Onderhoud met WL van der Merwe (Doodmenslik)

WL van der Merwe gesels met René Bohnen

oor sy debuutbundel, Doodmenslik, (Protea Boekhuis, 2018).

 

Baie geluk met die verskyning van Doodmenslik, jou debuutbundel, Willie. Jy is geen nuweling op die gebied van publikasie nie, met verse reeds opgeneem in Nuwe Stemme, Groot Verseboek en ander bloemlesings. Gewis is jy hoegenaamd geen nuweling op poëtiese gebied nie – ek lees dat jy reeds jare gelede DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium¹ bygewoon het. Wat het jou dus laat wag om te debuteer en wat was die finale impetus wat jou hierdie stap laat neem het?

Baie dankie vir die gelukwensing en dankie vir die geleentheid om daaroor te gesels. Ja, ek was deel van Opperman se Letterkunde Laboratorium in 1978, saam met Marita van de Vyver en Rachelle Greef en andere wie vroeg al gedebuteer het. Ek wou altyd graag met ’n eie bundel debuteer, maar het net nooit gevoel dat ek genoeg goeie gedigte het nie, of liewer genoeg goeie gedigte het wat sáám genoeg samehang het om as ’n bundel gepubliseer te word nie. Die slypskool by Opperman was baie inspirerend, maar hy het dit by ons ingeskerp – of in ieder geval was ek onder die indruk daarvan  –  dat ’n bundel ’n deurgekomponeerde geheel moet wees en dit het my, miskien ten goede, weerhou daarvan om vroeër gereed te voel om ’n bundel voor te lê. Opperman het ook ’n vooroordeel gehad teen filosofie as dit by digkus kom: ek weet tot vandag toe nog nie of hy gelyk gehad het nie, maar dit het vir my toenemend moeilik geword om voort te gaan met my digkuns te midde van my studie en loopbaan in die filosofie. Daar was lang tye wat ek byna glad nie gedig het nie. Ironies genoeg, het ek dan weer tydens periodes van studieverlof die ruimte en vryheid gehad om te dig. Die meeste van die gedigte in die bundel het tydens sulke periodes, gewoonlik met ’n studieverblyf in die buiteland, tot stand gekom.  Tydens so ’n navorsingsperiode in Heidelberg, Duitsland, gedurende 2017, het ek die kans benut om te werk aan die manuskrip wat neerslag gevind het in hierdie bundel. My vrou Lettie, wie onverwags in Oktober 2017 in ʼn fratsongeluk oorlede is aan die einde van ons verblyf in Heidelberg, was die finale impetus om te werk aan die bundel. Sy het my deur die jare aangemoedig om te publiseer en veral tydens ons verblyf in Heidelberg, dit wil sê voor haar dood, gehelp om deur al my gedigte te werk en ’n manuskrip saam te stel. Gelukkig het ons voor haar ongeluk gehoor dat Protea die bundel gaan uitgee. Sy het ’n leeue-aandeel gehad in die totstandkoming van die gedigte en die bundel, sonder haar sou dit nooit moontlik gewees het nie. Dit is daarom om meerdere redes gepas dat die bundel aan haar opgedra is.

Woon jy permanent in Nederland?

Ja, sedert 2008, maar ek het nie geëmigreer nie. Ek beskou myself as ’n trekarbeider, maar gelukkig nie om den brode nie en met al die pyn en ontwrigting wat normaalweg met trekarbeid gepaardgaan nie. Ons het die keuse gemaak om te verhuis na Nederland omdat die geleentheid om ’n leerstoel in godsdiensfilosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam te beklee vir my baie aantreklik was. Dit was ’n geleentheid om my byna teenstrydige liefdes vir die filosofie enersyds en die teologie andersyds met mekaar te versoen op ’n wyse wat nie vir my op Stellenbosch moontlik was nie.

Hoe beïnvloed so ʼn buitelandse verblyf jou digterskap?

Dit is ’n bedrieglik moeilike vraag. Miskien speel dit ’n rol dat ’n mens ontwortel is, moet afstand doen van baie gehegthede en vertroudhede in die onmiddellike leefomgewing wat jy agterlaat, dat jy nie kan reken daarop dat mense jou ken en kan plaas in die kontekste wat jou gevorm het nie, dat jy in ’n sekere sin anoniem en eendimensioneel intree in ’n nuwe sosiale omgewing, dat jy jou pynlik bewus is daarvan dat jy nie die nuanses van ’n nuwe leefomgewing ken en kan herken nie, en omgekeerd dat diegene met wie jy daagliks omgaan nie ’n vae benul het van die gelaagdhede en meerdimensionaliteit van jou identiteit nie: dit is alles ’n teelaarde vir ’n ironiese lewenshouding, wat miskien dan weer indirek bydra tot ’n digterlike oog? Ek dink W.E.G. Louw het ’n groter vormende invloed gehad op my as jong aspirerende “digter” as wat Opperman gehad het, en by Louw (wat my vroeg reeds in persoonlike gesprekke bekend gestel het aan Rilke) het ek geleer hoe belangrik dit is om met ‘n “digterlike oog” na die wêreld te kyk, dat jy dit moet aankweek en oefen en maklik weer kan  verloor. Maar Opperman het dan miskien weer gelyk gehad in dié sin dat die oog van ’n filosoof anders is en kyk as dié van ’n digter. Nietemin, om jou vraag te beantwoord: ja, ’n buitelandse bestaan verander beslis die oog waarmee jy na die wêreld kyk.

Daar verskyn (byvoorbeeld) op bladsy 29 ʼn gedig ʼn Afrikaans en dan die Nederlands eweknie op bladsy 30. In die bundel vind ons ook gedigte in Engels. Is daar ʼn filosofiese rede hiervoor, vra ek effens tong in die kies. Is daar ʼn letterkundige rede? Hoe tree tale met mekaar in gesprek, dink jy? Hoe wil jy die leser in hierdie verband aanraak of die verwysingsveld verbreed?

Nee, daar is nie sover ek weet ’n diepsinnige filosofiese rede voor nie. Ek wou aanvanklik met die skuif na Nederland probeer om ook in Nederlands te dig of my eie gedigte na Nederlands te vertaal; selfs oorweeg om ’n bundel te maak met dieselfde gedigte in Afrikaans en Nederlands, maar dit was bo my vermoë en sou publikasie nog langer uitgestel het. Die twee gedigte wat in ’n Afrikaanse en Nederlandse variant opgeneem is in die bundel het sáám-sáam tot stand gekom: soms het ek aan die Nederlandse gedig gewerk en dit dan herskryf in Afrikaans en andersom. In hierdie geval het ek geoordeel dat die toon en stemming of “sfeer”, soos dit in Nederlands heet, so verskillend is dat ek albei variante moet opneem naas mekaar. Soms meld ’n gedig sigself aan in ’n taal, soos byvoorbeeld in Engels, en dan skryf mens dit in Engels. Die problematiek van vertaling is natuurlik filosofies buitengewoon interessant, maar ek ontgin dit nouliks in die bundel, of roep dit miskien net indirek op met verwysing na die onsegbare wat juis in die poësie nie gesê word nie maar as die onverwoordbare getoon word of verskyn. Dit is o.a. hierdie onsegbare, hierdie mistieke semantiek van die onverwoordbare, wat vertaling tegelyk moontlik en onmoontlik maak.

Wanneer ʼn digter ʼn spesialis is op ʼn onverwante of alternatiewe gebied, is daar ʼn redelike moontlikheid dat die spesifieke studieveld neerslag sal vind in die gedigte. So het ek dit ook gevind in hierdie bundel van jou. Jy is ʼn professor in Godsdiensfilosofie²  Hoe het dit a)Jou digterskap beïnvloed en b) Hoeveel kennis of navorsing benodig die leke leser (soos ek!) om die gedigte ten volle te kan waardeer? Ek wonder (steeds as leek) of dit slegs ʼn  digterlike keuse is om “Hegel” met “Schlegel” te laat rym, en watter filosofiese betekenis hier geaktiveer word waarvan ek moet kennis neem as ek die teorieë nie ken nie?

