Arthur Rimbaud. Vertaling in Afrikaans

Arthur Rimbaud (tweede van regs) met ander Franse burgers
op die terras van die Hôtel de l’Univers in Aden, 1880.
Die foto is waarskynlik geneem deur die Franse
ontdekkingsreisiger Georges Révoil (heel links).

Ballade vir ʼn afvallige knie

Die laaste briewe van Arthur Rimbaud (ʼn Vertaling met ander woorde)

Vert. deur Catherine du Toit

 

Aden, 30 April 1891

Liewe Ma.

Ek het die twee paar kouse en die brief wat Ma gestuur het ontvang, maar in treurige omstandighede. Aangesien die swelling van my regterknie en die pyn net erger word en daar geen hulpmiddels of raad is nie want in Harar is ons omring deur negers en daar is geen ander witmense nie, het ek besluit om na die Suide te vertrek. Ek moet my besigheid net so laat staan, wat nie maklik is nie want my geld is min maar ek kon darem naastenby alles verkoop kry. Ek was reeds vir omtrent twintig dae plat op my rug in Harar en kon glad nie beweeg nie want die pyn was ontsettend erg en ek kon skaars slaap. Ek het sestien negerdraers gehuur teen 15 dalers per kop om my van Harar tot Zeilah te dra. Ek het ʼn draagbaar uit seil laat maak en hierop het ek nou in 12 dae 300 km in die woestyn afgelê oor die berge van Harar tot by die hawe van Zeilah. Onnodig om te vertel van die verskriklike lyding wat ek op pad beleef het; ek kon nooit uit die draagbaar opstaan nie; my knie het sigbaar al hoe dikker geswel en die pyn het net al hoe erger geraak.

Hier het ek na die Europese hospitaal gegaan. Daar is net een kamer vir betalende pasiënte en ek is daarin. Die Engelse dokter wat my ondersoek het, het dadelik uitgeroep dat dit ʼn sinovitis is wat reeds ʼn gevaarlike punt bereik het as gevolg van gebrek aan versorging en uitputting. Hy het sommer dadelik daarvan gepraat om die been af te sit. Daarna het hy besluit om ʼn paar dae te wag om te sien of die swelling sou sak met die nodige mediese behandeling. Dit was ses dae gelede maar daar is geen verbetering nie behalwe dat die pyn baie beter is omdat ek kan rus. Ma weet dat sinovitis ʼn siekte is wat ontstaan uit die vloeistof wat in die gewrigte is. Dit kan oorerflik wees of die gevolg van ʼn ongeluk of baie ander redes. Myne is waarskynlik veroorsaak deur al die gestap en perdry in die omgewing van Harar. In elk geval, in die toestand waarin ek nou is, kan ek nie verwag om oor minder as drie maande gesond te wees nie – en dis as dit goed gaan. Ek lê in die bed, my been verbind, vasgemaak, vasgeketting, sodat ek glad nie kan beweeg nie. Ek het ʼn geraamte geword. Mense skrik vir my. My rug het sere as gevolg van al die lê en ek slaap nie ʼn enkele minuut nie. En die hitte is onuitstaanbaar. Die hospitaalkos is baie sleg, alhoewel ek redelik duur betaal. Ek weet nie wat om te doen nie… As gevolg van my vertrek het ek ʼn hele paar duisend frank verloor. Ek het lus om my na ʼn stoomboot te laat dra en in Frankryk te laat behandel. Die reis sal nog meer tyd laat verbygaan. En in Frankryk is die behandeling en medisyne goedkoper. En die weer beter. Ek sal dus heel waarskynlik kom. Ongelukkig is die stoombote vir Frankryk op die oomblik baie vol bespreek want almal kom uit die kolonies terug hierdie tyd van die jaar. En ek is ʼn arme ellendeling wat versigtig vervoer moet word. Hoe dit ook al sy, ek sal oor ʼn week besluit.

Moenie dat hierdie nuus Ma ontstel nie. Daar sal beter dae kom. Maar dis maar ʼn goor vergoeding vir soveel harde werk en ontbering en swaarkry. Helaas, ons lewe is maar mistroostig.

Liefdegroete

Rimbaud

In 1883 koop Rimbaud vir homself ‘n kamera teen ‘n prys ongeveer gelykstaande aan ses maande van sy salaris. Hierdie selfportret, dieselfde jaar geneem in ‘n “piesangtuin” in Harar, het hy aan sy familie gestuur.

Marseille, datum onbekend

Liewe Ma, liewe Sus,

Na onnoemlike lyding en omdat ek nie in Aden versorg kon word nie, het ek met die posboot teruggekeer na Frankryk. Ek het gister aangekom na 13 dae van pyn. Ek was so swak toe ek hier aangekom het en so oorweldig deur die koue dat ek my onmiddellik in die Hospitaal van la Conception laat opneem het waar ek tien frank per dag betaal, die dokter ingesluit.

Dit gaan sleg met my, baie sleg. Ek het brandmaer geword as gevolg van hierdie siekte in my regterbeen wat nou enorm is en soos ʼn reusagtige pampoen lyk. Dis sinovitis, hidrartrose ens, ʼn ontsteking van die gewrig en die bene.

