Pa se free range-droom. Gisela Ullyatt.

Foto: Pinterest

 

Pa had ’n hoenderhok vir ’n wyle. Maar nie sommer enige hiert-jy ene nie. Toegegee, dit was ’n saamgeflansde hondehok, ja.  Maar dit was ook Georgie, die miniatuur-worshond, se hondehok nadat hy hônnedroomland toe begelei is deur Oom Odendaal, die veearts en ouderling in ons gemeente.

Georgie het sy hondehok gehaat, want hy wou so graag in die huis slaap. Sy hartsbegeerte het egter nooit gerealiseer nie: dit was die 1980’s en voorstedelike mense het hulleself meer verknies oor bomme in dromme en supermarkte as oor hulle troeteldiere met skeidingsangs. Ten minste was die hok uit planke gebou en nie uit asbes nie soos ons verwarmer in die voorkamer nie.

Pa se hoenders was van die begin af gedoentes uit die hel. Hulle was ongedurig; plein moerig. Maar as ek nou aan hierdie gevogeltes dink, het hulle goeie rede daartoe gehad: acting out. Eerstens was hulle opgekrop binne ’n minuskule ogiesdraad-kampie. Hiervoor was ook ’n rede: wanneer hulle losvoetig was, het hulle almaardeur die gat in die vibracrete-heining gedônner. Pa het plankies en bakstene voor die heining geprakseer, maar op een of ander manier het hulle hulself deur ‘n nuwe opening gewriemel. Reguit in die kake van Oupa, die bure se  katoolse en bloedskendige bulldog. Pa móés hulle dus intrónk.

Ook is ’n kuiken deur ’n valkie weggeraap: ek en my kleinsus het ’n in absentia-begrafnis in die agterjaart gehou. Maar die kleigrond van die Vrystaat het die grafgrawers gou in hul gegrou gestuit. Ons het maar volstaan met ’n paar magrietjies en vygies op ’n afgemerkte stukkie grond.

Begrafnisse het die jaart in littekens begin merk. Onvoorwaardelike free range hoenders was hulle nie, maar hulle betreklike kort lewens was darem aansienlik beter as dié van die rainbow chickens langs die Maselspoort-pad.

Boonop het die haantjie, genaamd Gerrie Coetzee (my pa se boksheld), klokslag om vier uur begin kraai. Oggendstond had dus nié goud in die mond. Ma kyf ’n kakafonie; Pa word genoop om ’n kartondoos oor sy Gerrie se kop te prakseer. Ek dink dit het darem luggaatjies gehad. Obsessioneel het ek aan Gerrie Coetzee se lot begin dink en hom by my aandgebed begin insluit.

Maar al wat stilbly was Gerrie. Steeds kon jy ta se gekraai hoor. Effe meer gesmoor, toegegee. Maar steeds  klokslag OM VIER.

Pa het die hennetjies se eiers gebraai. Free range eiers alvorens free range ’n Woolies trefwoord geword het. Ongelukkig was ons eiers met gommerige hoendermis en vere besmeer; so pieperig, jy moes nagenoeg twee dosyn hê vir ’n behoorlike brekfis-omelet. Pof-omelette kon jy maar van die menu afhaal. Nooit weer wou ek my mond aan enigiets sit wat in daardie pan gebraai is nie: my eie pa het die hoenderfetusse, ja mý hennetjies én Gerrie Coetzee se kinders, gewetenloos vermoor.

Ek het myself in my kamer toegemaak en onder die duvet geklim. Die lavender-toiletsproei was vir lank my beste vriend, altans my enigste vriend teen die kwade kombuisgeure.

 

Foto: Pinterest

 

Ek kon nooit Pa se verkropping met die geveerdes verstaan nie.  Totdat ek van die leghorn-storie gehoor het. Alewig het Pa se messelaar-vader huise opgefieks en hulle dan verkoop. Nooit rêrig ’n wins uit hulle gemaak nie. Die versoeking was dus groot om stringe huise binne ’n rekord-tyd te verkoop. Die erwe was kolossaal en mense het hoenders, ganse of eende aangehou. Soms poue ook as hulle nie bygelowe oor dié ongeluk had nie.

So duskant agt jaar oud en my pa het ’n paar leghorns gehad wat hy soos pasgebore babahondjies vertroetel het. Elke nuweling is plegtig gedoop en daar was selfs ’n appelkissie waarop hy vir die leghorns uit die kinderbybel Skriflesing en Gebed gehou het. Hy het in ‘n wafferse lekeprediker ontaard. Sy kerklidmaatskap het ‘n opwaartse groei begin toon en het selfs so ver as sy teddiebeer en broertjies gestrek.

