Carina van der Walt. Vadermoord?

 

Tydens die Tuin van Digters 2018 ontmoet ek toevallig Trienke Laurie aan die ontbyttafel in ons gesamentlike gastehuis. Ek weet onmiddellik waar sy in die Afrikaanse literêre wêreld pas. Sy is die dogter van D.J. Opperman. Ek onthou selfs dadelik dat sy met haar eie gedig gereageer het op die digterskap van haar vader. Die twee gedigte is vyftig jaar uit mekaar geskryf. Hulle staan teenoor mekaar in die bloemlesing Versreise. Beide die gedigte het my jare terug baie beïndruk. Daarom kon ek dit nog so goed onthou toe ek hierdie digter in Wellington raakloop.

 

Digter

Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op ’n Ceylon verban

waar al my drange
na ’n verlore vaderland
my dag na dag geëiland
hou met horisonne en verlange,

en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers

wat groei tot boeg en mas
en takelwerk – en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.

D.J. Opperman (Negester oor Ninevé, 1947)

 

Ingeperk

Ek loods deur bottelnek
nie luuksueus ’n lynboot
maar eenvoudig en onperfek
van kiel tot lyboord
stuk vir stuk
sonder grootdoen: ’n galjoen.

Moeisaam woord vir woord
ten spyte van kitsgom –
van antoniem en oksimoron
uit tesourus en woordeboek
wat oseaanbote stroombelyn
– bly ek die patryspoort soek.

Trienke Laurie (Skietspoel, 1997)

 

 

Wat was die skrywersverhouding tussen pa en dogter? In die literêre wêreld is dit sedert Harold Bloom se The Anxiety of Influence (1973) bekend dat digters in hulle kreatiewe proses ondermyn word deur ’n ambivalente verhouding met hulle digtende voorgangers – iets wat hulle noodwendig in stand hou. ’n Nuwe digter word geïnspireer om te skryf omdat hy ander digters gelees het en hulle werk bewonder. Maar hierdie bewondering slaan vinnig om in ’n wrok wanneer die nuwe digter ontdek dat die digters wat hy idealiseer al alles geskryf het wat hyself hoop om te skryf. Die invloed van sy digtende voorgangers veroorsaak gevoelens van angs by die jonger digter, want hy weet goed hoe belangrik ’n oorspronklike poëtikale visie is om sélf as digter te kan oorleef. DIT is Bloom se sentrale tesis in sy psigoanalitiese literêre kritiek wat beïnvloed is deur Sigmund Freud, grondlegger van die psigoanalise.

Freud het in Die Traumdeutung (1899) die menslike drifte en die onbeheersbaarheid daarvan as één geheel tussen gees en liggaam beskryf. Sy drifteorie lê weer ten grondslag van die oedipuskompleks, waarin die kind deur sy eie ontluikende seksualiteit ’n bepaalde instinktiewe erotiese verbintenis met ’n ouer van die teenoorgestelde geslag ontwikkel en die ander ouer as kompetisie sien. Die oedipuskompleks ontstaan volgens Freud veral by seuns, wat aangetrokke voel tot hulle moeders en hulle vaders as teenstanders beskou. Die oedipuskomplek is Freud se psigoanalitiese interpretasie van die Oedipus Rex, ’n klassieke Griekse tragedie. In hierdie tragedie beskryf die digter Sophokles die noodlot waarin Oedipus onwetend sy eie vader vermoor.

Dat ’n soort vadermoord in Laurie se geval literêr miskien noodsaaklik was, sou sy haar eie stempel deeglik op die Afrikaanse poësie wou afdruk, kan in die lig van bogenoemde psigoanalises van Bloom en Freud beredeneer word. Maar geld dit nie vir alle kinders van digters wat ook met die dieselfde talent van hulle ouers begenadig of veroordeel is nie? Die ontstaan en voortbestaan van die jonger digter word herken as hy literêr gesproke met iets totaal ánders vorendag kom as sy vader. Dan is daar in die poësiewêreld ruimte vir albei.

