Onderhoud met Nini Bennett (Donkerwerk)

Nini Bennett  in gesprek oor haar nuwe bundel Donkerwerk met René Bohnen

 

Nini, geluk met Donkerwerk, jou derde digbundel. Dit verskyn vier jaar na jou vorige, Boekstaaf. Met die eerste oogopslag, nog voordat enige gedigte gelees is, weet of vermoed die leser dat hierdie twee bundels familie is van mekaar. Die figuur met die hoed se rug is op die leser gekeer (Boekstaaf), maar op die voorblad van Donkerwerk, is die leser skynbaar in visier van die verkyker. Het die vorige figuur omgedraai, of het ons hier te doene met ‘n nuwe figuur, ‘n bespieder van die vorige?  Of betrag die spreker sigself van ver af? Albei kunswerke is deur Liekie Fouché. Vertel asseblief meer oor julle samewerking en oor jou konseptualisering wanneer jy keuses vir ‘n voorblad oorweeg.

Baie dankie, René. Soos in die geval van Boekstaaf het ek Liekie Fouché genader vir die omslagkuns. My lewensmaat, Mellet Moll het my gepols met die konsep van die terugkerende figuur met die bolkeil wat met ’n verkyker as’t ware binne-in die leser inkyk. Met die resepsie van Boekstaaf het ’n resensent die verwagting uitgespreek dat die figuur (wat hy onder meer geassosieer het met David Friedrich se “Wanderer above the sea of fog” (1818), ook die mistieke blou ruimtes in ’n volgende bundel mag verken). Die figuur kan gesien word as ’n bespieder van die vorige, ’n beeld wat geaktiveer word deur die inleidende motto van Jung: “One does not become enlightened by imagining figures of light, but by making the darkness conscious…who looks outside, dreams; who looks inside, awakes,” soos jy tereg in die volgende vraag noem. Die vergestalting en sigbaarmaking van poësie vanuit die duisternis na die lig is inderdaad ook ’n tipe inkyk, ’n binneblik op die leser. Voorts vind ek aanklank by die surreële verbandlegging met Magritte se werk.

Die motto voor in die bundel verwys na ʼn bekende en sentrale konsep van die psigoanalis C.G. Jung: “One does not become enlightened by imagining figures of light, but by making the darkness conscious…who looks outside, dreams; who looks inside, awakes.” Absoluut oorvereenvoudig verwys dit na self-erkenning teenoor die ontkenning of verberging van eie letsels. Jung het beweer dat elke mens ʼn psige-skaduwee het, wat skadelik is as dit verborge bly. Meer nog, het hy aangetoon dat ʼn verborge skaduwee kan lei tot werklike kollektiewe boosheid.

Het jy die bundel gekonstrueer met die gedagte dat daar lig te vinde is in die donker? Of het jy aanvanklik beplan om diepgaande donkerte aan die kaak te stel? Natuurlik werk digters dubbelsinnig en kan hier ook telkens verwys word na nagwerk en selfs nagwerkers, soos Dracula. Gesels oor donker en donkerte, Nini, waar ontmoet vrees en die lig mekaar? Waar staan die digter?

Duisternis in alle fasette fassineer my al ’n geruime tyd. Ek het ook gemerk dat my nagsig om die een of ander (duistere!) rede die afgelope paar jaar aansienlik verbeter het, terwyl my oë algaande meer ligsensitief begin raak het. Dit net terloops. Maar, om jou vraag te antwoord: Donkerwerk het uiteraard twee betekenisse. Donkerwerk is konkelwerk, lui die idioom. Die tweede betekenis dui op donker materie in die kosmos. Laasgenoemde beslaan na beraming 84 % van die totale materie in die heelal; en hierdie donker is óók ’n knoeifaktor, dit kan nie met teleskope waargeneem word nie. Origens dui donkerwerk op genoemde konkelwerk/knoeiwerk met taal en dit sou die digter se kunsgrepe met taal kon impliseer – iets van ’n vervreemdende werklikheid. Donkerwerk kan ook gesien word as metafoor vir dit wat ongesê, nie-waarneembaar, of verborge of geheim bly; dit wat op mistieke of intuïtiewe vlak aan die leser geopenbaar word. Donker impliseer uiteraard sy binêre opposisie, lig. Donker is nodig om die lig te definieer, en vice versa. Daarom handel baie gedigte oor lig, of oor die geheim van lig, byvoorbeeld “Imago”. Ek het die bundel gekonstrueer met die gedagte dat daar lig te vind is in die donker, om deur stylfigure van kontraswerking ook die gedaantes van lig te mag verken. Die gedigte sluit uiteraard ook nagwerkers en randfigure soos Dracula, die inbedding van Gotiek en mistieke ruimtes in.

Verkyker, teleskoop, mikroskoop. Die instrumente van kyk. Dit val my op dat die digter ʼn verhoogde belangstelling in die natuurwetenskappe toon. Telkens word sodanige begrippe liries en melankolies toegepas. Hoe bou jy die brug tussen die digter as kliniese waarnemer-boekstawer en die digter as emosionele wese?

