Onderhoud met Marlise Joubert (Grondwater)

Marlise Joubert gesels oor haar bundel grondwater met Gisela Ullyatt.

Marlise, baie geluk met jou negende digbundel. Die voorblad van grondwater bestaan uit ’n skildery deur die kunstenaar Elizabeth Miller-Vermeulen wat deel uitmaak van die “Distant Landscape”-reeks. Jou twee vorige bundels, splintervlerk (2011) en bladspieël (2015) se voorbladkuns is Marlise Joubert-waterverfskilderye. Wat het jou dié keer die besluit laat neem om ’n ander kunstenaar se skildery as voorblad te gebruik?  ’n Ander vraag wat hiermee verband hou is dat Miller-Vermeulen se medium in hierdie geval akriel is, nie waterverf nie. Was daar ’n rede vir hierdie verandering van medium vir jou voorblad?

Dankie, Gisela. Ek wou van die begin af nie weer een van my eie skeppings op die voorblad gebruik nie. Eenselwigheid is nie altyd ʼn goeie ding nie. Ek het nogal lank geworstel met die omslag. Het heelwat foto’s oorweeg. Die redakteur het ook met voorstelle van ander skilders gekom. In my soektog op die internet het ek afgekom op Elizabeth Miller-Vermeulen se skilderye. Ek het reeds van haar werk gesien in verskeie galerye en altyd baie aangetrokke gevoel tot haar landskaptonele, veral weens die sterk kwashale. Toe vind ek ten minste 5 voorbeelde op haar webblad wat nommerpas sou wees vir grondwater en het toe een daarvan gekies wat die meeste tot my {én ander} gespreek het. Haar landskappe is so aards, intiem en intens. Die krapmerke in die verf (met die agterkant van ‘n kwas miskien?) is veral vir my besonder evokatief. Waterverf sou nie die ‘aardsheid’ kon uitbeeld nie. Sy het toevallig ook die omslagontwerp vir Louis Esterhuizen se debuutbundel Stilstuipe (1986: Human & Rousseau) gedoen!

Behalwe vir passies en passasies (2007: Protea Boekhuis) het al jou digbundels sedert 2001 ’n saamgestelde selfstandige naamwoord as titel: lyfsange; splintervlerk; bladspieël en grondwater. Vertel ons meer oor jou voorkeur vir hierdie soort titels?

Ja, dit is maar nog altyd ’n voorkeur vir my. Solank die titel genoeg resoneer om soveel moontlik temas in die bundel te betrek/reflekteer, asook op metaforiese vlakke. In dié bundel gaan dit  o.a. oor die biologiese en psigologiese wortels van die self (die ‘grondwater’), die ontginning/herinneringe aan familie, en veral van my oorlede ma. Onthou lesers ooit lang titels?

 

Die eerste bundelmotto is deur Matthew Hollis:

 

the lines of a lifetime gather like water.

In places these streams are a torrent,

a raging flood, a sweeping away;

in places a careful shallow, a rockpool

still as a mirror.

 

Hoe swaelvlerk bogenoemde motto met die bundeltitel en afdeling drie se titel, “syferwater”? Het jy eers op die bundeltitel en tematiek besluit of het die motto eerste na vore getree?

Ek soek nooit na ’n motto vir ’n bundel vooraf nie. Ek het drie motto’s gebruik in hierdie geval, omdat elkeen hooftemas belig of betrek in die bundel. Syferwater vloei soms ook bogronds uit om ’n ‘rockpool’ te vorm. Reën syfer in die grond in en vorm ondergrondse waterbronne as deel van die watertafel. Dit kan ook in rotsformasies versamel en wegsyfer in stilstaande poele. Syferwater hou ook verband met fonteine  wat ontspring uit grondwater.  Dis ook soos “vrugwater”, indien jy die gedigte “geboorte van ‘n wolvin en bekken vergelyk, waar geboorte of my ‘vandaankom’ ter sprake is. In dié afdeling bring ek dit o.a ook in verband met ouderdom en siekte wat ‘insypel’, ‘waternood’ en afsterwe.

.

In “bad things happen” (12-13) is die reëls in blokspasiëring geformateer, iets wat nie ’n tipiese Marlise Joubert-signature is nie. Hoe het jy op die formaat en vormgewing van die gedig besluit en sou jy saamstem dat dit ’n prosagedig is?

