Resensie: grondwater (Marlise Joubert)

Resensie: grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis, 2019)

Resensent: Marlies Taljard

 

en wat anders is ‘n gedig

as om syferwater klankryk te vind

‘n spoor van bestaan agter te laat

vir die gewaande leser

(Uit: “so is die dood”, p.54)

Hierdie strofe uit Marlise Joubert se bundel “grondwater” verskaf ‘n interpretasiesleutel tot die ontsluiting van die bundel –  ‘n bundel waarin belangrike elemente van ‘n ryklik geleefde lewe ontgin word. Herinneringe, afskeid, eindigheid en skrapse tekens van ‘n bestaan is die oorheersende temas wat aangesny word in dié formidabele bundel met sy sterk mineur-toonaard.

Oorkoepelend gesien is “grondwater” ‘n bundel met sterk kohesie- en koherensiekragte – ‘n onberispelik beplande en fyn afgewerkte teks. Dit is ‘n deurgekomponeerde bundel waarin verskeie belangrike simbole, motiewe en metafore deurgaans ‘n belangrike ordenende funksie vervul. Die sterk narratiewe onderbou van baie gedigte, asook die aansluiting van gedigte by mekaar (onder andere op narratiewe en metaforiese vlak) versterk die struktuur van die teks as geheel.

Die bundel bestaan uit 5 afdelings, naamlik “ruite in ‘n raam”, “al die woorde”, “syferwater”, “palm in die hand” en “villa palmeira”. Die eerste afdeling is ‘n belangrike afdeling, omdat dit ‘n kortbegrip van die belangrikste vormende episodes uit die sprekende ek se lewe bevat en omdat al die belangrike temas wat later met variasies aan bod sal kom, reeds hier verskyn. Die tweede afdeling bevat ars poëtica-gedigte. In Afdeling 3 besin die digter oor lewe en dood, en veral oor die stadige wegsyfering van die lewe. Afdeling 4 bevat in memoriam-gedigte vir die digter se oorlede moeder, terwyl die slotafdeling verskeie verse bevat wat aan familielede opgedra is, maar die laaste paar gedigte sluit weer by dié in die eerste afdeling aan.

Wat strukture van enkelgedigte betref, vertoon die bundel ‘n groot variasie waarin die digter haar poëtiese bedrewenheid tentoonstel. Sy hou meestal by redelik formele strukture, maar kry dit reg om ook in die gedigte met losser struktuur nie beheer oor die poëtiese aard van die gedig te verloor nie. Die gedig “bad things happen” (p.12-13) is byvoorbeeld ‘n prosagedig, waarin die metrum en die klankrykheid van die teks, asook die kriptiese aard van poësie behoue bly en waarin die digter steeds met die belangrike semantiese funksie van beelde, metafore en simbole rekening hou. Versvorme wat dikwels gebruik word, is die koeplet en die tersine. Die reeks “bootwoestyn” (wat verwys na Joubert se debuutbundel) bevat pragtige tersines met ‘n aba-rymskema:

die woestyn het ook sy waterlus

vlootblou bekken tussen gras

die oase gee geboorte aan ‘n vis

(Uit: “bootwoestyn”, p.25).

Meer komplekse vorme kom egter ewe dikwels voor. By onervare digters lei dié oënskynlike vryheid van struktuur dikwels tot ‘n slordige, onpoëtiese tipe vers, maar Joubert kry dit ook hier reg om selfbeheersing aan die dag te lê en om van ander bindende elemente – byvoorbeeld waar (eind)rym afwesig is – gebruik te maak.

