De Waal Venter. Gedigte oor sterflikheid en verganklikheid 2

Elke dag word gister

.

Vandag het opgedaag,

oënskynlik boordensvol energie,

daadkrag en dinamiese planne.

.

Hy gaan sit voor my,

klap die rekenaar-tablet oop

en wys my sy beplanning

wat rondpronk in helder Oled-kleure.

.

Maar dit is vir my ál

of daar iets geforseerds is aan hom.

As hy voel na iets

in sy formele baadjie se binnesak,

ruik ek Boxer-tabak;

my oupa het die geurige kerwinge

met sy duim in sy pyp vasgedruk.

Die vuurhoutjie se swaelslag

het my neus ’n speelse klap

op die blad gegee.

Dan die wit rook

met die geur van ou beplannings,

saamgedring en beliggaam

uit die lippe van my oupa.

.

Die dag wil my die hele dagplan laat deurwerk,

maar ek sien hom nou

in sy werklike wese.

Hy dra nie meer ’n pak nie,

maar ou plaasklere.

Sandale wys sy lang tone

en ek dink die Bybelse Petrus

het so gelyk.

Hy praat saam met die oubaas

oor waar die beeste vandag gaan loop,

en hoe hulle gaan regmaak vir die dip.

.

Hy kyk na my,

en sy gesig, bruin soos die grondpad

na die mielieland,

verander nie,

maar ek weet hy glimlag.

Woorde is vir hom kap met ’n byl,

elkeen moet reg kap in die hout,

indring in die stomp,

anders mors jy jou krag.

.

Maar nou vra hy:

Jy’t vroeg opgestaan saam met oubaas?

Ek knik, want nou voel woorde, die byl,

vir my te swaar om op te tel.

Hy draai om, om te gaan werk, en sê:

Dis goed so, want vanaand kom,

vir ons almal,

vir jou ook.

 

***

 

Lewe uit dood

.

Die stad is dood.

Daar is niemand in die strate nie.

Die verkrummelende geboue is bruin.

Binne die huise is daar die nietighede

van verlate persoonlike besittings.

’n Hardloopskoen

lê roerloos

langs ’n hopie gekreukelde klere.

’n Glas water,

eienaardig onaangeraak

op ’n vensterbank

met gebreekte ruite.

Alreeds word die substansie van die stad

omgesit in eenvoudiger verbindings,

dit sak stadig die grond in

om nematodes, bakterieë,

erdwurms en ander honger kreatuurtjies te voed.

Hierdie stad sal herrys,

maar in ’n ander gedaante – ex terra semper aliquid novi.

 

© De Waal Venter. 2018

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Gedigte oor sterflikheid en verganklikheid 2”

  1. engemi ferreira :

    Beste De Waal, ‘k ‘t lanklaas iets van jou gelees,
    my boeke leef in dooste na die groot trugtrek Kaap toe;
    waar ek deesdae woon sonder verse, en hopeloos wees,
    in die huisie by ‘n verkeerde see en taptoe

    ‘k wou net sê oor die toonaard van die verse,
    hoewel beide handel oor ons aller onwelkome demise
    klink jou digterstem als behalwe oud of afgeleef
    en ek uitsien na meer van hoe jy d bose afweer

  2. Hallo Engemi

    Lekker om van jou te hoor. Ons dink seker maar almal aan ons sterflikheid en skryf soms daaroor. Jy is reg, ek voel nog baie lewendig en vol dinge waaroor ek nog wil skryf.

    Toevallig het ek vanoggend ‘n gedig geskryf oor verganklikheid, maar ook die voortdurende proses van hernuwing van alles in die heelal. Ek plaas die gedig hier vir jou aandag. As jy van my ander gedigte wil lees kan jy dit sien op my blog: https://inmogale.wordpress.com

    Groetnis

    Stoflik
    .
    Agter ons
    is daar ‘n malende jong heelal
    in die bruin stof
    van die grondpad.
    .
    Ons tril oor die sinkplaat.
    .
    Dit is ’n rooibruin heelal
    waarin wasige draaikolke
    nou begin vorm gryp,
    stoeiende gasse
    om die warmer wordende eiergeel
    in die middel.
    Planete begin nou stadig verdig,
    druiwekorrels rollend af
    in die holtes van swaartekrag.
    .
    ’n Skyfie biltong
    in my vingers.
    Die lig beur rooi
    deur die halfdroë spiervesels.
    .
    Soveel stowwe amper ongelooflik
    ingebind in mekaar.
    .
    Stof stroom agter ons,
    krimpend, uitdyend, warrelend
    in ’n oneindige agon met entropie.
    .
    Daar is stof op die paneelbord,
    ’n dun lagie stof
    verdoesel nie die sekondes nie
    wat een na die ander sterf
    op die verligte skerm
    van die paneelbord se horlosie.