Resensie: Il Paradiso – Dante Alighieri (Vertaal deur Cas Vos)

Omslag

RESENSIE: IL PARADISO – DANTE ALIGHIERI (Vertaal deur Cas Vos), Naledi, 2018

Resensent: Marlies Taljard

Il Paradiso is die derde en laaste deel van Dante se Divina Commedia – die Goddelike komedie, ’n allegoriese gedig waarin die digter Dante se reis deur die hel, die vaevuur en die hemel uitgebeeld word. Dit word algemeen aanvaar dat die gedig simbolies is van die siel se reis na God en ewige saligheid. Die digter vertel in die eerste persoonsvorm van sy reis wat duur vanaf die nag voor Goeie Vrydag tot die Woensdag na Paasfees. Die Romeinse digter Vergilius is sy metgesel op reis deur die hel en die vaevuur, terwyl sy eertydse beminde, Beartice (later Bernard van Clairvaux), hom deur die hemel (die paradys) begelei.

Hoewel Cas Vos se vertaling van Dante nie die eerste in Afrikaans is nie (ek dink onder andere aan dié van Delamaine du Toit wat die hele gedig vertaal het en Kobus Krüger wat die Inferno in prosavorm vertaal het), is Vos se vertaling myns insiens ’n belangrike en noodsaaklike projek. Dante is een van die grootse digters van alle tye en sy werk (veral die Divina Commedia) se invloed strek wyd oor die wêreldletterkunde tot in die hedendaagse TV- en rolprentbedryf. Giovanni Boccaccio was die eerste groot kenner van Dante se werk, Geoffrey Chaucer het verskeie vertalings van Dante onderneem, verwysings na die Goddelike Komedie kom dikwels in Milton se werk voor, Honoré de Balzac en Henry Wadsworth Longfellow het eweneens beroemde vertalings van sy werk gemaak, Karl Marx sluit Das Kapital af met ’n aanhaling uit die Vaevuur, E.M. Forster haal in sy bekende Where Angels Fear to Tread (1905) dikwels uit Dante aan, T. S. Eliot se The Love Song of J. Alfred Prufrock (1915) en The Waste Land (1922) steun sterk op Dante, soos ook Ezra Pound se Canto’s … Op musikale gebied dink ek onmiddellik aan Liszt, Tchaikovsky, Puccini en aan talryke modene komponiste en rockgroepe wat Dante se tekste getoonset het en as intertekste vir hulle eie kunswerke gebruik het. Wil ’n mens dus lees of musiek luister of jouself andersins met die kunste besig hou, is kennis van Dante eintlik onontbeerlik.

Wat Cas Vos se vertaling van Il Paradiso belangrik maak, is dat dit sowel akademiese as estetiese waarde het. Omdat die werk so oud is (dit is in 1308 begin en in 1329, ‘n jaar voor Dante se dood, voltooi), moet die vertaler goed bekend wees met die sosiale, kulturele, teologiese, filosofiese, wetenskaplike en ander paradigmas waarbinne die werk geskryf is. Omdat Dante egter ook sterk steun op destyds reeds antieke werke, is kennis van dié werke en die kultuur waarbinne dit ontstaan het, eweneens belangrik. In ‘n onderhoud met Johan Myburg op Versindaba noem Vos die volgende werke waarna daar – onder andere – in die Il Paradiso verwys word: “Virgilius (Aeneïs), Ovidius (Metamorphoses), Cicero (De republica VI), Plato (Timaeus), Pseudo-Dionisius (De coelesti hierarchia), Aristoteles (Posteriora analytica II), Augustinus (Confessiones), Thomas van Aguino (Summa Theologica), Anselmus (Cur Deus homo), Albertus Magnus (De caelo et mundo), Bernardus van Clairvaux (De Consideratione).”