Ek het meer geëksperimenteer met verskillende digvorms in hierdie bundel. Ja, “bad things happen” is vir my ’n prosagedig. Die narratief (feit en fiksie vermeng) in dié gedig is slegs ’n metafoor vir die ‘goue sleutel’ wat jy ontvang as jongmens om kwansuis ’n wonderwêreld en al die goeie dinge mee oop te sluit (dalk is dit ’n gebruik wat verval het?) en gou blyk dit dat daar ook slegte en onvoorsiene dinge kan gebeur, sonder dat jy dit so bedoel het of ooit wou gehad het. Ons lewens verloop soms tragies, onvoorspelbaar en van koers af. Die Yin en Yang.

 

In sy digbundel, vry- (2015), maak Gilbert Gibson in sy programgedig gebruik van die deurhaal-tegniek (strikethrough):

die vrystaat het ’n horison voor eendag weer ’n see

en alhoebeminde aarde wat ouer word in die geheue van

water / wat voor die rant fonteine bedoel / en tot stof

jou voete vergader […]

In grondwater (“sewe sondes, plus een”: 31) word van dieselfde tegniek gebruik gemaak, maar nie alle woorde word deurgehaal nie:

om nog ’n sonde by te voeg;

die begeerte

om ’n gedig te skryf, is die begeerte

om die rasionele te verdraai

die waarheid te lieg en die leuen

te abstraheer, om betekenis te verraai

om lewe op te blaas, om die aarde te vernietig

om stelsels van son, maan en sterre

mens en dier te uitoorlê

om ’n gedig te skryf, is die begeerte na

narsisme en die leser met emosie te lei

die begeerte na selfdood met die alfabet

se koord van verknoopte melodieë

die begeerte na ontbloting

die begeerte om die liefde as misverstand

te verklaar, as rose met dorings van ink

as redder of meeloper met blindheid geslaan

om die dood as foutlyn uit te wys

alle geboorte te seën met ewige asem

o, om ’n gedig te skryf, is die begeerte

na alle sondige begeertes, om die woord

in vertakte papier, asof trefseker

aanhoudend prys te gee  ̶

 

Die gedig het vele betekenismoontlikhede, afhangend van hoe die leser op die gedig fokus, soos byvoorbeeld die skuinsdruk (italics) kan opsig self as ’n gedig op sy eie gelees word. Wat het jou gepols om die gedig op hierdie wyse aan te pak?

Vertel meer oor die gedagtegang agter die woorde “selfdood” en “narsisme” in die konteks van die gedig?

Ja, die gedig se deurhaaltegniek het ek ook o.a. raakgelees by Gibson. Daar is egter vele artikels op die internet oor hierdie tegniek wat deur ander digters gebruik word, om verskillende interessante redes. Nooit gedink ek sou dit ooit self gebruik nie! Ek wou ’n duideliker onderskeid tref tussen wat gedigte vir my persoonlik beteken en wat dit vir ander (moontlik) beteken, of wat dit juis nie vir my wil/behoort te beteken nie.

Oor temas soos selfdood of narsisme is daar ook al heelwat nagevors of uitgewys. So bv. het Ingrid Jonker al tekens getoon daarvan in haar eerste bundel, Ontvlugting, met ’n gedig waarin sy die volgende verwoord het: “my lyk lê uitgespoel in wier en gras”. Daar is ook Sylvia Plath en vele ander. So asof dit wat jy skryf, jou lewe vooruit loop! Narsisme is maar – ironies genoeg – iets waaraan baie kunstenaars soms ly, tot groot voordeel as dit goeie gedigte {of ander kunsvorms} oplewer en lesers daarmee kan identifiseer, bygesê. Daar is ‘n magdom van artikels op die internet oor hierdie aspek van kreatiwiteit. Iewers lees ek: “Narcissism is a byproduct of creative thinking, and thus is a necessary evil if we want the rewards that creativity can bring.” [Dr. Ichak  Adizes] Miskien wil ek juis die ‘evil’ vermy in digmaak!

 

Die toonaard van “bootwoestyn” (25) herinner aan dié van jou debuutbundel, ’n Boot in die woestyn: 

stadig slinger die skip kamele

’n pad deur rooiwarm sand

nat in die donker prik die sterre

Alhoewel die gedig uit vyf afsonderlike tersines bestaan en dus ’n vaster vorm as jou debuutgedigte aanneem, is daar beelding wat ’n Boot in die woestyn oproep. Hoe het jy besluit op die titel “bootwoestyn” en tot watter mate was daar ’n gesprekvoering met jou debuut?

