Wicus Luwes. Die verplaasde pyn van Ingenieur Jacobs

Tandpyn is ‘n lelike ding! Dit is nie net die tand wat treur of kwaad is oor die pyn nie: Jou hele liggaam baklei teen die inflammasie of is in skok oor ‘n oop wond of senuweepunt. Ek het so ongeveer drie weke van die feesseison met tandpyn geworstel. My tand het eers net gepyn wanneer ek iets geëet het. Dit het later vir ‘n halfuur aangehou en het toe gevorder totdat dit nie meer einde wou kry sonder hulp van ‘n pynpil nie. Die laaste aand voordat ek tandarts toe gegaan het, wou die pyn nie meer weggaan nie en kon ek nie slaap nie. Daar was pyn in beide ‘n boonste en onderste tand. Ek het aan die tandarts verduidelik dat ek vermoed dat die probleem by die boonste tand lê, maar dat die onderste tand nou ook seer begin raak het. Min het ek geweet dat tandpyn my sou lei na ‘n bitter interessante konsep. Die tandarts het gesê dat hy vermoed dat die onderste tand nie werklik die oorsaak van die pyn is nie, maar dat dit slegs ‘n verplaasde pyn is.

re·ferred pain
pain from deep structures perceived as arising from a surface area remote from its actual origin; the area where the pain is appreciated is innervated by the same spinal segment(s) as the deep structure.
Synonym(s): telalgia
– Farlex Partner Medical Dictionary © Farlex

Ek vind dit interessant dat die liggaam ‘n leuen vir my kan vertel. Die plek waar die pyn voorkom, is nie noodwendig die plek waar die pyn ontstaan nie. Die liggaam doen dit net om aandag te trek, maar my vertroue is geskend. Ek wonder sommer oor watter ander dinge my liggaam ook vir my lieg! Ek het natuurlik dadelik na die strooihalms van die internet gehardloop in ‘n poging om definisie aan die konsep te gee. Voorbeelde van verplaasde pyn sluit die volgende in: Die linkerarm wat pyn as jy ‘n hartaanval of skynhartaanval sou kry. Breinvries wanneer jou tong of keel aan roomys blootgestel word. Wat sou die verskil wees tussen verplaasde en verwysde pyn? Is daar moontlik raakpunte?

 

Selfportret

Kan die gesig alles sê, oog en mond,
oor en haar – dat jy meer water is,
met geheue soos spier en senuwee,
boodskappers van die brein.
Moet die portret die skyn bewaar,
lieg oor wellus en die bose;
skadu van lig laat val op droefheid
en blydskap, deernis en twyfel
verbystering, verwondering;
onderbewuste se duister gang,
idioom van genade,
koue van afkeer en spyt?

Het Van Gogh in sy portret
die wêreld na die hel gestuur:
Stoppelbaard om verbete mond,
vuuroë met kinkel in die lid,
sydelings gedraai –
opstand teen sy eensaamheid?

Kan die gesig tog sê,
moet ek eers leer wie ek is,
beelde aan die vergetelheid ontruk,
vorm kleur en lyn
aan ‘n enigma gee?

 

deur Dolf van Niekerk uit ‘Portrette uit my gang’

 

 

Khalil Gibran skryf die volgende:
“Your pain is the breaking of the shell that encloses your understanding.

It is the bitter potion by which the physician within you heals your sick self.
Therefore trust the physician, and drink his remedy in silence and tranquility:
For his hand, though heavy and hard, is guided by the tender hand of the Unseen,
And the cup he brings, though it burn your lips, has been fashioned of the clay which the Potter has moistened with His own sacred tears.”

Pyn is selde een-dimensioneel. Die brein besef dat die liggaam in gevaar is en begin om jou te waarsku. Pyn en die rede vir die pyn is nie noodwendig direk aan mekaar verbind nie. Ek wonder hoeveel ledemate en organe al afgesny en uitgehaal is as gevolg van verplaasde pyn. Ek wonder ook wat iemand doen wat steeds pyn ervaar nadat ‘n verkeerde tand getrek is.

My gedagtes skuif na die moontlikheid van verplaasde of verwysde pyn in die sielkunde. Ek ken ‘n dame wat nog nooit weer haar man se klerekas oopgemaak het sedert hy gesterf het nie. Daardie kas moet mos ‘n vorm van verplaasde of verwysde pyn wees. Die kas pyn wanneer sy daarby verbyloop. Die kas se deure kraak wanneer sy na haar oorlede man verlang. Die vraag is nou of dit die rouproses aan sal help as ‘n mens die kas namens haar ontruim. Miskien moet sy eers die rouproses oplos, voordat sy die kas uit sal kan pak. Verplaasde pyn het sekerlik nie altyd ‘n vaste rigting nie.

