Breyten Breytenbach. Ligruimte

                                                                LIGRUIMTE

(aantekeninge by die blootlegstelling in die laatgaan van ‘n gedeelde maar gedeeltelik

                                                               oorlede verledeling)

*

                                                                   (vertaaler)

Voëls en verdere vreemde verbeeldingsvlugte. Die verhaal (om iets te herwin, al is dit ook slegs die eie positiewe) is die vertelling van verbygaan. Vertelling kan ‘n vertaling wees as ‘n verhelderende verkenning van die nag se verdwaalspelonk. Vir vele van my vriende is dit ook ‘n vervelling van die wese wat vereelt geraak het onder die verdriet van vervreemding. My vriende vra om vermaking. So ‘n verwarrende versoek ! Is dit nie vermetel nie ? Hulle verwag om verlos te word van verlange na die verlede. Hulle wil vergeet van verval. Hulle bly verbind tot die vennootskap van veiligheid : dat alles wat vuil en verweer en futiel is mag verbrand.

Hulle versoek die versekering van verliefdheid op ‘n verre hede. Die verhaler voel vere vir hierdie visie van vervulling en verheerliking. Waarom sou hy die opvlammende vagevuur van vrees verdiskonteer ? Vir wat sou hy dit vermy ? Vir hom is dit « die verraad van die vis ».

Vertaaler se vertelling kan nie die verontskuldiging van verantwoordbaarheid vergestalt nie. Verwoording is die verwesenliking van vleeslike visioene. Maar die voël vlieg nie vir ewig nie. Die vlag is ‘n valse verwagting van wind. Vir wie ? Vir wat ? Om te verhoed dat vergistering se verwoording onvermydelik verlyf word in verwording, verbystering, verwildering, verwarring en verlies ? Om jou verder te verloor in die vervloeking van onversoenbaarheid met die versnelling van vergeet…

Of is dit te verregaande ?

*

gee jy om as ek sê ek is moeg ?

of mag die gek nie vergeet

hoe maklik dit is om die trog

vrot vrugte uit die oog

te verloor en ewe te vervang

met ‘n vraggie gatvratte geoffer

by ontstentenis van die gom

van woorde vir die synsbruid

van lewe nie ?

*

« Dewyl ik dan zag, dat die man onverzettelyk en met geen reden te leiden was, ging ik na de schipper’s hut, daar de zelfde styf van scheurbuik lag, zoo dat hy zich naaulyks roeren kon.

«Ik zeide hem dierhalven, dat ik ‘t land van de Kaap zeer klaarde en onderscheiden gezien, en ook den tafelberg wel ontdekt had, dat men ‘er vast op mogt gaan ; maar dat de stuurman, dit land voor de Saldanha-baai aanziende, nu voorby de tafelbaai, en dus van de man af zeilde, waar mede ik my geenzins zou willen bemoejen, zoo my, myn swaar huisgezin, en voor al hem, en zoo veel andere lydende persoonen in dit schip, niet zeer veel daar aan gelegen was ; weshalven ik hem bad, doch alle zyne kragten (wilde hy spoedig aan land genezen zyn) in te spannen, en, al was ‘t op handen en voeten, na ‘t half dek te kruipen, om ons doch door zyn gezag te redden, en andere ordre, na eigen ontdekking van ‘t land, hier te stellen.

« Hy deê dit ook aanstonts, kroop op handen en voeten, die ‘er zoo swart als inkt uitzagen, na ‘t half dek, en was zoo ras aldaar niet verscheenen, of hy zag, na dat zich kort ‘er aan de wolken van boven den tafelberg afgescheiden hadden, dien berg, en ook den leeuwenberg zeer klaar, toonde aan den stuurman zyn grove misslag, en ‘t gevaar, waar in hy ons allen, met de Kaap voorby te zeilen, bragt, en belaste hem ons aanstonts daar vlak op aan te zeilen, en toen kwamen wy nog dien zelfven avont omtrent 8 uuren daar op de Rheede ten anker, dankende God voor de zonderlinge genade, die hy ons bewezen had, van ons na zoo veel zigtbaare gevaaren, behouden en zoo gelukkig in de haven van onze begeerte te brengen. »

uit : Beschryvinge van Kaap der Goede Hoope, met de zaaken daar toe behoorende, door François Valentyn, 1726 (uit sy omvattende Oud en Nieuw Oost-Indiën)