Daar was geen bewustelike verband wat ek wou navolg met die debuut nie. Ek het eers agterna besef dat die woestyn-tema (moontlik) aansluit by ’n stroming uit my debuut. Ek weet nie. Dis nie so relevant vir my nie.

 

Aansluitend by die eksperimentering met die blokgedig, kan twee ander gedigte, “palmboom” (11) en “nagstilte” (30) elk as ’n visuele konkretisering beskou word. Sonder om te veel in te lees in die vorm, het laasgenoemde my herinner aan die natrek van ’n swanger vrou se buik of selfs ook aan ’n bors sonder tepel, dus ’n inherente verbinding met die vroulike psige en dergelike assosiasies. Draai die leser die bladsy-veld antikloksgewys en kloksgewys, is daar ander implikasies wat die interpretasie van die vorm beïnvloed. ’n Ander manier om na die invul van die bladsy te kyk is om die eerste helfte van die gedig as ’n crescendo en die tweede gedeelte, ’n diminuendo te beskou. Sou jy die twee gedigte as konkrete gedigte beskou en vertel meer oor die oorkoepeling van inhoud en vorm in beide gedigte?

Ja, die “palmboom” is ’n konkrete gedig. Die palm is ‘n boom wat dikwels opdoem, omdat ek in ’n wêreld grootgeword het waar baie palmbome was Tans is die hele dorp oorbevolk daarmee – en die gastehuis, Villa Palmeira, (foto-vers) waar ek tuis was – toe ek twee jaar gelede op ‘n herbesoek was om my ma se as daar langs my pa te begrawe. Dit ten spyte van die omringende bosveld is daar oral palms, o.a. by die jeughuis, die warmwaterbronne in die dorp en in die buurtes. Dit is soos ’n boekmerk waarvan ek nie kan wegkom nie en dikwels na terugkeer om verder te lees. Om die tema tipografies uit te beeld was maar net ’n intuïtiewe aanvoeling. Die aanvanklike foto {oftewel skyfie} is geneem by een van die talle oorde met warmwaterswembaddens in die omgewing – hier is egter ‘n soortgelyke een voor ‘n palmboom by  my jeughuis.

Dit verras my as die gedig “nagstilte” jou verbeelding kon prikkel en assosiasies verbeeld. Dat dit visueel ’n aanloop en afloop vorm, kan ek mee saamstem. Miskien is dit ’n soeke na ‘sintese’ met die donker en stil ure van die nag?

 

In die bundel is daar ook ’n gerfie gedigte wat sosiale kommentaar lewer: “brood” (62) is een van hierdie gedigte wat op ’n besonder innoverende wyse die postapartheid kleur-scenario’s aanspreek:

.

net om ’n brood te koop

is om opnuut oor politiek te besin

want wat moet ek kies  ̶  wit of bruin?

met of sonder rosyntjies?

dalk die een  met ingelegte sade

sodat my prewelinge kan ontkiem

en ’n ganse Afrika met vrede bevolk?

 

om ’n brood te koop

laat my verward, want wit

is glo nadelig, ’n rykmanskorsie

met sagte binnevet wat are laat verkalk

in arrogansie en selftevredenheid

al is dit met ’n rooidak oor my kop

waar voorgeslagte in fotoalbums

’n beter toekoms vir my wou skep

 

om brood te kies, hoe bruiner

en meer roggerig, hoe beter:

sal die skuld verplaas

sal die are ontvlam, die vel laat

span met ’n reënboogblos

tot in die laaste van my dae

 

ek verlaat die land se korrupte

winkelkultuur ek stap uit met ’n wit

brood onder die arm

om vlees én vrees te voed

 

’n brood

wat spoedig geluidloos sal muf

in sy eie broederlike blik

.

Hoe het bostaande gedig by jou posgevat en is dit ’n gedig wat maklik uit jou digtershand gevloei het of moes jy dit baie herskryf?

Ek kan nie altyd onthou hoe ’n gedig posvat nie. Dié gedig het maklik ontstaan en ek het nie veel herskryf hieraan nie.

 

Grondwater vervleg fisiese en geestelike aftakeling as deel van die ouerwordende individu, verganklikheid en die rouproses. Myns insiens is een van die sterkste gedigte in die bundel “demensie” (68):

.

wie is sy nou, hierdie vreemde ma

met slegs die oorskietlap van geheue?

