Resensie: Afrikaans poems with English translations. (Samestellers: van Coller, van Vuuren & Viljoen)

AFRIKAANS POEMS WITH ENGLISH TRANSLATIONS

Saamgestel deur HP van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen.

Protea Boekhuis. 2018. Slapband, 311 bladsye. ISBN 978-1-4853-0694-8

Resensent: Zandra Bezuidenhout

Drie kenners kies tesame

Hierdie nuwe bloemlesing, Afrikaans Poems with English Translations, saamgestel deur die gedugte driemanskap Hennie van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen – almal vakspesialiste op die gebied van die Afrikaanse poësie en literatuur in die algemeen – bevat 113 gedigte waarvan die bronteks en doelteks oorkant mekaar afgedruk is. Dit is ʼn hersiene weergawe van die oorspronklike publikasie wat in 1962 deur CJD Harvey en AP Grové saamgestel is, aangevul deur ʼn ruim aantal gedigte wat die poësietoneel tot op hede dek.

Dit volg op Marlise Joubert (samesteller) se soortgelyke  In a burning sea van 2014, ook ʼn produk van Protea Boekhuis, maar met die fokus op kontemporêre werk, voorafgegaan deur die politiek geörienteerde  Letter to South Africa (Umuzi, 2011) wat na aanleiding van ʼn simposium onder leiding van Marlene van Niekerk byeengebring is. Ook in hierdie twee antologieë word die Afrikaanse tekste deur hul Engelse vertalings vergesel. Interessant genoeg het daar in 2018 twee ander (deels) vergelykbare poësieversamelings verskyn, nl. Absolute Africa, versorg deur Patricia Schonstein (uitgegee deur African Sun Press) en die bygewerkte  The new century of South African Poetry (onder die redakteurskap van Michael Chapman en uitgegee deur Ad Donker). Hoewel die laasgenoemde twee bloemlesings slegs Engelstalige gedigte bevat, is dit betekenisvol dat ʼn ruim aantal daarvan uit Afrikaans en ander inheemse tale vertaal is. Hierdie vyf werke skep elk op hul eie manier die geleentheid vir ʼn groter verskeidenheid lesers om direk of indirek met die werk van belangrike Afrikaanse digters om te gaan, en mag anderstaliges prikkel om Afrikaanse poësie ook eerstehands te lees.

Dat ʼn onderneming van hierdie aard in die afgelope tyd deur verskillende Suid-Afrikaanse uitgewers aangepak is, dui nie slegs op groter blootstelling nie, maar op ʼn groeiende belangstelling in en wyer erkenning van Afrikaanse digters – soos wat tans ook in Nederland en Vlaandere gebeur.

Met die versameling wat hier geresenseer word, is daar gepoog om van die belangrikste en mees verteenwoordigende Afrikaanse digwerk in een band saam te snoer. Die aanbieding volg  ʼn tydlyn vanaf die vroeë tot die mees resente digters en hul werk, iets wat nie in die geval van ʼn alfabetiese of tematiese volgorde, of by lukrake bundeling vermag of beoog word nie. Lesers kry dus hier ʼn blik op opeenvolgende periodes met hul onderskeie genrekonvensies, invloede en stilistiese tendense – meestal met boustof uit plaaslike bodem, maar soms ook met ʼn wyer verwysingsveld en in pas met internasionale ontwikkelings op die poësieterrein. Dit word dus sigbaar gemaak dat die gedig as kunsobjek binne ʼn bepaalde historiese, geografiese en kulturele milieu ontstaan, waarvan die omvang en verskeidenheid toeneem namate kontak en raakpunte met die nielokale uitbrei. ʼn Geval van osmose en simbiose dus, afhangende van die vertrekpunt, d.w.s. of die gedigte en die onderliggende invloede van plek, tyd en kulturele dampkring benader word as ʼn proses van uitwisseling (en inkorporering) of as saambestaan.

Die verskeidenheid aan tematiese inhoude en tegniese vormgewing, tesame met die hoë peil van die vertalings, is indrukwekkend: van Eugène N. Marais se “Winternag” waarmee die bloemlesing open, en waarvan die bekoring myns insiens deur Guy Butler se vertaling  geëwenaar word, tot by Nathan Trantraal se “Valhalla Park” as slotgedig, laasgenoemde ʼn bevestiging dat digterlike aktiwiteit in verskillende taalvariëteite, waarvoor Adam Small die weg gebaan het, steeds uitbrei en literêre sowel as publieke erkenning geniet.