Die buiteblad en die voorwerk van die boek is belangrike semiotiese merkers wat by interpretasie van die bundel as geheel én van enkelgedigte in gedagte gehou moet word. Die skildery van Elizabeth Miller-Vermeulen wat die boek as’t ware omvou, is een van water wat by ‘n berg afstort en afsyfer en waarop diep krapmerke met ‘n skerp voorwerp aangebring is. Die waterskildery resoneer met die titel, “grondwater”, terwyl die krapmerke op die metaforiese vlak geïnterpreteer kan word as letsels wat op ‘n liggaam ingegrif is en wat die persoon as individu merk. Dit sou selfs, meer gewelddadig, as gletsermerke beskou kon word. Simbolies verteenwoordig dié merke natuurlik belangrike invloede op die gees wat die persoonlikheid gevorm het en waarvan in die bundel verslag gelewer word. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die res van Joubert se oeuvre waarin liggaamlikheid en introspeksie ‘n belangrike rol speel. Op die linkerkant van die titelbladsy is daar ‘n foto van (waarskynlik) die digter as kleuter en haar moeder met die byskrif: “in memoriam didi joubert [1922 – 2016] / vir my kleinkinders: xander, felix, jasper en lente”. Dit verklaar die twee laaste afdelings van die bundel waarin die genoemde familielede in gedigte of opdragte verteenwoordig word. Dit wys egter ook heen op die goue draad wat van die voorgeslagte deurloop deur die digter na haar kleinkinders – ‘n sterk motief wat in die bundel as geheel gestalte kry. Ook hierdie bewustheid van die naelstring as simbool van liggaamlike en geestelike verbondenheid kom dikwels in Joubert se vroeër werk voor.

Verder resoneer daar in die titel “grondwater” ook die titel van ‘n bekende bundel van Louis Esterhuizen met wie Joubert getroud is, naamlik “wat die water onthou”. Dit sou inderdaad ‘n interessante studie wees om ooreenkomste tussen dié twee bundels te ondersoek, want ook die motto van die eerste gedig in Joubert se Afdeling 3 kom uit dieselfde gedig waaruit Esterhuizen die motto vir sy bundel neem.

Die woord “grondwater” kom op twee belangrike plekke in die bundel voor, naamlik op pp. 16 en 100: “genealogiese grondwater”; “grondwater waaroor haar vel drapeer” – in beide gevalle word “grond” dus gebruik in die sin van ‘n fondament of basis, hetsy van herkoms of verwysend na die liggaam as sodanig. Die woord “water” kom by herhaling (soms selfs hinderlik) voor: “brakwater” (p. 10); “waterkloof” (p. 17); “waterdroom” (p. 37); “waterspieël” (p. 38); “syferwater” (p. 45), “watergrond” (p. 83), ens. Hieruit behoort dit ook duidelik te wees hoe ambivalent en ontglippend die (simboliese) betekenis van die titel is. “grondwater” kan myns insiens onder andere gelees word as een van die primordiale skeppingsbestanddele (soos dit ook in Genesis voorkom). Verwysings na geologie, genealogie, biologie, biografie en geskiedenis kom dikwels saam met water- en grondbeelde in gedigte voor, soos in die gedig “gasteplaas” (p. 22):

uit kraakdun koerante waai

die plaas se geskiedenis weg

nogtans pomp die boorgat

water in ‘n swembad

om gaste langer te laat bly

verby die wind verby die droë

stilte in die dam

In hierdie konteks is die boorgat-beeld besonder veelseggend as verwysing na die ondergrondse, die onbewuste, die onsienlike en die oorsprong – alles aspekte van herinnering wat die basis van die bundel vorm.

Die drie motto’s van die bundel verwys na drie belangrike temas wat in die bundel aan bod sal kom, naamlik water as spieël (die Narcissus-simbool en selfondersoek, selfs die Dharma-spieël waarin die gevolge van ons persoonlike keuses openbaar gemaak word); herkoms en die moeder as vrug- of ontstaans-“grond”; en verhoudings (veral binne die opset van die familie).

Binne die konteks van die bundel is die eerste afdeling, “ruite in ‘n raam”, besonder belangrik. Dit herinner aan ‘n outydse skyfievertoning waarin beelde wat in ‘n karton- of plastiekraam gemonteer is, deur middel van ‘n skyfieprojektor op ‘n oorhoofse skerm geprojekteer word. Dit bevat tipies beeldmateriaal wat vooraf vir ‘n bepaalde doel deur die aanbieder vir ‘n gehoor uitgesoek is en dikwels deur verklarende teks of kommentaar vergesel word. Die bundel “grondwater” het beslis die geaardheid van ‘n sorgvuldig beplande skyfievertoning. Ook die beeld van die ruite van ‘n venster wat sekere detail sigbaar maak en ander verhul, is hier van toepassing.