Maar toe het die tyd weer eens aangebreek vir ’n Groot Trek.

Dit was die middag van sy verjaarsdag en grafstil toe hy die huis binnekom. Nog in sy skooluniform, gooi hy sy tas op die bed in die kamer wat hy met sy ouma moes deel. Hy is agt jaar oud. Hy wonder waar almal is. Dan hoor hy stemme in die agterjaart. Kinderstemme. Sy hart bons. Uiteindelik, ’n regte partytjie. Nog nooit ene gehad nie; Mammie het gesê dat in oorlogstye die geld te skraps is vir ’n  behoorlike geskenk, wat nog van ’n onnodige paartie waar almal in elk geval die sweet van jou aanskyn in die kombuis binne minute opvreet. Nes varke. En van varke-voer het sy genoeg gehad op die plaas waar sy deur haar bejaarde ouers soos ’n bediende behandel is. Nee, varke dié sal sy nimmer weer voer nie.

Opgewonde maak hy die agterdeur oop. Dis die buurtkinders. Hulle is almal by die leghorns se hok. Bedags loop hulle vry, dis net snags wat hy hulle tot in die hok in sus met mieliepitte.

En dan sien hy dit en eers wil sy kop nie verstaan nie. Sekerlik is dit ’n verrassingspartytjie en iewers, dalk onder een van die vrugtebome, het sy ma ’n tafel gedek met ’n uitgerysde koek met dik botterversiersel. En tuisgemaakte limonade, met baie suiker en ’n suurderige smaak. En kleinkoekies. En dan sal sy geskenke wat die maats gebring het, iewers op die tafel gerangskik wees, elk met ’n mooi kaartjie daarby. Hy hou só van mooi kaartjies, veral dié met ’n  Patience Strong-strekking.

Maar paniekerig sien hy die afwesigheid van ’n tafel. Net Koekie van langsaan met haar snaakse slaphand, die Terblans-tweeling wat verder-af die straat bly en ’n swetterjoel ander wat hy nie so goed ken nie.

Elk het ’n leghorn wat hulle opgewonde vashou.

Sy ma het ’n geldsakkie in haar hand. Toe het sy hart begin verstaan.

“Jou leghorns was nog altyd ’n oorlas op my. Jy weet mos hulle mag nie kan saamtrek nie”.

Daardie laatmiddag het hy in die hoenderhok gaan lê. Hy het die reuk van vere diep ingeadem. Sy ouma het mooi gepraat dat hy nie die volgende dag opgeneuk moes word nie: ten spyte van hierdie pleidooi het hy lank hale regoor sy lyf oorgehou. Die hale van ’n woedende haarborsel.

Maar hy het die afranseling oorleef. Want eendag, só het hy homself belowe, sou hy ’n gerfie grond met leghorns daarop kry en dié se eiers vir sy kinders gaarmaak.

 

Strykdag  (Petra Müller: om die gedagte van geel)

 

Die weglêhen is opgespoor.

“Ma, sy’s onder die malvabos!”

 

Vinnig kyk sy op, vee met haar los hand oor haar nat gesig.

“Bring in,” sê sy, “daar’s skerpte in die lug. Laat Elsie

jou help. Los tweetjies vir haar …”

 

Ek voer die kuikenmandjie met die afgeleefde strykkombers,

Elsie hou die kwaai hen teen haar bors. “Nou pik dan,

jou moerskind. Julle leggôrns kannie kiekens grootkry nie!”

Ek skep hande vol kuikens op, hol huis toe, stoot die mandjie

een kant van die haardvuur in die sagte warmte in –

geel pluimpies lewe wat reeds piep-protes.

 

Laatnag in die lou kombuis kry ek Ma daar.

Ons weef ons hande oor die kuikengoed.

“Dis alles reg,” sê sy. “Moet net nie te lank

hier sit nie, dis buite aan’t ryp.”

 

Maar ek trek – nes sy weg is – stoel teen stoof.

Steel die mandjie. Bly nog ’n bietjie warm wag,

my wange in die goue vag.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Pa se free range-droom. Gisela Ullyatt.”

  1. Nini Bennett :

    Aangrypend; knap. Dankie, Gisela.

Los kommentaar