Om terug te keer na die openingsgedig, word die beginstrofe van “Winternag” in sy vertaalde vorm hierna aangehaal. Let gerus op na die vertaler se vernuftige vinding van rym en ander klank- en ritmiese verwantskappe, die woordkeuses en die vashou aan beelde wat oorspronklik deur Marais gebruik is.

Winter’s night

O cold is the slight wind

   and sere.

And gleaming in the dim light

   and bare,

as vast as the mercy of God,

lie the plains in starlight and shade.

   And high on the ridges,

   among the burnt patches,

the seed grass is stirring

   like beckoning fingers.

In die geval van Trantraal se gedig, het Mike Dickman as vertaler voor ʼn uitdagende taak te staan gekom: hy moes ʼn vers wat in Kaapse Afrikaans geskryf is, transponeer  na ʼn ooreenstemmende tipe taalgebruik wat ʼn mens “Cape Flats”-Engels sou kon noem. Dit gebeur in ʼn sekere mate ook in ander gedigte, o.a. in Gert Vlok Nel se “i sagte reën het agtermiddag”, waar die vertaler (Leon de Kock) die afwykende gebruik van die brontaal ook in die doeltaal sigbaar en hoorbaar moes maak, iets wat Nederlandse vertalers terloops besonder uitdagend vind.

So lyk en klink die eerste strofe van “Valhalla Park” in die brontaal:

Daas grootmense wat op die sypaadjie sit

en lelik vloek en dominoes speel;

babies wat lelik vloek

en innie middel van die pad speel,

die karre moet rondom hulle ry;

hele families wat langsie straat sit

voo hulle hyse en vir jou kak aankyk

as jy verbystap

En dan in die doeltaal:

There’s grownups what sits onna pavement

an swear an curse an play dominoes;

babies what swear an curse

and play inna middle a da road

so da cars mus go round em;

whole families sittin by da street

in fronta dey houses and dey eyeball you

when you walk by.

Die argument dat daar altyd iets in ʼn vertaling “verlore” gaan, is ʼn cliché en na my mening meestal ongeregverdig, want in die hande van ʼn bedrewe poësievertaler (soos oral in hierdie antologie) gebeur dit selde of ooit dat kernaspekte van die gedig (inhoudelik, verstegnies en gevoelsmatig) genegeer of verwater word, terwyl daar menigmaal skitterende en toepaslike nuwe vondste in ʼn vertaling opduik om aan die essensie van die gedig gestalte te gee. Dit is insiggewend om te sien hoe vertalers uit verskillende moontlike oplossings uiteindelik die beste en raakste alternatief kies, dikwels deur slim, subtiele skuiwe te maak ten opsigte van sinstruktuur, klankwaardes, visuele aanbod, ens., en nogtans so teksgetrou as moontlik te werk gaan. Hierdie sake is natuurlik relatief, want elke gedig eis ʼn eie vertaalbenadering en elke leser kyk deur ʼn eie getinte bril. Die verset teen vertaalde weergawes lê meermale by die leser wat vasklou aan die oorbekende weergawe in die brontaal waarmee daar op skool of later kennis gemaak is, sodat die meriete van die vertaalde teks nie altyd ingesien word en die gedig nie as ʼn kreatiewe taalbousel en gedig in eie reg waardeer word nie. Die vertaling sal vanselfsprekend in sekere opsigte “anders” klink, die gedig praat immers ʼn ander taal!

Die vraag behoort te wees of die vertaler se manipulering van die digterlike woord, afhangende van versinterne noodsaak, in die doeltaal dieselfde emosionele reaksie, gedagtegang en estetiese bevrediging ontlok; of dit die beelde en sfeer ewe suksesvol oproep – kortom, of die vertaalde weergawe dieselfde meevoerende, oortuigende  of intrigerende effek het as die oorspronklike. Sonder vertalings sou sommige lesers nooit geweet het watter onderwerpe aangesny is, of watter beelde en ander verstegnieke gebruik is nie, en ʼn mens kan van poësielesers verwag dat hulle sal oopstaan vir meer moontlikhede om die gedig te “ervaar” as dié waarmee hulle van kindsbeen af bekend was.

