Onderhoud met Pieter Odendaal (Asof geen berge ooit hier gewoon het nie)

Pieter Odendaal gesels oor sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie wat pas by Tafelberg Uitgewers verskyn het. Louis Esterhuizen het die vrae gevra.

*

LE: Pieter, van harte geluk met ʼn besonder indrukwekkende debuut. Voor ons oor die gedigte self begin gesels, wil ek jou egter eers oor jou jarelange betrokkenheid by die bevordering van die digkuns uitvra. Kom ons begin dus sommer by jou jeugjare. Waar het jy grootgeword en vanwaar die passie vir die digkuns?

PO: Ek het in Bloemfontein grootgeword, van kleins af musiek gemaak en af en toe ’n song geskryf. Dit was een van my Afrikaanse onderwysers op hoërskool, juffrou Raadt, wat my die eerste keer aangespoor het om gedigte te skryf. My oom, Bernard Odendaal, het na van my vroeë verse gekyk en my oortuig dat dit iets was om na te streef. Maar my passie is ordentlik gestook deur die InZync events wat ons maandeliks in Kayamandi vir ’n paar jaar gereël het. Daar het ek die meeste oor die belang van die poëtiese woord geleer – waarvoor ’n mens haar kan aanwend, die magiese effek wat sy op digter en gehoor kan hê, die saamwees wat sy kweek.

LE: Van jou eerste jaar as student by US was jy betrokke by kampusletterkunde – onder andere as webmeester van SLiP (die Stellenbosch Literary Project) – en veral as organiseerder van maandelikse poësievoorlesings by InZync in Kayamandi. Ook het jy al by talle literêre feeste opgetree en word jy vry algemeen as ʼn bedrewe podiumdigter beskou. Wat is die belang van hierdie inisiatiewe, volgens jou?

PO: SLiP het my blootgestel aan die grotere Suid-Afrikaanse letterkundige wêreld en my oë oopgemaak vir die moontlikhede van aanlyn literêre platforms. InZync was my eintlike leerskool – daardeur het ek ’n gemeenskap van veeltalige digters leer ken saam met wie ek vandag nog ’n pad stap. Ek dink eintlik die term “podiumpoësie” is problematies, so ook die term “performance poetry”. Hierdie etikette word gebruik om die ou, diep kloof in Suid-Afrika tussen die geskrewe en gesproke woord, tussen die orale en gedrukte tradisies, te perpetueer. Op die ou end van die dag wil ons almal tog die woord laat sing.

LE: Aansluitend tot bogenoemde: Het jou betrokkenheid by voordragte en sogenaamde “podiumpoësie” enige direkte invloed op hoe jy jou taak as digter sien en hoe jy die maak van ʼn gedig benader?

PO: Ek dink die onmiskenbare teenwoordigheid van ’n gehoor het definitief ’n invloed op my ontwikkeling as digter gehad. Hulle herinner jou dat jy nooit besig is om in ’n vakuum te skep nie, en kan ook soms genadeloos wees – dis die vinnigste manier om feedback te kry oor of ’n gedig werk of nie, en dra ook by tot die demokratisering van poetry – dit maak poetry meer toeganklik, en bring ons terug wortels toe. Kontemporêre voordrag kan ook as ’n voortsetting van ’n Suid-Afrikaanse tradisie gesien word wat haar oorsprong in die prysliedere van iimbongi het en later aangewend is tydens die struggle om mense te mobiliseer. Hierdie tradisies wys ons dat poetry nie niks laat gebeur soos Yeats dit sou wou hê nie. Poetry raak mense, dit transformeer ons en daardeur ook die wêreld.

LE: Tans is jy besig met jou PhD in podiumpoësie as bevorderaar van weerbaarheid in sosio-ekologiese stelsels … Kan jy ons dalk ietsie meer hieromtrent vertel? Wat is ʼn sosio-ekologiese stelsel, byvoorbeeld?

PO: My PhD fokus op die unieke potensiaal van kuns in die algemeen en poësie in die besonder om ons verhouding met die natuur te ondersoek en te verander. Die term “sosio-ekologiese stelsels” is ’n fancy manier om te sê dat die wêrelde van mens en natuur intiem met mekaar verweef is en dat ons hierdie verweefdheid moet begryp en versterk as ons wil leer om saam te floreer. My PhD het ’n sterk praktiese komponent, so ek beplan om ’n reeks poetry-werkswinkels en -events in Kaapstad en Bloemfontein te reël om te leer hoe ’n mens poetry kan gebruik om brandende kwessies soos die waterkrisis en grondhervorming aan te spreek.

LE: Vervolgens wil ek gesels oor jou bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Kom ons begin by die titel: wat is die implikasie van dié titel en hoe vind dit gestalte in die gedigte?

PO: Die titel kom uit een van my gedigte, en trek verskillende temas saam – eerstens, ons ongeërgde plundering van die natuur; tweedens, die blinde arrogansie van koloniale uitbreiding (wat op verskeie maniere vandag voortduur); en laastens, die relativerende perspektief van geologiese tyd, van berge wat ook ultimately, nes ons, sal verdwyn. Die ekologiese, politieke en filosofiese resonansies van die reël het my bygeval en help om die verse in die bundel te situeer.

LE: Jou uitgewer se begeleidende inligtingstuk tipeer die bundel soos volg: “Met ʼn eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil, ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek.” Volgens my is hierdie ʼn besonder akkurate tematiese opsomming van die gedigte in Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en die reikwydte daarvan. Het hierdie gedigte oor ʼn lang tyd tot stand gekom, of is die meerderheid van dié vyftigtal in ʼn vlaag van geïnspireerde bevlieging geskryf? Op watter stadium het jy begin voel: Ja, hierdie gedigte kán ʼn bundel wees …

PO: Ek dink al jare daaraan om my verse byeen te bring, maar moes wag tot daar genoeg blare was dat mens dit ’n boom kon noem. Die gedigte is dus oor ’n lang tydperk geskryf, maar so georden en gekies dat daar ’n eenheidsgevoel te midde van diverse temas kon wees.

LE: Die bundel open met ʼn lieflike aanhaling uit Keorapetse Kgositsile se gedig “Like the tide: Cloudward” uit die bundel My name is Afrika. Hierdie aanhaling en die treurdig “Bra Willie” (p. 16) dui daarop dat Bra Willie meer as bloot ʼn kennis was. Watter invloed het hy gehad in die ontwikkeling van jou digterskap?

PO: Ek het die voorreg gehad om hom twee maal te ontmoet en ’n paar dae saam met hom en ’n groep digters in Grahamstad in 2016 deur te bring. Sy insigte en advies oor die dinge wat mens met poetry kan doen, sowel as sy ruime hart en deurdringende oë, het ’n diep indruk op my gelaat. Maar ek het eers besef hoe belangrik sy stem vir my was die dag toe hy ons verlaat het.

LE: Interessant genoeg open en sluit die bundel met gelyknamige afdelings wat ʼn vraag stel: Re mang? Tog verskil die gedigte in die eerste en laaste afdelings ingrypend van mekaar; iets wat die vermoede van ʼn bepaalde progressie by die leser wek. Wat sou jou kommentaar op só ʼn stelling wees?

PO: Ek dink tog dat ’n bemoeienis met die sosio-politieke werklikheid, en hoe dit ons konsepsie van wie ons is bepaal, die twee afdelings bind. Miskien is daar wel ’n onbewuste progressie in die manier waarop die gedigte die vraag Re Mang? benader. Die gedigte in die laaste afdeling is in die algemeen meer onlangs geskryf.

LE: Die tweede Afdeling, heil die planetêre skeppers, open met ʼn aanhaling uit Toast Coetzer se “natuurgedig” (“destyds het ouens soos van wyk louw en opperman / nice gedigte oor die natuur geskryf / ons het nie meer tyd vir sulke kak nie”) en bevat van die mees ongewone natuurgedigte (oftewel ekopoësie) in die Afrikaanse digkuns. Besonder interessant is die wyse waarop jy natuur en gemeenskap met mekaar verweef, soos met die gedig “eersterivier” (p. 34), byvoorbeeld. Hoe ag jy die belang van ekopoësie en die ontwikkeling daarvan in die Afrikaanse digkuns?

