Wicus Luwes. Oor kruie, onkruid en makajalas

Ek het onlangs Antoinette Pienaar se boek genaamd ‘Kruidjie roer my’ gelees. Ek het tydens die verskyning van haar tweede boek, ‘Die lang man sonder skaduwee’ besef dat ek dit nie langer kon (of wil) uitstel nie. Antoinette en Amoré Bekker se program op RSG is gereeld deel van my eie pad huis toe. Vir dié wat dalk nie weet nie: Antoinette gesels oor kruie en die genesende effek wat dit kan uitoefen.

In hierdie tyd van oorlewing van die vinnigste en slimste, wonder ek dikwels oor dinge wat nie vir my sin maak nie. Ek wonder byvoorbeeld hoekom die lemoenboom se vrugte juis in die winter groei. Die rede vir my vraag is eintlik: die lemoenboom groei op ‘n tyd wanneer ons sy vitamiene die nodigste het. Watter voordeel hou dit vir die boom in om sy vrugte juis in die winter te dra? Net so kan ‘n mens seker vra waarom kruie juis op sekere plekke groei en watter voordeel daar vir die kruie sou wees om op daardie plek te groei?

Antoinette en Amoré se radioprogram word afgesluit met die volgende vrywaring: “Hierdie is nie ‘n mediese program nie. Besoek gerus jou dokter indien jy mediese hulp benodig.” Luisteraars bel in om hul behoeftes en siektes met Antoinette te deel. Daar bel dikwels mense in wat al ander behandeling ontvang het: rustelose bene, gordelroos en hittegloede. Die lys verskil weekliks en tog is daar altyd iets wat ons al voorheen gehoor het. Daar word gewoonlik verwys na katjiedrieblaar, kankerbossie en karmedip.

Die belangrikste deel van die genesing is, volgens my, Antoinette se stem en die stories wat sy by die rate aanhak. Bitter min siektes staan op hul eie voete. Antoinette raai dikwels die luisteraars aan om die oorsaak van die siektetoestand te soek: spanning, slegte eetgewoontes en ‘n gebrek aan oefening. Sy beveel selfs ‘n goeie ‘huil’ aan om ontslae te raak van opgeboude knope in jou psige.

Ek dink terug aan my kinderdae toe ek groot klippe opgetel het. As kind vind jy nuwe wêrelde onder so ‘n klip. Daar is dikwels verskillende soorte insekte en tonnels te vinde onder die eenvoudige klip. Ek voel dat ‘n mens meer dikwels as volwassene hierdie ander wêrelde moet besoek. Jy moet meer dikwels grond en sand en klippe op jou hande kry.

Ek het Antoinette se boek as insiggewend gevind en het die lyn wat jou nader aan die natuur bring as goue draad deur die bladsye gevolg. Reeds vroeg in die boek lees ek van Antoinette se ontmoeting met Oom Johannes. Oom Johannes het al dekades gelede gedroom van die vrou wat by hom sou kom leer oor die kruie. As dit nie ‘n voorbeeld van geduld is nie, weet ek nie wat is nie. Geduld is een van die kernafdelings van die kruie. ‘n Mens kan nie sommer net verwag dat die bossies, blare en wortels om elke hoek en draai sou wees nie. Dit toets jou uithouvermoeë en deursettingsvermoeë.

aartappel tussen jou komberse
plant rustelose bene in die bed
droomland hier kom ek

Bo: Malva

trek die steekpyn uit
warm malva pluisie in die oor
die stilte praat ‘n taal

Bo: Wynruit

wynruit gedoop in water
hou gestorwenes vars
jou reuk bly op my kussing

As ek hooftemas uit die boek sou moes haal, sou ek ‘diere’ definitief as ‘n tema uitlig. Iets so eenvoudig soos die dood van ‘n geliefde hond, leer die mens oor troos en aanvaarding. Waterslange en verkleurmannetjies se rolle word verplaas na ‘n geestelike vlak. Op ‘n plaas is daar  tendense in kampe waar oorwegend ooie aangehou word – sekere bossies kry voorkeur wanneer daar gevreet word. Op so ‘n manier wys die natuur vir ‘n mens watter kruie beter sou pas by sekere geslagte.

Ek en my tante het lekker oor die onderwerp gesels. Sy het vir my genoem dat iemand haar as jong dame vertel het, dat die antwoord of genesing vir ‘n siekte dikwels naby aan die siekte te vind is. Dit laat my weer dink aan die lemoenboom se teenwoordigheid in die winter.

