Melanie Grobler. Twee gedigte

Die meisie in haar wit rok

 

Twee weke lank stap die meisie deur die berkebome

  na die houtkerk waar ’n bedelbakkie asook

  herfsblare deur die ruimte leviteer; die mirre-olie

  wat sy aan haar polse smeer het reeds die heilige geskrifte

  en voetstappe van die heiliges uitgewis.

 

Hier is Rachel, die meisie met die wit rok

wat tussen die berke begrawe is.

 

Veertien jaar gelede het haar ma gesterf

haar boetie diep begrawe

haar pa weggeraap

haar hele lewe wou Rachel

haar pa se lui bewegings leer ken.

 

Toe ek ’n jong vrou was

het ek ook ’n babaseuntjie gehad

wat duisternis bo die lig van lewe

gekies het

fout was sy sterwe

kind wat my nooit sal ken nie, nooit.

 

***

(vir die ongebore kind)

 

Vanaand in die omhelsing

van weemoed

om my weemoed

om my sterf die sterre

 

ek kruip verder na die plek

na die plek leeg van lig

my liefie toegedraai

toegedraai in die nag

 

en ek langs jou

ek langs jou

na die leegheid

en die litanie

 

en die skaduwee

bevry my, my verlies

my verlies en die litanie

en die skaduwee, sterre sterf.

 

©Melanie Grobler 2018

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Melanie Grobler. Twee gedigte”

  1. Elza Lorenz :

    Aangrypende herinnering aan elke verlies…

  2. Annora Eksteen :

    Allerliefliks beskryf – die ontsettende gevoel van rou verlies – dit laat my op ‘n manier dink aan ‘n film wat ek verlede jaar gesien het: The Light Between Oceans.

  3. Marinda van Onselen :

    Hartverskeurend

  4. Melanie Grobler :

    Baie dankie

Los kommentaar