In sekere gevalle is die vertalers self digters. Sommige het trouens self van hul verse in hierdie bloemlesing vertaal (Krige, Eybers, Cussons, Breytenbach en andere), wat sekere voordele inhou. Meer dikwels is ander gerekende vertalers egter vir die taak ingespan (Heyns, Cope, Butler, Cilliers, De Kock en meer). Veral CJD Harvey se vertalings is uitmuntend, maar al die vertalings spreek van begrip, aanvoeling en vakmanskap, met die onontbeerlike fyn oor vir aksentuering, pousering, versbeweging en klankkleur. Moontlik  het persoonlike bande met die Afrikaanse leefwêreld , asook met die sprekers, taal en letterkunde, daartoe bygedra dat die vertalers met soveel presisie te werk kon gaan.

Dit spreek vanself dat hierdie versameling bekende plaaslike merkers sal bevat, soos blyk uit die landelike of bodemgerigte verse van veral die ouer geslag, by name Leipoldt, Boerneef, Toon van den Heever en andere, maar ook van latere digters soos o.a. Charles Fryer  en  George Weideman. In sommige gevalle word die plaaslike ook verteenwoordig deur politieke verse of dié wat getuig van maatskaplike betrokkenheid (Jonker, Small, Pretorius, Petersen, Philander, Breytenbach, Krog, Ferrus, Johann Lodewyk Marais, Trantraal, Kamfer). Van invloede of verwysings na plekke, gebeure of ervarings buite die landsgrense is daar merkers by o.a. Krige, Blum, Toerien en Breytenbach. Lesers sal self verdere voorbeelde ontdek. Dikwels oorvleuel die voedingsbodem met ander faktore, sodat die verse nie slegs volgens hul ontstaansgrond ingedeel kan word nie.

Tesame met die genoemde verskille in tematiek, agtergrond en verwysingspunte, sal lesers opnuut kennis maak (en jonger of anderstalige lesers dalk vir die eerste keer), met die variasie van poësiestyle en -tegnieke wat algaande in die Afrikaanse digkuns posgevat het. Uiteraard is die vormgewing van die onderskeie gedigte in pas met die poësiekonvensies van die tyd waarin hulle geskryf is. Die ouer werk waarmee die bloemlesing open, is opvallend meer konvensioneel, formeel en vormvas, en dikwels gewortel in die Suid-Afrikaanse aarde en gepaardgaande plaaslike problematiek. Algaande word die styl en struktuur losser en die vrye vers wen veld. Ook die internasionale invloed van denke en kunsvorme soos die surrealisme word merkbaar – hier te lande by uitstek in die werk van Breyten Breytenbach, in ooreenstemming met die vernuwende aanpak van o.a. Franse digters en die Nederlandse Vyftigers. Wat temas betref, skryf etlike digters poëtikale verse, d.w.s. oor die poësie en die maak daarvan, ʼn nagenoeg konstante onderwerp in alle tale. Latere uitlopers van die eksperimentele poësie, veral ten opsigte van oorspronklike, virtuose taalontginning en verbeeldingryke vormgewing, val op in die werk van Marlene van Niekerk, meermale met onthutsende humor en speelsheid – elemente wat nie dikwels in die hedendaagse digkuns opduik nie. Stilisties toon die jonger digters ʼn voorliefde vir die gemaklike praatvers in alledaagse taal, met Gert Vlok Nel, Danie Marais en Loftus Marais as opvallende eksponente.

In die geheel bied elke periode ook ʼn korpus persoonlike en belydenisverse, dikwels in die vorm van ʼn familie- of liefdesvers, ʼn heimweegedig, of bloot ʼn gedig as selfrefleksie, wat sterk ingestel is op die gevoelsbelewenis van die sprekende subjek.  ʼn Mens kan jou ʼn taal se digterlike komponent, en selfs ʼn oeuvre, kwalik daarsonder voorstel, en in hierdie bloemlesing strek dit van Totius tot by o.a. Cloete, Müller, Goosen en Kamfer. By uiteenlopende digters soos Jan FE Celliers en Lina Spies is die gevoelsverse ingebed in onderwerpe soos die politiek en die geskiedenis. Weereens is dit nie moontlik om “gevoelsliriek” of emosionele inhoude te skei van ʼn bepaalde tema, ontstaansbron of verstegniek nie. ʼn Mens dink onwillekeurig aan Krige se verhewigde romantiek en meesleurende ritmes, geplaas teen ʼn buitelandse agtergrond, en daarmee saam sy fassinasie met plekname en hul klankwaardes, soos in “Tram-ode”.

