Pieter Fourie. Twee gedigte

duister:

die verband

tussen ster

en korreltjie sand

 

helder:

onversoen afgesper

‘n soekmekaar

triljoen na triljoen

in duin in hemelruim

alabaster en ghoen

 

*

 

oupa praat nou sag aldag al temer

die aandster kom so net na skemer

 

tyd vir lang witjurk en slaapmussie

‘n laaste lopie na die parlement

vroetel rond in medisynekissie

aha! ‘n hoesstropie en pipperment

 

vannag kom ‘n uil op daknok roep

weet oupa worstel met die kroep

kis staan blinkvernis op die solder reg

vir leeftydstapper van die smalle weg

 

daar kom hoe-hoeee die engelkoor

ouma trek dig die kantgordyntje

‘n vlugsoutjie ‘n proppie rooi jeropiko

speel met respek op trapserfyntjie

 

sing pianissimo:

 

“uit diep van donker nagte

roep ek, die here hoor ….”

 

© Pieter Fourie / 2018

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar