Carina van der Walt. Jeroen Bosch en sy Liefies (1)

 

 

Wanneer ’n mens aandagtig na die middelste paneel van Jeroen Bosch se skildery De Tuin der Lusten kyk, ontdek jy dat die vroutjies daarop min of meer dieselfde lyk. Hulle is almal lank, skraal, kaal en het karakterlose gesiggies. Die borsies is in proporsie klein en die heupies ietsie breër. Die kroon van hulle vrouwees is hulle lang, blonde of rooiblonde hare. Nul komma twee persent van die vroutjies is swart en toevallig het hulle elkeen ’n kersie op die kop. Soveel vir Bosch se gevoel vir Eksotisme buite sy Noord-Brabantse stad ’s-Hertogenbosch!

Die vroulike figuurtjies verteenwoordig verleiding, speelsheid en lus. As ’n literêre jeugsonde het Antjie Krog die inhoud van die middelste paneel oënskynlik vir haar gedig BOKKIE toegeëien en dit na die Suid-Afrikaanse landskap getrek. Oënskynlik, want sekerheid is en bly soos begeertes en verlangens ontwykend in die wêreld van gedigte. Krog beweeg van natuur na kultuur in die eerste vyf reëls van hierdie gedig. Die “vlei” en “wilde riet” word kortstondig ingeruil vir “’n bruin viool”, om weer terug te keer na verleidelike blomme soos “bloureën”, “aandblom” en “wit jasmyn”.

 

BOKKIE

My bokkie ek en jy
lê onder in die vlei
tussen wilde riet en vry.
Jou lyfie nes ’n bruin viool
gestrek om eers harpuis te kry.
Daar’s bloureën in jou oë
aandblom in jou hare
en uit jou naeltjie peul ware
wit jasmyn.
Ek sny jou mond en drink jou sap
en huil as bloureën uit jou oë tap.
Ek kneus die blomme in jou hare
breek die fyngestemde snare
en skreeu hardop as ek jou stukkend kap.

 

Krog gebruik in haar gedig die bekende Afrikaanse liefdesnaampie “Bokkie” as ’n afleidingsmaneuver wég van Bosch se Middeleeuse skildery af. Dit werk maar half, want Bosch het wel ’n bokkie in die middelste tuinpaneel geskilder. Hy (of sy?) staan nuuskierig en snuif aan ’n figuurtjie wat uitgestrek op sy maag lê. Wanneer Krog se gedig in Engels vertaal word, is die titel een van die eerste probleme waarteen ’n vertaler stuit. “Bokkie” as troetelnaam kan miskien vertaal word met “Honey” of “Sweatheart”, maar laasgenoemde naam is te abstrak tussen soveel pure natuur. “Honey” kom nader aan die natuur, maar is as ’n produk van bye onsigbaar tussen kersies, frambose, aarbeie, brame, swartbessies en rooibessies. Tereg kan die vertaler in Engelse idoom begin dink en hardop wonder: “What’s in a name?” En dan blyk dit dat daar soms ’n woord – of soos in hierdie geval ’n naam – so eie aan ’n spesifieke taal is, dat dit onvertaalbaar is. Dán kan die vertaler kies om dit net so te behou.

 

 

BOKKIE

My Bokkie you and I
lay down in the moor
making love between wild reed.
Your body like a brown violin
stretching to get some rosin.
There´s wisteria in your eyes
evening flower in your hair
and from your belly button bulge true
white jasmine.
I cut your mouth and drink your juice
and cry as wisteria pour from your eyes.
I bruise the flowers in your hair
snap your finely tuned strings
and cry out loud as I do you down.

 

Van reël 10 af word hierdie erotiese gediggie nogal gevaarlik. Daar word ge-“sny” en ge-“huil” en ge”kneus”. Die liefdespel is ’n gevaarlike spel. Dis ’n doodernstige saak. Dit is vir Krog allesbehalwe speels soos wat Bosch in sy skildery suggereer. En dit is nie om dowe neute dat die Franse praat van La petite mort nie. Krog voer die spanning so hoog op dat “die fyngestemde snare” van die viool breek en dat die geliefde opgetjop bly lê.

So skryf sy in 1970 hierdie liefdesgedig in haar debuutbundel Dogter van Jefta. So skryf sy nog dertig jaar later in die bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000). Vergelyk byvoorbeeld Hierarchy (Marlene Dumas, 1991) uit die reeks skilderysonnette e.a. met BOKKIE. Dit bly haar styl. Alhoewel… huwelikslied 1, 2 en uit Verweerskrif (2006) bring ‘n besinnende mildheid in haar erotiese blik, maar dit gee nie intense gewaarwordings soos verlange of begeerte prys nie.

 

Engelse vertaling BOKKIE @ Carina vd Walt en Geno Spoormans

Bookmark and Share

Comments are closed.