Nini Bennett. Wolke

Wolke

 

Wolke is gedagtes

wat vra om woorde te word.

Ek speel met beelde

van Kopland, Nijhoff en Strand,

sien vergesigte van reën,

die knettervuur van hael op dakke,

die son se loodlyne wat sub-tropies

die hemel deurhaal in waterpas strale.

Of die los genade as

klawers spat, vet druppels

armansreën; die nederige Karoo

se gulhartige gee.

 

Die meteorologie staan tru.

Cirrus se veerlig,

die brandstapels in Cumulus.

Die miere, die verspieders weet

die wolke is deur digters gedoop.

 

© Nini Bennett. 2018

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Nini Bennett. Wolke”

  1. Elza Lorenz :

    Gedagtes wat gedurig vorm verander, oplos, aanbeweeg. Besonder gepaste metafoor en belewing.

Los kommentaar