Carina van der Walt. Jeroen Bosch. Hel en Verderf

 

 

HIERONYMUS BOSCH, paintings for discussion and writings is ’n Klein Uiltjie-lesing wat op 24 Mei 2017 voorgedra is aan die Universiteit van Wenen. Aangesien prof. Rina Loader se groep studente by die vakgroep Afrikaans veral afkomstig is uit Oos-Europese lande soos Roemenië en Bulgarye, moes die lesing in Engels aangebied word. Die Afrikaanse gedigte wat in die lesing aangehaal word, is vir die studente se groter begrip in Engels vertaal. Baie dankie aan al die vertalers.

’n Handjievol Afrikaanse gedigte bestaan oor die skilderye van Jeroen Bosch. Die meeste is geskryf na aanleiding van die drieluik De tuin der Lusten (ongeveer 1503), maar ’n enkele digter het oor ’n ander Bosch-skildery geskryf.

Die blote feit dat hierdie Afrikaanse gedigte bestaan – in één van die jongste tale ter wêreld – oor skilderye uit die middeleeue geskilder deur een van die bekendste skilders uit daardie tyd, is iets om verwonderd oor te wees. Al die Afrikaanse digters het reuse spronge gemaak in tyd en ruimte: van die twintigste en een-en-twintigste eeu terug na die einde van die vyftiende en die begin van die sestiende eeu; van die suidelike punt van die die kontinent Afrika na die land van Hertog Jan van Brabant. Brabant was ’n uitgebreide en welvarende gebied in die Middeleeue. Dit het bestaan uit die huidige provinsie Noord-Brabant in Nederland, die huidige Belgiese provinsies Vlaams Brabant en Walonies Brabant die provinsie Antwerpen rondom Antwerpen. Al hierdie gebiede was saam bekend as die hertogdom van Hertog Jan.

D.J. Opperman se gedig Jeroen Bosch is gepubliseer in sy digbundel Engel uit klip (1950). Opperman het die gedig as ’n opsomming geskryf van ’n gedeelde tydgees (zeitgeist) tussen homself en Bosch. Dit is ’n tydgees wat hulle albei vir hulleself toegeëien het. Beide het hulle taak as evangelis en profeet van die apokalips aanvaar. Hulle het gewaarsku teen die kwaad, die dwalende duiwel wat vreemde gewade en maskers aan ons gee om hom daarmee op aarde te volg. Bosch én Opperman het hulle werk gebruik om kritiek te lewer op die etiek van hulle eie wêrelde. Vir die breër konteks kan aan die einde van hierdie bydrae oorgeskakel word na die webwerf van Afrikaans in Europa (AiE). Hier moet ek uitdruklik noem dat die onderdeel in die lesing “Short cut through life in Afrikaans South Africa” my persoonlike mening is, aangepas op die Middeleeuse blik van Bosch.

 

Jeroen Bosch

The world is vain but my spirit is vainer,
curing some thirty nights’ nightmares
of thorny plants, birds and people.

From regions of the earth, old and new, the devil
chooses ever more lustily costumes and masks
for me, for you, for thousands upon thousands.

It hauls cortèges, fêtes around the Cross, changing
shape through the centuries; but the game
remains the same in monks, machines, or thill.

And caught eternally in the cycle of desire
we ride, spurring the stallions’ flanks
round and round the crows on naked women in the dam.

O Beloved! Come then, let us flee from the revels
sheltering in mussel, horny husk – and far above
the carnival of evil floating in glass bubbles.

Because the dunce is in me, the fish-lipped fool
whistles at the magician’s every trick
but mocks miracles and His crucifixion;

and if I summon God and Anthony together
he is already there who from a new rankness
farts the first swallows recklessly through a funnel.