Raming is egter ook, sedert antieke tye, ‘n belangrike literêre tegniek en is nooit onskuldig nie. Die raam plaas die teks binne die ordenende beginsel waarvolgens die digter haar werk konstrueer. Juri Lotman beskou die plekke waar die leser die teks betree en verlaat, naamlik die begin en die einde van die teks, as sterk gemerkte plekke. Hy argumenteer dat in die begin van moderne (narratiewe) tekste dikwels die belangrikste kodes teenwoordig is wat in die verhaal ʼn rol speel, terwyl die einde dikwels ʼn mitologiserende funksie het, dus die funksie van interpretasie of uitleg. Lotman wys daarop dat in tekste met ʼn sterk begin, die teks dikwels nie soseer op die afloop van die handelingsverloop gerig is nie, maar op die begin afgestem is – die oorsprong, en nie die uiteinde nie, is dus in dergelike verhale belangrik.  Die behoefte om ‘n verskyning aan die hand van sy oorsprong te verklaar, is volgens Lotman nie slegs by antieke tekste teenwoordig nie, maar is ook ‘n tendens van baie moderne tekste. Dit is trouens een van die vernaamste kenmerke van outobiografiese tekste om te fokus op die verlede ten einde lig te werp op die hede. My mening is dat Joubert se bundel belangrike eienskappe van die outobiografie vertoon en dat (hoewel dit streng gesproke nie ‘n narratiewe teks is nie) Lotman se insigte beslis ook vir “grondwater” geld.

Daar is ‘n sterk argument voor uit te maak dat die titel van Afdeling een (“ruite in ‘n raam”) ewe goed sou kon funksioneer as subtitel van die bundel as geheel. Eerstens is die raam as metafoor (selfs simbool) dwarsdeur die bundel teenwoordig, byvoorbeeld in die gedig “inventaris van ‘n geraamde verloop” (p. 43); ook byvoorbeeld verwysings na fotorame op p. 77 en frases soos “elke jaar is naatloos / ingeruit in ‘n raam” (p. 26) en, in die gedig “uitskotvers”, waarin die moeder vergelyk word met die moederbord van ‘n rekenaar:

[…]

ek is van jou en jy

die moederbord waaruit ek kom

jou kop ‘n hardeskyf waarop

jou taal al hoe meer fragmenteer

 

watter vensters moet ek laai vir jou?

windows 10 of dalk ‘n ouer een?

helaas, jou geheue is gans te min

vir die groter raam se uitkykpos […]

Tweedens – kyk ‘n mens na die begin en die einde van die teks – is dit duidelik dat hier wel sprake is van ‘n kodifiserende begin en ‘n mitologiserende slot, om Lotman se terminologie te gebruik. Die drie begingedigte en die drie slotgedigte vorm naamlik ‘n duidelike raam vir die teks as geheel, deurdat die belangrikste kodes, metafore en simbole wat die filosofiese onderbou van die bundel vorm, pertinend daarin teenwoordig is. In die eerste gedig, “geboorte van ‘n wolvin” (p. 8-9), kom die tema van lewe en dood as onlosmaaklike aspekte van die menslike bestaan voor, sowel as droefenis, ‘n motief wat ook deel is van die emosionele onderbou van die bundel. In die tweede gedig, “die plek waar ek eens gewoon het” (p. 10) kom die watermotief die eerste keer voor, asook beelde van oorsprong/ argeologie/genealogie:

[…]

lank voor ek vertrek pak ek ook

‘n middernaggedig in, een met ‘n ander

wisselaar waar ek afdraai

na ruite staar verswelg deur oorblyfsels

van jeugjare om my eie sterkfontein

se kleinvoet met woelige falankse

te ontdek, iewers in ‘n kalksteengrot

op die plek waar ek

eens gewoon het

Die derde gedig, “palmboom” (p. 11) beskryf die palmboom wat die spreker met haar plek van herkoms, Bela-Bela, assosieer. Dit is in die Egiptiese mitologie die heilige boom van ewige lewe, die boom langs die Nyl (bron van lewe), maar ook die boom van oases in woestyne. (Ook Bela-bela is langs die Nylrivier geleë!) Daarom is dit nie vreemd dat dié boom in hierdie gedig in kombinasie met die water-beeld voorkom nie. Herkoms is eweneens ‘n belangrike tema in dié gedig.

Hierdie drie gedigte dui dus reeds die koers aan van die bundel as sodanig deur metafore en simbole van lewe-en-dood, herkoms en herinnering, sowel as die toonaard van melancholie.

