Wicus Luwes. Die verskil tussen ‘n leë en vol bord

Ek het al dikwels gewonder hoekom die Grieke bekend is vir die tradisie om borde te breek. ‘n Mens het mos nou maar die ingebore drang om die oorsprong van dinge na te vors. Ek het ‘n paar bronne op die internet geraadpleeg en het op ‘n interessante term genaamd ‘kefi’ afgekom. Daar is nie slegs een storie oor die rede waarom Grieke borde breek of gebreek het nie: Daar word byvoorbeeld ‘n storie vertel van ‘n ryk gesin wat ‘n armer gesin vir ‘n ete genooi het. Die ryk gesin het tydens die ete-afspraak besluit om hul borde te breek as blyk dat vriendskap meer belangrik as materialisme is. Hierdie storie impliseer dat borde ‘n soort metafoor vir sosiale stand sou kon wees. Die meeste raakpunte lei my egter na die idee van ‘kefi’. ‘Kefi’ word op Google Translate vertaal na ‘vreugde’. Die toerisme webbladsye verduidelik dat die kefi/vreugde waarna verwys word, nie slegs verwys na kortstondige blydskap nie. Kefi verwys na ‘n lewensvreugde. Die moderne Grieke probeer wegbeweeg van die bord breek-stereotipering. Hulle reken dat kefi nie meer gevier moet word deur die breek van borde nie.

Ek het eers gedink dat ‘n vol bord kos seker die hoogste vorm van lewensvreugde sou wees. ‘n Paar gedagtes later het ek besef dat ‘n vol bord kos nie noodwendig tot lewensvreugde lei nie. Die mens het van sy beste idees en gedagtes op ‘n honger maag en ‘n honger verstand gehad. Daar is seker ‘n goue middeweg, maar ek is op die oomblik van mening dat ‘n oorvol bord eerder tot luiheid as innovasie sou lei.

 

bord-eel

jy eet jou kos
uit my bord
met weggooibare
mes en vurk

ons almal weet
dat die honger
nie gevul kan word
op wegneem-etes nie

‘n vol bord kos
behoort aan die een
wat daarvoor betaal

‘n leë bord
behoort aan niemand nie

 

Die voedselketting is ‘n model wat die stand van die mens bepaal deur middel van die items wat in sy bord is. Die spreekwoord wil ook hê dat die pad na die man se hart deur sy maag loop. Die eenvoudige bord word dus ‘n metafoor vir die mens se soeke na liefde en die mens se plek op hierdie aardbol. Ek is eintlik verbaas dat ek nie meer gedigte oor die ‘bord’ sien nie. Dit is ‘n ongelooflike bron vir metafore. Ek en my vrou het by geleentheid ‘n stel breekware as geskenk gekry. Die breekware het borde, kleinbordjies, koppies, pierings ens. ingesluit. Dit was wel tweedehands, maar dit was ‘n volledige stel – selfs ‘n sousbak. Die geskenk het ook uit die persoon se hart gekom.

 

My palate is simpler than it used to be. A young chef adds and adds and adds to the plate. As you get older, you start to take away.
– Jacques Pepin

 

Ek was nog nooit iemand wat van oordadigheid gehou het nie en die stel breekware was oordadig. Dit het patrone op die porselein gehad en ‘n metaalrand. Ek het myself vasgestaar teen die feit dat ek nie so iets sou gekoop het nie en dat ek nie die borde in die mikrogolf sou kon gebruik nie, as gevolg van die metaalrand. Gelukkig het die verloop van tyd my anders na dinge laat kyk. Die stel breekware is vir ‘n paar jaar gestoor en by ons huidige tuiste het ons dit uitgepak. Uitgepak, maar meer belangrik: ons het dit begin gebruik. Die persoon wat dit aan ons gegee het, is intussen oorlede. Dit het dus nog ‘n dimensie bygekry. Die borde was eers ‘n metafoor vir oordadigheid en iemand anders se smaak. Nou het die borde ‘n metafoor as ‘n soort erflating gekry. Die persoon wat dit aan ons gegee het, eet nou by spesiale geleenthede saam met ons. Die idee is mos in elk geval dat jy jou kos moet eet wanneer dit op die tafel land en dat dit nie nodig sou wees om in die mikrogolf-oond op te warm nie. Nataniël se voorstel dat jy jou water uit ‘n kristalglas of sjampanjeglas moet drink, draai ook in my kop. Die bord bepaal nie of ‘n geleentheid spesiaal is nie, want jy moet geleenthede saam met gaste, vriende en vreemdelinge spesiaal maak.