Ek het ook ‘n klein bietjie navorsing gaan doen oor die verskil tussen speserye (of makajalas, soos Oom Johannes dit noem) en kruie. Die een verwys meer na die blare van die plant en die ander verwys meer na die takke, wortels en bas van die plant. Sommige kruie word in kosse gebruik om smaak te gee. Ander kruie word slegs vir medisinale redes fyngestamp, sodat die olies en ander bestanddele ge-aktiveer kan word. Ek voel egter of die benamings en verskille tussen speserye en kruie meer akademies van aard is en ek wil eerder fokus op die kwaliteite wat kruie en speserye vir ons bring. Ek skryf dit as persoonlike nota, want ek het so baie om oor hierdie onderwerp te leer. Ek het vroeër genoem dat sekere kruie en speserye slegs gebruik word om smaak te gee, maar dit is waar ek begin wonder of smaak nie ook deel is van die behandeling of genesingsproses nie. As kos sy smaak verloor, is dit ‘n ernstige wekroep. Dit kan dui op mediese toestande. Dit kan dui op ‘n lewensstyl wat die eenvoud van reuk en smaak misken.

Die vertellings of stories in ‘Kruidjie roer my’ verwys dikwels na kruie wat gebruik is tydens ‘n spesifieke fase van Antoinette se opleiding. Daar is prente, foto’s en sketse van die spesifieke plante wat in die vertelling genoem word. Die kruie word dus ingemeng tussen die stories, want ons het almal mos maar ‘n verhaal van plekke waar ons seergekry het en plekke waar ons genesing ervaar het.

Ek dink aan Antoinette se boek as ‘n soort storie-ensiklopedie. Dit bevat stories, maar dit noem ook watter plante ons kan help met sekere siektes. Ek wonder dikwels hoeveel plante ons goedsmoeds in ons tuin uitroei, met die idee dat dit onkruid is, sonder om die waarde daarvan te besef. Ons het gewoond geraak aan winkelrakke en plastiekomhulsels. Somtyds is die plant en kweek van die kruie net so belangrik soos die uiteindelike blare wat ons in ‘n tee inmeng.

Ek vermoed dat die dinge in ons lewe wat ons as onkruid beskou, nie dieselfde vir elke persoon is nie. Ek vermoed dat kruie en speserye juis in kos en water gemeng kan word, sodat ons dit met mekaar kan deel.

kruie van die veld

die kruie van die veld
wag geduldig
op jou soos die môreson
die nag se koors breek
dit wag op jou soos die reën
se druppels wat wegbly in die droogte
dit wag soos jou winter
op die lemoenboom se vrug

dit wag op jou soos
sonbesies in die stilte
dit wag op jou soos
die Karoo

 

Bronne
1. Internet. https://af.wikipedia.org/wiki/Malva
2. Internet. https://af.wikipedia.org/wiki/Wynruit

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Wicus Luwes. Oor kruie, onkruid en makajalas”

  1. Leon Retief :

    Wicus ek weet van geen rede waarom mens meer vitamien C in die wintermaande benodig nie, al die bewerings oor hierdie vitamien en verkoue/griep ten spyt, want dit is nog nooit bewys nie.
    Plante met geneeskragtige bestanddele kom nie noodwendig “naby” mens voor as jy een of ander siekte het nie. Malaria het wydverspreid voorgekom maar die cinchonaboom was nie in Europa te vinde nie en die bas is eers in die sestiende eeu daarheen gebring. Daar is baie ander sulke voorbeelde.
    Dit is ongetwyfeld so dat baie moderne middels hul ontstaan in plante gehad het en dat sommige plante steeds nuttig aangewend kan word. Die ding is egter dat wanneer mens ‘n tablet sluk dan weet jy dat dit x of y mg van aktiewe bestanddele bevat. Dieselfde kan nie van plante gesê word nie want dit kan baie varieer.
    Voorts word farmaseutiese produkte intensief getoets en opgevolg om vas te stel of daar enige nadelige effekte is, hierdie opvolgproses duur voort vir jare na vrystelling en betrek soms honderdduisende mense. Kruie daarenteen ondergaan oor die algemeen glad nie sulke toetse nie en wanneer iemand dan lewer- of nierversaking agv die gebruik opdoen dan is dit gewoonlik medici wat hierdie komplikasies opspoor en nie die kruiedokters nie. Mens moet in gedagte hou dat sodanige orgaanversaking nie noodwendig akuut voordoen nie maar soms maande of jare na die gebruik daarvan.
    Ek dink ook dat dit riskant is om kruiedokters te gebruik wanneer daar opgeleide medici beskikbaar is. Sulke mense maak gewoonlik staat op staaltjies en hul eie weergawe van patologie. Die agtergrond waarteen die pasiënt gediagnoseer en behandel word het nie die wetenskaplike fundament wat dit behoort te hê nie en gevolglik kan verkeerde diagnoses en/of behandeling voorkom, meer so as by wetenskaplike medisyne.
    Baie toestande klaar vanself op en dan word dit toegeskryf aan die kruie wat gebruik is.
    Ek het al te veel pasiënte gesien wat mediese behandeling van hul siektes uitgestel het om liewer kruie te gebruik. Sommige wie se lewens potensieël gered kon word is dood.
    Kruiedokters sal mens graag van hul suksesse vertel, maar die meervoud van anekdote is nie data nie.