D.J. Opperman
Translation: Gisela and Tony Ullyatt

 

Strofes 1 en 2 pas in al die panele van Bosch se drieluik: hemel, aarde en hel. In strofe 4 word jou blik geforseer om te fokus op die middel van De tuin der Lusten. Opperman beskryf ’n Moredans (in Duits Moriskentanz) of vrugbaarheidsritueel uit die Middeleeue. Die sirkel van lus vertoon mans op perde, kamele, bulle, bere en eenhorings wat om swemmende vroue draai. Hulle vervoer vrugte, eiers, visse en voëls as geskenke vir die vroue. Die vroue drom saam of leun aan die kante van die dam met reiers, kraaie, poue en appels op hulle koppe. (Vergelyk Jeroen Bosch se skilderye gepubliseer op 31 Maart 2016 vir die Afrikaanse gedig en ’n afbeelding van die Moredans). Opperman eien homself die kwaad volledig toe soos wat dit deur Bosch geskilder is. ’n Mens hoor byna die vroue se hoë stemme, hulle gegiggel in die water onder die hoefgeluide in bogenoemde vrugbaarheidsritueel. Beelde van vreemdgelipte visse kom ook voor in ’n ander skildery van Bosch – The Temptation of Saint Anthony. In sy laaste strofe kleim Opperman beide genoemde skilderye van Bosch.

Anders as by Opperman beskryf enkele reëls van W.E.G. Louw se gedig ’n opvallende onderdeel van die helpaneel in De tuin der Lusten. Dit is die regterkantste paneel.

 

Triptych: the garden of earthly delights

Further-on the devil, Modikak, sits on his “throne”
a chamber pot his crown, his feet in urns:
with his beak he devours his victims one by one.
Through blue membranous intestines one falls
into a sewerage pit; a miser squats over the side
and stealthily drops his turds on golden ducates.
But a love tent is adorned with curtains draped
around this high chair; coiffed whores are peeping
on the love games of a man and a frog;
a vain woman sees herself and an ass – her lover –
reflected in a mirror on the backside of a devil.
(lines 56 – 66)

W.E.G. Louw
Translation: Heilna du Plooy

 

Die gedetaileerde beskrywing en opsomming tussen reëls 56 en 66 vertel baie van Louw, sy kennis van die Europese letterkunde en ’n tradisionele Suid-Afrikaanse voorwerp. (Vergelyk Dier en Drif in “De tuin der Lusten” gepubliseer op 16 November 2016 vir die Afrikaanse gedig en ’n afbeelding van “Modikak” en sy direkte omgewing.) In reël 56 word die duiwel aangespreek as “Modikak”. Afrikaans verskil baie van Nederlands met betrekking tot die gee van liefdesname. In Engels het Shakespeare se Juliet in Romeo and Juliet al in 1576 gevra: “What’s in a name?” Die naam “Modikak” word satiries gebruik en beteken iets soos die ‘koning van kak’ in tye waarin alle waardes verlore gaan en in menslike ontlasting verander. Hierdie brutale verwysing na ontlasting is hard op baie Engelse en Afrikaanse sprekers se ore, maar is relatief herkenbaar en selfs in sommige dele van België en Nederland gebruiklik en deel van die kultuur. Louw moes bewus geword het daarvan op ’n besoek aan die Lae Lande, maar hy was ook ’n belese man.

Die naam “Modikak” kan ook na King Ubu verwys – ’n toneelstuk van die jong Franse skrywer Alfred Jarry. Dit is die eerste keer op die planke gebrink in Parys in 1896. Die stuk het kulturele reëls, normes en waardes en konvensies baie duidelik omvergegooi. Die Ierse digter Yeats was in die gehoor en het King Ubu as ’n belangrike gebeure beskou. Agterna sou sy waarneming bevestig word, want dit was ’n voorbode van Dadaïsme, Surrealisme en die Teater van die Absurde. Jarry was 23 jaar oud. Hy het hebsug en mag gesatiriseer. Ubu was ’n nonsenswoord wat ontstaan het uit die Franse uitspraak van die naam Herbert – een van sy eksonderwysers. Die woord “uburleske” het deel geword van die Europese literêre wêreld. Louw het dus die konsep van die “uburleske” in sy gedig gebruik. Op “Modikak” se kop het Bosch iets geskilder soos ’n driepoot ysterpot, of soos Louw dit noem ’n “penspotjie” (reël 57).