Dit sal baie lank neem – as komplikasies dit nie noodsaaklik maak om die been af te sit nie. Ek sal in elk geval kruppel bly. Ek twyfel of ek langer kan wag. Die lewe het onmoontlik geword. Ek is bitter ongelukkig. Ek het bitter ongelukkig geword!

Ek het hier 36 800 frank uit my rekening getrek. Maar daar is niemand wat my kan help om hierdie geld in die hande te kry nie. Ek kan glad nie uit die bed roer nie. Wat ʼn armsalige lewe. Kan julle my dan met niks help nie?

Rimbaud

Hôpital de la Conception. Marseille.

Vaarwel o knie;

Been van Benoni, weefsel van die Waterberg, knol van ʼn kraakbeen, knarsende knersbeen, onkruid, duiwelskind, verpesting, kreng, slaapdief, impimpi, bron van pyn en waansin, knie des aanstoots, basta, oor en uit, weg!

Nog ‘n selfportret van Rimbaud in Harar in 1883. Die kaalvoete is ongewoon vir ‘n Europeër, selfs in Afrika…

Marseille, 17 Junie 1891

Isabelle, my liewe suster,

Ek het jou brief ontvang met twee van my briewe wat uit Harar teruggestuur is. In een van hierdie briewe word daar gesê dat een van my briewe na Roche teruggestuur is. Het jy niks anders ontvang nie?

Ek het nog aan niemand geskryf nie. Ek het nog nie opgestaan uit die bed nie. Die dokter sê dat ek ten minste ʼn maand sal moet wag en dat ek selfs dan net stadigaan sal kan begin loop. Waar my been afgesit is, voel ek nog steeds baie pyn, dit wil sê, in die stompie wat oorbly. Ek weet nie hoe dit alles sal eindig nie. Maar ek het vrede met alles. Die geluk is teen my. Maar wat bedoel jy met jou begrafnisstories? Moet jou nie so ontstel nie. Wees ook geduldig. Kyk na jouself. Wees dapper. Ek sou jou graag wou sien. Wat is dan verkeerd met jou? Watter soort siekte? Alle siektes genees met tyd en behandeling. ʼn Mens moet die dinge in elk geval maar vat soos dit kom en nie moedeloos raak nie.

Ek was kwaad toe Ma weg is hier want ek het nie verstaan waarom nie. Maar nou is dit beter dat sy by jou is om na jou om te sien. Sê vir haar ek is jammer en stuur groete.

Tot siens – maar tot wanneer?

Rimbaud.

Hôpital de la Conception, Marseille.

‘n Foto deur Rimbaud geneem van ‘n “marchand de daboulas” (klein leersakkies) in Harar, ook in 1883.

Marseille, 23 Junie 1891

Liewe Sus,

Jy skryf nie; wat gaan aan? Jou brief het my bang gemaak en ek wil graag hoor hoe dit gaan. Ek hoop net daar is nie nuwe probleme nie want ons word darem te veel tegelykertyd beproef!

Ek huil net dag en nag, ek is ʼn dooie man, gebreklik vir die res van my lewe. Oor twee weke sal ek gesond wees, dink ek; maar ek sal net met krukke kan loop. Wat ʼn kunsbeen betref, het die dokter gesê dat ek lank sal moet wag, ten minste ses maande! Wat sal ek gedurende hierdie tyd doen? Waar sal ek bly? As ek na julle toe kom, sal die koue my binne drie maande verjaag en selfs vinniger want ek sal eers oor ses weke hier kan begin beweeg, net tyd genoeg om met die krukke te oefen! Ek sal dus eers einde Julie by julle kan uitkom en ek sal weer einde September moet vertrek.

Ek weet glad nie wat om te doen nie. Al hierdie bekommernisse maak my waansinnig: ek slaap net ʼn minuut op ʼn slag.

Ai tog, ons lewe is ʼn ramp, ʼn ramp sonder einde! Waarom bestaan ons tog? Laat weet my hoe dit gaan met jou.

Beste wense

Rimbaud

Hôpital de la Conception, Marseille.

 

 

Marseille, 24 Junie 1891

My liewe suster,

Ek het jou brief van 21 Junie ontvang. Ek het gister aan jou geskryf. Ek het niks ontvang van die 10de nie, ook nie ʼn brief van Harar nie. Ek het net twee briewe van die 14de ontvang. Ek wonder wat geword het van die 10de se brief?

Wat is hierdie nuwe ramp waarvan jy my vertel? Wat is hierdie storie van diensplig nou? Het ek nie vir julle toe ek 26 geword het ʼn sertifikaat gestuur uit Aden as bewys dat ek vir ʼn Franse besigheid werk en daarom vrygestel is nie? En daarna wanneer ek vir Ma gevra het wat aangaan het sy altyd gesê dat alles in orde was en dat ek niks het om oor bekommerd te wees nie. Skaars vier maande gelede het ek in een van my briewe aan julle gevra of daar geen verpligting op my rus nie want ek was lus om terug te kom na Frankryk. En ek het geen antwoord ontvang nie. Ek het gedink dat julle alles gereël het. En nou laat jy my verstaan dat ek as ʼn ontduiker opgegee is en vervolg kan word, ens. ens. Vind asseblief uit wat presies aangaan maar net as jy seker is dat jy nie daardeur aandag op my sal vestig nie. Wat my betref, is daar geen kans dat ek onder sulke omstandighede sal terugkeer nie! In die tronk gestop na alles wat ek deurgemaak het! Eerder sterf!

Ja, dit sou lank reeds beter gewees het om dood te wees! Wat kan ʼn kreupele in die wêreld doen? En om nou nog gedwing te word om vir ewig verban te word! Want ek sal beslis nie terugkeer met sulke stories nie – ek sal gelukkig wees as ek nog seelangs of oorland hier kan wegkom buiteland toe.

Vandag het ek met krukke probeer loop maar ek kon net ʼn paar treë gee. My been is baie hoog afgesit en dis moeilik om my balans te hou. Ek sal eers veilig voel as ek ʼn kunsbeen kan dra maar die amputasie veroorsaak senupyn in die res van die been en dis onmoontlik om ʼn meganiese been vas te maak voor hierdie pyne nie heeltemal bedaar het nie. En daar is geamputeerdes by wie dit ses, agt, twaalf maande duur! Hulle sê dit neem nooit minder as twee maande nie. As dit net twee maande neem, sal ek gelukkig wees! Ek sal eerder die tyd in die hospitaal deurbring en die geluk ervaar om op twee bene uit te stap. Ek sien nie die punt daarvan om op krukke uit te gaan nie. ʼn Mens kan nie op- of afloop nie. Dis erg. ʼn Mens kan só maklik val en nog meer gebreklik word. Ek het gedink dat ek ʼn paar maande by julle kan kom bly terwyl ek sterk genoeg word om ʼn kunsbeen te dra maar ek sien nou dis onmoontlik.

Nou ja, ek sal maar my lot moet aanvaar. Ek sal sterf of myself op die noodlot werp. Ek hoop om te kan teruggaan na waar ek was. Ek het vriende van oor die tien jaar daar. By hulle sal ek werk kan kry en probeer oorleef. Ek sal altyd daar leef want in Frankryk het ek, buiten julle, nóg vriende, nóg kennisse – niemand. En as ek julle nie kan sien nie, kan ek netsowel teruggaan soontoe. Ek moet in elk geval teruggaan.

As jy navraag doen oor my situasie, moet nooit laat blyk waar ek is nie. Ek is selfs bang dat my adres deur die poskantoor opgespoor word. Moet my nie gaan verraai nie.

Al my wense

Rimbaud

Marseille, 29 Junie 1891

My liewe suster,

Ek het jou brief van 26 Junie ontvang. Die brief van Harar het reeds gister op sy eie aangekom. Wat die brief van 10 Junie betref, is daar geen nuus nie; dit het verdwyn, óf in Attigny, óf in die administrasie hier, maar waarskynlik eerder in Attigny. Uit die koevert wat jy aangestuur het kon ek in elk geval aflei wat dit was. Dimitri Righas moes dit gestuur het. Hy is ʼn Griek wat in Harar bly en besigheid vir my afhandel. Ek wag om te hoor wat julle kon uitvind oor die diensplig: maar hoe dit ook al sy, ek is bang vir ʼn lokval et op die oomblik het ek glad nie lus om na julle toe te kom nie, ten spyte van enige gerusstellings wat jy mag hoor.

Ek is in elk geval heeltemal onbeweeglik en kan nie ʼn enkele tree gee nie. My been is gesond, ten minste, die wond is genees. Dit het redelik vinnig gegaan – wat my laat dink dat die amputasie nie nodig was nie. Wat die dokters betref, is ek gesond en, as ek wil, sal hulle my seker môre ontslaan. Maar wat kan ek doen? Dis onmoontlik om ʼn tree te gee! Ek sit die heeldag buite op ʼn stoel, maar ek kan nie beweeg nie. Ek oefen met die krukke; maar hulle is hopeloos. Ek is lank en my been is hoog afgesit. Dis moeilik om my balans te hou. Ek loop ʼn paar treë en dan stop ek; te bang om te val en nog meer gebreklik te word!

Ek gaan vir my ʼn houtbeen laat maak om mee te begin. Dan kan ek die stompie daarin stop, met watte opvul en met ʼn kierie probeer loop. Nadat ʼn mens ʼn ruk lank met die houtbeen geloop het en die stompie sterk genoeg is, kan ʼn mens ʼn geartikuleerde been bestel wat stywer pas en waarmee ʼn mens min of meer kan loop. Maar wanneer sal daardie dag kom? Tussen nou en dan kan nóg ʼn ramp my oorval. Dan sal ek in elk geval vinnig van hierdie ellendige bestaan ontslae raak.

Dis nie goed dat jy dikwels aan my skryf en dat my naam opgemerk word in die poskantore van Roche et Attigny nie. Die gevaar lê daar. Hier steur niemand hulle aan my nie. Skryf so min as moontlik – net as dit noodsaaklik is. En moenie skryf “Arthur” nie. Net “Rimbaud”. En laat weet my so gou moontlik wat die militêre owerhede van my wil hê en, in geval hulle my sou vervolg, wat die straf sal wees? Maar dan sal ek bitter vinnig op ʼn boot klim.

