Nuwe publikasie: Berigte uit die skemerland (Dolf van Niekerk)

Berigte uit die skemerland

Dolf van Niekerk

Met hierdie versameling gedigte, wat Dolf van Niekerk rondom sy 90ste verjaardag geskryf het, peins die digter oor die lewensfase waarin hy hom nou bevind. Hy noem die gedigte “berigte”, asof hy aan die lesers nuus wil oordra oor sy ervaring terwyl hy hom in ’n skemerland bevind, die land tussen dag en nag, tussen lig en donker. Hy kyk ook terug na die hartseer en eensaamheid wat deel was van sy kinder- en volwasse jare, met die besef dat hy van vroeg af ’n enkeling was.

           Die digter vind parallelle vir sy eie lewe wanneer hy nadink oor die geskiedenis van die aarde, die mens en die beskawing, met hoogtepunte en tye van opbloei, maar ook besef dat agteruitgang onvermydelik deel daarvan is. Die wisseling van dag en nag en die seisoene dra by tot ’n gevoel van berusting en aanvaarding. Hoewel die skemer ’n tyd van afskeid is, is dit ook “tyd vir die engele”, ’n sagte tyd waarin die mens genoeg lig het om die onsienlike te kan sien en die ondenkbare te kan bedink. Te midde van die twyfel wat die mens hier op aarde ervaar, kan hy ook sekerheid verwag in sy soeke na die ware lig tussen die twee pole van lig en duister.

Berigte uit die skemerland is ’n digbundel waarin die groot filosofiese vrae oor die sin van die menslike bestaan, die ware, die goeie en die skone, gestalte kry in verse oor die lewe van ’n individu.

DIE SKRYWER

Dolf van Niekerk is ’n merkwaardige denker en veelsydige skrywer. Hy is veral bekend vir sy roman Die son struikel en die jeugverhaal Skrik kom huis toe, maar hy is ook ’n gerekende digter. Hy woon in Pretoria en is beskikbaar vir onderhoude.

Die gedigte oor die ouderdom en die betekenis van die lewe is toeganklik vir alle lesers, maar as van Dolf van Niekerk se beste werk, spreek dit ook tot die kieskeurige leser.  (Imprimatur, 2019. PRYS: R150.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-0-620-825611-2. FORMAAT: 222 x 152 mm; sagteband, 60 bls.)  www.imprimatur.co.za

My huisie in die bos
lê daglank in skemerte;
lig glip af en toe
deur digte blare van karee
en witstinkhout met spikkelson
op beddegoed – vierkant
waar lig en skemer sestig jaar
deur seisoene lê in die gemoed
en somer verwinter;
terwyl bome groei
en langer skadu’s gooi
en dag uiteindelik donker word.

 

Die aarde kantel in sy baan,
seisoene skommel oorkruis;
planeet se afval damp gate
in die sfere, ruk osoon aan flarde.
Pole brokkel, dryf verlore,
wit boodskappe uit die see
wat uit die nate bars
oor wolkekrabbers in Atlantis.
El Niño sluimer in die oseaan,
voorslaap in ’n nag
waar alles wat bekend was
lydsaam skroei tot as.

[Uit: Berigte uit die skemerland. Dolf van Niekerk. Imprimatur, 2019]

 

Bookmark and Share

Comments are closed.