Plakkaat van ‘n onlangse film-weergawe van ‘Ek het jou gemaak’ wat as deel van die Silwerskermfees vervaardig is

Verplaasde pyn lyk ook al meer of dit ‘n soort metafoor vir die pyn kan wees. In hierdie geval sou dit seker goed wees as die geneesheer, tandarts of sielkundige ‘n liefde vir tale het. ‘n Mens begin mos eers werklik ‘n taal verstaan as jy sy metafore kan begin gebruik. Die eerste verhaal wat in my gedagtes vassteek is Jan Rabie se ‘Ek het jou gemaak’. Ingenieur Jacobs kry ‘n waspop om sy vrou te verteenwoordig. Jacobs praat met die pop asof sy lewendig is, maar die pop praat natuurlik nie terug nie. Andries maak sy verskyning. Andries is ‘n robot wat deur Ingenieur Jacobs gemaak is om die leemte van ‘n ander persoon te vul. Die waspop word ‘n plekhouer vir die ‘dood’, en Andries (die robot) word ‘n plekhouer vir lewe. Hoe ironies is dit dan nie dat Jacobs die definisie van ‘lewe’ aan Andries verduidelik nie.
Die definisie van liefde as ‘aanhou beweeg en geraas maak’, het al vasgegroei aan Afrikaans as taal. Andries se verwysings na beide dood en lewe as ‘nimmer altyd’ is vir my ‘n vorm van verplaasde pyn. Die dood word ‘n plekhouer vir die lewe en die lewe word ‘n plekhouer of metafoor vir die dood.

Ek probeer deurlopend om die films van Andrei Tarkovsky op te spoor. Ek het verlede jaar sy film ‘Solaris’ gekyk. Op die oog af lyk dit na ‘n wetenskap-fiksie film wat oor ruimtereis gaan. Die ruimtestasie en vreemde planeet bied egter net ‘n plek vir Tarkovsky om die invloed van pyn op die mens se gedagtes te ontleed. Die ruimtereisigers bestook die planeet met kernwapens, maar die planeet het ‘n vorm van bewussyn. Die planeet verdedig homself deur die ruimtereisigers met pynlike herinneringe in die gestalte van mense te konfronteer. Die pyn verlam hulle pogings om verdere eksperimente uit te voer. Hulle besef ook dat die pynlike herinneringe nie die werklikheid is nie, maar die pyn gaan nie weg nie. Aan die einde van die film besluit die hoofkarakter om saam met die pyn te leef, eerder as om terug te keer aarde toe.

Skermskoot uit Andrei Tarkovsky se ‘Solaris’

Die verplasing van pyn kan so eenvoudig soos ‘n slegte heup of knie wees, wat die persoon laat waggel in plaas van loop. My kollega het onlangs ‘n heupvervanging ondergaan, nadat hy vir jare rondom die pyn geloop het. Hy moes hulp kry om weer reg te leer loop, want die pyn het sy manier van loop verander. Pyn het die vermoë om die manier waarheen ons daaglikse paaie ons neem, te verplaas.

Nimmer altyd. Altyd nimmer.

‘n Gesprek met ‘n aptekersvriend rondom ‘n braai het in my gedagtes vasgesteek. Hy het my vertel van sekere pasiënte wat ‘n afhanklikheid vir medisyne ontwikkel het. Daar is gevalle waar die pyn nie meer bestaan nie, maar die brein sê vir die liggaam dat dit nog bestaan, sodat dit weer die medisyne kan kry.

Daar is pyn in ons gedagtes wat in die senuweepunte van die liggaam se ingewikkelde elektriese stelsel ontstaan. Somtyds is dit direkte pyn, maar ander kere is die pyn metafore en plekhouers. Somtyds bou ons die plekhouers vir pyn, soos Ingenieur Jacobs. Ander kere leef ons saam met die pyn soos die hoofkarakter in Solaris. Die liggaam jok vir die man wie se been afgesit is, deurdat die deel wat afgesit is steeds juk of pyn. Gelukkig is daar geneeskundiges wat die metafore van die lewe al herken. Terwyl ek met ‘n verdoofde mond uit die tandarts se stoel opstaan, wonder ek wat die ergste is: verplaasde pyn of pyn wat direk aan jou deur kom klop.

 

Lyfwysheid

In bronne van gesag kan almal daarvan lees.
Vir eeue spook die filosowe – meestal mans –
met daardie ondeurgrondelike vraag:
die verhouding van die liggaam tot die gees.

Plato sien die siel toevalig aangeland
in die essentiële kerker van die lyf.
Augustinus vind God in sy dink,
kyk lyfloos al hoe meer na binne in.

Aquinas skei die vorm van die materie,
Descartes die denke van die vlees.
By Hegel, Kant en Heidegger, selde hoe,
bly liggaam altyd sekondêr tot gees.

Maar as die houer vol word en wil stort
tot in diep lag, diep huil, in daardie krag
waarmee ‘n vrou geboorte skenk,
dink ek en het ek lief tot in my naels
en elke haar se punt. Tuimelend.
In die ekstase in. Daarom, uiteindelik, is ek.

 

deur Heilna du Plooy uit ‘In die Landskap Ingelyf’

 

Verder leesstof:
https://www.physio-pedia.com/Referred_Pain

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Die verplaasde pyn van Ingenieur Jacobs”

  1. Ilze Abraham :

    Wow!!! Extremely well written and definitely food for thought!!!

  2. Leon Retief :

    Wicus ek het as voorgraadse mediese student reeds van verwysde pyn geleer. Ek vind jou gebruik van die woord “verplaasde” pyn interessant en beskrywend en wonder of taalkundiges aan een van die twee woorde voorkeur sou gee en indien wel waarom.
    Fantoompyn, wat jy so terloops noem sonder om die woord te gebruik, is op sig self ‘n interessante verskynsel en kan skynbaar redelik suksesvol met spieëls behandel word. Ek sê skynbaar want self het ek geen ondervinding hiervan nie. Dalk sal jy hierdie kort skakel interessant vind:

  3. Wicus :

    Dankie vir die lees Ilze en Leon! Dankie ook vir die interessante skakel en boodskap. Ek leer elke dag iets nuuts!

Los kommentaar

 

*