Nini Bennett. Die huls

 

Empatie het baie gesigte.

 

1.

 

Now That We Have Tasted Hope

 

Now that we have come out of hiding,

Why would we live again in the tombs we’d made out of our souls?

 

And the sundered bodies that we’ve reassembled

With prayers and consolations,

What would their torn parts be, other than flesh?

 

Now that we have tasted hope

And dressed each other’s wounds with the legends of our

oneness

Would we not prefer to close our mouths forever shut

On the wine that swilled inside them?

 

Having dreamed the same dream,

Having found the water behind a thousand mirages,

Why would we hide from the sun again

Or fear the night sky after we’ve reached the ends of

darkness,

Live in death again after all the life our dead have given us?

 

Listen to me Zow’ya, Beida, Ajdabya, Tobruk, Nalut,

Listen to me Derna, Musrata, Benghazi, Zintan,

Listen to me houses, alleys, courtyards, and streets that

throng my veins,

Some day soon, in your freed light, in the shade of your

proud trees,

Your excavated heroes will return to their thrones in your

martyrs’ squares,

Lovers will hold each other’s hands.

 

I need not look far to imagine the nerves dying,

Rejecting the life that blood sends them.

I need not look deep into my past to seek a thousand hopeless vistas.

But now that I have tasted hope

I have fallen into the embrace of my own rugged innocence.

 

How long were my ancient days?

I no longer care to count.

I no longer care to measure.

How bitter was the bread of bitterness?

I no longer care to recall.

 

Now that we have tasted hope, this hard-earned crust,

We would sooner die than seek any other taste to life,

Any other way of being human.

 

Khaled Mattawa, 1964

 

2.

 

Die huls

 

’n Vrou het teruggekeer na Kaapstad en begin verander. Soos die vreemde straatname, die verwaarloosde plein in Pretoria het sy bly verander tot sy ná jare bewus geword het van ’n vreemde, onsigbare harnas wat om haar gevorm het. Dit was snags in haar drome wat sy hierdie harnas kon sien en het geweet sy naam is “huls”. Die droomliggaam vermoed veel meer as die wakker, wakende een. Die huls was gevorm deur ’n dik, horingagtige laag chitien en het haar liggaam se kontoere moeiteloos aangeneem en nageboots, in volmaakte sinkronisasie met die vleeslike lyf.

Die vrou het vanaf Lanseria-lughawe vertrek met net ’n smal tas en drie boeke in haar handsak: ’n Bybel, ’n letterkundige woordeboek en ’n kosbare digbundel. Die wolke op die vliegtuigvenster het saamgereis. Sy het tydens die twee uur lange vlug die verskillende skyngestaltes van water betrag, sweisende reënformasies in Gauteng tot sy Kaapstad se helderblou koepel binnegevlieg het.

Dit was koud op die lughawe. Lughawens is altyd koud, ongeag die tyd van die jaar. Die vrou het haar swart leerbaadjie stywer om haar gevou en vir die eerste maal gedink: harnas. Sy sou haar verlede verruil vir ’n nuwe lewe en geliefde. Te midde van die drukgang van baie passasiers kon sy die gapings tussen die vreemdes aanvoel. Leegtes.

Bedags het sy gaan stap om die eensaamheid te besweer. Haar geliefde, wat net so eensaam soos sy was, het haar stiltes begryp, onuitgesproke, of met die volheid van berusting wat slegs twee siele verstaan. Soos katte wat die winterson deel.

Die dorp was oud en waardig en met elke nuwe staproete het sy opnuut bewus geraak van die aura soos ’n ou, koloniale landheer.

Só het die vrou weer een laatmiddag gaan wandel, en voor sy die deur agter haar gesluit het, het sy doodseker gemaak die huls is in plek.

By die eerste stopstraat het sy die glasgruis van ’n onlangse motorongeluk in die son sien blink. Sy het gehurk, ’n gebuigde stuk van ’n brilraam opgetel. Die afleweringsbode op die 50 cc-motorfiets, het sy onthou: sy het daarvan in die koerant gelees. Dit was noodlottig. Vir ’n flitsoomblik kon sy hom sien ry, regop en stigtelik soos die bestuurders van klein motorfietse sit, weerloos met net sy liggaam teen die brullende, skellende verkeer. Die vrou het vorentoe geruk maar kon haar ewewig betyds herwin; die val op die teerpad, die man se baadjie wat op die rugkant oopskeur met die impak van die botsing, die valhelm wat skuins van sy kop af slinger…

Sy het die brilraam versigtig neergesit in die stof, die oorledene se laaste pyn en angs in haar huls geberg.

Sy het haar kop gedraai na ’n swiepgeluid hoër op in die straat. ’n Uber het omgedraai en stadig in die pad afgekruie, op soek na sy passasier. Die bestuurder sien alles wat sy sien, het die vrou gedink, maar hy het nie ’n huls nie; hy het ook nie een nodig nie. Daar is geen noodsaak vir hom om berig te doen oor die dag se gebeure nie; dit in woorde te week nie.