Die volgende gedig beskryf nie in die eerste plek Bosch se bekendste skildery nie. Die jag van Heilna du Plooy is ’n poëtiese gesprek in sewe dele met die beeldereeks The Hunt van Maureen Quin. Hier volg deel vier in Engels as onderdeel van HIERONYMUS BOSCH – paintings for discussion and writings soos dit gepubliseer is op Afrikaans in Europa.

The Hunt
In conversation with the series of sculptures, The Hunt, by Maureen Quin

IV
the hunted

scorched
by the heat of the battle
deafened
by the sound of death
among swords and horses
canons and guns
airplanes and missiles
yet the hunter
hearing the command
over thundering flames
through consuming roars
again and again
pulls back his bow,
aiming his arrow
accurately
at the chest
in the heart
of any
one
on
the
other
side

whose arms fly out
even before he falls
and calls
up high down low
from whence cometh
no help at all

and in this din
of degeneration
the only heartrending
cry of anguish
plunges from the horse’s
strained mouth

Heilna du Plooy
Translation: the poet

 

Die prooi in bogenoemde onderdeel van Die jag is nie net ’n dier nie, maar ook ’n mens wat deur sy eie spesie gejag word gedurende oorlogstyd.

’n Betekenisvolle toevalligheid ontstaan met De tuin der Lusten. Deel 4 (the hunted) is hoogs waarskynlik iets wat die Switserse psigoloog Carl Gustav Jung benoem as sinkronisiteit (in Duits Synchronizität). Dit kom voor by ’n toevallige verwantskap tussen spesifieke werke van verskillende kunstenaars. Aan sy vriend, die natuurkundige Wolfgang Pauli, verduidelik Jung sinkronisiteit met die volgende woorde. “Sinvolle toevallighede is denkbaar as suiwer toevallighede. Maar namate hulle aantalle toeneem en die ooreenkomste groter en noukeuriger is, word dit steeds minder waarskynlik en meer ondenkbaar dat hier sprake van toeval is. Met ander woorde: dit kan nie meer vir suiwer toeval deurgaan nie, maar moet by gebrek aan kousale verklaring as ordeninge volgens ’n bepaalde plan verstaan word… Hulle ‘gebrek aan verklaarbaarheid’ bestaan nie net uit die feit dat die oorsaak onbekend is nie, maar ook uit die feit dat so ’n oorsaak nie denkbaar is met ons verstandelike vermoëns nie.”

Beelde van jag kom voor in die helpaneel van De tuin der Lusten waar mense gejag word deur hulle vriende, maar veral deur hulle eie troeteldiere soos honde, muise, hase en swaeltjies. Wat ’n skrikwekkende omgekeerde wêreld! Bosch se hel is vol swaarde, messe en die skedel van ’n perd. ’n Vuur wat ’n stad op die agtergrond van die skildery verwoes, word in reëls 10 -12 beskryf. Dit is die brand uit Bosch se jeug wat s’Hertogenbosch vernietig het toe hy 13 jaar oud was.

Aan die einde van deel 4 beskryf Du Plooy die klank wat uit ’n sterwende perdebek ontsnap. Die perd is in ’n vroeëre stadium van lyding in vergelyking met Bosch se geskilderde perdeskedel. Die beskrywing laat ’n mens ook dink aan Pablo Picasso se Guernica. Quin. Bosch. Picasso. Hierdie ekphratiese deel van Die jag is stewig ingebed in die wêreld se kunsgeskiedenis. Die hele sewedelige gedig is ’n baie sterk waarskuwing teen moorde, oorloë en die kwaad, net soos Bosch dit ook geskilder het.

 

Afrikaans in Europa

https://aie.ned.univie.ac.at/letterkunde/artikels/artikels-gedigte/c-van-der-walt-hieronymus-bosch-lecture/

 

 

 

 

Klein Uitljie-lesing

 

BIBLIOGRAFIE
Du Plooy, H. 2014. Die stilte opgeskort. Pretoria : Protea Boekhuis.
Jarry, A. 1977. Uburleske – UbuRoi, UbuCocu. Amsterdam : Uitgeverij De Bezige Bij.
Jung, C.G. 1976. Synchroniciteit – Een beginsel van acausale verbondenheid. Rotterdam : Uitgeverij Lemniscaat.
Louw, W.E.G. 1988. Versamelde gedigte. Kaapstad : Tafelberg-Uitgewers.
Opperman, D.J. 1950. Engel uit die klip. Kaapstad : Tafelberg-Uitgewers.