Die drie slotgedigte sluit as’t ware die raam van die verhaal-in-die-kleine, deurdat dit ‘n sikliese einde vorm waarin die ordenende kodes/simbole/metafore wat in die aanvang van die bundel geaktiveer is, weer sterk na vore tree. Die derdelaaste gedig, “jeughuis, mentzlaan 4” (p.102-103), sluit aan by die tweede gedig in die bundel: “ek sien die palmboom net regs / van die gaasstoep by die mentzlaanhuis” (p. 10). Ook die palmboom met sy dadels en die windpomp is simbole wat in die openingsgedigte (en dwarsdeur die bundel) voorkom. Die voorlaaste gedig, “agterstoep” (p. 104), sluit tematies hierby aan. Die laaste gedig, “villa palmeira, bela-bela” (p. 105) sluit aan by die derde gedig (“palmboom”, p. 11), maar verruim dié beeld tot ‘n metafoor van onthou en herinnering. Dit is ‘n besonder sterk slotgedig waarin die bundelaanvang “weerspieël” word. Die sikliese slot is een van die mees bevredigende stukture wat vir alle kunsvorme geld en kom dikwels in outobiografiese werk voor. Dit impliseer, volgens van Coller, dat ʼn ontwikkelingsgang hom voltrek het en, aldus Johl, dat daar ʼn “intensivering van die oersituasie” plaasgevind het. Mitologisering vind plaas deurdat die gegewe nou vanuit ʼn meer verruimde (selfs universele) perspektief belig word. Die slotgedigte bevat ‘n soort konsentraat van die bundel as geheel, terwyl dit beslis ook waar is dat sekere universele wetmatighede daarin uitgedruk word om sodoende ʼn spirituele (mitologiserende) dimensie aan die slot te verleen. Die sterk aanvang en einde en die streng gestruktureerdheid van die bundel is heeltemal buite verhouding tot die chaotiese “ware lewe” waar ons in medias res leef en plaas sterk klem op die intensionele vormgewing (dus raming) van die poëtiese en narratiewe materiaal. Ek haal graag die slotgedig as geheel aan:

villa palmeira, bela-bela

 

by die gastehuis skaar

’n woud palmbome

 

op die lapa se houtdek

mik lense na bo, korrel fyn

tussen pouveerblare in

 

daar is ’n veelheid palmfoto’s

te neem, oraloor: elke denkbare

tabberd se patroon

waaier oop

 

ek klik op een met elegante been

die sirkelrok staan wyd en einagroen

soos penne van ’n ystervark

waag dit net en jy word deurboor

selfs die dadels is te hoog

te trots en styf om

gemelk te word

 

buite die dorp

ruik ek weer karee en laventel

kiepersol en flambojant

 

langs ’n kleintydse waterplas

word my hand ’n blaarholte

en ek drink vir oulaas

uit die drupkrake

van ’n krans

Die semantiese reikwydte van die bundel word verhoog deur die kundige gebruik van simbole en metafore. Simbole en metafore representeer iets wat groter is as die beeld self en wat moet instaan vir woorde, idees, emosies of energieë. Die titel van Joubert se bundel bevat twee van die sterkste, mees antieke en argetipiese simbole, naamlik grond en water.

Grond verteenwoordig die aarde en die aardmoeder self. Dit is ‘n simbool van die vroulike argetipe, omdat dit geassosieer word met lewegewende kwaliteite, oorsprong, vrugbaarheid, groei, moederskap, liggaamlikheid en kreatiwiteit. Dit is die wieg van die mensdom, die mens se woning of huis, sy tuiste (sien p.10). Net soos water, is dit ook een van die elementêre bestanddele waaruit die Grieke geglo het dat alles wat geskape is, bestaan.