Terug by die leë bord. Daar is ‘n verskil tussen ‘n leë bord as gevolg van jou eie keuse en ‘n leë bord as gevolg van hongersnood. Die bord wat as metafoor vir hongersnood dien, is seker die moeilikste een om aan te dink. Dit kan ‘n kind wat met leë borde grootword motiveer om hard te werk, maar dit kan ook mense se harte verhard.

 

Change your plate. Change your fate.
– Kris Carr

 

Vriende van my het as gesin ‘n paar jaar gelede die raad van ‘n dieetkundige ingeroep. Hulle het as gesin gewig opgetel. Hulle het besluit om minder te eet en gemorskos uit te sny. Dit was nie genoeg nie en hulle het nie gewig verloor nie. Die dieetkundige se raad aan hulle, bly my tot vandag by. Hulle moes hul bord inkleur. Daar moes groen, oranje, bruin ens. op hul bord wees. Iets soos boontjies of ertjies kan die groen verteenwoordig. Wortels of pampoen moes die oranje verteenwoordig. Dit is my gunsteling metafoor vir die bord: die bord is ‘n palet. Die kok behoort homself as kunstenaar uit te leef. Dit is hoekom ek voel dat elke beroep ‘n vorm van kreatiwiteit ontsluit.

Ek wens jou daarom ‘n bord toe wat net genoeg kos in het om jou hart honger te hou. Maak jou bord ‘n palet van kleure. Verdeel jou bord tussen mense, want deur jou kos te verdeel, staan jy buite die realm van aardse wiskunde. Die verdeling van ‘n bord kos maak nie dat daar twee halwe borde op die tafel staan nie. Die verdeling van ‘n bord kos maak nie die porsie kleiner nie – dit maak dit meer.

 

wees vandag die daaglikse brood
wat Sy naam heilig
wees die suurdeeg wat sy koninkryk laat kom
wees die korsie wat die hemel om die aarde vou
gee ‘n snytjie brood
aan hulle wat die krummels eis
en mag geen brood in jou bord oorstaan
vir die muf wat dit van binne
of buite wil verteer nie

 

Tong-in-die-kies: Die sosiale lewe van jou bord

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Die verskil tussen ‘n leë en vol bord”

  1. Dis ‘n prikkelende stuk, Wicus! As aanvullende kommentaar plaas ek hiermee ‘n fragment uit Pablo Neruda se meesleurende gedig “El gran mantel” (Die groot tafeldoek). Hy sien die sopbord as “‘n klein see”.
    .
    In die blou etensuur,
    in die oneindige uur van die braaiboud,
    sit die digter sy lier eenkant toe,
    hy vat sy mes en vurk
    en sit sy glas op die tafel,
    en die vissermanne kom
    na die klein see van die sopbord.
    Braaiende aartappels protesteer
    tussen die olietonge.
    Die lam kry ’n goue kleur op die kole
    en die ui word ontklee.
    Dis treurig om in ’n kispak te eet,
    dis soos om in ’n kis te eet,
    maar om in kloosters te eet
    is soos om ondergronds te eet.
    Om alleen te eet is bitter
    maar om nie te eet nie is diepsinnig,
    dit is hol, dit is groen en het dorings
    soos ’n ketting van vishoeke
    wat hang uit die hart
    en jou van binne af krap.

    Vert. DWV uit Spaans

  2. Wicus Luwes :

    Pragtige vertaling De Waal! Ek is bly dat ek die gedig kon lees!

  3. Trienke Laurie :

    Dankie oor die inligting van die “café”/ kefi. en die gedig, Wicus.

    De Waal, jy verruim ook my horison met die vissermanne wat saam kom skaap eet het.

    Dankie,
    Trienke.