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Carina van der Walt. Jeroen Bosch. Hel en Verderf”

  1. Waldemar Gouws :

    Met ‘n volgende geleentheid ter ere van Jeroen Bosch en Afrikaanse digters kan Breyten Breytenbach se gedig “Bevolkte dood (aan Jheronimus van Aken)” onthou word (“Kouevuur,” 1969 p.83).

  2. carina :

    Dankie Waldemar vir die wenk. Ek sal dit sekerlik met ‘n volgende aflewering in gedagte hou. Dié gedig is vir my ‘n ontdekking. Ek moet bietjie glimlag by die slotstrofe:

    kom
    groen Jeroen:
    gee my –
    ‘n wurmrige soen

  3. Waldemar Gouws :

    Ekskuus, Carina, maar laas nag het ook Johan van Wyk boontoe gekom. Sy “hieronymus bosch se koringwa” staan eerste in die bundel “Deur die oog van die luiperd” (1976).

  4. Trienke Laurie :

    Selfs nie-letterkundiges vergeet nooit die toepaslike eksplosief van die laaste sin van Opperman se gedig oor Jeroen Bosch nie.

    Dirk dink egter die vertalers sit die pot mis, by wyse van spreke, met “the first swallows” vir “die eerste swaeltjies”. Hy meen die bedoelde betekenis is eerder “the first puffs of sulphur”.

    Ek is self lief vir Ouin se uitgerekte/ uitgestrekte beelde en het destyds Heilna se gedigte daaroor baie geniet.

    Dankie, Carina, vir jou Uiltjielesing.

    Trienke Laurie

  5. helize van vuuren :

    Mooi, Trienke, jou buiksprekende stink swaeldampies…ek hóór-ruik jy’s in kontak daar..
    Maar waar o waar is die Afrikaanse gedig? moet dit dan nou alles so deur die medium van versukkelde engels? Laat ek dan maar dié diensie aan die laaste taalliefhebbers onder ons affektiewe gemeenskap doen.

    Jeroen Bosch
    Ydel is die wêreld, maar ydeler my gees,
    wat om die dertig nagte in nagmerries
    van stekelige plante, vouels en mens genees.

    Uit ou en nuwe streke van die aarde kies
    die duiwel al hoe listiger vir my, vir jou,
    vir die derduisende kostuum en mombakkies.

    Dit trek in stoete, kermis om die Kruis, wissel
    van gedaante deur die eeue; maar die spel
    bly steeds dieselfde in monnike, masjien of dissel.

    En ewig in die kringloop van die lus gevang
    ry ons en kap die lieste van die hingste
    om en om die kraaie op kaal vrouens in die dam.

    Ag, Liefste! Kom dan, laat ons vlug uit die gebras
    en skuil in mossel, horingpeul — en ver bokant
    die kermis van die bose sweef in belle glas.

    Want in my is die swaap, die visgelipte sot
    wat elke toertjie van ‘n towenaar befluit…
    maar wonderwerke en Sy kruisiging bespot;

    en, as ek God saam met Antonius aanroep,
    is hy reeds daar wat van ‘n nuwe geilte
    roekeloos die eerste swaeltjies deur ‘n tregter poep.

  6. carina :

    Waldemar, ek het wél Johan van Wyk se gedig “hieronymus bosch se koringwa” ingesluit in die lesing in Wenen en kom nog ‘n keer terug met die Afrikaanse teks daarvan. Baie dankie vir jou saamlees.

  7. carina :

    Dis ‘n plesier Trienke.

