Marius Crous. Malewitsj

MALEWITSJ 

What the hell is the difference between a painting done by a person who wishes to paint like a child, and a child’s painting? – PATSY STONE

It took me four years to paint like Raphael, but a lifetime to paint like a child. – PICASSO

 

Malewitsj se rooi huis het drie dakvensters

Malewitsj se kosmos is ’n groen sirkel en twee oranje reghoeke

Malewitsj hou van wit op wit

Malewitsj plaas twee swart vierkante langs twee wittes

Malewitsj noem homself ’n suprematis in die spieël

Malewitsj teken vroue met emmers sillindries

Malewitsj en Majakofskij maak saam propgandaplakkate

$60 miljoen toe $85.8 miljoen vir ’n Malewitsj

’n uitmekaarspat van blou en groen en geel

’n verlate blokkie pienk onder in die hoek

$450.3 miljoen is sinvol vir ’n Leonardo

So ook $250 miljoen vir ‘n Cézanne

Of $39.7 miljoen vir `n vaas sonneblomme deur Van Gogh

Hoekom $69.6 miljoen betaal vir Cy Twombly

se wit krapsels op ’n grys agtergrond

Of $63.5 miljoen vir De Kooning se meetkundespel in geel

Wat is mooi aan Pollock se verfdrupsels

Pragtig aan Picasso se skeefgeslaande gevrete

Gee my ’n miljoen en ek gee jou ’n kartonboks

vol met yskasprente en omkrulblaaie

die kunstenaar se naam krom en skeef

bedek helfte van die blad

soos ’n Malewitsj-parallelogram

 

 

© Marius Crous / 2018

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar