Breyten Breytenbach. Psalms vir Oupa M’Poen

PSALMS VIR OUPA M’POEN

kom ons buig en soen daai pampoen wat versteende-traan glinster

                                                             aan die hemel daar bo

*

alles wat ooit bestaan het

alles wat ooit gelewe het

alles wat ‘n ruimte laat bewe

om ‘n merk te laat

vir die vergeet

van altyd se asem

en daarom vir altyd sal wees

want al manier om die lewe

verby vashou te onthou

is om dit veilig te bêre

onder die pols-sing van maanvergeet –

elke asemteug grasspriet goejop wolk

voëlsang wolk potlood lied

tong en wolk volk

is boeddha my boet pampoen

 

alles wat bloei tot boeddhawees

is pampoenmaan

en jy net (‘n) bewuswording

om onder

      om op

 te gaan in die lewe

en so te bly bewe in die dood

 

jy mag maar huil

want alles huil

in stilte se syn

jy mag maar al uitkringende

sing-sing intiem by nie-syn ingaan

 

daarom : indien jy boeddha

teenkom op die weg na Kû :

maak hom dood

met al die liefde

van jou vergaanbestaan

 

en éét daai soetpampoen !

*

 

*

*

‘n man wat praat

is ‘n besmette man :

om te lewe ‘n daad

van aanvulling van

onomvatbare materialiteit

soos ‘n planeet in beweging gebaan

aanhou verbrokkel

en verdwyn in die niet

 

en die onvoorstelbare virtualiteit se bestaan :

om stil te wil staan

in die ewigheidsbewing van aanhou vergaan :

om as asem na long te soek

en in vervlieting wat nood is te vloek op die tong

se vlug van verbeelding na die skyn van sin

se daarom-om en om om te om

 

sonder sang

uit kromme note gehaal

die les te leer :

dat die self ‘n fles is:

leeg gedrink op soek

na syn

se so-ek : die maan-neerslag

van die naam

van die man

wat gedog het dis wyn :

soos ‘n god se piepie

‘n straaltjie pyn

 

om die leeg

weer vol te kan

skink

met niks

se skyn

van die niet se verdwyn ?

 

want verby die punt van terugkeer

is pampoen weer pampoen

skoen skoen

soen soen

die seisoen van sterwe

en die hand ‘n ekkende sweer:

 

is

is-ek

insek

of inkbek ?

 

moenie

nou wanneer

woordvrek

op hande is

in die hek

wil kak nie

meneer…

 

voertsek !

*

ons reis en ons reis en ons sien nie / ons pas aan ons maak vuurtjies

ons pak klein klipstapels vir ‘n maat/ ‘n liefde die voorsaat

wat hier en daar gehurk onder ‘n bossie skaduwee

die onverteerde onbekende soos vrees uit die skoot skyt

met die tong ‘n dooie akkedis in die mond

 

ons vind uit ons maak staan/ kweek begrip

ontleed die klip projekteer abstraksies modelle afmetings

en versin wolke van staal / om die vergete weg te bêre

prakseer woordklosse en klikke as taal skuins gestreep

om die kaal van vreemdelingskap toe te maak / om die tong

in te prent die mond is geskiedenis / siende daar ‘n begin is

en eendag geen einde aan ons na-aping van voëls

 