As gesoute en bekende teoloog en kenner van Grieks, Hebreeus, Latyn en Italiaans was Vos eintlik die aangewese persoon om hierdie spesifieke taak aan te pak, aangesien hy met die primêre bronne kon werk en homself nie slegs op tweedehandse vertalings van antieke tekste moes verlaat nie. As akademikus het hy egter ook deeglike navorsing gedoen oor die projek wat hy aangepak het. Daarvan getuig die uitvoerige inleiding en toeligtende aantekeninge wat ongeveer 70 bladsye beslaan en waarsonder die leek die kern van die groot werk moeilik sou kon verstaan. Die bibliografiese verwysings beslaan ’n verdere 40 bladsye. Vos steun, wat die Middeleeuse natuurwetenskap en geografie betref, op die werk van kenners en skryf ook verhelderend oor die teologiese insigte van Dante en sy tyd, asook oor die hiërargieë of bestaansorde van alle besielde wesens. Talryke akademiese bronne word (soos hierbo aangetoon) vir studente en belangstellendes gelys en bespreek.

Kennis van Middeleeuse kosmologie wat gebaseer is op dié van die ou Grieke, is onontbeerlik vir die interpretasie van die gedig. Aan ‘n bespreking daarvan word ‘n groot deel van die inleiding gewy. Die antieke godedom en die hiërargiese orde waarbinne die gode geheers en gewerk het, word verduidelik, asook die verhouding tussen die gode en die planete wat om die son wentel. Die hele struktuur van die Il Paradiso is naamlik op die hiërargiese orde van die planete (en die gode wat met hulle geassosieer word) geskoei. Verder is dit belangrik dat die leser die Griekse en Romeinse mites ken en verstaan waarop dele van die Divina Commedia steun. Daarbenewens wy Vos in sy inleidende aantekeninge uit oor die rol wat die maan in die gedig speel, die mistiek en die engeleleer wat veral vir die Il Paradiso belangrik is, asook die simboliese waarde van lig. Die retoriek en die poëtiese strategieë wat die gedig onderlê, is belangrike wegwysers in die vertaalstrategie waarvan die digter gebruik gemaak het en behoort in berekening gebring te word by die beoordeling van die eindproduk.

Die basisgegewe van die Inferno en die Purgatorio is die sewe doodsondes. Daarteenoor is die Paradiso gebaseer is op die vier belangrikste wêreldlike deugde, naamlik wysheid, regverdigheid, onthouding en standvastigheid en op die drie teologiese deugde geloof, hoop en liefde. Die gedig as geheel bestaan uit 14 233 reëls wat, soos gesê, in drie hoofdele verdeel is. Elke deel bestaan uit 33 canto’s en ’n inleidende deel wat tradisioneel as afsonderlike canto gereken word. Dit bring die totaal dan te staan op 100 canto’s.

Ook die drie gebiede of ryke waaroor die gedig handel (hel, vaevuur en paradys), volg hierdie struktuur van 9+1=10: daar is 9 sirkels in die Inferno en een waarin Lucifer heers; 9 ringe om die Berg van die Vaevuur, gevolg deur die Tuin van Eden; 9 hemelse sfere in die Paradys en die buitenste sfeer van vuur. Oor laasgenoemde skryf Vos in sy inleiding (p.9-10):

In Dante se voorstelling is daar voor die paradys sfere van lug en vuur om die aarde (…) Eerstens is daar sewe konsentriese hemelsfere, wat sewe planete dra, naamlik die Maan, Mercurius, Venus, die Son, Mars, Jupiter en Saturnus. Dan volg die agtste sfeer, die sfeer van die Vaste Sterre. Vervolgens is daar die negende sfeer (…) waar ruimte en tyd en die natuur ontstaan (…)

Benewens die sewe konsentriese hemelsfere en die twee ander sfere, is daar heel buite-om die tiende sfeer (die Empireo: die vurige hemel). Dit is buite tyd en ruimte en onbeweeglik. Dit is die woning van die onveranderlike Skepper van die hemele, die engele en ook die hemelinge. Die saliges het elkeen in die tiende sfeer ‘n eie sitplek in ‘n soort amfiteater wat die vorm van ‘n wonderskone roos het.