Water is eweneens ‘n simbool van die vroulike argetipe omdat dit lewe verteenwoordig. Dit kan verbind word met geboorte (die primordiale vrugwater), vrugbaarheid en suiwerheid (maagdelikheid). Water is die element wat dikwels in skeppingsmites voorkom, die element waaruit alle lewe ontstaan en wat verwant is aan bloed. Die antieke Grieke het die veranderlikheid van water (van vloeistof na vaste stof na gas) ingesien – dus die element van metamorfose. Die Taoisme beskou water as ‘n aspek van wysheid omdat dit die pad van die minste weerstand volg. Dit is eweneens so dat die geheime van die diepste waters selfs tot op hede nog nie verken is nie. Hierdie geheimsinnige aspek van water (as beeld van die persoonlike onbewuste en selfs die kollektiewe onbewuste) word geïmpliseer in die titel “grondwater” wat ook boorgatwater ( sien bv. pp. 20 en 22) en fonteinwater (pp. 45, 54, 105) is. ‘n Belangrike reël in dié verband kom voor in die gedig “rietbos” (p. 20): “ek hang in boorgatwater”. In hierdie betekenisonderskeiding kan water in verband gebring word met die onbewuste wat deur middel van herinnering bewus gemaak word. Hier is die windpomp, wat in verskeie gedigte opduik, die metafoor van herinnering, die fasiliteerder van die geheue wat die water van die onbewuste na die oppervlak bring. Water kom in baie gedaantes in gedigte voor, onder andere as “brakwater” (p. 10); “oog” (p. 11); “waterdroom” (p. 37); “waterspieël” (p. 38); “syferwater” (p. 45); en “watergrond” (p. 83).

Ook twee ander basiese elemente – vuur en wind – kom in die bundel voor: “wie, o, wie stook die vuur se vaart / en waar kom die kole vandaan?” (Uit: “stroomgedig”, p.34). As is ‘n beeld wat met vuur verband hou en wat selfs meer dikwels voorkom, byvoorbeeld in ‘n gedig wat handel oor die digter se afgestorwe moeder met sy verwysing na “die krematorium se vlammesee” en die stelling “haar keel sonder vuur haar lewe / is die stilte van as” (uit: “ek verbeel my”, p. 85-86).

Belangrike temas wat in die bundel voorkom, is die familie, verganklikheid, die skryfproses, herinneringe en intertekstualiteit (bv. met Breyten Breytenbach, pp. 9 en 41; D.J. Opperman, pp. 25 en 81; Louis Esterhuizen, p. 46; T.T. Cloete, p. 55; Elisabeth Eybers, p. 67; en Hennie Aucamp, p. 55. Intratekstuele verwysings na die digter se eie werk kom ook by herhaling voor, pp. 25, 43, 101, e.a.)

Verse oor familie staan dikwels in die teken van die dood, soos dié oor die digter se oom (“ons is dansende vertrouelinge, tartend teen die dood”, p. 14), haar niggie (“die vallei verslik sonder bloedverwant”, p. 16), haar skoonmoeder (“die biografie van ʼn landskap het afgebrand”, p. 18) en haar moeder. Aan die moeder word ʼn hele bundelafdling met 15 gedigte gewy. Belangrike beelde en kodes wat in dié afdeling voorkom, is byvoorbeeld die bekken:

as jy eendag dan móét gaan

sal ek aanhou staar na x-strale

van jou bekken so leeg en so yl

gekaart soos ʼn afgedeelde staat

(Uit: “bekken”, p. 67)

Ook die raam is ʼn belangrike motief in dié afdeling (bv. pp. 70 en 77); vuur en as kom in verskeie gedigte oor die moeder voor (bv. pp. 79 en 86), asook verwysings na liggaamlikheid (“tussen jou heupe dié vakuum / waarin ek lank gelede was”, p. 67) en liggaamlike en geestelike verval (“wie is sy nou, hierdie vreemde ma / met slegs die oorskietlap van geheue?”, p. 68). Een van die mooiste beelde in die bundel haal ek hier ter illustrasie aan:

ek veg verbete teen die kil

verwoesting deur jou lyf.

jou wange bly deurskynend

soos appelliefiedop, jou oë vaal

en dun soos gort.

(Uit: “versorging”, p. 72)

Soos te verwagte, is hierdie afdeling deurtrek met herinneringe en meditasies oor herkoms, identiteit, geboorte, lewe en dood: “die grond bly dors, die son ʼn vuurbees” (uit: “serp”, p. 81).