 

waarheen het bewussyn dan vertrek?

 

al hoe meer raap sy flenters herinneringe op

probeer om dit as patroon aanmekaar te las

verloor dan kommerloos die steke  –

 

oulap se rooi maak nié meer mooi

.

Het jy ooit gedink dat demensie ’n onderwerp sou word waaroor jy sou dig en het die oopskryf hiervan enige vertroosting gebied gedurende en daarna? Is daar enige gedigte wat jy voor of gedurende die skryfproses gelees het oor hierdie onderwerp wat jou onderskraag of geïnspireer het? Ek dink byvoorbeeld aan ’n gedig, “Forgetfulness”, deur Billy Collins wat demensie as sentrale tema ondersoek.

Nee, ek het nie gedink dis ’n onderwerp waaroor ek ooit sou skryf nie, ook nie die gedigte oor my ma se afsterwe nie, nadat sy twee jaar lank hieraan gely het nie. “Life is what happens to you while you’re busy making other plans,” lui die gesegde mos. Ek het geen gedigte van ander gelees oor hierdie onderwerp nie. Het ook nie kennis van Collins se gedig hieroor nie. ʼn Gedig is soms wel ʼn instrument waarmee sekere lewensprosesse bekyk en algaande verreken word. Miskien lê die troos dan ook hierin, vir ‘n wyle.

.

Marlise, die lykdigte aan jou moeder is van die mees roerende gedigte in die bundel. Kan jy een daarvan met Versindaba-lesers deel, asseblief?

Dankie, Gisela. Ek deel graag een van die gedigte uit die afdeling “palm in die hand”.

.

brief

 

toe jy sterf

my soet, sagte ma

verinneweer en uitgeteer

jou kyk verseël om nooit

weer oopgemaak te word nie

toe het ek gedink: so is dit nou

hier eindig alles dan, die somtotaal

van my eie jarigheid, immer die verdwaalde

poeiermot wat in jou lampies lig

dikwels heling soek, selfs in die bietjies

hitte einde toe, my kop in jou nekholte

laat weeklaag met mompelinge toegerol in meel

 

hier eindig alles nou, en sal jou asse

ingeweef word met stof en watergrond

’n purper mat waarop ander onwetend

sal trap, aanloop na ’n eie verknotte

bestemming toe

 

hier eindig dit soos ligte-af

asof sterre doof, ink en taal ’n verlede word

alles toegeskemer in eklips

 

ek verys

opaliseer in my vel

 

ek verken my voetval saam met jou

fragmentaries, ons kuiers, die lang

gesprekke, die kort reise (daardie reis

per boot op engelse kanale veral!) die films

en boeke wat ons meegemaak het

kegelroomyse op ’n strand, tee en skons

en mettertyd smelt die afstand waarin

ek wou vlug, waai die weemoed

weg asof lint, word ek

 

ligter

ligwarm

oor hoe verstrooiend naby jy nog is

 

hoe binnenslyf jou stem kan troos

hoe ingedeeg iets van alles nog in my woon

.

(Uit: grondwater. Protea Boekhuis, 2019)

 

Ek plaas ook graag hierby ‘n skakel na nog ‘n foto-vers wat ek (as amateur, let wel!) gemaak het van ‘n gedig in die laaste afdeling (“villa palmeira”), nl. “jeughuis, mentzlaan 4”: https://www.youtube.com/watch?v=pYViP3hJGCs

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Marlise Joubert (Grondwater)”

  1. Trienke Laurie :

    Veels geluk met “Grondwater”.
    Ek gaan hom beslis aanskaf en van die deurhaaltegniek kennis neem, maar “demensie” het dadelik met my hart gepraat. Hoe bevoorreg is ‘n mens wat sy leed kan verwoord nie!

  2. Ivan Mocke :

    Baie interessant. Dankie hiervoor. Veral vir die twee fotoverse wat werklik ontroerend is.

  3. carina :

    Baie geluk met GRONDWATER, Marlise. Die saamgestelde titel met die vele betekenismoontlikhede wat dit inhou, maak my nuuskierig. Dit geld ook vir die variasie aan skryfstyle soos die deurhaaltegniek en ‘n konkrete gedig wat jy ten toon stel. Dankie vir die twee skakels na die pragtige foto-verse “Jeughuis” en “Villa Palmiera” onder begeleding van Satie. Alles saam belowe dit ‘n verrykende lees-, luister- en kykervaring uit en deur middel van GRONDWATER.