De Waal Venter. Het jy ‘n maan

Het jy ’n maan?

 

Het jy ’n maan?

’n Ronde een

met die reeks oranjes en gele

van ’n ryp appelkoos,

die onsigbare donsigheid

van ’n heuningby se bors.

Het jy ’n maan

wat ou liedjies neurie,

gesandsuiker op die bodem van jou geheue,

wat glimlag

sonder om ’n mond te trek,

en waatlemoen met sy hande eet,

’n maan

so buitenissig soos sy vriend, Lucretius,

iemand

wat so hard aan jou hart kan vat

soos sy vriendin, Sappho,

iemand

so geduldig in sy swaarkry

soos Stephen Hawking?

 

Het jy ’n maan

wat van koffie hou

omdat dit die geur het van osse

wat rooigrond ooptrek

sodat jy kan hoor

hoe die aarde asemhaal.

 

Het jy ’n maan

wat altyd weer taan

en tog weer bult

wanneer dit water kry

en ’n vryf op die kop daarby?

 

’n Maan

wat ’n baba was

en nou nog is,

maar wys

van die yseeue

en skroeiende somers

en jou wys

waar jy moet grawe

vir die wortels.

Het jy ’n maan? Indien nie,

kry een.

 

 

© De Waal Venter / 2018

 

 

 

Bookmark and Share

14 Kommentare op “De Waal Venter. Het jy ‘n maan”

  1. Cool! Ek het een!

  2. Vertel ‘n bietjie meer van jou maan, Annora.

  3. My maan is stil vanaand

  4. Maria Snyman :

    ‘n Baie mooi, en ‘n baie lekker gedig – dit laat my mond skoon water, in ‘n proe-proe-modus ingaan?! En ja, De Waal, ek het mane, baie, vanuit verskillende vensters op verskillende plekke. Hulle verstom my altyd! Hulle het ‘n terggees – ek voel altyd ek wil meer van hulle hê as wat ek kan kry. Hulle kom en gaan ook te vinnig vir my – ek wens altyd ek kan vanaand se fase vir ‘n bietjie langer vashou, om meer van my mane te vertel.

  5. Hallo Annora

    Ek waardeer jou woorde oor my gedig. ‘n Gedig moet werk en sy salaris verdien!

    Jy het ‘n treffende manier om die metafoor in die gedig, die konsep van die “maan”, te omskryf en op ‘n manier te definieer. Dis lekker om ‘n skerpsinnige leser teë te kom wat werklik kan uitkom by ‘n gedig se kern.

  6. Jammer Maria! En Annora!

    Maria, ek het jou aangespreek as Annora. Baie jammer. ‘n Vingerfout. My apologie ook aan jou, Annora. Ek het groot waardering vir albei van julle.

    De Waal

  7. Ewentewel, moet skryf dit is wel ‘n vreeslike oulike pragtige gedig van jou maan. Erg opkikkerend. Laas toe ek gekyk het was daar nog ‘n koepel op my maan. So Russies-Ortodokse ene. O ja, en die broos maanblare wat afgewarrel het by my badkamervenster in. Maar dit is lank terug, ek het tans net drie sonne in my lewe. Op my sonne is daar ongelukkig geen coffeeshops met donuts nie, maar hulle beplan wel stedelike groentetuine vir wortels… en my maan is silensieus.Soos meestal.

  8. Jy het hier nou eintlik ‘n kort, liriese prosagedig geskryf, Annora. Ek hou van jou uitbreiding van die idee van die maan na die son. Merkwaardig hoe ‘n belangrike rol hierdie hemelliggame in ons menslike ervaring speel. Vanaf die vroegste tye.

    Kyk bv. wat Lucretius (geb. 94 v.C.) oor die son en maan te sê het. En hoe hy dit in verband bring met daardie ontwykende konsep van die “siel”. Ek het die reëls vrylik uit Engels vertaal.

    Lucretius, De Rerum Natura, Boek I. reëls 127-31

    Nou moet ons mooi kyk na dinge in die ruimte,
    volgens watter beginsels die son en maan wentel,
    en al die dinge op die aarde met hulle beherende kragte.
    En dan moet on veral skerp gaan dink
    wat die siel nou eintlik is en wat sy aard is.

  9. Maria Snyman :

    Die siel is ‘n bekykte wat kyk, De Waal, die hemelliggame hou hom dop, “big brother” kan maar net droom om by te bly, of wat dink jy?

    Die son steek tans ook lekker die draak met ons hier in die Noordweste, gister koel en gistraand ‘n buitjie, maar vandag brand ons weer bloots onder die blakende blou lug! Ai, die lekker ou terggees van ‘n natuur!

  10. Hallo Maria.

    Die “bekykte kyk” is ‘n baie raak segging. Dit het my opgeval dat dit feitlik presies ooreenstem met ‘n reël in die tweede strofe van my onlangs gepubliseerde gedig “Reality as a bathroom” by https://inmogale.wordpress.com. (Ek skryf afwisselend in Afrikaans en Engels).