net soms kom daar ‘n rilling van einder tot kim

in ‘n ketting lig ver buite enige verwysingsveld

na mensgemaakte mens-owerskap/ dryf die maan

rooi soos ‘n embrio in die stof / van oseane eindeloosheid

kom ‘n wind dieper as strepe se omvatting / lou uit die oerte

van nie-mak-maak bewussyn

en vrek enige pretensie van vlug in ons drome

*

‘n Boom is baie soos ‘n spinnekop. Veral in die doodse stilte tussen ontwaak en syn wanneer dit nog weer heeltemal donker kan word en boom in die ontskemering aangesien mag word vir ‘n groot spinnekop – aandagtig in ingehoue (maar oorgehaalde ?) afwagting. Wanneer dit soos die spinnekop gespin in die web en uitreiking van (en na) aanraking net ‘n trilling van blare is. Die boom is soos die spinnekop oënskynlik immobiel. Dit verplaas sig nie : begrippe van ‘interaksie’, ‘uitreiking’,  ‘jag’, ‘opvang’, ‘agtervolg’ en selfs dié van ‘n magsverhouding tussen soeker/verbruiker/plukker en prooi (of is dit kliënt ?), selfs vriend of bondgenoot of bywoner – die insekte, die akkedisse, die voëls – alles word op die kop gekeer. Wie reik uit ? Wie word gevang of verlam ? En waarom ? Omdat dit in die aard van interaksie is ? Kan syn slegs in uitwisseling bestaan ?

 

Daar is ‘n heilige tydloosheid, streng afgebaken in die ophef van beweging of omgang, wanneer die metafoor dit (of dié) wat vergelyk word snoer en saam laat smelt. Om te sê : die boom is (soos) ‘n spinnekop is dan nié ‘n stylfiguur, ‘n aweregse uitlig van ooreenkomende eienskappe of slegs oëverblinding meegebring deur die sluierdans van taal nie, is dan nie verregaande absurd nie. Dit steek niks oop en verander niks na niks. Dit is dan (en altyd ?) die totaal geïntegreerde vergestalting van die vanselfsprekende wat nie gesê hoef te word om te bestaan nie. Dit is en die beeld sê dit. Of dit is dan vry van begin en selfs ophou en selfs die wette van bymekaarbring. Simbiose. Fusie. Vervlegting in die absolute. ‘n Fluisterwete.

Daar is fluisteroomblikke wat buite die raamwerk van tyd eenvoudig hierdaar is.

En dan kom die dag – lig, opheldering, verafsonderliking, die naasmekaarsit van fenomene en dinge en syne en myne en julle s’n. Dan word die metafoor weer ‘n mes – op onverwagse wyses, want dit skil vanselfsprekendhede en vanselfsprekende hedes bloot – om te kerf of te boor of te boetseer.

So soos taal ‘n verwydering is, ingestel op toenadering en besitname. Maar in die sin van haar wese ‘n vervreemding. ‘n Uitmekaarhaal.

*

*

die aard van bewussyn

die eienaardigheid van bewussyn

die aardse van bewussyn

die aardige van bewussyn

die ontaarding van bewussyn

die ter aarde bestelling van bewusword

*

*

                    kom ons buig en besing die maan wat soos ‘n traan in die water pampoen

Katalonie, September 2018

 

© Breyten Breytenbach / 2018

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Psalms vir Oupa M’Poen”

  1. .Melanie Grobler :

    Ek huil so bietjie. Dankie Breyten

  2. Louis Esterhuizen :

    Veels geluk met die jarigheid, Breyten. Mag die nuwe lewensjaar net pure onverdunde vreugde wees vir jou en al jou geliefdes.

  3. Francis Galloway :

    Hartlik geluk met jou pampoendag Breyten. Mag hierdie jaar ‘n ryk oes oplewer.

  4. Van harte geluk, Breyten!

  5. Charles Tait :

    Lekker Pampoendag, Breyten. Dankie vir al die ingewikkelde maneuwers oor die jare heen en die woorde wat darem iets vir iemand beteken. Dankie vir daai, Cara Negra.

  6. Waldemar Gouws :

    Baie geluk en verdere “aanhou vergaan”-verlokkings, Breyten (en met ‘n dop van ‘n dop op die groot pampoen).

  7. Webmeester :

    Baie geluk met nog ‘n groot pampoen verjaarsdag! Mag die beste nog jare lank oor en oor geplant word.

  8. Trienke Laurie :

    Al die pampoenpos! Ja, eet liewer pampoensop met ‘n dop! Ons het aan jou gedink by die digtersbyeenkoms in die Breytenbachsentrum.

Los kommentaar