Ek hoop jy is gesond en dat dit vooruit gaan met jou.

RBD.

 

 

Marseille, 2 Julie 1891

My liewe suster,

Ek het jou briewe van 24, 26 en 30 Junie ontvang. Net die brief van 10 Junie het ooit verlore geraak en ek het rede om te glo dat dit by die Attigny poskantoor ontspoor het. Hier lyk dit nie of enige iemand in my sake belang stel nie. Dis ʼn goeie idee om jou briewe elders as in Roche te pos, sodat hulle nie deur Attigny beweeg nie. Dan kan jy soveel as jy wil aan my skryf.

Die wond is lankal genees alhoewel die senupyne in die stompie nog net so erg is as gewoonlik. Ek is nog steeds op die been maar nou raak my ander been swak. Is dit omdat ek so lank in die bed was of as gevolg van my balansprobleme – maar ek kan nie langer as ʼn paar minute met die krukke loop voor die ander been geswel is nie. Sou ek ʼn soort beensiekte hê en sal ek die ander been ook moet verloor? Ek is baie bang. Ek is bang om myself uit te put en laat vaar eerder die krukke. Ek het ʼn houtbeen bestel. Dit weeg net 2 kg en sal oor ʼn week gereed wees. Ek sal probeer om baie versigtig daarmee te loop. Dit sal my ten minste ʼn maand neem om bietjie vir bietjie daaraan gewoond te raak en miskien sal die dokter my nie toelaat om baie daarmee te loop nie as gevolg van die senupyne. Wat ʼn buigbare been betref – op die oomblik is dit heeltemal te swaar vir my – die stompie sal dit nooit kan uithou nie: dis eers vir heelwat later. En ʼn houtbeen is ook nie baie duur nie: dit kos ongeveer 50 frank. Met al hierdie probleme sal ek teen einde Julie nog steeds in die hospitaal wees. Op die oomblik betaal ek ses frank per dag en verveel myself teen sestig frank per uur.

Ek slaap nooit meer as twee uur per nag nie. Dis hierdie slapeloosheid wat my laat vrees dat ek dalk nog die een of ander siekte onder lede het. Ek dink met angs aan my ander been: dis al wat my nou in die wêreld dra! Toe hierdie ontsteking in my knie in Harar begin het, was daar ook twee sulke weke van slapeloosheid. Wie weet? Dalk is dit my lot om heeltemal afbeen te wees. Dan sal die militêre administrasie my darem seker in vrede laat! Kom ons hoop maar vir beterskap.

Ek hoop jy is gesond, dat jy gelukkig is en alles volgens wense verloop. Totsiens.

Rimbaud.

Die Hôpital de la Conception in Marseille.

 

Marseille, 10 Julie 1891

My liewe suster,

Ek het jou briewe van 4 en 8 Julie ontvang. […]

Ek is nog steeds op die been, maar dit gaan nie goed nie. Tot nou toe het ek nog net met die krukke leer loop en dis nog steeds vir my onmoontlik om op of af te klim by ʼn enkele trap. Daar moet ek fisies gehelp word. Ek het vir myself ʼn baie ligte houtbeen laat maak, vernis en opgestop, baie goed gemaak (prys 50 frank). Ek het dit ʼn paar dae gelede uitprobeer en myself probeer sleep deur nog steeds te druk op die krukke maar dit het die stompie laat ontsteek en ek het die vervloekte ding eers eenkant laat lê. Ek sal dit nie voor oor twee weke of later kan gebruik nie en dan nog met krukke vir ten minste ʼn maand en nie vir meer as een of twee uur per dag nie. Die enigste voordeel is om drie steunplekke in plaas van twee te hê.

Ek begin dus weer rondkruk. Wat ʼn beslommernis, wat ʼn uitputting, wat ʼn droewigheid wanneer ek dink aan al my reise en hoe aktief ek nog net vyf maande gelede was! Waar is al die paaie oor berge, die perderitte, wandelinge, woestyne, riviere en oseane? En nou hierdie afbeen-bestaan! Want ek begin begryp dat die krukke, houtbeen en meganiese been alles net ʼn bedriegspul is en dat ʼn mens daarmee maar net in staat is om jouself moeisaam voort te sleep sonder om ooit iets te kan doen. En ek wat juis hierdie somer na Frankryk wou terugkeer om te trou! Vaarwel huwelik, vaarwel familie, vaarwel toekoms! My lewe is verby, ek is net ʼn onbeweeglike fragment.

Ek kan nog lank nie beweeg op die houtbeen nie alhoewel dit so lig as moontlik is. Dit sal seker ten minste vier maande duur voor ek ʼn paar treë kan gee op die houtbeen en myself dan net op ʼn stok steun. Dit is baie moeilik om op of af te klim. Oor ses maande kan ek die meganiese been probeer, met baie pyn en sonder veel nut. Die groot verskil is dat my been so hoog afgesit is. Die senupyne wat volg op die amputasie is baie hewiger en langdurender wanneer ʼn ledemaat hoog afgesit word. Andersins, kan ʼn mens baie vinniger aan ʼn meganiese been gewoond raak. Maar dit maak alles min saak; die lewe self maak min saak!

Dis hier nie veel koeler as in Egipte nie. In die middag is dit 30 tot 35 en snags tussen 25 en 30. Die temperatuur in Harar is dus veel aangenamer, veral in die nag, wanneer dit selde warmer raak as 10 tot 15 grade.

Ek kan nog nie vir jou sê wat ek gaan doen nie, ek voel nog te neerslagtig om self te weet. Dit gaan nie goed nie – sê ek weer. Ek is baie bang vir nog ʼn ongeluk. Die stompie is baie dikker as die ander been en vol senupyn. Natuurlik sien die dokter my nie meer nie; want volgens die dokter is dit voldoende dat die wond genees en dan los hy jou. Volgens hom is jy dan gesond. Hy steur hom net aan jou as jy ʼn abses ontwikkel of ander komplikasies waarvoor ʼn mes nodig is. Siek mense is vir hom net voorwerpe waarop hy eksperimente doen. Ons weet dit. Veral in hospitale want die dokter word nie betaal nie. Hy wil die pos net hê om ʼn reputasie te verwerf en kliënte te kry.

Ek wil graag na julle toe kom want dit is koeler daar maar ek dink nie juis daar is ʼn plek waar ek die nodige akrobatiese oefeninge kan doen nie. En dan is ek ook bang dat dit nie koel word nie maar koud. Maar die belangrikste rede is dat ek nie kan beweeg nie; ek kan nie en ek sal vir ʼn lang tyd nie kan nie – en, om die waarheid te sê, ek dink selfs nie ek is werklik genees nie en verwag ʼn soort ontploffing… Ek sal na ʼn wa gedra moet word, afgelaai moet word ens. ens. dis te veel moeite, koste, uitputting. My kamer is betaal tot einde Julie; ek sal daaroor nadink en kyk wat ek intussen kan doen.

Tot dan wil ek eerder glo dat dit beter sal gaan soos jy my wil laat dink; – hoe suf sy bestaan ook al is, die mens bly klou daaraan.

Stuur vir my die brief wat jy ontvang het. Daar is juis ʼn siek polisie-inspekteur aan tafel saam met my wat my altyd verveel met sy stories van dienslewering en hy is bereid om ʼn guns vir my te doen.

Jammer dat ek so lastig is, baie dankie, ek wens jou sterkte toe en hoop jy is gesond.

Skryf aan my.

Groete,

Rimbaud.

Uitgediende knie, oorskot van ʼn vorige eeu, been van my been en bloed van my bloed.

Klein korreltjie sand, klein druppeltjie gif. Mot en roes en stof en dons.

In die donker grot van moederskoot geweef, dierbaarste diefstetjie, met

spiertjies en beentjies en plaatjies en menisci

en skeurtjies en barsies en toevallige vermurwing en wys my die plek van

onherstelbare verbrokkeling.

 

 

Marseille, 15 Julie 1891

Liewe Isabelle,

Ek het jou brief van die 13de ontvang en antwoord dringend. Ek sal sien wat ek kan uitrig met hierdie nota en sertifikaat van die hospitaal. Natuurlik sal ek hierdie besigheid graag opgelos wil hê maar, helaas! dis makliker gesê as gedaan vir my wat nie eens my een skoen aan my een voet aangetrek kan kry nie. Ek sal in elk geval kyk hoe ver ek kom. Met hierdie twee dokumente sal ek ten minste nie meer die tronk vrees nie want die militêre administrasie is kapabel om ʼn kreupele in die tronk te stop, al is dit nou in ʼn hospitaalsel. Wat betref die verklaring om na Frankryk terug te keer, aan wie en waar moet dit gedoen word? Daar is niemand hier wat my kan inlig nie en ek kan nog lank nie met my houtbeen by kantore uitkom om uit te vind nie.