Bogenoemde twee gedigte van Opperman en Laurie begin albei met die persoonlike voornaamwoord “Ek” – selfbewus neergepen in hulle onderskeie posisies as digters. Laurie sluit volgsaam by haar vader se onderwerp aan. Vir hóm is Digter sy ars poëtica – ’n gedroomde reis, ingeperk in ’n glasbottel. Laurie pik hierdie ingeperktheid van haar vader op en gebruik dit as titel vir haar eie bootjie-in-’n-bottel-gedig, maar haar woorde gaan visueel nie so maklik deur die smal bottelnek nie. Sy neem meer ruimte in beslag daarmee. Verder rym sy in haar gedig eerder toevallig as doelbewus. Opperman se woorde kom wél deur die bottelnek. Hulle is korter, kragtiger en eenvoudiger as Laurie se woorde soos “luuksueus”, “oksimoron” en “tesaurus”. Hierdie “moeilike” woorde kan netsowel ’n weerspieëling van Laurie se stryd met haar eie digterskap wees, want Skietspoel was haar debuutbundel. As dogter van ’n befaamde digter moes sy die hoogspringlat vir haarself hoër as ander beginnende digters lê, wetende dat haar digwerk tot hooggespanne verwagtinge aanleiding sou gee. Dit het waarskynlik haar skryfproses baie ingewikkelder gemaak as by digters sonder die “belemmering” van ’n beroemde, skrywende pa. Vader en dogter gebruik beide neologismes: Opperman “geëiland” en Laurie “onperfek”.

In Wellington skuif Laurie haar jongste digbundel vir my oor die tafel. Koebesie is in 2017 gepubliseer. Op die agterblad word die bundel beskryf. “Sy kyk introspektief na die roeping om ’n digter te wees: sy is ’n werkerby wat nekter versamel, word ’n potterbakker in ou Griekeland en ’n glasblaser in moderne België. Maar aan die einde keer die by terug na die korf, gereed om haar ervarings met die ander bye te kom deel.”

 

 

Digter

Ek is ’n werkerby
soek stuifmeel
ruik op ’n afstand
ondersoek in polders
in olyfboorde
tussen denne –
alle oorde;
raak verkleef aan korrels
en borsel hulle af
ek verwerk hulle tot heuning
berg dit in kratte amber –
versteende nektar van die gode.

Trienke Laurie (Koebesie, 2017)

 

Digter is die openingsgedig in Koebesie. Visueel opvallend is dat Laurie twintig jaar na Ingeperk wél daarin slaag om haar woorde in Digter deur die smalte van ’n bottelnek te loods. Maar dit is nie ’n bootjie-in-’n-bottel-gedig nie. Hierdie vroulike “werkerby” voldoen aan die eis wat haar vader ooit aan ontluikende digters in sy Letterkundige Laboratorium aan die Universiteit van Stellenbosch gestel en self ook nageleef het: om te kan skryf moet die digter reis. Laurie het dit intensief gedoen. Sy is wyd berese. Die eerste sewentien gedigte in Koebesie het die Lae Lande as agtergrond, veral België. ’n Oorgrote meerderheid van gedigte (vierendertig) speel in Griekeland en die Griekse Oudheid af. Sophokles se Grieks is die bron van ons Westerse letterkunde en die plek waar veelgodedom in die Griekse Mitologie geheers het. Koebesie se laaste tien gedigte speel lukraak in die ooste van Europa af: Rusland, Pole, Oostenryk. Vir poësielesers wat nuuskierig is oor ander lande en kulture is hierdie gedigte (dikwels in parlando geskryf) opvoedkundig en net die regte leesstof, want Laurie dig ook as ’n belese wêreldburger.

Laurie verwys na haarself as ’n “werkerby”. Sy is dan volgens die HAT “een van die swerm vroulike bye van ’n korf wat nie eiers lê nie, maar ’n reeks take in en om die korf verrig, soos om gedurende die laaste 20 dae van hulle lewenssiklus nektar en stuifmeel van blomme te versamel”.

Koebesie se bundelomslag is ’n uitbeelding van bye by ’n byekorf vaag op die agtergrond, maar die visuele beeld is in kontras met die taal van die titel. Die woord “koebesie” beteken volgens die HAT “hommel”, wat ’n “mannetjie van die heuningby; waterdraer; koebesie” is. Daarby word ook ’n kwalifikasie (streektaal) gegee, maar ek sal nie weet in watter streek in Suid-Afrika hommels voorkom nie. In Nederland leef ongeveer dertig soorte hommels. Die wetenskaplike naam vir ’n hommel is Bombus. Dit beteken zoem en kom oorspronklik uit Grieks. Hommels is groot, harige bye wat by lae temperature kan oorleef en wat ook nektar versamel soos heuningbye, maar nouliks heuning maak. Hulle maak net heuning vir eie gebruik wanneer daar ’n voedseltekort is. Hommels is die manlike binnekamerdigters van die natuur.