In aansluiting by ʼn lang digtradisie, kom daar ook in hierdie bundel verskeie ars poëtica-gedigte voor – trouens, ʼn hele afdeling (Afdeling 2, “al die woorde”). Ek moet onmiddellik byvoeg dat hierdie van die sterkste en mees oorspronklike metatekstuele gedigte is wat die afgelope tyd in Afrikaans verskyn het. Soos ek hierbo betoog het, is water in hierdie bundel veral die simbool van geboorte, skepping en lewe en is dit derhalwe nie verbasend dat dié simbool by herhaling in die ars poëtica-afdeling voorkom in kombinasie met of as uitbreiding op die dighandeling nie. Ook die raam kom dikwels in hierdie afdeling voor as heenwysing na die digpraktyk wat spesifieke gebeure of temas uit die “chaotiese lewe” afsonder en dit in nuwe verbande plaas of vanuit ʼn enger raamwerk daarop infokus. ʼn Interessante gedig is “sewe sondes, plus nog een” (p. 31). Dié gedig is ikonies van die digproses deurdat dit konkreet illustreer hoe die digter te werk gaan: Ongeveer nege tiendes van die gedig is doodgetrek en net die essensie het in kursief behoue gebly. Dié essensie lui:

om nog ʼn sonde by te voeg:

die begeerte

[…]

om ʼn gedig te skryf

[…]

… met die alfabet

se koord van verknoopte melodieë

[…]

om die dood as foutlyn uit te wys

[…]

… om die woord

in vertakte papier, asof trefseker

aanhoudend prys te gee –

In die eerste instansie illustreer die uitgekrapte dele van die gedig natuurlik dié prysgawe van die woord. In die tweede plek spreek dié dele egter ook des te sterker saam, en suggereer alternatiewe leesmoontlikhede en betekenisse, byvoorbeeld die gedeelte

om ʼn gedig te skryf, is die begeerte na

narsisme, en die leser met emosie te lei

die begeerte na selfdood met die alfabet

se verknoopte melodieë[.]

In die derde plek illustreer so ʼn gedig die gedurige proses van seleksie en kombinasie (wat kom in? wat moet uit?) wat deel van alle kreatiewe prosesse is. So ʼn gedig illustreer dus die wyse waarop die digter intensioneel betekenis skep – die raam wat doelbewus sekere (betekenismatige) aspekte insluit en ander doelbewus uitsluit.

Dit is in die aard van die resensie om oppervlakkig en sketsmatig enkele kenmerke en temas van ʼn nuwe bundel te verken – dit is die aard van akademiese navorsing om sodanige werke dieper te bestudeer. Marlise Joubert se oeuvre is na hierdie bundel redelik volledig – “grondwater” het inderdaad die geaardheid van ʼn afsluiting – en daarom dink ek dat daar nou ʼn grondige studie van die oeuvre as geheel (of dan tot op datum) onderneem behoort te word. Joubert is inderdaad een van die beduidendste Afrikaanse digters, veral as vrou wat eerlik skryf en sonder om hinderlik politiek en teoreties (feministies) korrek te probeer wees.

Ek sluit die resensie van hierdie uiters verdienstelike bundel af met ʼn gedig oor ʼn gedig (pp. 32-33):

gedig

 

as jy ’n gedig lees

moet jy ’n hoed opsit

sodat die son die woorde

nie doodbrand nie

 

as jy ’n gedig lees

moet jy agteroor leun

gemaklik in jou tuinstoel

gereed vir metafore

 

laat metrum en ritme stuk-stuk

in jou mond drup

totdat jy opeens

’n nuwe broeisel versin

 

wat in ’n oomblik

voor jou oë kom draal

een wat soos ’n naaldekoker

’n areola straal

 

en môre sal jy dalk ’n vlerk optel

van dié vlugtige fantoom

daarna onthou jy net die vreemde niet

waar iets eenmaal glip

 

en jare later terwyl jy mediteer of bid

of onder ’n boom gaan sit

sal ’n naaldekoker soos lint

verby jou spin

 

dán sal jy eers wis dis mos die gesig

in die niet van ’n gedig

wat jy eenmaal gelees het

toe jy nog ’n larwe was

Geraadpleegde bronne:

Johl, J.H. Raamvertelling. In: Cloete, T.T. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr. pp. 414-416.

Lotman, Ju.M. 1981.   Die Struktur Literarischer Texte. München: Wilhelm Fink Verlag.

Van Coller, H.P. 2011. Die representasie van die verlede in verteenwoordigende Afrikaanse prosawerke: Voorstelle vir ’n tipologie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):680–97.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: grondwater (Marlise Joubert)”

  1. Bruce Taylor :

    What an honest and open description of a great work. Well done.

Los kommentaar

 

*