Ek dink my vakkundige kennis van die filosofie in die algemeen en meer spesifiek die taalfilosofie en godsdiensfilosofie speel ’n belangrike rol in sommige van die gedigte, maar sekerlik nie in almal nie. Sommige van die temas, soos die verband tussen skoonheid en verganklikheid, die alledaagse en die ultieme of goddelike, die relativerende werking van humor en ironie, die mag en onmag van die taal, ensomeer, is natuurlik ook deur en deur filosofiese temas. Die meeste gedigte veronderstel nie vooraf kennis van die filosofie nie en ek hoop dat die gedigte wat wel filosofiese verwysings oproep ook tot lesers sal spreek wat nie oor kennis van die filosofie beskik nie, maar dat dit die leeservaring sal verryk vir diegene wat wel die verwysings raaksien of die moeite wil doen om dit in de leeservaring te betrek. Om te reageer op jou voorbeeld van Hegel en Schlegel: ja, dit is ’n digterlike keuse, maar ’n doelbewuste een en die rym is ’n toevallige wins in hierdie geval. Ek gaan nie die aap uit die mou laat nie (daarom het ek juis die gedig geskryf!), maar daar is redes waarom Hegel, Schlegel, Schopenhauer in hierdie gedig die weg voorberei vir Nietzsche. Dit is in hierdie geval selfs die sleutel tot ’n ryker interpretasie van die gedig en die bundel in die algemeen, maar dit is nie ’n noodsaaklike voorwaarde dat ’n mens vertroud moet wees met dié denkers om die gedig te verstaan of die skarnierfunksie van die gedig binne die geheel van die bundel te snap nie. Of ten minste: dis wat ek hoop.

Vaste vorme verskaf aan die leser vastrapplek en veiligheid wanneer die “eksistensiële vakuum”³ betree word, is my mening. Jou vaste vorme en jou rym lees gemaklik en elegant., soos byvoorbeel begrafnis op bladsy 71. Het jy ʼn spesifieke siening oor vaste vorme? Gebeur hierdie patrone vir jou so moeiteloos soos dit voorkom? Hoe lank slyp jy en rond jy af aan jou verse? Dink jy ʼn gedig is ooit werklik voltooi?

Die poësie van die dertigers in Afrikaans en die tagtigers in Nederlands het vir my as ’n groot inspirasiebron en voorbeeld gedien toe ek as letterkundestudent ernstig begin dig het. Ek hou van vaste vorme en dit kom as’t ware natuurlik by my om te dink in en te soek na vaste vorme, óók omdat dit ’n sterk bindende struktuur bied, maar ek moes myself ook bewustelik probeer bevry van ’n oormatige voorkeur vir simmetrie en rym. Dit is vir my baie moeiliker om ’n vryer soort vers te skryf en miskien doen ek dan weer te veel moeite om die spanning en binding op ander maniere te bewerkstellig. Sommige gedigte in die bundel het met één inval, as’t ware in een sitting, kant en kaar gekom, maar oor die algemeen werk ek óór en óór aan ’n gedig, soms selfs oor ’n periode van jare. Meestal is ek nooit tevrede nie. Ek het iemand nodig om vir my te sê dat ek nou moet volstaan, dat ’n gedig goed genoeg is. In die geval van die gedigte in hierdie bundel, was dit meestal my vrou Lettie wat dit gedoen het, en later my redakteur Rentia Bartlett-Möhl, sonder wie ek nie die vrymoedigheid sou gehad het om die bundel te publiseer nie. My eindelose herskryf aan gedigte is sekerlik nog een van die redes waarom dit lank geneem het om uiteindelik ’n bundel af te rond en “vry te gee” vir publikasie. Nadat ek die bundel ’n paar dae gelede in my hand kon hou en begin deurblaai het, wou ek onmiddellik weer begin verander aan sommige gedigte.