Ter illustrasie haal ek die slotreëls uit genoemde gedig aan:

hoor die rivier die rivier was eerste hier

sy dra die stories van geslagte

ons verledes skuim oor klippe

ons is altyd onderweg

eendag keer ons terug see toe

                dan herinner ons die golwe

gaan die swaartekrag wat alle strome

laat vervloei tot rivier

hoor die rivier die rivier was eerste hier

PO: Ek dink dit is belangriker nou as ooit om ons verhouding met die natuur te vier en te herontdek. Iewers langs die pad het ons vergeet hoe afhanklik ons van berge en riviere is. Maar ons kan nie hul skoonheid beprys en blind wees vir die ongeregtigheid wat om ons is nie. Die prefiks eko- kom van die Griekse oikos, oftewel huis. En die huis behoort aan almal wat in haar woon.

LE: Die gedigte in genoemde afdeling, heil die planetêre skeppers, toon wel ook ʼn distopiese aanslag, soos die gedig “aan ʼn bewoner in 2050” (p. 37), byvoorbeeld. Handhaaf jy ʼn sombere uitkyk op die (ekologiese) toekoms van ons planeet en samelewing?

PO: ’n Sombere uitkyk help my soms om rustiger te wees oor die sosiale en ekologiese skade wat ons op die planeet en haar mense wreek. Maar apokalipties is ek nie – ons en die bos is weerbaarder as wat ons dink. Nietemin is realisitiese verse oor ons trajek belangrik omdat hulle help om ons op ons tone te hou.

LE: Die “stories van geslagte” en “verledes (wat) oor klippe (skuim)” waarna daar in die gedig “eersterivier” verwys word, vind dan neerslag in die derde afdeling voor ons deurskynend word. Een van die mees onthutsende verse in hierdie afdeling is die gedig “inisiasie” (p. 58).

Ek haal die slotstrofes aan:

ons ry tot teenaan my mondigheid

wat in die son lê en blink

hy skryf sy eie poem in die sand

     kom boeta

sê pa

     jy moet sy keel afsny

     anders ly hy

 

ek doop my vingers in die ink,

neem sy kop in my hande vermy sy oë

sy keel spoel uit op my skoot

soos iets wat eerder ongesê moes bly

Lees ek die vers korrek as ʼn ars poëtika? Indien wel, in welke mate verskil hierdie ietwat gewelddadige siening van (inisiasie tot) die digkuns byvoorbeeld van DJ Opperman se geykte “engel uit die klip”? Het dit dalk terselfdertyd betrekking op die Toast Coetzer-aanhaling wat jy as motto by die vorige afdeling gebruik het?

PO: Ek het eintlik nog nooit aan die vers as ’n ars poëtika gedink nie, maar nou dat jy dit noem mag dit wél die geval wees. Die gedig praat oor die geweld wat ons veral by ons vaders oorgeërf het, hoe ons dieselfde geweld onnadenkend pleeg, en die belang van die poësie om hierdie trauma te help verwerk.

LE: Pieter, as laaste vraag wil ek ʼn vraag vra wat dalk nie té gemaklik in jou klere gaan sit nie. Nogtans sal ek (en vele ander van my generasie) dit enorm waardeer indien jy wel hierop sal kan antwoord. Die openingsgedig in die laaste afdeling heet “in praise of protest” (p. 95) en begin met die volgende reëls:

hier op stellenbosch soos orals elders

teken ons beswaar teen ekshelde aan

en dis goed so

want gister is altyd aan die verander

hoe verder mens vorentoe beweeg

hoe krommer lyk die pad agter jou

ons kyk anders na die wêreld

en dis goed so

want as almal nog in die 60’s gechill het

sou ons nie saam in hierdie gedig kon wees nie

Nie net hierdie gedig nie, maar jou bundel in sy geheel, maak my verskriklik opgewonde omrede jou gedigte volgens my ʼn enorme groeipunt in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. In welke mate – volgens jou oordeel – verskil jou generasie se aanslag op die digkuns en siening van digterskap byvoorbeeld van my generasie sʼn … die ouens wat in die 60’s gechill het, soos jy dit stel.