Die motto van die boek beskryf dié visioen:

Ek aanskou hoe die wit roos oopkelk

en God se skoonheid en lof versprei

sonder dat die rooskelk ooit verwelk.

Die bogenoemde struktuur van die gedig kan sonder veel moeite en insig uit die gedig self afgelei word. Die retoriese onderbou van die Divina Commedia is egter nie (vir die leek) voor die hand liggend nie. Vos skryf oor Dante se gebruik van retoriese stylmiddele in deel 11 van die inleiding, “Retoriek en poëtiese strategieë” (p.36):

Dante was grondig geskool in die Griekse en Romeinse retoriek, veral dié van Aristoteles, Vergilius en Ovidius (…) Die komposisie van die canto bevestig Dante se retoriese kundigheid en vernuf.

Die vertelling oor die maanvlekke bevat presies honderd reëls. Binne hierdie raam gebruik Dante die fabel van Kain om die maanvlekke te verklaar. Dit lyk asof Dante hom op dié fabel beroep, maar dit is net skyn. In hierdie vertelling word fyn humor gebruik. Beatrice skud net haar kop en glimlag oor Dante se liggelowigheid en onkunde oor die Kain-fabel (…), maar wat Dante eintlik doen, is om by monde van Beatrice se retoriese argumente die maanvlekke te verklaar.

Die aanwending van poëtiese strategieë kom deurgaans in die Paradiso voor. Die retoriese vaardighede soos die argumentum en die sillogisme het hy by Aristoteles geleer.

Ook verskeie ander retoriese en poëtiese strategieë wat die struktuur van die Il Paradiso toelig en wat die betrokke teks kenmerk, word in hierdie deel van die inleiding beskryf.

Wat daadwerklike vertaalstrategie betref, het Cas Vos in die bogenoemde onderhoud op Versindaba belangrike inligting verstrek. Johan Myburg merk tereg op dat Vos so getrou moontlik uit Italiaans na Afrikaans probeer vertaal het wat die vorm en inhoud van die gedig betref, maar ten spyte daarvan die Afrikaanse leser van die 21ste eeu in gedagte gehou het. Dante se Il Paradiso bestaan, soos die voorafgaande 2 dele, uit 33 canto’s, geskryf in driereëlige strofes in die terza rima rymskema (aba; bcb; cdc; …) met (meestal) 11 lettergrepe per reël. Om hierdie streng vereistes wat in 14de-eeuse Italiaans mog gewerk het, op Afrikaans oor te dra, sou byna net so onsinnig wees as om die Ilias in daktiliese heksameter te probeer vertaal. Die vertaler het die besluit geneem om die Afrikaanse teks wel te laat rym, maar het van ‘n eenvoudiger rymskema (aba;cdc;efe; …) gebruik gemaak wat myns insiens nie afbreuk doen aan die metriese en klankskoonheid van die gedig nie. Ook het hy homself nie té streng gehou by 11 lettergrepe per reël nie, maar eerder getrou gebly aan die strekking van die gedig. Dit is logiese en verantwoordelike vertaalstrategieë, veral gesien in die lig van die besondere kompleksiteit en vreemdheid van die teks waarmee ook nog rekening gehou moes word. Waar baie vertalers sange en himnes uit die Rooms-Katolieke liturgie onveranderd in Latyn laat, vertaal Vos (met sy doelgehoor in die oog) ook dié dele na Afrikaans. Longfellow begin byvoorbeeld sy Engelse vertaling van Canto 7 soos volg:

“Osanna sanctus Deus Sabaoth,

Superillustrans claritate tua

Felices ignes horum malahoth!”

Vos vertaal:

Hosanna, heilige God van die leërskare

wat met u helder lig die geseënde vure

van die koninkryke laat vlam in tye van gevare.

Anders as in die oorspronklike werk en baie ander bekende vertalings waar die Hosanna uit die Mis aangehaal word en dus nie rym nie, laat Vos sy teks op hierdie plek wel rym (hy verloor dus iets, maar gee iets anders terug).