*

Ek is daarvan bewus dat ek Onderbewuste, my geliefde van al die jare, moet probeer red. Wat sou haar ook besiel het om hier saam met haar tweelingsuster in die moeras te wil swem ? Kaal soos ‘n gedagte bowendien en onderdien tussen die krokodille in die modderige water ? En buitendit – waar sou my Onderbewuste tog ooit leer swem het ? Nou het die twee van hulle wit en glibberig net onder die oppervlak van die water nie meer beweeg nie. Ek het haar aan die skouers beetgepak om haar uit te sleep op die sand. Sy was swaar en slap en het aanmekaar uit my hande geglip en ek moes versigtig wees om die krokodille nie ongerus of opgewonde te maak nie. Drie van hulle het hoeka baie naby met die snoete net-net buite die moeraswater op die sand gelê, horisontale tanderige periskope, ‘n rits kwalik ingehoue grynslagte, die velle skubberig skurf soos verdorde rowe snot, ek kon die verrotting van hulle smoele ruik. Uiteindelik het ek met veel gesukkel vir O op die wal uitgesleep gekry maar sy het nie gereageer nie. Is sy dood ? Miskien net bewusteloos ? (Asof die bewustelose Onderbewuste sin sou kon maak…) In ‘n koma ? Droom sy ? Droom mens wanneer jy dood is ? (Sou die argument dan dat ek slegs ‘n entiteit is wat deur die dood gedroom is kan water hou ?) Moet ek mond-tot-mond ademing probeer ? Maar sy was nog altyd die asem van my lippe. En ek het haar hulp nodig om haar tweelingsussie uit die water te kry voor die krokodille besluit hulle is honger. Daar is ‘n voetbruggie oor die moeras, miskien omdat ons hier in ‘n natuur-reservaat is. ‘n Skaduwee beweeg oor die bruggie en verdwyn net so gou weer agter ‘n blaregordyn op die oorkantste oewer. Iemand hou ons dop, bespied ons ! Ek hoor ‘n geritsel agter die blare. Dit kan tog sekerlik nie Leser wees nie. Daar is meer as net een van hulle, ten minste twee bonkige bewaarders met blou tatoeërvlamme oor die voorarms. Hulle praat oor ons, bespreek dit of hulle die drenkeling uitgesleep op die wal van die moeras gaan verkrag voordat sy haar kan teësit, voor sy haar positiewe herwin, maar selfs dan sou hulle haar vas kan hou tot hulle klaar gekom het om haar vol saad vir die krokodille te voer. Ek knyp O hard sodat sy by mag kom. Indien sy maar net die oë oop wil maak sal ek vir haar vertel ek het ‘n foto geneem van ‘n kakofonie boomskuite oorhoops uitgesleep bo die hoogwaterstreep : één van hulle behoort tog nog waterdig genoeg te wees sodat ons sal kan ontsnap. Maar sy toon geen reaksie of teken van lewe nie. Ek gaan haar so wragtag nie hier los vir die reptiele en die rowers nie. Laat hulle dan maar baklei oor my Onderbewuste se tweelingsuster wat ek net so in die water gaan agterlaat as aas. Met baie moeite kry ek vir O eers op my rug en toe gedeeltelik oor my skouers – ‘n bietjie soos ‘n beskerming teen die sinneloosheid van mens te wees, ietwat soos ‘n dooie bok. Sy is so swaar soos dooie gewig en sonder enige artikulasie. Ek sal haar uit hierdie geil en groen oerwoud abba na hoërliggende grond. Iewers, onthou ek, is daar ooptes, vars lug, steiltes, selfs ‘n berg. Of sy nou dood is of nie, ek sal haar teen die hang begrawe en klippe oor die graf stapel om die plek van vergeet te mag onthou.

