Carina van der Walt. Die lang asem van poësie

 

Dit is vandag presies ’n jaar gelede dat die Literaire Salon in’t Wevershuisje 2017 plaasgevind het. René Bohnen uit Suid-Afrika, Vicky Francken, Paul Meeuws en Theo Rikken uit Nederland en Miriam van Hee uit België was die gaste. Net soos destyds staan die bosse, parke, tuine en lanings vandag ook in brand. Dit is herfs. Die bome vlam kortstondig op in ’n ode aan die lewe. Hierna sal die blare grond toe dwarrel. Maar op die oomblik brand die skoonheid van verganklikheid helder kolle op die netvlies. “The Poet’s Season” het Bohnen dit genoem. Die uitsluitlike doel van haar kuier in Nederland was poësie. En poësie het dit geword. Maar tussendeur het ons twee boswandelinge gemaak, paddastoele met kameras gejag, paddastoelrisotto geëet, abdybier gedrink, met handskoentjies teen smetvrees (gekoop vir ’n vorige salon) deur Antione de Saint-Exupéry se pop-up boek De kleine prins geblaai en tot ounag toe vir mekaar gedigte van Szymborska voorgelees. Teen dié tyd was die bier ingeruil vir goeie wyn. Saam-saam het ons danksy die Textielmuseum vyf minute se stap van die voordeur af die hele weefgeskiedenis van hierdie wolstad wollewei uitgepluis. Ons het by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gaan kuier en Bohnen het blad geskud met ’n goue Rembrandt voor die Rijksmuseum. By Emma Crebolder in haar herehuis teen die St. Petersberg in Maastricht het ons ook ’n draai gaan maak.

 

 

Die vonk tussen digters wat uitgenooi word na dié wewershuisie se salon toe moet spontaan kom. Hulle is hier om mekaar se werk te verken deur dit te lees en te herlees, te waardeer en as dit goed gaan óók om dit te vertaal. Die salon is ’n ontmoetings- en werksessie vir kollegadigters en daarom nie oop vir die algemene publiek nie. ‘n Vonk ontstaan nie altyd nie. Soms kom en gaan digters sonder om deel te neem. Dit kan nie voorkom word nie. Die besoekende digter se vryheid staan altyd voorop. Sy of haar deelname is “vrijblijvend” – so ’n mooi Nederlandse woord! Maar as die vuurvonk tussen twee digters dáár is, skitter verwondering, inspirasie en kreatiwiteit en mond dit dikwels uit in die verlangde vertalings. Die uiteindelike doel van elke Literaire Salon in’t Wevershuisje is publikasies van vertalings wat uit hierdie ontmoetings kom. Dit is dus meetbaar.

Die skitterendste vlam in 2017 se salon was tussen René Bohnen en Vicky Francken. Daar was ook ’n goeie vuurtong tussen Bohnen en Paul Meeuws met sy bundel De geluiden (2017) wat genomineer was vir die C. Buddingh’-debuutprys. Bohnen se jongste bundel Op die vingerpunte van die heelal was nog warm uit die drukkersoond. Op die agterblad van hierdie bundel staan onder andere: “Dit is ’n bundel oor broosheid, struktuur en verval.” Francken se debuutbundel Róntgenfoto (ook uit 2017) het sommer dadelik vir haar die C. Buddingh’-prys vir die beste debuut besorg. Op haar bundel se agterblad staan: “Een lichaam wordt tegen het licht gehouden. Om te onderzoeken wat eraan schort, om te bepalen waar het licht doorlaat.” Miskien het hierdie gedeelde broosheid in hulle waarnemings vir die kliek gesorg? In die onderstaande vertalings volg ek inhoudelik (hoofsaaklik) ’n lyn met kinders.

 

Vicky Francken

 

Naakte musiek speel in die grotte
en slaap is ’n tempel
waarin ‘n grimmige godheid
teen die mure slaan

laat my uit

ek moet inderhaas en daagliks
‘n skitterende kind baar
my vingers verwond
aan deurskynende vel
geruislose fontanelle

laat my met stilte die seël verbreek
’n voertuig
vir die onderwerp
die pegel en die pekel
in die ystyd wees

uit: Röntgenfotomodel (2017)

 

 

die lug vou homself ’n sakdoek
om ons koppe soos die wind
hom bol in washoltes
ons neurie absurde deuntjies

soos in ou films oor klein dogtertjies
hardloop ons rond met emmertjies
om die reën op te vang
voor ons die jongste

uit die oog verloor, sy met haar
mooiste kapsteweltjies die dam
instap en wonder hoeveel
borrels sy maak op die

watervlak wat oor haar kop
toegaan soos ‘n deur

 

Naweektas vir langer as ’n naweek

Die wasem op ‘n raam van aseming kyk uit
op ‘n tuin waarvan ek weet dat jy my daarin sal sien
staan, jy kan my nie miskyk nie. Ek skryf in sneeu en koue
die letters van ‘n werkwoordsvorm en
die letters van jou naam.

