Waldemar Gouws. Baudrillard: Die konstellasie van die misterie

Jean Baudrillard

Waldemar Gouws. Baudrillard: Die konstellasie van die misterie

Jean Baudrillard (1929-2007) beroep hom, lyk dit my, op die terrein van Versindaba; eintlik op die vlees en gees van Versindaba, in sy opstel Le Mal ventriloque (2008) of dan in die Engelse vertaling Ventriloquous Evil (in 2010 se Carnival and Cannibal; Ventriloquous Evil. Londen: Seagull Books).

Waarop beroep hy hom in hierdie opstel? Op die teenwoordigheid en invloed van die “konstellasie van die misterie” in die kulturele uitspansel van die mensdom. En op daardie insig wat d.m.v. die denke en vernuf van die digters (van hierdie en van alle tye) aan die lig kom: téén die nivellering van kulturele diversiteit in die opsetlike greep van globalisering, en téén die vernietiging van biodiversiteit (dink aan Monsanto, ’n Coca-Cola van kos, nou Bayer se monopolistiese grootskaalse genetiese ingryping t.o.v. graan- en gifstofproduksie in landboukringe wêreldwyd. En ook téén die proliferasie van internet-interaksie.

Ek het ’n paar paragrawe uit bg. Engelse teks vertaal, vanaf p.70 tot 73, en ’n nota op p.91 in die hoop dat Baudrillard se idees tot stimulering en onderskraging mag dien. So skryf hy:

“Ons is almal vandag genoop om die klein bietjie merkwaardigheid, die klein bietjie simboliese spasie en terrein wat vir ons oorgebly het, te red in verset teen ’n globale masjinerie, ’n globale onderneming van Goeddoenery, wat van ons die opoffering van enige wil en intellek eis (dit is nog steeds die verdrag soos deur Dostojewski se Groot Inkwisiteur aan die hand gedoen: welstand en diensbaarheid).

En vanwaar sou hierdie ‘linkse’ energie kan kom? Van daardie ondeurdringbare sone wat in elke individu is; vanaf daardie ‘hart’ wat weerstandbiedend is teen die gebod van al die apparatuur, van al die masjinerie, die gehele meganiek van rasionalisering.

Vanuit die Prometheïese perspektief van onbeperkte groei, gaan dit nie bloot oor die begeerte om alles te laat funksioneer, om alles te bevry  nie, maar ook oor die begeerte om te sorg dat alles betéken.

Alles moet onder die septer van betekenis (en realiteit) gebring word. In sommige gevalle weet ons dat kennis ons almaardeur sal ontkom. Maar in die oorgrote meerderheid gevalle weet ons nie eers wat dit is wat verdwyn het nie en ook nie wat nog die hele tyd aan ons verstand ontsnap het nie.

Nou, die wetenskap is besig met ’n stelselmatige poging ter verdelging van hierdie geheime gebied, hierdie ‘konstellasie van die misterie’* en om die afbakeningslyn tussen die aantasbare – d.w.s. die skendbare – en die onskendbare, of die onontwybare, uit te wis.

Alles wat verborge is moet blootgelê word; alles moet reduseerbaar wees tot ontleding. Hieruit lei die algehele aanslag (veral sedert die dood van God, wat hierdie poging om die natuurlike wêreld oop te breek nog beteuel het) tot ’n uitbreiding van die betekenisveld (van kennis, analise, objektiwiteit en realiteit).

Nou, alles maak ons geneig om te dink dat hierdie ophoping, hierdie oor-produksie, hierdie abnormale aanwas van betekenis (’n bietjie soos die vermeerdering van kweekhuisgasse) ’n virtuele bedreiging vir die spesie uitmaak (en vir die planeet) aangesien dit geleidelik, deur eksperimentering, daardie domein van die onaantasbare vernietig wat so te sê vir ons dien as ’n osoonlaag en wat vir ons beskerm teen die ergste – teen die dodelike bestraling en die uitwissing van ons simboliese ruimte.

Behoort ons nie dan in presies die teenoorgestelde rigting te werk om die domein van die onaantasbare te vergroot nie? Om die produksie van betekenis te temper soos wat daar probeer word om die produksie van kweekhuisgasse in te hou, om daardie konstellasie van die misterie te versterk sowel as daardie ontasbare versperring wat as ’n filter dien teen die warboel informasie, interaksie en universele ruilverkeer.

Hierdie werk wat daarteen kan opweeg bestaan wel – dit is die werk van denke. Nie die analitiese werk waardeur oorsake verstaan word, of die disseksie van die objek-wêreld nie, nie die werk van ’n kritiese, verligte denke nie, maar begrip of intelligensie in ’n ander gedaante, naamlik die intelligensie van die misterie.”