Toe ek die bundel die eerste keer vinnig deurgelees het, het ek twee sleutelwoorde neergeskryf: “gebrokenheid en gevaar”. In die persverklaring lees ek later dat die donker bundel handel oor “religieuse ontnugtering” en ʼn “gebroke werklikheid”⁴  Suksesvolle, onmiddellike kommunikasie, sou ek sê! Ek het verskillende soorte liefde neergestip wat voorkom in die bundel (die erotiese, die broederliefde ensomeer) en twee dinge gewonder: i) Werk die digter in “Doodmenslik” met klassieke tipes en ii) Bestaan daar ook verskillende soorte dood? Gaan die digter bewustelik met hierdie temas om in die bundel, of kompliseer die leser die proses deur daarna te gaan soek?

Dit is nogal ’n onverwagse vraag, maar ja, soos I.D. du Plessis gedig het: “die liefde neem ’n duisend vorme aan” – of hoe? Ek weet nie of ek met “klassieke tipes” werk nie, maar erotiek, sowel die potsierlike as die  alledaagse en die sublieme speel seker ’n belangrike rol in die bundel en soos die filosowe al van die vroegste tye af uitgewys het, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche en Bataille, is erotiek en die dood verwant aan mekaar. Ja, sekerlik is daar verskillende soorte dood, maar die duisend dode wat ons daagliks sterf is ’n voorwaarde om die skoonheid van die lewe te ervaar. Dit is die tragiese kondisie van ons menswees. Die titel (en die voorblad) gee reeds aan dat die bundel die verhoudinge en die spanninge tussen die (skoonheid van die) alledaagse en ons sterflikheid, die sublieme en die verganklike in die algemeen, tematiseer.

Willie, kan jy asseblief bietjie uitwei oor die treffende gedig “Fuga in swart”, met sy evokatiewe herhalings? Sekerlik van die grootste voorbeelde van liefde en haat word deur Paul Celan vervat in sy gedig Todesfuge. Ek plaas jou gedig hier, en in die verwysings ook ʼn Youtube skakel na Celan wat sy eie gedig voorlees⁵, asook ʼn Engelse vertaling van Celan se gedig – Death Fugue⁶.

.

Fuga in swart

na “Todesfuge”, Paul Celan

 

swart melk drink ons elke dag

verstik in die beker van mond tot mond

grou die dooier van die maan elke nag

 

soggens verskril die son tot ʼn klag

roet en as grys neer na die grond

swart melk drink ons elke dag

 

die dag skrikkel tot laat in die middag

ʼn brandsiek hond wat lek aan sy wond

grou die dooier van die maan elke nag

 

vergete die klank van kinders wat lag

die gestrikte haarlokke bruin en blond

swart melk drink ons elke dag

 

hoe lank moet ons nog wag?

het Hy vergeet van ons verbond?

swart melk drink ons elke dag

dood die dooier van die maan elke nag

 

Die eerste reëls van Celan se gedig: “Schwarze Milch der Frühe wir trinken sie abends wir trinken sie mittags und morgens wir trinken sie nachts wir trinken und trinken …” is van die kragtigste poëtiese reëls wat ek ken, die metafoor van “swart melk” ’n verskriklike mokerhou. My herskrywing van die gedig was ’n poging om ’n villanelle te skryf en te voldoen aan die ysere dissipline van dié versvorm. Vandaar die herhalings, die lengtes va die reëls en die rympatroon.

Die eerste gedig in “Doodmenslik” dra die titel die laaste gedig. Die gedig ondermyn onder andere konstrukte van belangrikheid, status en kennis. Dit dui ook aan hoe die laaste gedig lyk. Wanneer die leser egter die laaste gedig in die bundel lees, sien dit heeltemal anders daar uit. Is dit dan so dat die laaste gedig nog nie geskryf is nie, soos in reël 4 beweer word? Of verwys die eerste gedig dalk na ʼn metaforiese of selfs argetipiese laaste gedig? Is dit ironies dat die laaste gedig in hierdie “donker bundel” dan troos en hoop as titel dra? Is die toonaard van die (nog abstrakte) laaste gedig dalk nog onbepaal?

Ek plaas graag altwee die gedigte, ook as voorbeeld vir hoe sterk die teenstellings en dualiteite (of is dit dualisme?) in “Doodmenslik” is.

die laaste gedig

 

professore, doktore, kokkedore en ander koolore

die titel van my gedenklesing vanaand is:

“Die laaste gedig”

 

Ter inleiding: die laaste gedig is nog nie geskryf nie

Premis 1: die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is

en dit daarby laat

Premis 2: dit sal ʼn gedig wees sonder woorde en metafore,

beeldspraak, metrum of rym, sonder sintaksis

of lettergrepe

Konklusie: ʼn gedig sonder taal, ʼn gedig in wit

strepe op papier sonder verband of betekenis

net ʼn leesteken hier en daar wat sinjaleer:

hier is die graal van stilte in git

.

En dan, die laaste gedig in die bundel:

troos en hoop

 

jou oë is so groenig-grys

soos dennebos en tortelduif

 

jou hare is so bruin-verby

soos koffieboon, barlinkadruif

 

jou hande so deurskynend-sag

soos spinnerak of nartjieskyf

 

jy’s woud en waterval

brood en hanepoot

maar bowenal

in lewe en in sterwe

my laaste troos en hoop

 

maar dan met plaasbotter

en stroop

.

Daar is ’n soort verhulde opbou in die komposisie van die bundel: dit begin met´n selfbekendstelling en ars poetica, ’n soort genesis of skeppingsmoment en loop dan op na gedigte wat te make het met geloofsontgogeling en godsbegrip (die Psalms), gevolg deur gedigte  wat te make het met die begin en einde van die lewe, ons vergangklikheid en die dood wat eintlik al van meet af aan ingebak is in die lewe, die oënskynlike tevergeefsheid van alles (Prediker), en ontsluit of sluit af met liefdesgedigte, die crescendo, m.a.w. die evangelie ín hierdie tragiese ambivalensie van skoonheid en sterflikheid, ons enigste troos en hoop, maar dan nie in ’n hiernamaals nie, maar in die sublieme sintuiglikheid van plaasbotter en stroop. Dít is die laaste gedig, maar óók weer nie omdat dit ’n venster oopmaak na die onsegbare (wat altyd weer anders en opnuut ongesê bly), ek sou wou sê die onsegbare sin van ons liggaamlikheid en eindigheid.

Donker humor en ironie is sterk elemente in jou bundel, Willie. Ontluistering van aanvaarde idees en onverskrokke woordgebruik kom dikwels voor, sonder dat ʼn geaffekteerde skoktaktiek daaruit blyk. Dit is ʼn volwasse aanslag waarvoor hierdie leser sommer baie waardering het en toe ek uiteindelik na die voorblad gaan kyk het, asook die titel van die kunswerk daarop⁷, het ek gewonder of daar werklik troos en hoop in die wêreld is, of is ons almal maar net besig om groen takkies op verlepte blare te rangskik? Dankie vir ʼn ryk bundel wat tot diep nadenke lei. Sal jy asseblief ʼn gedig van jou keuse met die Versindaba lesers deel?

Die heel laaste gedig is vir my baie kosbaar, maar jy het dit nou reeds aangehaal. Dan sal ek sê die credo van die bundel en my lewe is die gebed:

Jesus min my

tel my op

maal my, deel my

tot ek klop

Verwysings:

  1. Doodmenslik bladsy 96
  2. Doodmenslik bladsy 96
  3. https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-doodmenslik/
  4. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/religieuse-ontnugtering-gedig-20180730
  5. https://www.youtube.com/watch?v=gVwLqEHDCQE
  6. https://www.poets.org/poetsorg/poem/death-fugue
  7. Doodmenslik bladsy 4
Bookmark and Share

6 Kommentare op “Onderhoud met WL van der Merwe (Doodmenslik)”

  1. Elza Lorenz :

    Ek het so baie van hierdie onderhoud gehou. Dankie digter en onderhoudvoerder.

  2. Louis Esterhuizen :

    Wat ‘n fantastiese onderhoud! Welgedaan, René. En dankie Willie vir die perspektief wat jy op jou digkuns bied.

