuurder vertel my een dag die volgende:
“Sien jy daardie man,” het hy gesê.
“Hy is vriendelik en aangenaam terwyl hy by die kantoor is. Dit alles verander as hy op die unie se stoel sit – dis asof sy rooi hoed die hele stoel rooi kleur.”

Die Jode het ‘n mooi tradisie met betrekking tot Elia se stoel. Daar word ‘n leë stoel uitgesit tydens belangrike gebruike. Dit beteken dat daar tydens die besnydenis ‘n leë stoel in die kamer staan wat Elia verteenwoordig. Elia was ‘n belangrike profeet in die Joodse tradisie. Ook tydens die viering van Pasga word ‘n leë stoel en leë plek aan die tafel gedek as plekhouer vir Elia.

Op ‘n sekere vlak is die stoel waarop nie gesit word nie, meer belangrik as die stoel waarop daar wel gesit word. (Ek verwys nie na die sitkamerstoele wat slegs vir belangrike gaste gebruik word nie.) Daar is stoele wat jy jouself ontsê en ander stoele waarop jy veels te lank sit.

Beide die tekenspel op die selfoon en Pictionary is aan tyd gebonde. Elke speler het slegs ‘n kort ruk om sy prent te teken. Die een wat teken hoop dat die prent wat hy teken deur sy mede-spelers verstaan word. ‘n Stoel kan met so min as drie lyne geteken word, somtyds selfs minder. Dit hang net af hoe die stoel in jou gedagtes lyk.

 

niemand sit op jou stoel nie

dit is nie met fluweel
oorgetrek of
met goud beslaan nie
die pote is ongelyk
en die verf is afgedop

niemand sit daarop
vandat jy weg is nie

dit is jou stoel
en dit is leeg

 

Bron:
1. https ://deskgram.org/explore/tags/paddastoel
2. https ://www.claimshop.top/wooden-swing-seat

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Hoe om ‘n stoel te teken”

  1. Renée du Toit :

    Jy sit in die voorste gestoeltes Wicus

  2. Maria Snyman :

    Kyk na die tussen-in ruimtes, volg hulle lyne getrou, en ‘n stoel verskyn op jou – papier.

    Stapel ‘n paar stoele opmekaar, steek hulle pote deur mekaar, volg die lyne van die ruimtes tussen-in, en ‘n stapel stoele verskyn op jou – papier.

    Maak jou stoeltekenstorie my nou liries, Wikus! Die teken via negatiewe ruimtes is ‘n ou tekentruuk – nuwe tekenstudente vind dit altyd baie prettig. Dit is natuurlik ook ‘n goeie truuk om die liggaam in perspektief raak te vat op ‘n stuk plat papier.

    Rakende viere en vierkante hou ek ook altyd van die volgende stukkie van Descartes wat Derrida in “Cogito and the History of Madness” aanhaal:

    “That is possibly why our reasoning is not unjust when we conclude from this that Physics, Astronomy, Medicine and all other sciences which have as their end the consideration of composite things, are very dubious and uncertain; but that Arithmetic, Geometry and other sciences of that kind which only treat of things that are very simple and very general, without taking great trouble to ascertain whether they are actually existent or not, contain some measure of certainty and an element of the indubitable. For whether I am awake or asleep, two and three together always form five, and the square can never have more than four sides, and it does not seem possible that truths so clear and apparent can be suspected of any falsity.”

  3. Wicus :

    Dankie vir die lees, Renée en Maria. Maria, die tussen-in ruimtes is ‘n pragtige gedagte. Daardie sitplek en stoele tussen die reëls van ‘n gedig is uiters belangrik.