Dan het ’n beweging haar aandag getrek na die sypad, na ’n eikeboom. Die skadukol het begin lewe. ’n Man het zig-zag nader geloop toe hy die voertuig gewaar, tot baie na aan die vrou. Die man was bejaard en spookwit in die helder middagson. Die vrou het doodstil bly staan; geknik in ’n groet en na binne gekrink toe hy in ’n spastiese zig-zag zig-zag soos ’n krap bly aanskuifel na die wit Toyota. Sy hare was wintergras en sy vel perkament, vol sonvlekke.

Toe die motor wegtrek, het sy weer aangestap, maar gevoel hoe haar linkervoet al swaarder word tot sy dit agter haar moes aansleep. Die man met die swaar been. Nee, het sy haarself gedwing: stil gaan staan en gevoel hoe die onsigbare eksoskelet om haar probeer buig onder die juk wat die ou man moes dra. Maar die harnas wat sterk en horingagtig en kon baie verduur, ook haar familie se geheime, leuens en tragedies. Verál haar familie se afwesigheid – die verlange na haar bloedmense het haar harnas gevoed soos kalk en soos so dikwels het sy William Holman Hunt se Sondebok in haar geestesoog herroep, die oë geel en leeg en ontdaan van lig, die flanke ineengedoke soos dié van ’n dier wat te veel moes ly. Die agterpote wou swik onder die gewig van andere se blaam.

Die Bok het tussen die soutsuile van die Dooie See aan Hunt verskyn.

Die vrou het ’n sluk water uit die bottel in haar handsak geneem en haar gebroke voetval het reëlmatig geword. Die plaaslike hoërskool se kinders was reeds huis toe. Net die geknal van tennisballe teen rakette was nou hoorbaar. Sy het loom aangestap, die ritme van die spel in haar huls bly voel, en regs gedraai in ’n cul-de-sac, waar die Huis Janus vir Skisofrene was.

Eensaamheid het baie doppelgänger. Sy het die sestal gewaar, besig om duiwe uit ou roomysbakke te voer. Vier dames en twee mans. Hulle het op die stoep gesit, stroefgesig en hangkop, dof gemedikeer terwyl hulle stukkies brood na die grasperk slinger. Die jongste skisofreen het nie meegedoen nie en doodstil, asof in reliëf met die gefossileerde sigaret tussen sy vingers op die muurtjie langs die trapreëling bly sit. Duiwe met vet kroppe het steierend geland; pik-pik-pik weggevlieg met die inwoners se verwarring.

Die vrou het stadiger geloop, gemaak asof sy doenig was met haar selfoon om die sestal nie te ontstel nie.

“Bye,” het die jongman op die muur skielik bewus geword van haar teenwoordigheid. “Bye…”, en die dooie sigaret het tussen sy vingers deur geval. Hy het sy hand opgelig en gewaai. En vir ’n oomblik het die vrou die huls teen haar skouers voel skaaf. Chitien kan nie rek nie, het sy beangs gedink: sy sou binnekort moes vervel. Sy vervel vier keer ’n jaar wanneer die huls versadig raak van te veel pyn en invloede.

“Verskoon tog,” het ’n verpleegster skielik op die stoep verskyn. Die vrou het gegroet, die verpleegster vinnig takseer. Sy kon nie ouer as 23 gewees het nie. Haar oë was nog onaangeraak deur die inwoners en hulle psigose. Geen residu van sinisme of wanhoop nie – inteendeel: haar oë was vol hoop, oop en helder soos ’n dag sonder wolke.

“Alles reg,” het die vrou gerusstellend geglimlag, vir ’n oomblik die huls teen haar bors voel druk. Eens op ’n tyd het sy ook sulke oë gehad, gereed om onverwyld die wêreld te verander.

“Bye…” Die man se hand het bly wuif lank nadat haar rug om die draai verdwyn het. Sy het kortpad deur ’n stuk veld gekies huis toe, die klitsgras wat in haar broekspype inbyt, geïgnoreer. Die uitgetrapte voetpad was nou wel nie die veiligste roete huis toe nie, maar die vrou het uit ondervinding geweet dat haar huls haar beskerm teen mense met kwaadwillige bedoelings: selfs al kon boosdoeners dit nie sien nie, was hulle bewus daarvan. Die pad het uitgemond in ’n stil straat, ongeveer ’n blok vanaf haar woning op die landgoed met die vierhonderd huise. Sy het haar oë teen die skril middagson geskreef, want verstrengel tussen die twee weerhake van die doringdraad het daar ’n winddroë voël gehang.

Nadergestap. Dit sal die wenfoto in ’n fotokompetisie wees, was haar eerste gedagte en sy het na haar selfoon in haar handsak gereik, maar die drang onderdruk. Dit sou die Janfiskaal se waardigheid aantas. Die ironie! ’n Laksman wat homself gehang het. Waarskynlik misgis het met die wind. Sy kon die weerhake teen haar eksoskelet voel skraap, maar kon die ergste pyn afskild.

Tuis het sy die voordeur agter haar gesluit, haar handsak op ’n stoel in die verbygaan neergegooi.

Sy het oor die ou poseleinwasbak in die badkamer gehang en gewag. Haar huls het geprotesteer, onlading was nou nodig. Dit was nog nie tyd om te vervel nie.

Die bloed het moeisaam hulle weg deur die traankliere gevind, die Meiboom-kliere onder geweldige druk om die taai, dik vloeistof te formeer. Die vrou het na haar asem gesnak. Die pyn was haas onhoudbaar.

Haar kop het begin bewe en sy het omgedraai; ’n stuk toiletpapier van die rol afgeruk en gebondel, versigtig die bloedtrane weggevee en na haar dowwe weerkaatsing in die spieël gekyk. Nou kon sy kreun, want daar was niemand binne hoorsafstand om haar pyn te hoor nie. Stadig; het sy haarself gemaan; haal egalig asem.

Toe het sy die kraan oopgedraai, gekyk hoe die bloeddruppels tot ’n rooskleur verwater voor dit slurpend in die wasbak se draaikolk wegsyfer.

Die vrou het haar gesig gewas en vanuit die spieël se meniskus het sy reguit in haar bloedgestippelde oë teruggestaar.

Pyn is biologies, het sy haarself getroos. Tydelik. Dis gesetel in die liggaam. In die nalewe is daar nie pyn nie, ook nie in die hiernamaals of die lewe daarná nie. Sy het die dag se gebeure vasgelê in haar huls soos ’n neerslag; na die bedkassie gereik en ’n halwe slaappil, ’n kalmeerpil en twee pynpille afgesluk. Eufemisme. Onder die huls het haar liggaam begin ontspan, die voering rondom haar lyf sag, uitgevoer soos die dons van ’n voëlnes of die satyn in ’n doodskis.

Die vrou het verklee. Incognito ’n swart denim en bloes aangetrek, die swaar, swart stewels toegestrik en die leerarmbande met die klinknaels om haar polse vasgeknip. Sy het geen tatoeëermerke aan haar lyf gehad nie; laat maagdevlees dan maagdevlees bly, het sy gedink, binnekort moet sy weer vervel, dan bars die chitienlaag oop. Dan skeur die huls van die skedeldak tot oor die bladbene in haar rug en oor die skouergordel tot in die voetwortels se teer beentjies. Sy sou haar bewussyn verloor en op die grond val, voel hoe haar hele skelet sag word, soos bindweefsel. Sy vrees elke vervelling soos die heel eerste keer toe dit kort na haar aankoms in die Kaap die geval was. Vir dae aaneen sou sy naak op die bed lê en rook en moeg oor haar teer vel streel. Sy was kwesbaar – en moes wag tot die nuwe, murgagtige laag chitien harder word alvorens sy die huis kon verlaat.  Haar huid was besonder lig met ’n gebrek aan melanien en min natuurlike weerstand teen Afrika se skerp son. Die teelaarde vir kwaadaardige bloeiwyses. Alle babas word bleek gebore, sou sy peins: rosig, of geklee in ’n gekneusde pers. Die pigment – én die vrees en haat – kom eers veel later.

Die vrou het opgestaan, onthou dat haar geliefde laat werk.

Die straatlampe was reeds geeste in die donker toe sy koers gekies het na die naaste restaurant. Die lampe was geel, soos die Kaap se gebruik was. Geel raak nie weg in die mis nie. Die straatlampe wat sy jare gelede in Pretoria agter gelaat het, was wit.

By die swaar houttoonbank het die vrou gaan sit. “’n Dubbel met ys”, het sy die kroegman nadergewink met haar gebruiklike whisky-bestelling en pokergesig. Hy het ’n paar sekondes te lank na haar gestaar, toe geknik en omgedraai.

“Die vrou het geen emosie nie,” het sy hom eendag oor haar hoor sê. “Wat kom soek sy hier? Sy praat nooit met iemand nie. ’n Yskoue teef, en glo my, ek ken mense. “

Fok jou, het sy gedink toe hy die glas voor haar neersit. Wat weet hy van die huls?

 

© Nini Bennett, 2019

 

 

Verwysing

https://www.poets.org/poetsorg/poem/now-we-have-tasted-hope

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Nini Bennett. Die huls”

  1. Deon TerBlanche :

    Baie mooi skrywe, ek het lekker saam met haar gekuier. Ek sal n dubbel saam met haar drink 🙂

  2. Nini Bennett :

    Dankie, Deon!