*

(vertaaler)

‘n Man het aan die eindigheid van sy nut vir die gemeenskap of/en die geskiedenis gekom en gewonder : wat het ek nou eintlik om by te dra ? Iets wat sou spruit uit sy ambagskennis. Sy ganse bestaan lank het hy omgegaan met woorde – in en uit, van voor en van agter, in beheer of ontbloot met die broek om die enkels tot vermaak van die volk, in die salons van keisers en in die slote van syn wat hy as duisternis wou simboliseer. Eintlik meer eend as swaan. Veel onsinnige waan. ‘n Kinderagtige afleiding van selfbevrediging, ‘n vertraging in die evolusie van lewe na later lê se lêleegte in vergelyking met sy mede-burgers se brode en brûe en buurtwagte en boeremoord. Dit was nou te laat om tot bekering te kom en te wil leer skiet of toue vleg vir strikke of duiwehokke bou vir noodseine of agter ‘n toonbank wil sit in diepe nadenke oor die kougom wat gekou moet word. Moenie ‘n fout maak nie. Die man het gedog hy wéét sy soort het ook iets om te sê wat indien ongesê gelaat tog ‘n verskil sou maak. Byvoorbeeld : het jy al ooit besef dat skedel aan skede verwant is ? Altemit wel met ‘n el agterna, langsaam soos ‘n gedagte wat uitgegroei het om tot wit te verbeen. En al hierdie konkrete dinge en waarnemings wat verding, die onverbeelde produkte – is dit dan nie ‘n bydrae om die grootklip in die ruim die naam van maan te gee nie ? Is so ‘n begrip nie ‘n onontbeerlike verbeeldingsruimte nie ? Onontbeerlik vir wie of vir wat ? Vir wat dan – so asof die maan niebestaansaanwesigheid uit sou straal as dit nie was vir die man nie. En nou is dit die oog en die geskiedenis. Wees bly, man ! Moenie vra nie. Maar omdat dit verdik het soos ‘n klip sonder enige rede om te skyn of te gaan het die man aan die einde van sy nut vir die geskiedenis gekom.

Toe het die man besef sy onvervangbaarheid is om vir niemand enigiets daarvan te sê nie. Om die ruimte te vergestalt. « En wat sal ek sê het ek geleer behalwe om met woorde om te gaan tot aan die uur van my dood ? » Is dit dan wat bedoel word met ‘selfwoord pleeg’ ? Is dit die palindroom – dat daar pal gedroom word dat die agteruitvooruitgang dalk nek-om gedraai kan word ? Al is die nek ook ‘n paling ? « It’s the shape of what’s not there that matters when you’re preening. »

Maar desnieteenstaande, het die man gedink, indien dit dan so sou wees dat sy onvervangbaarheid daaruit bestaan om vir niemand enigiets te sê nie, om die gemeenskap nie te ontstig deur dit bekend te maak dat hy tog sonder dat hulle dit weet ‘n essensiële funksie vervul waarsonder hulle sou weet dat hy niks het om by te dra nie, is dit beter om sonder ‘n woord uit die geskiedenis te verdwyn. Uitbeelding is immers ‘n verwording van denke.

Aldus het die man besluit om vir hierdie helder besluit/besef ‘n merker neer te sit, die berg uit te klim om ‘n klip neer te lê vir die maan. Soek soort dan nie soort nie ?

 

*

(laat selfportret van die vertaaler)

 

die verlepte ou uil

huil oor landskappe wat nie meer is

wat en waar hulle is

in die tyd toe die mens en sy maaksel

as muil tussen die perd van lewe

en die donkie van sterwe die wêreld

vrygewig kon vervuil met drome

in al daardie nagte se ylende braaksel

geswerf om die paaiemente van ewigheid

geskink te drink in kroeë en krotte en kaias

en vas te verf in ‘n runnik van liefde

.

hoe het dit dan so gou opgeraak ?

hoekom is die baie aias nie meer

hier om geaai te mag word

op vlug na fyndraai se kraai en diepsug nie ?

hoe is dit dan dat die liefde

‘n paai in die skaai is

en vir wat is die kluitjie in die riet

‘n vervloekte attribuut

van nege letters soos ‘n sprinkaan

se kreupel dans oor hierdie papier

van kaalgevrete taal met woorde

nog net die vermolmde skeletraaisels

van muise ?