  11. Ja, dit is so. Die vloeiende sielgeworde … ek lees tans ‘The Three-Body Problem’ van Cixin Liu … ook bekend as Liu Cixin en dis waar die idee van die drie sonne vandaan kom en ook die stdelike groentetuine. Ek geniet jou bydraes baie De Waal. Of kan ek skryf Venter? Dit is mooi, deursigtig en vars en ook goed om van ou Lucretius te lees. Ek voel egter nie ek word bekyk uit die ruimte nie. Ek was voorheen in gesprek met ‘n windsilf, maar sy is ook tans baie stil. Skoonveld weg om die waarheid te skryf.

  12. Maria Snyman :

    Annora, my idee van ‘n “bekykte wat kyk” kom uit Wilma Stockenström se “Die klip” – die klip wat so “wawyd wakker” is en “luister” (en kyk? – geen “hande om voor sy gesig / te hou nie”) wat ek aanvang, soos byvoorbeeld “of ek hom gaan kwaad doen”:

    “Die klip wys sy gesig vir die wêreld.
    Hy het nie hande om voor sy gesig
    te hou nie, en is aangewese op my goedheid.
    Wawyd wakker, maar weerloos, lê
    die klip en luister of ek hom gaan kwaad doen.
    Hy het nie ʼn mond om my te verwilder nie.
    ʼn Mens sou dink hy is gedwee.”

    Michael Marder se opmerking in “The Event of the Thing: Derrida’s Post-deconstructive Realism” (2009, p.47) oor “what the thing sees when it looks at us is that we do ‘not see it even when it is there’” vat dit ook vir my goed vas.

    En dan is daar ook die mistieke nosie van mysterium tremendum et fascinans … daardie asemrowende-my-in-my-spore-laat-stuit geheim … ek voel ek word gesien deur iets wat ek nie kan sien nie …

    Ek sien De Waal se mooi woorde oor “’n Maan / wat ’n baba was / en nou nog is” dan ook in die lig van die voorlaaste strofe in “Die klip”:

    “My klip, my klip, sê my in jou stomheid
    wat jy bewaar. Sê my
    of jy jeug geken het, en of jou middeljare
    broos en puur was, gepoleer was
    en geskuur tot suiwerste karaat.
    Of is om klip te wees om oud te wees,
    te gewees het, en te weet jy sal dit altyd
    wees? Is oud wees klip wees, hard,
    maar blootgestel aan skoppe en verwering?”

    Die skakels in my kop het dalk te doen met “Die klip” wat eindig met “Ek sal weer kom” – ek was al baie terug by “Die klip” …

  13. Maria Snyman :

    Die maan as wyser, as vinger, as wysvinger, wat mens laat wys, aan die wys sit, …

    Die volgende stukkie (uit ‘n groter stukkie) uit Frances Ferguson se “Jacques Derrida and the Critique of the Geometrical Mode: The Line and the Point” (2007) is al vir ‘n paar jare vir my treffend:

    “For literary study has, before all else, foregrounded the process of pointing: “Look at line 22,” “as we learn from the plot development in chapter 32,” “see how the rhymes work in the octave.” The study of belles lettres in the eighteenth century revolved around just such observations, and they remain familiar to us still. Like eighteenth-century commentators, we still “mark the beauties”; like Richardson’s Lovelace or Laurence Sterne, we still do the equivalent of drawing a pointing finger when we read poems and books and underline the parts that seem to us important. Every anthology is, at bottom, a pointing finger; every quotation, a way of suggesting that a text is more meaningful, more realized, more itself in some words and passages than in others.”

    “Het jy ’n maan? Indien nie,
    kry een[!]”

    Sjoe, De Waal, geniet ek myself darem nou nie teveel met jou gedig nie?!

  14. Hallo Annora. Drie sonne waartussen die planeet in Liu Xixin se boek wentel. En watter ingewikkelde gewentelry van die planeet! Met tye is daar voorspoed vir die bewoners en ander tye volkome chaos. Laat my ‘n bietjie dink aan ons politiek, plaaslik en ook veral in daardie reeks vas-en-los state wat hulle die VSA noem.

    Jy kan my gerus De Waal noem, Annora. Dit is my noemnaam en ook my skrywersnaam.

    Maar Maria, dis darem aangenaam om te hoor jy geniet die gedig. In my onbeskeidenheid dink ek daar lê ‘n hele paar idees wat net-net kop uitsteek bokant die grond. Soos die verwysing na NASA se Insight Lander in die tweede strofe. En die aanpassing van die “wortels” spreekwoord in die laaste strofe, om die soeke na kennis te beklemtoon. En Hawking wat sy agnostisisme amper kon geleer het by Lucretius.

    En gepraat van klippe. Dis nogal ‘n gewilde tema by digters, lyk dit my. Pablo Neruda het ‘n lang “Ode aan Cesar Vallejo” geskryf. Ek het dit vertaal en hier is ‘n paar reëls:

    “Aan die klip in jou gesig,
    Vallejo,
    aan die plooiinge
    van die droë berge
    rig ek my lied …”

Los kommentaar