Ek dink dag en nag aan maniere om te beweeg; dis ʼn marteling! Ek wil dit en dat doen, hiernatoe en daarnatoe gaan, sien, leef, weggaan: onmoontlik, onmoontlik minstens vir baie lank, indien nie vir altyd nie! Langsaan my sien ek net hierdie vervloekte krukke: sonder hierdie stokke kan ek nie ʼn tree gee nie, kan ek nie bestaan nie. Sonder die afgryslikste gimnastiek kan ek myself nie eens aantrek nie. Ek kan al amper hardloop met my krukke maar ek kan nie by trappe op of afklim nie en as die oppervlak nie gelyk is nie, maak die beweging van een skouer na die ander my baie moeg. Ek het baie skerp senupyne in my regterarm en -skouer en daarmee saam die kruk wat in my armholte saag – senupyne ook in my linkerbeen en daarmee saam moet ek elke dag nog akrobaat speel net om te lyk of ek bestaan. Dit is wat ek deesdae dink die oorsaak van my siekte is: van November tot Maart is die klimaat in Harar koud. Ek het nooit vreeslik warm aangetrek nie: ʼn eenvoudige seilbroek en ʼn katoenhemp. Dan nog 15 tot 40 km te voet elke dag, en die waansinnigste ritte te perd in die rowwe gebergtes van die streek. Ek dink hierdie artritiese pyn het in my knie ontwikkel as gevolg van uitputting, hitte en koue. Dit het begin met ʼn soort hamerslag onder die knieskyf, ʼn ligte hou wat elke minuut gekap het in my uitgedroogte gewrigte en die senuwee in die dy laat optrek het. Daarna het al die are rondom die knie begin swel sodat dit na spatare begin lyk het. Ek het steeds baie gestap en hard gewerk, harder as ooit – en gedink dat dit net die koue was. Daarna het die pyn in die knie erger geraak. Met elke tree was dit asof ʼn spyker aan die kant ingekap word. Ek het nog steeds gestap, alhoewel met meer moeite; ek het veral perd gery en elke keer feitlik kreupel afgeklim. Toe het die bokant van die knie begin swel, die knieskyf het dikker geword, die agterkant van die dy is ook aangetas, beweging het moeiliker geword en die pyn het my senuwees geruk tot in my enkels en tot in my rug. Ek kon net erg mank loop en het steeds erger gevoel maar natuurlik het ek nog steeds baie werk gehad om te doen. So toe het ek begin om my knie te verbind van bo tot onder, te masseer, te baai, ens. sonder dat dit gehelp het. Nietemin het ek begin om my aptyt te verloor. En ek kon net nie meer slaap nie. Ek het baie verswak en maer geraak. Teen 15 Maart het ek besluit om in die bed te bly, of ten minste horisontaal. Ek het ʼn bed gehad tussen my kas, my dokumente en ʼn venster vanwaar ek my skale in die binnehof kon sien. Ek het mense betaal om die werk te laat voortgaan en self plat bly lê, of ten minste met die seer been uitgestrek. Maar dag na dag het die knie ronder en ronder geswel. Ek kon sien dat die binnekant van die tibia se kop baie groter was as dié van die ander been: die knieskyf was so vasgepak in die afskeiding van die swelsel dat dit glad nie meer kon beweeg nie. Ek het geskrik toe ek sien dat dit binne ʼn paar dae so hard soos been geword het en toe was my hele been styf, heeltemal styf. Ek kon myself nog net na plekke sleep. Nietemin het die been en die bokant van die been steeds maerder geraak terwyl die knie en agterdy bly swel het en versteen het, of eerder verbeen het, en my fisiese en geestelike toestand terselfdertyd verswak het.

Einde Maart, het ek besluit om pad te gee. Binne ʼn paar dae, het ek alles gelikwideer teen ʼn groot verlies. En omdat die pyn en styfheid van my been my nie toegelaat het om ʼn muil of selfs ʼn kameel te gebruik nie, het ek vir my ʼn draagbaar laat maak met ʼn gordyn wat deur 16 mans na Zeilah gedra is oor twee weke. Op die tweede dag van hierdie reis, terwyl ons ver van die karavaan was, is ons in ʼn onbeskutte plek deur ʼn reënbui verras en het ek 16 uur in gietende reën gelê, sonder skuiling en nie in staat om te beweeg nie.

Dit het my baie kwaad gedoen. Onderweg, kon ek nooit opstaan uit die draagbaar nie. Hulle het die tent oor my gespan net daar waar hulle my neergelê het en ek het met my hande ʼn gat gegrawe langs die draagbaar wat ek met moeite gebruik het as ʼn toilet en weer toegekrap het. Soggens het hulle weer die tent opgerol en my opgetel. Ek het uitgeput en verlam in Zeilah aangekom. Ek het net vier uur gerus; daar was ʼn stoomboot op pad na Aden. Ek is op die brugdek op ʼn matras neergegooi, nadat my draagbaar op die skip gehys is en daarna moes ek drie dae se seereis sonder kos verduur. In Aden, is die draagbaar weer afgehys. Daarna het ek ʼn paar dae by Monsieur Tian deurgebring om ons besigheid te reël en is toe opgeneem in die hospitaal waar die Engelse dokter na twee weke aanbeveel het dat ek eerder Europa toe gaan.

Ek is oortuig dat hierdie pyn in die gewrig maklik beheer sou kon word en daar nie gevolge sou gewees het nie indien dit onmiddellik behandeling ontvang het. Maar ek was onbewus daarvan. Ek het alles bederf deur my hardkoppigheid om te wil loop en té hard te werk. Waarom leer ʼn mens nie op skool genoeg oor mediese toestande om nie sulke dwaashede aan te vang nie?

As enige iemand in só ʼn situasie my advies sou vra, sou ek sê: jy het nou hierdie punt bereik, maar moet net nooit jou been laat amputeer nie. Laat jouself verbrand, verskeur, versnipper maar moenie dat hulle jou amputeer nie. As jy doodgaan, is dit steeds beter as ʼn lewe sonder ledemate. Baie mense is daardeur en as ek kon oorbegin sou ek dieselfde doen. Eerder ʼn jaar lank ly soos ʼn vervloekte as om geamputeer te word.

En dis nou die gevolg: ek sit en elke nou en dan staan ek op en spring ʼn honderd treë op my krukke en gaan sit dan weer. My hande kan niks vashou nie. Ek kan dit nie waag om terwyl ek loop my oë van my een voet en die krukke te neem nie. Kop en skouers buig vooroor en laat my lyk na ʼn boggelrug. Ek bewe van angs om mense en dinge om my te sien beweeg, bang dat hulle my omstamp, my ander poot breek. Mense grinnik wanneer ek so spring. En dan sit ek weer, met kriewelrige hande en gekneusde armholtes en die gesig van ʼn idioot. Wanhoop kry weer die oorhand en daar sit jy, geheel en al magteloos, huilerig, en wag op die nag met sy ewige slapeloosheid en die oggend sal nog erger wees as die vorige dag en so aan en so voorts. Word vervolg.