.

hoekom buil die maan so vrot in die bloekomboom

nog voor die eier uitgebroei kan kraak ?

wat bly oor om saam te neem

as ruilgoed of ritsels

na die skuilkuil van vergaan ?

.

o waarom is die uil so uitgelate

nou die laaste rimpelende reëls van skyn

uitgevee glim in die spieël ?

 

*

(« The waste remains, the waste remains and kills. »)

         – William Empson, Missing Dates

 

toe ek ‘n jong bok was

het ek my besig gehou

met die dinge van ‘n jong bok :

geblêr, kop gestamp, agter al wat ooi is aan

getros, vir soetkoek meestertekste opgevreet,

lustig, totdat my bek swart ink kwyl,

lustig in ander man se tuin geskyt,

mooi saam lang trane gehuil onder die maan

 

nou ek ‘n ou hond is

bepaal ek my by die beoefening van wysheid

van ‘n ou hond :

sitlê in die son,

probeer vang die dêmmitse vlooie,

blaf vir my inkskaduwee asof dit ‘n bok is,

maak of ek nie die tefies se kantbroekiekies

aan die draad raaksien

of op hoef te vreet nie,

kou bene in my drome,

kreun van die styfwordslaap,

huil lang trane onder die maan,

skryf gedigte

(moeisaam)

.

 

(om te lyk)

 

met wat sal ek jou vergelyk ?

met watter slyk van rymdwang sal ek jou besmeer –

liewe, afgeleefde, vrekdrek –

in my soeke om jou lê te maak,

jou bek

eens en vir altyd besweer

soos ‘n geweer sonder loop

as kruk

vir die loop soek na selfbejammerklaery

in die geykte gesanikboek wat jy gedigte noem –

om bevry en sonder ooit weer

oor my skouer te hoef kyk

fluit-fluit aan te kan stryk

ewigheid toe ?

hoe kry ek jou uit my lewe

gekraam in die vergaanwaad woorde

om te lyk

asof jy die dood waardig sou wees ?

agter watter bult moet die afdryfvrug

dan nog ter aarde beklink word

om nie ten hemel te klank nie ?

*

die lewe is een lang teug

om uitasem en sonder wind

by die dood uit te kom

die lint te wil breek

en dan te besef :

doodgaan is nie vir sissies nie

*

(die stilte)

 
« How should we like it were stars to burn
  With a passion for us we could not return ?
  If equal affection cannot be,
  Let the more loving one be me. »
  – W.H. Auden

 

‘n lewe is die geraas

van lemme en van stemme

en smouse wat illussies skreeuend opveil

 

ons kom van nêrens

uit die niet getrek in ‘n skede bloed

en leer ons bestaan om te mag vergaan

 

ter wille van die rym

met foneme se fenomenale

verskynsels van dese en gene aan die lyn

 

van ons bewussyn gehang

soos skimme van wie ons was

elk met ‘n mondjievol preweling

 

of ‘n verroeste fluitjie in die sak

en die honger oë wat so pleit

om onthou om onthou

 

te behou : die voëls se vlug

die waan van landskappe lig

verwelk teen die geboue se fasades

 

maar snags wanneer die uitspansel bewe

en daar geen jakkalse is om na te roep

omdat die maan swart verlyf

 

in die mond van skrywe

wéét ons ons weet

watter stilte in ons roer

.

.

*

Breyten Breytenbach – binne skutmure van die plaas Coornhoop langs die Liesbeeckrivier, ‘n vroeëre grondtoekenning van Jan van Riebeeck. November, 2018

om hier die lig aan te bi(e)d

in ‘n kommetjie

en ‘n gaantjie

 

.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Breyten Breytenbach. Ligruimte”

  1. Waldemar Gouws :

    Wat is dit, wonder ek. Om ‘n aanhaling hierbo van BB aan te pas: “It’s the shape of what’s not there that matters when you’re peering.” Ek is ‘n gulsige leser.

    En ‘n pertinente hele aanhaling: “Uitbeelding is immers ‘n verwording van denke.” Ek wil waag om by te las; te kwalifiseer met …’n verwording van monolitiese denke.

    Goddank is Breyten nie Spartaans nie – ‘n runnik is mos ‘n gerem (geriem) aan ‘n gedagte.