In die klipwit van ‘n kruisbeensit, mag jy briewe lees
wat ek aan jou gaan skryf as ek weg is en dit is waarskynlik
môre. Saam neem ek nie

die deur waardeur ek wegloop
jou moeder se vaas wat vir jou lelik was en wat jy wou stukkend gooi
maar ek jou gekeer het en

die hond nie. Verder by benadering amper alles

 

Paul Meeuws

’n Meetlat wat vir goeie vertalings kan sorg, is dat daar tyd en ruimte vir digters geskep word om in gesprek te tree met hulle gedigte en hulle vertalings. Dit begin tydens die salon, maar kring dikwels uit in e-posgesprekke. So antwoord Meeuws vir Bohnen op 28 Desember 2017 na aanleiding van haar vrae oor die vertaling van sy gedig Watergraf:

“Liempdes klok betekent de kerkklok van het dorpje Liempde, waar het gedicht is gesitueerd. Ik heb daar een mooie werkplek in een historische boerderij met wijds uitzicht op een slingerend riviertje door het weiland. Ik herinner me hoe het gedicht ontstond. Het stond voor mij vast dat ‘O kindje, sluimer zacht’, dat eigenlijk een beetje over the top is, de laatste regel moest zijn. De aanloop daarnaartoe mocht niet te sentimenteel. Het is alsof de dichter zijn tranen moet bedwingen door zakelijke, afstandelijke woorden te gebruiken als ‘stichten’ en ‘bedenken’.”

 

 

De geluiden bestaan uit ’n aantal langerige digsiklusse, byvoorbeeld die siklus U ter nagedagtenis aan sy vader. Bohnen het gekies om uit die siklus Werkplek ’n gedig te vertaal – ’n werkplek met ’n uitsig op die water waarby van die fynste geluide hoorbaar word. Hierdie geluide word versteur.

 

Watergraf

Klein watergraf daar in die gras.
Bo dit tril ’n kindersiel
deur muggies nageboots.

Dan lui opeens die Liemde-klok
die toeval weg net soos jou hand
die muggies wegklap op jou pad.

Jy sit die somer stil soos ’n kapel
vol nonne en skuins lig.
Jy het ‘n heiligdom gestig,

’n rou bedink wat die gedig
meer name as jou eie gee.
O kindjie, sluimer sag.

uit die siklus Werkplek
in De Geluiden (2017)

 

Die Literaire Salon in’t Wevershuisje was miskien literêr gesien die produktiefste ontmoeting vir Bohnen, maar beslis nie die enigste ontmoeting nie. Twee dae na die salon het ons saam ’n program aangebied by Poëziecafé Ongerijmd in Arnhem. Hoewel die publiek by onder ons mense klein was, was die kontak uitstekend. Eén van die waarhede van poësie in vandag se tyd is dat dit nie sommer ’n rekordgetal besoekers trek nie en de goden zijn dank! Poësie is en bly leesstof vir die fynproewer. Die kafee is ’n inisiatief van Hermien Mijnen en word ondersteun die Boekhandel Hijman Ongerijmd en die Poëziecentrum Nederland.

Tien dae na die wewershuisiesalon het Stichting Man in ’n Maan ’n byeenkoms gereël met René Bohnen en twee Belgiese gaste: Delphine Lecompte uit Gent en die jonge Tijl Nuyts uit Leuven, tans in Antwerpen woonagtig. Die harpmusiek van Annemieke Breunisse het naatloos aangesluit by die kooruitvoering van Bohnen se gedig walvisnota. Die publiek het na hulle asem gesnak. So wen sy as digter harte! Theo Rikken van Stichting Man in de Maan is ’n ervare koorsanger. Hy het dadelik daarna Bohnen gepols vir die partituur. Pas was dit nuus dat dieselfde partituur deur ’n groot Duitse bladmusiek besigheid gekoop is vir uitvoering in die Europese musiekmark. Om daarna te luister, kliek hier.

 

 

Die kuiertjie by Emma Crebolder het ’n vervolg gekry. Saam met Vicky Francken sal hulle vertalings van Bohnen se rooidata, Mensboom en wierslaper uit Op die vingerpunte van die heelal en vlamtong uit in die niks alom binnekort in TERRAS gepubliseer word. Crebolder ken die plaaslewe uit haar kindertyd en veral beeste uit haar en haar man se tyd in Kenia. Sy is waarskynlik sélf in staat ’n paar beeste in Swahili aan te jaag! En vermoedelik het vlamtong se eggo’s haar daarom bekoor: en om bulk die beeste / met bruin stemme… (strofe 4) en intaba yami, bid die paters / en die priesters in hulle grotte, om / dans die bok-/ beelde immer / om (strofe 5). Tussen die digter uit Zeeuws-Vlaanderen en die digter uit Kwazulu Natal word die beeste se loeigeluid ’n tyd- en ruimtelose skakel. Alhoewel, Vrancken kom ook uit Zeeuws-Vlaanderen.

 

 

In Tilburg het my en Bohnen se bankieprojek nog nie ’n vervolg gekry nie, maar net soos poësie het dit ’n lang asem. Ek twyfel nie daaraan dat hier iets moois sal uitgroei nie. En ja! Ek is ’n “vrywilliger” van Tilburg met die Literaire salon in’t Wevershuisje vir die vertaling van poësie in Afrikaans en Nederlands. Intussen gaan ek ‘n pot roesbruin krissantjies koop om hierdie herfs te vier. Dit hoort by bokbier as die son se baan al laer oor die horison begin gly en die dae korter word.

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. Die lang asem van poësie”

  1. C-P Noedel :

    Mooi stuk.

Los kommentaar