Resensie: Tussen toeval en willekeur (Kobus Lombard)

Tussen toeval en willekeur deur Kobus Lombard. (Naledi, 2018, ISBN: 978-1-928426-34-9, Formaat: Sagteband, 63p.)

Resensent: Amanda Lourens

Tussen toeval en willekeur, die digter Kobus Lombard se vyfde digbundel, is nóg ‘n keurig versorgde publikasie van Naledi, wat duidelik ál sterker na vore tree as ’n rolspeler om mee rekening te hou in die Afrikaanse poësiesisteem.

Lombard het homself sedert sy debuut in 2003 gevestig as ‘n digter van klein verse waarin besondere momente dikwels fyn geregistreer word, en Hambidge (2015) beskryf sy vierde bundel, Skadu oor die  sonwyser (2015), as “’n delikate klein bundel; ’n optekening van ’n lewe en landskap, sober beskryf.” Oor  hierdie bundel skryf Smith (2015) dat dit “stil poësie” is (wat sy nie noodwendig as negatief beskou nie), maar sy waarsku dat Lombard se oeuvre die gevaar loop om eerstens in eenselwigheid, maar uiteindelik vergetelheid te verval.  Taljard (2015) vergelyk Lombard se digkuns met die kuns van bonsai, gekenmerk deur die klein maar fyn gekonstrueerde opset daarvan. Tog waarsku sy ook in haar resensie teen ’n eenselwigheid, wat sy veral vind in die byna deurgaanse digtersprocédé van ’n soort Shakespeariaanse sonnet – waar die slot van die gedigte telkens die verdieping of insig bring.

Dit is dan teen hierdie agtergrond dat ’n mens die nuwe bundel in die hand neem. Die afbeelding van die Namibiese duinelandskap op die voorplat suggereer die belangrike rol wat die Namibiese wêreld (soos in die vorige bundels) gaan inneem, terwyl die opvallende spel van lig en skadu die leser laat wonder wat die moontlike verband met die twee skynbare pole in die titel is.  ’n Aanduiding word gevind in die derde gedig in die bundel met die titel “Toeval en willekeur”, waarin die digter oor sy eie digproses skryf:

ek het ’n nuwe skryfplek

’n kantgordyn met vars patrone

die greine op my tafel

loop om ’n ander kwas

op die wit ringmuur

blom bougainviileas

dieper pers

.

tog rangskik ek steeds

woorde en spasies

met toeval en willekeur

binne die perke

van waarskynlikheid

Wat hieruit af te lei is, is dat die digter homself beskou as ’n skeppende instansie – moontlik nie sonder ’n toespeling op die Goddelike nie – wie se instrumente taal, maar ook sy teenhanger, stilte, is (en dus lig en donker eggo); wie se aktiwiteite op beurtelings toeval en willekeur berus, maar steeds – soos die heelal – deur die wette van waarskynlikheid beheers en aan bande gelê word. Die klem in die bundel, volgens hierdie interpretasie, sal dan waarskynlik wees op die digter se toevallige én willekeurige handelinge ten einde te skep, maar ook op al die ontelbare kombinasiemoontlikhede tussen die twee uiterstes. Terselfdertyd kan die leser verwag dat die digter sal skryf oor die resultate van ’n Goddelike skeppingsaksie (want wél blyk die digter om gelowig te wees, soos onder meer die slim bedinkte “Skepper” [ p.22] laat deurskemer) wat deur dieselfde twee impulse gedryf word, maar steeds ook die wette van waarskynlikheid gehoorsaam.

Die digterlike skeppingsproses waarvan daar in “Turbulensie” (p.7) sprake is, verwys die leser dadelik terug na Opperman se siening van kunsskepping as bevrydingsproses (“Engel uit die klip”), maar dit is tog ’n gedig wat nie oor die nodige innerlike binding beskik om hierdie gedagte op ’n oortuigende wyse aan die leser voor te hou nie.  Ook bly die verband met die titel onduidelik.

Die verkenning van die lewe rondom hom speel veral ’n prominente rol in die eerste afdeling van die bundel, waar die digter optree as waarnemer en optekenaar (’n welbekende en al deeglik ontginde tema in die Afrikaanse literatuur, soos veral deur Opperman ondersoek). “Onsienlike gode” (p.5) se laaste drie reëls lui:

[…]

Ná middernag staan ’n digter op,

Neem stelling in met pen en papier,

Om rekenskap te gee.

In die gestroopte, netjies afgewerkte “Woordkapper”(p.9) word die digterlike ambag met dié van houtkapper vergelyk, maar die slot , tipies van Lombard, bring die volgende angel-in-die-stert-gedagte:

Geen kern laat hom ontbloot

sonder splinters wat dreig

om die oog te verblind.

In die tweede afdeling bemoei die digter hom veral  met die religieuse, en slaag veral daarin om sy eie Namibiese omgewing met die Bybelse, maar ook met elemente uit die Westerse geloofstradisie te verbind.  Lombard lewer blyke van ’n geskakeerde nadenke oor die Goddelike, en belangrike religieuse vrae (en selfs kritiek) word uitgespreek in gedigte soos “Goeie herder” (p.15), wat nie sonder ironie is nie, en ook in “God van Gobabis” (p.18) waarin die bonum en die malum van die groter skepper aangeteken word.   Ek haal graag laasgenoemde aan as voorbeeld van Lombard se gawe om helder, fyn bewerkte verse te skryf; hierdie gedig slaag dan ook met suksesvolle enjambemente daarin om te ontkom aan die slaggat van ’n té berekende slot:

ek ry na Gobabis

om te hoor of dieselfde God

van die toringkerke

– net  suid van Nikodemusberg –

nog sy hand oor die stofstrate hou

of Hy steeds bek-en-klouseer

saam met die droogte stuur

en ná die eerste reën

die hele dorp laat saamdrom

om te baljaar as hul verlosser

in die Swart-Nossob afkom

Die derde afdeling bevat baie geslaagde liefdesgedigte, soos “Vierkuns” (p.24) waarin die digter bewustelik na sy eie oeuvre verwys, en ook die bedrewe “Lied sonder woorde” (p.27) waarin die bedrieglike aard van die woordkuns aan die orde kom, en daar beding word vir “’n lied / sonder woorde” as die ware voertuig vir ’n eerlike liefdesbetuiging:

waak teen die lied

wat die liefde bloot wil lê

die woordbedrewe minnaar

kan jou lippe besing

sonder dat jy wis

wie agter die lier

van die wilger skuil

.

straks moet hy sy lied

sonder woorde sing

die stilte vertrou

om die klank

van liefde te dra

Die Afrika-landskap en -realiteit, soos veral gestel teenoor die Europese wêreld, is die saambindende draad in die vierdie afdeling, wat die leser natuurlik ook aan Blum se oorspronklike kartering van hierdie soms skreiende teenstelling herinner.  Afrika en Afrika-elemente word hier verbind aan die natuurlike, en word die draers van ’n eko-boodskap; terselfdertyd word daar kritiek gelewer teen Westerse ordesisteme – vergelyk byvoorbeeld “Ou lokasie” (p.34). ’n Hoogtepunt in hierdie afdeling is “Selfverwesentliking” (p.41) wat opgedra word aan Abraham Maslow, vader van die welbekende behoeftehiërargiemodel, en waarin die arrogante toeëiening van natuurervarings deur bevoorregte verwesterde mense gestel word teenoor die lot van diegene wie se ryk kultuur juis deur verwestering verwoes is.  In dieselfde trant kritiseer die gestroopte “Kennisbestuur” (p.40) die appropriasie van inheemse kennis deur  Westerse kennissisteme:

noukeurig vors hulle na

die gekondenseerde vog

waarvan toktokkies leefs

staan met togas later

gereed om sertifikate

met rooi seëls te ontvang

.

aan die droë loop

van de Kuiseb

oorleef die Topnaars

op die !Nara plant

met eeue oue

wysheid aan die voete

van die woestyn geleer

’n Gedig oor twee naas mekaar bestaande lewens, maar wat tog geskei word deur die afgrond van ’n sosio-ekonomiese realiteit, word aan die orde gestel in “Twee vroue” (p.42). Die digter bied geen oplossing aan vir die enorme kloof tussen twee lewenswyses nie, maar die leser word wel aan die hart geruk deur die uiters realistiese beskrywing van ‘n toneel wat hom daagliks in talle gegoede Suid-Afrikaanse huishoudings afspeel wanneer die huishulp aanmeld vir haar dagtaak, wat daarop gemik is om die eienaars se bevoorregte lewenstyl in stand te hou.  Die digter sou hier dalk kon oorweeg om die gedagte van toeval en willekeur aan hierdie gedig te skakel, of ten minste die leser met die vraag te laat oor die rol van hierdie twee faktore in die beskikking van die mens se plek in die samelewing.

Afdeling V bevat besinnende gedigte oor onder meer die universele aard van menswees (“Konstante veranderlike”, p.47), die ontglippende aard van die waarheid (“Waarheid”, p.45) en die fundamentele verskil tussen menswees en die nielewende dinge (“Duine”, p.50).  Laasgenoemde gedig is ’n voorbeeld van Lombard se vermoë tot fyn kontemplasie en die optekening van die kwintessensiële:

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ’n vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer

Die besinnende aard word voortgesit in die sesde afdeling, waarin die verganklikheidsbesef ook al hoe sterker na vore tree.  Die digter se wens om die groter skepping beter  te ken en ook te peil, word verwoord in ’n gedig soos “Bywoner” (p.62):

ek wou nog weet

hoe die berge ontstaan het

hoekom my kontinent

steeds wegdryf van Suid-Amerika

soveel voëls wat om my tjirp

en grasse wat teen my enkels skuur

se name ken ek nie

.

ek wou nog uitvind

hoe my hart weet om te klop

en my oë om te knip

hoekom God my liefhet

en my naels selfs na die dood

nog aanhou groei

Dit sterwensbesef (wat prominent in die laaste afdeling van die bundel is – vergelyk onder meer ook “Skaduwee”[p.61] en die slotgedig “Siklies”[p.63]) blyk duidelik in hierdie gedig, en waarskynlik probeer die digter kommunikeer dat hy enersyds opstandig is, maar andersyds tog berus in die feit van sterflikheid, en hom dus oorgee aan die menslike lot wat êrens tussen Goddelike willekeur en die hand van die toeval gesuspendeer is.  Dit is tog my beswaar dat hierdie soort spanning nie regtig in veel diepte ondersoek word nie, en dat die leser op kognitiewe vlak ietwat onbevredig gelaat word met ’n redelike yl aanbod wat betref besinning oor die moontlike aard van die verhouding tussen toeval en willekeur as die dryfvere in ’n skeppingsopset. Dis is juis dan wat ek wonder of die keuse van die bundeltitel nie dalk té ambisieus was nie – ‘n geval waar die digter nie heeltemal die dwarslat bykom wat deur die titel in die vooruitsig gestel word nie?

’n Baie verdienstelike gedig met die sterwensbesef as tema, is wel “Gawe van vergeet” (p.56), waarvan die bekoring juis geleë is in die viering van ’n moment, en sonder dat daar veel gewag  gemaak word van gedagtes aan die sterflikheid wat in alles skuil.  Alhoewel hy die gedig opdra aan Paul Ricoeur met dié se ondersoek van die komplekse verhouding tussen vergeet en onthou in Memory, History, Forgetting, kan die Afrikaanse leser hom/haar eintlik nie verhelp om die roos – en die ander skuilhouplekke van die ondergang – in “Winternag” te onthou nie:

as ek nie meer kan onthou nie

sal ek my steeds verwonder

dat rose naamloos blom

sonder die pyn

dat die rooiste roos

so seer na liefde ruik

.

as ek nie meer kan onthou nie

sal wintervuur se flikker

my steeds betower

sonder die vrees

dat hy al smeulend

ons albei se suurstof steel

Dit is moontlik so dat Lombard se digkuns nie van grootse opset is nie. In wese is dit steeds ’n digkuns van die klein gedig, maar nie noodwendig sonder diepgang nie. Dit is wel verse wat toeganklik is vir waarskynlik ’n breë gehoor, en wat deur alle woordsensitiewes waardeer kan word vanweë die besliste vakmanskap wat Lombard hier tentoonstel.

Die digter het volgens my in hierdie bundel wel daaraan geslaag om grootliks die gevaar van eenselwigheid te systap, en ‘n resensent soos Smith se waarskuwing dat Lombard se poësie nie werklik in gesprek tree met die bestaande literatuur nie, is klaarblyklik ter harte geneem. Die lees van die bundel is uiteindelik bevredigend, en laat, soos in die geval van vele volwasse digters se werk, ’n naklank van behae.

Bronne

Hambidge, J. 2015. Kobus Lombard – Skadu oor die sonwyser. Woorde wat weeg [Aanlyn]. Beskikbaar: http://joanhambidge.blogspot.com/2015/04/kobus-lombard-skadu-oor-die-sonwyser.html

Smith, S. 2015. Resensie: Skadu oor die sonwyser deur Kobus Lombard. LitNet [Aanlyn]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/resensie-skadu-oor-die-sonwyser-deur-kobus-lombard/

Taljard, M. 2015. Resensie: Skadu oor die sonwyser (Kobus Lombard) [Aanlyn]. Beskikbaar:  http://versindaba.co.za/2015/04/10/resensie-skadu-oor-die-sonwyser-kobus-lombard/

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*