* Volgens die Engelse vertaler van hierdie stuk, Chris Turner, lees die Frans “la constellation du secret.”  Baudrillard haal Heidegger aan in Préau se Frans: “la constellation, le mouvement stellaire du secret” in “La question de la technique,” Essais et conférences, Paris: Gallimard, p.45.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Waldemar Gouws. Baudrillard: Die konstellasie van die misterie”

  1. Maria Snyman :

    En die akademie, Waldemar. Gelukkig, hoe meer jy die geheim probeer temper, hoe speelser raak dit – vir die wat dit kan (of wil) raaksien?! Na twee jaar voltyds in die akademie, en waar ek spesifiek op opvoedkunde gefokus het, is dit vir my duidelik dat die akademie spartel. Wonderlike dinge gebeur inderdaad steeds daarin, dit is en bly mos maar net ‘n stuk van die lewe. Maar, o weë, ek sien ook ‘n gesellige gespartel … Viva Versindaba en jou “konstellasie van die misterie”!

  2. Hallo Waldemar. Dit lyk my ek stem saam met die idees van Baudrillard wat ek kan verteer. (Ek sukkel nog met sekeres van hulle). Jy praat van “die afbakeningslyn tussen die aantasbare – d.w.s. die skendbare – en die onskendbare, of die onontwybare, uit te wis.” (Terloops, bedoel jy onontWYKbare ?).

    Aantasbaar: “iets waaraan jy kan raak”.

    In ‘n sekere sin is niks aantasbaar, volgens bg. definisie nie. Wanneer mens met jou vingers aan iets “raak” is dit nie ‘n direkte kontak tussen voorwerp en vinger, soos ons normaalweg dink nie. Dit is ‘n reeks impusle wat deur senu-eindpunte in jou vingers vrygestel en na jou brein gestuur word as ‘n reaksie op drukking van die weefsel van jou vingers. Daar is geen direkte “aanraking” tussen “jou” en die “voorwerp”nie.

    Mens kan dit nog verder neem: daar is geen “hardheid” nie. Ons dink aan ‘n stuk staal as “hard”. Maar dan is dit die kristalle, die molekules, die atome van die staal wat kragvelde het wat ander kragvelde (die atome in jou vinger) afstoot. En dan kan mens verder en verder gaan in die struktuur van die atoom en sy onderdeeltjies en meer en meer agterkom dat “tasbaarheid” ‘n baie elastiese begrip is.

    Dan kom ek by jou stelling uit dat Baudrillard “op die terrein van Versindaba beweeg.” Ja, ek stem grootliks saam, in der mate dat Versindaba ‘n algoritme is vir poësie (kom ons sê maar ‘n “uitstalterrein” in ouer terme). Gedigte het dikwels, dalk in die meeste gevalle, te doen met die “ontasbare”.

    Neem hierdie reëls uit Marius Crous se gedig van ‘n dag of wat gelede op Versindaba:

    Malewitsj se rooi huis het drie dakvensters

    Malewitsj se kosmos is ’n groen sirkel en twee oranje reghoeke

    Malewitsj hou van wit op wit

    Hierdie skilder wat baie mense as mallerig sal beskou, sien die kosmos volgens Crous, as ‘n groen sirkel en twee oranje reghoeke. In normale verband is dit onsin. Hoe kan die kosmos soiets wees? Maar, in die verband van die gedig, met kennis van hierdie suprematis se kreatiewe filosofie, maak dit sin. En vir die leser van die gedig en die beskouer van die kunswerk, is dit verrykend.

    Hierdie onderwerp is so groot dat ek naderhand ‘n boek sal skryf as ek aangaan. Maar, gelukkig vir Versindaba se lesers, hou ek hiermee op.

    Groetnis!

  3. Waldemar Gouws :

    Maria en De Waal (hier gepaar): Maria, dankie, maar dis nie my konstellasie vd misterie nie; wens dit was!

    De Waal, dankie vir jou ondersoekende, toetsende lees. Oor “onontwybaar” kan jy paradigmaties ook voel aan “ononteerbaar” en t.o.v. “aantasbaar” dink aan Zuma se figuurlik aangetaste dignitas wat gevolglik nie meer intakt is nie (die -takt etimologies na “tangere”: aanraak).

    Al of ek my in ‘n potjie semantiese snoeker wil begeef. Ken egter nie al die reëls nie!

  4. Charl-Pierre Naude :

    Waldermar, mooi!

  5. Waldemar Gouws :

    Charl-Pierre (Klipkarel, Klipkêrel) baie dankie! (Net te maklik om te sê). Veels geluk met jou skuldige roman. Jeuk om die werk te lees.

Los kommentaar