 

Koebesie

Die koebesie
behalwe vir steek
poer-poer en hommel-hommel heeldag
help met die nes afkoel
deur sy vlerke te woer-woer.

 

Speelse klankdigte soos Koebesie steek kort-kort kop uit. Enkele voorbeelde is Alles oor die inlê van olywe (p.26), Seekat op Minoaanse amorfa (p.40) en In die Dolomiete (p.65). Die indrukwekkendste reeks oor die verskillende plekke waar ’n “towerklip” kan aandoen en wat dit alles kan beteken, staan in dertien gedigte onder die titel Amber. As inleiding én slot vir hierdie reeks geld ’n paar reëls na aanleiding van die Engelse bioloog en televisiereeksmaker David Attenborough:

Gee my ’n stukkie barnsteen
en ek profeteer
oor vergange tye heen

Die stukkie barnsteen reis van Duitsland af deur Italië na Engeland en terug deur Europa na Pole en na ’n geliefde Griekeland toe om oor die tyd heen ook by Gondwana aan te doen. Stelselmatig word dit met die deurlees duidelik dat daar onder die insekte wat in die amberkleure barnsteen vasgevang is ook ’n byelyfie hang. In die vierde gedig uit Amber word dit duidelik.

 

4. Werkerby

Uit ’n dennewond syg stadig sug
wat tot harpuis verhard;
en in die stollende hars,
in die oomblik van beweging,
is insekte vasgevang – geïnsuleer
binne ’n goue deursigtige klont.
Nie platgepers soos deur ’n rots,
maar ruimtelik, sien ons nog die insekte:
kan ons die koebesie hoezit-hoezit
deur die slakkehuis hoor hommel,
sien ons hoe swaar die werkerby dra
en aan haar bondel swoeg,
die stuifmeelkorrels korf toe sukkel.

Die by styg van sy blom af op
waarvan die geur hom bereik het
voordat enige mens hom geruik het
selfs nog vóór die mens se bestaan;
dus voor die digter hom kon besing
gons hy al oor die blom,
styg die by steeds zoemend
bo sy blom in die versteende gom.

 

Laurie se slotdig in Koebesie is Terug na die korf (p.79). Sy is met hierdie bundel beslis nié Afrika-gerig nie. Afrika-gerigtheid is eerder iets waarvoor vader Opperman se oeuvre bekend was. Opperman het vir homself ’n evangeliese taak as digter toegeëien; ’n sterk religieuse element wat verstrengel was met sy siening van wat esteties is in ’n private “religio poetae”, skryf Helize van Vuuren in Perspektief en Profiel 2. Laurie gaan nie sover nie, maar in aanraking mét en uitgedaag déúr die vele gode van antieke Griekeland skroom sy nie om die Christendom te verdedig nie. Geen van beide staan onaangeraak deur religie nie.

 

Terug na die korf

Die werkerby keer terug
met nektar van die ver blom
en voor die reisiger op die skerm
volvoer sy haar dans van die son.

 

By-in-’n-barnsteen-gedig versus bootjie-in-’n-bottel-gedig. Hoe éénders kan vader en dogter nie nog steeds oor ’n tydperk van sewentig jaar dig nie? En tog was Laurie se digwerk destyds ánders genoeg sodat sy in 1999 die Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel Skietspoel ontvang het. En vadermoord? Miskien is dit ‘n te sterk woord. Dit was nie nodig nie!

 

Bronnelys

Bloom, H. 1973. The Anxiety of Influence: A Theory of Poetry. Oxford University Press : New York.
Freud, S. 1899. Die Traumdeutung. Franz Deuticke : Wenen.
Laurie, T. 2017. Koebesie. CORAL PUBLISHERS : Vanderbijlpark.
Luther, J. (et al.) 2015. HAT, ATKV Gedenkuitgawe, 6de uitgawe. Pearson : Kaapstad.
Vermaak, A. (et al.) 2001. Versreise. Tafelberg : Kaapstad.
Van Coller, H. (red.) 1999. Perpektief & Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. J.L. van Schaik : Pretoria.

Bookmark and Share

Comments are closed.