Beste wense,

RBD

 

 

Marseille, 20 Julie 1891

My liewe suster,

Ek skryf hierdie met ʼn verskriklike pyn in my regterskouer wat my byna verhinder om te skryf – soos jy kan sien.

En dit alles van ʼn gestel wat artrities geword het as gevolg van swak versorging. Maar ek het genoeg gehad van die hospitaal waar ek ook elke dag blootgestel word aan pokke, tifus en die ander pestilensies wat daar hou. Ek gaan myself laat ontslaan en die dokter het in elk geval gesê dat ek kan gaan en dat dit beter is dat ek nie in die hospitaal bly nie.

Oor twee of drie dae, kom ek dus uit en sal sien hoe ek myself tot by julle gesleep kry; want, met my houtbeen, kan ek nie stap nie en selfs met krukke kan ek op die oomblik net ʼn paar treë loop om nie my skouer te vererger nie. Soos jy gesê het, sal ek by Voncq afklim. En wat die kamer betref, ek sal verkies om bo te bly. Dis nie die moeite werd om hier aan my te skryf nie, ek sal binnekort op pad wees.

Totsiens.

Rimbaud.

 

 

Marseille, Woensdag 28 Oktober1891

Liewe Ma, […]

Die dood kom met lang treë. Ek het in my vorige brief vertel, liewe Ma, hoe erg sy stompie geswel is. Nou is daar ʼn enorme gewas tussen sy heup en sy maag, net bó die heupbeen. Die stompie wat so gevoelig en seer was, veroorsaak amper nie meer pyn nie. Arthur het nie hierdie dodelike gewas gesien nie: dit verbaas hom dat almal na sy arme stompie kom kyk waar hy amper niks meer voel nie: en al die dokters (daar het reeds ten minste tien kom kyk vandat ek hulle van hierdie vreeslike groeisel vertel het) bly stom en verskrik staar na hierdie vreemde gewas.

Op die oomblik, is dit sy arme kop en sy linkerarm wat die meeste pyn. Maar hy is die meeste van die tyd in ʼn soort lomerigheid gedompel wat lyk soos slaperigheid terwyl hy alle geluide baie skerp waarneem.

Vir die nag, kry hy ʼn morfieninspuiting.

Wanneer hy wakker is, bring hy sy lewe deur in ʼn soort deurlopende droom: hy sê baie saggies vreemde dinge, in ʼn stem wat my sou betower as dit nie my hart gebreek het nie. Wat hy vertel, is drome – maar dis nogtans glad nie dieselfde as toe hy geyl het nie. ʼn Mens sou kon dink, en ek glo dit regtig, dat hy dit doelbewus doen.

Terwyl hy besig was om hierdie dinge te fluister, het die verpleegster saggies gevra: “Het hy dan sy bewussyn verloor?” Maar hy het haar gehoor en bloedrooi gebloos; hy het niks verder gepraat nie maar toe die verpleegster uit is, het hy gesê: “Hulle dink ek is mal. En jy? Glo jy dit?” Nee, ek glo dit nie. Hy is amper ʼn onstoflike wese en sy denke ontsnap ondanks hom. Soms vra hy die dokters of hulle die ongelooflike dinge sien wat hy waarneem. En hy praat met hulle en vertel sagkens in woorde wat ek nie kan weergee nie van sy indrukke: die dokters kyk in sy oë, sy mooi oë wat nog nooit mooier of intelligenter was nie, en sê onder mekaar: “Dit is vreemd.” In Arthur se geval, is daar iets wat hulle nie kan begryp nie.

Maar die dokters kom amper nie meer nie want hy huil dikwels wanneer hy met hulle praat. En dit ontstig hulle.

[…]

Totsiens, liewe Ma.

Liefde,

Isabelle

 

 

Marseille, 9 November 1891 [ʼn brief wat Rimbaud ylend aan sy suster dikteer]

EEN STEL: EEN TAND

EEN STEL: TWEE TANDE

EEN STEL: DRIE TANDE

EEN STEL: VIER TANDE

EEN STEL: TWEE TANDE

Meneer die Direkteur,

Ek wil graag weet of ek u niks meer skuld nie. Ek wil vandag hierdie afdeling verlaat waarvan ek nie eens die naam ken nie, buiten dat dit die Aphinar afdeling is. Daar is al hierdie afdelings rondom my en ek, magteloos, ellendig, kan niks vind nie, die eerste hond in die straat sal dit kan bevestig. Stuur dus die rekening van Aphinar se dienste aan my in Suez. Ek is heeltemal verlam, so ek wil vroegtydig aan boord gaan, sê vir my hoe laat ek aan boord gedra moet word…

Hier aan die kus van die hart waar ek wortels het, hier, gebeente, sal jy bly,

in hierdie vreemde visland wat sy stert sweep teen die golwe met vloksels vel en kak en saad en sweet

hier sal jy tot as verbrand en vir ʼn oomblik

sal ʼn stukkie wit lug bo die hospitaal vir altyd die Hoëveld wees.

