Resensie: Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra Bezuidenhout

Mens dier ding. Alfred Schaffer. Human & Rousseau, 2018

Vertaal deur Zandra Bezuidenhout

Resensie: Dewald Koen

Omslag

Dit is bloot menslik om aan die einde van ’n siklus bestekopname te wil neem van dit wat verby is. So kom nog ’n jaar tot ’n einde. 2018 was ’n goeie oesjaar vir Afrikaanse poësie. Poësieliefhebbers kon hul palaat met ’n boeket van digbundels verkwik. Enkele hoogtepunte van 2018 sluit in Daniel Hugo se Openbare domein, W.L. van der Merwe se Doodmenslik en Pieter Odendaal se Asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Om ’n siklus op ’n hoogtepunt soos in die geval van Mens dier ding af te sluit is des te meer verblydend.

Die digter-akademikus Alfred Schaffer is geen onbekende binne literêre kringe nie. Schaffer debuteer in 2000 met Zijn opkomst in de voorstad. Tot op hede is agt van sy digbundels in Nederland en België gepubliseer. ’n Keur uit sy vroeër werk is deur Daniel Hugo vertaal en verskyn in 2013 in die bundel Kom in, dit vries daar buite.

Zandra Bezuidenhout se vertaling van sy bundel Mens dier ding (2014) het pas by Human & Rousseau verskyn. Bezuidenhout is naas Daniel Hugo en Riet de Jong-Goossens een van Afrikaans se mees gesoute vertalers van tekste uit Nederlands in Afrikaans. Bezuidenhout het onder andere ’n versameling van Anna Enquist se gedigte uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Bezuidenhout se bekwame vertalershand is duidelik te bespied in die komplekse bundel Mens dier ding.

Die algemene afname in die publikasie van veral Afrikaanse digbundels oor die laaste paar dekades laat dikwels die vraag ontstaan waarom ’n hoofstroomuitgewer soos Human & Rousseau ’n vertaalde digbundel sal wil publiseer. Dit blyk egter nie ongewoon te wees nie. Vroeër vanjaar het Protea ’n keur uit die poësie van Michel Houellebecq (vertaal deur Henning Pieterse) gepubliseer. Deur middel van vertaling word Afrikaanse lesers aan die wêreldletterkunde blootgestel. Vertaalde digbundels verdien ’n regmatige plek op elke poësieliefhebber se boekrak. In die geval van Schaffer se lywige Mens dier ding word Afrikaanse lesers blootgestel aan ’n digbundel wat as ’n tour de force beskryf kan word. Die bundel is reeds met die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs asook die Charlotte Köhler Prijs bekroon. Laasgenoemde letterkundepryse getuig van die hoë aansien wat die digbundel in literêre kringe in Nederland en België geniet. Naas Nederlands en Afrikaans, is die bundel ook in Engels en Frans vertaal.

Soortgelyk aan Antjie Krog se Lady Anne (1989) ondersoek die digter ’n geskiedkundige figuur naamlik Sjaka Zoeloe in Mens dier ding. Die visuele kunstenaar Mohau Modisakeng se kunswerk getiteld Qhata (2011) ontsluit die titel en tema vir die leser: Die Zoeloeman geklee in ’n luiperdvel frokkie, industriële voorskoot en ’n hardebolhoed wat die manlike figuur se gesig verbloem, dui op die bevraagtekening rondom identiteit. Sjaka se koninklike agtergrond word deur die luiperdvelmotief gesimboliseer terwyl die hardebolhoed en industriële voorskoot ’n simbool van kolonialisme en onderdrukking uitbeeld. William A. Ewing wys verder daarop dat die manlike figuur vanuit die donker verlede na die verligte hede beweeg. Die simboliek is treffend en sluit tematies by die titel aan: “Ek het goed om my rondgekyk maar ek was heeltemal alleen / as mens as dier as ding / ek het nie gedroom nie, inteendeel. / So het ek daar gestaan, nou sit ek hier.” (68).

Schaffer noem dat hy deels geïnspireer is deur die F.H. Dutton se Engelse vertaling van Thomas Mofolo se roman Chaka wat oorspronklik in 1926 in Suid-Sotho gepubliseer is. In 1974 is laasgenoemde roman deur Chris Swanepoel in Afrikaans vertaal. Sjaka Zoeloe of Koning Sjaka is een van die mees omstrede en selfs berugte geskiedkundige figure wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die negetiende eeu oorheers het. Reeds in 1945 verskyn die gedig “Shaka” in D.J. Opperman se debuutbundel Heilige beeste. Schaffer se bundel sluit intertekstueel aan by beide Mofolo se roman sowel as Opperman se gedig “Shaka”. In Mens dier ding deel die spreker die lewensverhaal van Koning Sjaka op soortgelyke wyse as in Opperman se “Shaka” alhoewel Schaffer se weergawe ’n hele bundel in beslag neem vergeleke met Opperman se enkele gedig.