  3. Francis Galloway :

    Hartlik geluk met die verskyning van die bundel Willie. Ek sien uit na die leeservaring.

  4. Benita Hartman :

    Ek sien daarna uit om die bundel onder oë te kry. Ek hou van die gestroopte donker verse wat aangehaal is. Mooi onderhoud, René.

  5. Joan Hambidge :

    Ek het vanaand hierdie bundel gelees wat my in die solar plexus getref het. Soveel pyn en ontnugtering lanklaas beleef. Goed verwoord.
    Begrafnis van ‘n geliefde en die afskeid van ‘n moeder is pynlike lykdigte.

    Laurinda Hofmeyr het immers die programgedig getoonset (“voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop …”)

    Ook religieuse besinnings en speelse verse …

    En seksverse wat kompromisloos is.(“peepshow, Amsterdam”).

    Gedigte sonder oogklappe.

  6. carina van der walt :

    Dankie Rene(sonder strepie, my beperkte digitale apparaatjie laat dit nie toe nie) vir ‘n uitstenkende onderhoud. Ek wil graag twee bewerings maak nadat ek dit gelees en deurdink het.
    (1) Met sy verwysing na Paul Celan se “Todesfuge” in die gedig “Fuga in swart” aktiveer Willie van der Merwe die hele Europese tradisie van hartverskeurende lamente in al die eenvoud van hulle herhaling. Dit is nie om dowe neute dat Celan net voor die frase “der Tod ist ein Meister aus Deutschland” die woorde gebruik: “dein goldenes haar, Margaritha”. Die skakel met Celan se stem waar hy voorlees, is wonderlik. Dankie! Dood en erotiek loop saam. Ook die Franse het die uitdrukking “la petite mort” uitgedink. Met “Fuga in swart” sluit Van der Merwe verder vir my aan by Remco Campert se “Lament” (strofe 1 en 2):

    Hier nu langs het lange diepe water
    dat ik dacht dat ik dacht dat je altijd maar
    dat je altijd maar

    hier nu langs het lange diepe water
    waarachter oeverriet waarachter oeverriet de zon
    dat ik dacht dat je altijd maar altijd

    Ek het Campert se “Lament” die eerste keer gehoor op die kuns- en gedigtefees in WATOU, Wes-Vlaandere. Die indruk wat dit op my gemaak het, is onuitwisbaar. Dat die glans van son op water en riet ‘n mens se eie trane onbeskaamd kan laat stroom…
    Ingelyks staan ek ‘n paar jaar daarvoor in ‘n nou straatjie in Barcelona. My hart slaan bollemakiesie by die kerktoringklok wat afgemete vyf slae slaan, terwyl ek Lorca se “Lament for Ignacio Sanches Mejias” – sy vriend – lees. Hier volg strofe 1:

    At five in the afternoon.
    It was exactly five in the afternoon.
    A boy brought the white sheet
    at five in the afternoon.
    The rest was death, and death alone.

    (2) Met sy verwysing na “brood” en “stroop” aktiveer Van der Merwe ‘n klassieke gediggie in die Afrikaanse letterkunde van die digter T.T. Cloete. Alhoewel destys (nog nie) gestroop deur die dood van ‘n lewensmaat nie, het hy sy eie liggaamlike verval en stryd teen die tipe verval verwoord in die gedig “Uitgedun”:

    Ek dank U dat ek Heer
    soos van ouds vanoggend weer
    my baard mag skeer.

    Vroe”er was ek gesteld
    op seks en soma, op geweld
    en eer en geld.

    Vandag is ek goedkoop
    gesteld op bloedsomloop
    en brood en stroop.

    Met hierdie twee aktiverings verryk Van der Merwe met sy debuut DOODMENSLIK die Afrikaanse letterkunde. Van harte geluk!

    Beide Campert en Lorca se gedigte is beskikbaar op internet. Op Poetry International lees Campert self sy gedig voor, terwyl dit in Engels vertoon word.

Los kommentaar