 

Vir Ryk se knie, 18 Junie 2014, i.m.

Ballade vir ʼn afvallige knie

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Arthur Rimbaud. Vertaling in Afrikaans”

  1. Breyten Breytenbach :

    Eina, Catherine! Jy slaan mens se voete skoon onder jou uit (jammer vir die kru beeld gegewe die konteks) met hierdie skitterende voorbeeld van vertaalkuns (soos in ‘digkuns’). Watter emblematiese én tragiese figure was/is hulle nie: Rimbaud & Ryk…

    Ek moes dink aan Alain Borer se “Rimbaud in Abessinië”. Arthur ‘L’Hottentot’, Arthur L’Africain, Arthur die landloper – sy soeke bly aktueel. Soos dié van Ingrid Jonker. En Ryk Hattingh s’n – om nou maar net vlugtig na Afrika te kyk. Die onrustigheid van hulle visioenêre reise gaan ons nie uitlos nie.

    Jy (saam met jou vertaalgroep?) het ook ‘n allesomvattende vertaling gemaak van Jean-Joseph Rabearivelo, die Rimbaud-figuur van Madagaskar. Ek weet nie wie hier lees nie maar wil regtig dat dit onder die aandag van ‘n ondernemende uitgewer gebring word. Of so nié moet ons weer ‘n Hond agter die bos gaan uitskop. Die vertaalkuns MOET bevorder word en erkenning kry. Sou dit nie wonderlik wees indien daar ‘n uitgewery kon bestaan toegespits op die publikasie en gepaardgaande van hierdie kwaliteit werk wat die sluier wegtrek voor ons gedeelde condition humaine, wat ons kan uitlig bo die benoude grense van die patriargale en lokale polities korrekte aanvaarding en ‘beskawing’ nie?

    En die een been van hierdie uiteenlopende (daar is dit weer…) deurbrake na die niet sou gegroeper kon word onder ‘n toespitsing op en toeligting van Afrika digters soos na ons toe gebring in ons Kreools, ons Afferkaans. Danksy die vertaalkuns van mense soos jy.

    Dankie!

  2. Frances Strooh :

    Hoe het ek my nie nou in hierdie (donker, donker) briewe verlustig nie. Dankie Catherine!

  3. Joan Hambidge :

    Dankie hiervoor, Catherine. Puik vertaal.

  4. Waldemar Gouws :

    Na die lees van hierdie vertaling was daar vir my nie sprake van “‘n goeie nagrus” nie. Diep aangrypend, inderdaad. Baie dankie vir hierdie arbeid. (“Die hand wat die pen stuur, ewenaar die hand wat die ploeg stuur,” het Rimbaud geskryf).

    Die aanvang van die laaste brief (EEN STEL: EEN TAND …) kan verstaan word binne die konteks van Rimbaud se dekadelange werk as handelaar. Hy het veral koffie, ivoor en huide uitgevoer vanaf Harar in Abessinië via Aden, en katoen en systof ingevoer na die binneland van noordoos Afrika, sowel as gewere soms.

    Mens kan dus ‘n denkbeeldige inventaris van ivoor sien in die vier lotte olifantstande aan die begin van Rimbaud se laaste brief. Hy was reeds verlam. Die dag daarna, op 10 November 1891, het hy te sterwe gekom.

    Soos Ingrid Jonker in “Ontvlugting”: “My lyk lê uitgespoel in wier en gras …” het Rimbaud in “‘n Seisoen in die hel” (1873) profeties geskryf: “My tyd is verby; ek verlaat Europa. Die seelug sal my longe brand; die klimaat van godverlate streke sal my vel verskroei.”

    In Harar, tussen hoofsaaklik Moesliems, was hy bekend as Abdoh Rinbo.

  5. Breyten Breytenbach :

    Dankie, Waldemar Gouws. Dit weerklink (of weer-lig, flikkerend soos verskroeide vere) eindeloos in mens, hierdie ‘Aboe Rainbow’: Vader Reënboog.

  6. Catherine du Toit :

    Yves Bonnefoy het geskryf dat ons van Harar moet vergeet, hierdie laaste briewe van Rimbaud nie moet lees nie – dit was nie deel van dit wat die vuurdief van homself in die wêreld wou nalaat nie. Ek stem saam met hom. Nogtans het ek die briewe gelees en toe vertaal as ʼn ander soort gebed om die gebeente. Mag Vader Reënboog my vergewe. Die knoop waar pyn en kennis kruis, is vir my die fel kontras tussen hierdie gedwonge totstilstandkom en ʼn lewe van onthutsende beweeglikheid:
    Ek ken die hemele wat splyt in weerligstrale,
    die stortvloed, boegstroom en watergang, ek ken die aand,
    die ligdag vol ekstase soos ʼn duiwevolk,
    en soms het ek gesien wat die mens net glo te sien.

  7. Vertaling is die wereldtaal. Baie vir hierdie voorbeeld daarvan.

  8. Ek wou baie dankie se!

Los kommentaar