Mens dier ding verskil egter van Opperman se gedig aangesien die gedigte oor Sjaka se lewe ’n anachronistiese benadering volg. Schaffer se interpretasie van Koning Sjaka as geskiedkunde figuur word nie tot sy historiese tydruimte beperk nie – en dit is juis dié aspek wat hierdie bundel laat skitter. Deur nie bloot ’n geskiedkundige relaas van ’n geskiedkundige figuur in poësievorm te weergee nie, slaag Schaffer daarin om poësie te skep wat nie alleen liries van aard is nie, maar ook die humoristiese aspek van menswees ondersoek. “Poging tot ’n onderhoud” (91) en “Shaka se regsaak direk op News24” (95) is maar enkele voorbeelde waar humor met geskiedenis verstrengel raak en geskied verbeelde progressie van die verlede tot in die hede.

Die bundel is veelsydig van aard en word Koning Sjaka se lewensverhaal deur middel van dagboekinskrywings, monoloë, dagdrome, briewe en herinneringe aangebied.

.

dag(droom) # 0

.

Ek kan nie slaap nie ysige naglig hou my wakker.

Soos ’n boomblaar wieg ek heen en weer

hierdie gewieg bring geen rus nie.

In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe

maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos

met sy sonverskroeide bome –

dronk van vermoeidheid ná alles wat ek vernietig het.

Dit was soos ’n geploeter oor ’n eindelose grondpad

in ’n verderflike hitte.

Herwaarts en derwaarts tussen die stamme en die struike

brokstukke mens, gebars of gesmelt.

Hulle sê dit spook hier hulle sê

Wat nie beweeg nie moet bevrore wees van angs.

Maar ek het net lief.

Soos in ’n baie ou sprokie.

As ek regop kom dan bid ek, ek bid dan en so bid ek

en ek bid dat iemand my gebed verhoor

Sirenes swel aan tot anderkant die verte.

Ek het na U gesoek maar kon geen weerstand vind nie.

Schaffer ondersoek deur middel van Koning Sjaka as spreker temas soos magswellus, waansin asook die dierlikheid van die mens. Vrae oor die waarde van menslike lewe word geopper. Die gedigte lees soos tonele uit ’n dramateks wat ’n geheelbeeld van hierdie enigmatiese geskiedkundige figuur met die leser deel. Die mites rondom Sjaka Zoeloe word ondersoek. Wat is waarheid en wat is versinsel? Schaffer se behendige digtershand vertolk en gee op liriese wyse gestalte aan ’n geskiedkundige figuur wat diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenislandskap getrap het.

Met die vertaling van Mens dier ding anker Schaffer homself stewig binne die Afrikaanse literêre kanon. Hierdie bundel is gemik op die literêre fynproewer – lesers wat elke woord, frase en sin met waardering sal koester. Met Mens dier ding word die literêre jaar op ’n hoogtepunt afgesluit. Hierdie bundel kan, soos reeds genoem, as ’n tour de force beskryf word.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Resensie: Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra Bezuidenhout”

  1. Yves T’Sjoen :

    In menig opzicht ben ik het eens met de beoordeling door Koen Dewald, ofschoon de vertaling van Mens dier ding (Zandra Bezuidenhout) mij nog niet onder ogen is gekomen. In ieder geval moet het geleverde vertaalwerk een huzarenstuk zijn. Hier is alvast een suggestie voor de bevoegde Raad van de Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. De vertaling door Zandra van Tommy Wieringa’s Joe Speedboat en de gedichten van Anna Enquist heb ik intussen gelezen. Alfred Schaffer componeerde een heel bijzondere bundel die in 2016 is bekroond met de Paul Snoekpoëzieprijs van de stad Sint-Niklaas. Ik mocht toen juryvoorzitter zijn. Op 7 april 2019 wordt de tiende laureaat bekendgemaakt van de driejaarlijkse prijs, een van de meest prestigieuze in Vlaanderen.

  2. carina :

    Ek wil tog ‘n lansie breek vir die vertalings van Zandra Bezuidenhout uit Nederlands. Sover ek weet werk sy meestal selfstandig en met ononderbroke toewyding en ywer, terwyl poësievertaling seker één van die moeilikste tipe vertalings is wat daar in die letterkunde bestaan. Afrikaans het vertalers soos Bezuidenhout nodig. Hoe meer, hoe beter. Sy doen onselfsugtige baanbrekerswerk.

  3. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie Yves en Carina vir julle kommentaar; inspirerend.

  4. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie ook aan jou, Dewald, vir die resensie oor Mens dier ding.

Los kommentaar