PO: Ek is geen spokesperson vir my generasie nie, maar ons jongeres het in ’n ander Suid-Afrika grootgeword. Die gaping tussen ons ouers se verstaan van die wêreld en ons s’n lei soms tot ’n soort skisofrenie, veral as jou pa nie verstaan hoekom jy saam toyi-toyi nie. Maar ons is besig om ons eie pad te vind, om ’n nuwe weg te baan, want ons moet leer om anders saam in hierdie land te wees. Alhoewel daar Afrikaanse digters was wat saam die res van die land teen apartheid geskryf het, is daar ook poets wat gehelp het om die status quo te handhaaf deur eksklusief apolitiese verse te skryf and daardeur argumente teen “betrokke kuns” te onderskryf. Ons kan nie bekostig om onbetrokke te wees nie. As ons saam wil vorentoe, moet ons die onnoembaarhede van die verlede op die naam noem.

LE: Nogmaals baie dankie vir hierdie gesprek, Pieter. Ek wens jou alle voorspoed toe in die verdere ontwikkeling van jou digterskap; mag hierdie bundel vir jou alles wees waarop jy hoop en wat ek glo dit sal wees.

Sou jy miskien as toegif, by wyse van groet, een van die gedigte uit asof geen berge ooit hier gewoon het nie hieronder plaas?

***

Vreemdeling, laataand-gesprek, Corridor se

stoep, Stellenbosch

[Lees hardop met Jon Hopkins se “Abandon window” in die

agtergrond. Gee jouself oor aan die ruimte wat die song skep.]

Kayamandi lê voor ons:

die natblink ingewande van ’n bees.

Jy bly aan die ander kant

waar die baksteenhuise is,

verseker jou slepende tong my.

Jou hare is kort geskeer:

eers het jou ma gegaan, toe jou pa.

Gelukkig het hy genoeg

vir groente gelos, sê jy,

vir jou en jou boetie.

Jy is skaars sestien,

lieg vier jaar by.

Ek weet nie hoe om ’n pa te wees nie, sê ek.

Jou woorde val tussen tale rond

nes jou besope idees oor my bleek voorregte.

So ook my halfsinne wat hierdie sinkende

gesprek probeer anker:

“Nee, jy hoef nie Afrikaans . . .”

“Ja, ek is, maar . . .”

“Bloemfontein.”

Jou gesig lê tussen my en die shacks.

Jy korrel met jou mond,

ek weet ek moet,

maar ek koes nie.

Trou met my, sê jy.

Nog nooit was die sterre so yl

oor die lug gesaai soos vanaand nie.

(c) Pieter Odendaal (Uit: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, 2018: Tafelberg Uitgewers)

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Pieter Odendaal (Asof geen berge ooit hier gewoon het nie)”

  1. Waldemar Gouws :

    Mens sien durf sit in jou broek, Pieter Odendaal. Mag die murg in jou pype hou. Met sosio-ekologiese dringendheid, word ek herinner aan die reëls van Nikos Gatsos: “want ‘n enkele olifant wat val is immers meer werd as die twee ontroerende borste van ‘n meisie.”

  2. Joan Hambidge :

    Dit is pragboek vol aangrypende gedigte. Van gedigte vir die oor tot gedigte vir die oog.

    Welgedaan.

  3. Breyten Breytenbach :

    Sien baie daarna uit om hierdie bundel te lees. Na aanleiding van die gesprek tussen Pieter Odendaal en Louis Esterhuyzen en die “Vreemdeling…” gedig geplaas, klink dit werklik opwindend om allerlei redes. Moet ook sê ek stem nie saam met Waldemar Gouws se opmerking nie. Sedert wanneer sal selfs ‘n olifant nie met oorgawe val by aanskoue van die twee ontroerende borste van ‘n meisie nie? En miskien nog meer so indien die borste sou roer.

    Sterkte toegewens, Pieter. Dis duidelik dat jy die moeilike weg gekies het!

  4. René Bohnen :

    Ek kan nie wag om hierdie bundel in Wellington te gaan aanskaf nie – en om die digter te hoor praat

  5. Waldemar Gouws :

    Met die aanhaling hierbo geplaas wou ek ‘n (tipiese) anti-antroposentriese posisie inneem. Soos Pieter Odendaal dit stel “is realistiese verse oor ons trajek belangrik … om ons op ons tone te hou.” Ons eko-sensitiewe tone.

    Terug na die strekking van my aanhaling: miskien kan die graad of intensiteit van die belang wat daardie bodeeltjies van ‘n meisie in staat is om op te eis, in vergelyking met die aandag aan die alarm oor ons ekosisteme, dien as ‘n soort sjibbolet.

Los kommentaar