Natuurlik is dit so dat vertalings altyd iets inboet en dat die bronteks veelvuldig verraai word in vertaling. Uiteindelik is dit egter die eindproduk wat beoordeel moet word en ek oordeel dat Vos se vertaling tot ’n groot mate die ontsagwekkende Paradiso vir die Afrikaanse leser oopmaak. Ek dink byvoorbeeld aan die gedrae styl wat deurgaans volgehou word en wat vandag nog selde in Afrikaans gebruik word. Tog bly die teks esteties bevredigend en leesbaar en kry die leser selde die gevoel van hoogdrawendheid. Binne die beperkinge waarin die digter/vertaler moet werk, is daar egter ook dikwels winste vir die moderne leser. Die volgende voorbeeld kom uit Canto XXXIII wanneer Dante die Ware Lig aanskou:

O Ewige Lig, wat alleen in Uself woon,

allen Uself deurgrond, op Uself gerig,

Uself bemin, u glim-lag en u liefde toon!

In daardie sirkel wat deur Uself verwek is

en in U as weerkaatsende lig verskyn, was ek,

met ‘n pleroma van verwondering, daarvan bewus,

en het dit toe voorgekom of ek hierdie beeld

van ons menslike gelykenis aanskou;

en my helende bestaan is daarin verbeeld.

Soos die meetkundige met sy hele verstand

hom inspan om die sirkel se oppervlakte

te bereken en ten spyte van alles versand,

so het ek by daardie nuwe en vreemde gewroeg;

maar ywerig en gretig om te verstaan hoe so ‘n beeld

met die sirkel ooreenstem en hoe dit daarin voeg.

In hierdie fragment is die woordspeling, die sinsritme, die enjambemente en die rymwoorde dié van die kundige vertaler en maak dit die Afrikaanse teks ‘n kunswerk in eie reg.

Nou kan die leser dalk vra in welke mate die antieke teks nog tot die moderne mens spreek. In eerste instansie moet verstaan word dat die Divina Commedia nie in eerste instansie ‘n spirituele teks wou wees nie. In die verhelderende aantekeninge wys die skrywer daarop dat die gedig “’n getuienis van Dante se politieke betrokkenheid” is. Destyds, net soos nou, was politici korrup – ook die Kerk se amptenare. Pous Bonifacius VIII was die teiken van Dante se kritiek, veral in die Inferno. Met die Paradiso wou hy die volmaakte staat op aarde uitbeeld aan die hand van die hemelse heerlikheid. Sy argumente is vandag nog net so geldig soos destyds en sy beelde, voorstellings en ervarings nog net so aangrypend. Uit Canto XI kom die volgende strofes wat net sowel vir ons omstandighede geskryf kon wees:

O dwase ambisie en eersug van ‘n stefling,

hoe ydel is die retoriek wat meebring

dat julle vlerke jul tot afwaartse vlugte dwing!

Een soek aforismes op, ‘n ander die wet,

ander weer heers deur geslepenheid en geweld,

nog ‘n ander gebruik vir selfgewin gebed,

deur plundering of deur onheilige weë;

en hunker steeds na die vlees se genieting,

terwyl ‘n ander hom tot ledigheid oorgee.

Hierdie kundige vertaling waarin die vertaler daarin slaag om die gees van die antieke gedig aan ’n Afrikaanse gehoor oor te dra, behoort op die boekrak van enige ernstige Afrikaanse leser te pryk. Moet asseblief nie nalaat om op die volgende webwerf na Dawid Minnaar se voorlesing van Canto XX te kyk nie: https://www.youtube.com/watch?v=gF4VLgsw_bY

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Il Paradiso – Dante Alighieri (Vertaal deur Cas Vos)”

  1. Louis Pienaar :

    Baie geluk aan Cas Vos met hierdie meesterlike vertaling. Dit kon geen maklike taak gewees het om Il Paradiso aan te pak nie.

Los kommentaar