Dit behoort vir lesers interessant te wees om hierdie stylaspekte te onderskei. Die poësie is die genre waarin gestileerde taal (innovatief, verrassend nuut , afwykend of noodgedwonge “anders”, maar oortuigend) tot die spits gedryf word; die eiesoortige manier waarop die digter die gedagte-inhoud in taal bewerk, uitdruk en “bespeel”. Tesame met die gekonsentreerde aard van digterlike styl (in die sin van kompaktheid en verdigting) en die oorspronklikheid daarvan (veral ten opsigte van die metaforiek en ander kreatiewe handgrepe, soos by Charl-Pierre Naudé), beskou ek styl as een van die belangrikste elemente van die poësie. Nog ʼn kenmerkende stylaanwending kom voor in die vernufspoësie van Daniel Hugo wat korte mette maak met oortolligheid en hom toespits op pittige, netjiese formulering. Styl en toon neem by elke digter ʼn ander vorm aan, en mens dink hier aan MM Walters, die koning van die satiriese vers (ʼn subgenre wat Johan van Wyk ook hanteer); HJ Pieterse se aanwending van die unheimliche t.o.v. situering en beelding; Louis Esterhuizen se knap gebruik van die herhalingsbeginsel waar passie, beeld, politiek en plek saamgetrek word; en die roerende elegiese vers van Wilhelm Knobel. Hopelik sal die feit dat nie alle digters in my bespreking vermeld word nie, lesers aanspoor om hulle in hierdie antologie te gaan soek; dink aan formidabele digters soos die Louw-broers, Kirsch, Rousseau, en andere wat elkeen iets besonders aan die bloemlesing toevoeg.

Wat die keuse van die gedigte betref, het die samestellers op ʼn wye doek gewerk om ʼn beeld te skep van die aard, omvang en ontwikkeling van die ryk Afrikaanse poësielandskap. Dit word aanvaar dat elke bloemleser, op grond van persoonlike voorkeure en akademiese  oorwegings, ʼn ander versverskeidenheid sal aanbied, en dat ook resensente en hul medelesers hul eie verwagtinge sal hê. Vir my is dit vreemd dat daar nie ook geput is uit die oeuvres van Gilbert Gibson, Tom Gouws, Johan Myburg, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Marius Crous, Martjie Bosman, Carina Stander en ander bekroonde digters nie. Ter wille van balans sou van die ander bydraes gesnoei kon word om ruimte te laat vir van die bogenoemde digters se werk. Ewe jammer is dit dat daar nie toestemming verkry kon word om sekere van ons knapste digters soos Stockenström, De Lange (albei Hertzogpryswenners) en andere se gedigte te plaas nie.

Hierdie antologie behoort nietemin lesers te inspireer om nie net die digkuns van uiteenlopende digters te bestudeer en geniet nie, maar om die Engelse vertalings as ʼn waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse poësieskat te erken en bewonder.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Afrikaans poems with English translations. (Samestellers: van Coller, van Vuuren & Viljoen)”

  1. Helize van Vuuren :

    By alle respek vir Guy Butler se “Winternag”-vertaling, staan een hiaat in die vertaling soos ‘n seer vinger uit: die “druppel van dou” wat sentraal is in “elk grashalm se vou”. Daarsonder mis die vertaling iets aan die kern, miskien die essensie van die vers…Selfs in Sidney Clouts se oeuvre die ikoniese beeld wat vir ‘n hele tradisie staan waarop hy bou: “dew on a shrub” (sien Dan Wylie se boek, Intimate lightning, 2018). Hy wat Clouts is verwys hiermee hoogs waarskynlik na presies daardie by-Butler-ontbrekende-blinkende-dou-druppel van onse eige Marais (al gaan soek Dan Wylie die impuls ook hoe ver in metropolitaanse Ingelse waters!).

  2. Zandra Bezuidenhout :

    Helize, daardie beeld kom wel in die tweede strofe van die vertaling voor (in ooreenstemming met die posisie in Marais se gedig):

    “In each grass blade’s fold
    a dew drop gleams bold,”

  3. Helize van Vuuren :

    Misgekyk! dankie, Zandra…
    (maar nietemin nimmer saamstem dat die versvertaling die oorspronklike “ewenaar”…)

Los kommentaar