  8. carina :

    Helize, dankie vir die Afrikaans, maar ek verwys in ‘n paragraaf onder die Engelse gedig hierbo na ‘n eerdere aflewering hier op versindaba waarby die Afrikaanse teks ingesluit is:(Vergelyk “Jeroen Bosch se skilderye” gepubliseer op 31 Maart 2016 vir die Afrikaanse gedig en ’n afbeelding van die Moredans).

  9. Waldemar Gouws :

    Dankie Carina, jou etiket se visum om die grens na die etiese terrein oor te steek spreek vanself. Oor die Engels van Opperman se gedig, wil ek sê dat die verlies van die klankmatige verband tussen “ydel” en “geilte” (die enigste twee woorde met die y-klank in die gedig) regtig drasties is. Ydelheid en wellus (die vrouens in die poel water herinner aan die geboorte van Venus, veral soos deur Bosch se tydgenoot Botticelli verbeeld) is bedmaats.

    Aan Trienke se swael-/swaweldampies sluk ek swaar. Die arme nudis in Bosch se derde paneel was dalk bloot geswael.

  10. Breyten Breytenbach :

    Ek wil amper sê, “Beste Bosbefeesterdes” – solank dit darem nié Skellumbos sou insluit nie – hulle daar mag nie meer na skilderye kyk behalwe deur die oë van Globish nie…

    Vir dié wat belangstel in die ordelasterlike gildelid Broer van Aken se werke en toegang sou hê tot ‘n internet ‘tonnel’ om te kyk na Arte (die Frans/Duitse/Spaanse) kunstekanaal – daar is tans (en seker vir nog ‘n week of so) ten minste twee besonder insiggewende dokumentêre werke te sien oor Broer Jeroen se werk. Die een gaan oor die drieluik “Die Tuin Van Luste” (ook die “Aarbeie Skildery” genoem). Sogenaamde ‘nagbesoekers’, waaronder Salman Rushdie en Orhan Pamuk en Cees Nooteboom, kom kyk na die werk en word dan betrek in ‘n diepgaande en soms vryswewende ontleding/bespreking. Op ‘n gegewe moment sing ‘n bekende operasangeres ‘n lied wat op die boude van een van die karakters in die skildery genoteer is. Die daaropvolgende dokument heet “Petits Sécrets des Grands Tableaux”, ‘n reeks, waartydens ‘n werk gedekonstrueer word met gebruikmaak van ‘n fokusop detail en animasie. Hier kry mens dan ‘n baie deurtastende beskrywing van die sosiale en godsdienstige toestande van destyds, die spel van simbole en motiewe, van wat onderliggend (letterlik) aan die panele is en daarna doodgeskilder is, sydelingse verwysings na die slawemark van Antwerpen, en so verder. Die werk onder bespreking is “Die Versoeking van Sint Antonius.”

    Oom Dirk Dopmaker het sy storie geken!

  11. Breyten Breytenbach :

    Dit moet natuurlik ‘fokus op’ wees. Verskoning. So nié klink dit altevol vel na ‘n Boschiaanse pot sop waarin mens liewers nie sal wil beland nie.

  12. carina :

    Dankie vir die wenk, Breyten. Ek het pas 85 minute lank gekyk na “Das Hieronymus Bosch Mysterium” en veel herken uit hierdie “ensiklopediese” en “poëtiese” skildery, soos dit onder andere genoem word. Tydens die Jheronimus Bosch-jaar kon ons nie met kameras of selfone ingaan om na die skildery te gaan kyk in die Prado nie. Ons is net in kleinerige, kontroleerbare groepe toegelaat. Ek onthou nou weer die infrarooi beligting wat gewys het hoe Bosch, gebore Van Aken, se sketse in die beplanningsfase gelyk het. Hy het inderdaad in al drie die panele op plekke afgewyk van sy voorsketse. Hoekom? Daaroor kan net gespekuleer word! Die operasangeres wat die musieknote uit die helpaneel kon sing, is René Fleming. Die film sluit gepas af met die beginwoorde van Bach se Mattheus Passie: “Erbarme dich, mein Gott”. Vermoedelik sal hierdie skildery my my lewe lank bly fassineer.

Los kommentaar