  2. Madame Maigret :

    Potensieel wel sonder deelteken.

    Potensiële kry die deelteken.

    Wetenskaplike fondament, dalk?

    Belangrike punte wat u maak.

  3. Wicus Luwes :

    Baie dankie vir die lees, Leon Retief en Madame Maigret. Leon, ek geniet altyd u insig en kennis. Ek het geen wetenskaplike rugsteun vir die vrae wat ek vra nie. Ek dink dit is hoekom ek dit eerder as vrae stel sodat ons oor hierdie goed kan bly wonder. Ek probeer slegs die natuurlike wêreld waarneem en wonder steeds hoekom lemoene in die winter voorkom. Ek sal maar aanhou om lemoene in die winter te eet, al het dit geen wetenskaplike doel nie.

  4. Leon Retief :

    My dank aan madame Maigret oor die deeltekens, waarmee ek altyd probleme gehad het. Ek weet darem wel dat dit fondament behoort te wees ipv fundament, dit was óf ‘n tikfout óf my speltoetser wat dit ongesiens verander het.
    Wicus, sommige lemoene lewer vrugte op ander jaargetye as die winter. Waarom sommiges in die winter vrugte produseer weet ek nie, moontlik omdat dit ten eerste nie ‘n “natuurlike” gewas is nie of ten tweede omdat dit in subtropiese gebiede ontstaan of ontwikkel het.
    Ek wil nie as “u” aangespreek word nie, jy en jou is okei.
    Kliek op hierdie skakel en gaan na “history”
    https://en.m.wikipedia.org/wiki/Orange_(fruit)

  5. Annora Eksteen :

    Ek stem saam met jou Leon. Soos gewoonlik sinvol en duidelik verwoord. Kruie ruik lekker en mens voel na aan die aarde, maar genesing is meer kompleks. Tog ‘n ou kamilleteetjie is heerlik. Bietjie bulbinella. Pietersielie vir bietjie yster alhoewel een porsie vleis veel meer yster bevat het ek gelees. Ek sukkel ook met die deeltekens. Al die tekens. My ou laptop ook nie tot veel tekens in staat nie.

  6. Gisela Ullyatt :

    Dankie Wicus vir ‘n interessante blog!
    Antoinette se boeke is kleinode; ek voel dat die wereld meer mense met oer-wysheid (soos sy en Oom Johannes) nodig het en minder stiksienige wysneuse wat onder die delusie verkeer dat slegs hulle opinie of sienswyse die enigste is.

  7. Annora Eksteen :

    Ek stem saam Gisela. Antoinette lewe na aan die aarde en gee ook nie voor dat sy die plek van ‘n dokter met die korrekte medikasie kan inneem nie. Die kruie is egter ‘n groot troos en verryking veral as mens dit in volle son pluk, lekker geurig gebak. Sekeres egter net met volmaan… so lanklaas RSG geluister. Is sy steeds op die lug?

  8. Leon Retief :

    Annora ek stem saam dat daar niks lekkerder is as om met kruie te kook of bak nie en ek gebruik dit gereeld. Ek weet nie of en indien wel hoeveel mediese raad Antoinette en Johannes uitdeel nie, maar ek het in my repliek op Wicus se inskrywing meer algemeen die gebruik (meestal onoordeelkundig) van kruie aangespreek en nie eers na Antoinette en Johannes verwys nie.
    Gisela, as jy dalk na my verwys, of iemand wat opinies soos myne huldig, dan is dit jammer dat ons so ver van mekaar is. Ek sou jou graag wou uitnooi om te kom kyk hoe iemand sterf omdat hy/sy kruie of die raad van kruiedokters gebruik het in plaas van medisyne.

  9. Annora Eksteen :

    Antoinette se boek lyk pragtig, en is ongekunsteld beskryf in die artikel. Ek was egter ook al lankal lugtig vir daai veral: kankerbossie! Ek sal nie my mond aan dit sit nie. Ek kan dink kruie kan jou doodmaak as jy nie weet wat jy doen nie. Soos pille ook. Eks maar net te bly ek hoef nie met uie in my sokkies en aartappels in die bed te klim nie. ‘n Vriendin van my het die boek; dalk sal ek haar vra of ek dit kan lees. Net vir die lekker. ‘n Kennis van my uit Duitsland, musikus, het al ‘n keer of wat by haar gaan kuier en dit diep genesend gevind. Dalk moet ek probeer om volgende week haar praatjie te vang.

Los kommentaar