Dit is ’n spontane proses. Ek probeer deurlopend analities sowel as intuïtief te werk te gaan (dit werk eintlik in tandem), met ander woorde ek maak ’n deeglike studie van my onderwerp vanuit ’n natuurwetenskaplike oogpunt alvorens ek ’n digterlike bestekopname daarvan doen. Nee, ek doen nie wetenskaplike navorsing nie – ek het nie formele hipoteses nie en staan ook nie met ’n wit jas in ’n laboratorium nie (maar wens ek kon). Ek lees egter so wyd as moontlik oor ’n nuwe vonds, bestudeer video’s en dokumentêre films oor die onderwerp, ensomeer. My ervaring is dat die wetenskappe nié in opposisie teenoor die mistieke staan nie – inteendeel, daar is ’n verwantskap. Die enigmatiese omlyn die empiriese; die mistieke gaan aan waar die wetenskap ophou. Met die skryf van “Sort Sol”, oftewel ‘die swart son’, (die verskynsel wanneer duisende spreeus tydens sonsondergang in sierformasies vlieg) het ek besef hierdie ‘murmurations’ laat ornitoloë steeds met tergende vrae, alhoewel hulle kon aflei dat die reuse swerms ewolusionêr ’n afskrikmiddel vir ander gevleueldes is, en dat dit spreeus se getalle bestendig. Aasvoëls is op hulle beurt ’n bedreigde spesie en een van die belangrikste opruimers op die planeet, óók op spirituele vlak as hulle tydens Tibetaanse lugbegrafnisse die kadawers reinig en stroop van ou karma. Nog ’n voorbeeld waar die enigmatiese en die empiriese versny.

Jou werk is besonder ryk aan metafore. Hoe berekend is die digproses vir jou? Hoe beplan en bou jy die bundelgeheel in jou laboratorium van kyk?

Die ontstaan van ’n gedig is gewoonlik ’n visuele prikkel of impuls; en hierdie prikkels brei op makroskaal uit na ’n bewuswording van die interafhanklikheid tussen dinge wat vertak na (skynbaar) disparate verbande, want op ’n nie-sigbare vlak is alles wat leef op die een of ander wyse metafories aan mekaar verwant. Ek beplan soms gedigte, maar baie gebeur spontaan. Ek het byvoorbeeld nie my reëngedigte beplan nie. Dit is een ding om oor ’n droogte te lees, iets geheel anders as om met ’n laaste emmer gryswater in die hand te staan. Jy voel die droogte aan jou lyf. Terwyl ek werk en deurlopend die groter geheel in gedagte probeer hou (die indirekte bundelnarratief), bly alle gedigte ook tydelik onder konstruksie, aangesien heelwat in die snippermandjie beland of ’n herskrywing vereis. Die gedigte oor kamoeflering en mimikrie onder diere wat eindelik uitspeel as tipe teater van die liminale, het ek beplan. Die gedigte morf met ander woorde in ’n simbiose van beplanning en spontane ingewing. In die geval van prosa – kortverhale en sketse – werk ek veel méér berekend as met gedigte. Die woord ‘teks’ is verwant aan die Latynse ‘texere’, wat beteken ‘om te weef’. Dis maar baie ’n geval van “begin to weave and the Divine will provide the thread”. Of, soos Ingrid Jonker gesê het: Skryf is ’n daad van geloof. Binne die rubrisering van die vyf dele in Donkerwerk spil die verse rondom hulle tematiek, maar vertak ook oorkruis na mekaar, soos die magneetvelde en ley-lyne in “Labirint” (p. 7).

Die bundeltitel verskyn in die gedig op bladsy 2, “Genus” en is ook die titel van die gedig op bladsy 21 Donkerwerk. Die leser se belangstelling is geprikkel, veral ook omdat die “ons” en die “ek” en “jy” wat spreek en aangespreek word nie voor die handliggend is nie. Wat aanvanklik soos ʼn liefdesvers lyk, vermorf ook na ʼn moontlike gesprek met die Self. Hoe hou hierdie gedigte met mekaar en die bundel verband? Ek plaas graag albei:

Genus

.

Ons is die geveerde begeerte

van swaartekrag; swerfklip

se sleur in valleie

van verlatenheid. Ons leef,

die stamlyn van sterre

weinig meer

as organismes wat in die kelders

van ou vulkane voed. Ons dring

dieper as die oseaan se mantels

deur die sonlig- en skemer

en digter as die middernagstreke vóór

die abissale vlaktes

die donkerwerk

van Hades binnegaan. Ons is

stofnaam; weinig meer.

.

en op bladsy 21:

.

Donkerwerk

.

dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer

opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer

en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe

dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie

wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou

gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers

dat ek ’n alleenloper is soos jy

en dat ek jou liefhet, sodat ons saam

alleen kan wees

dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige

eensaamheid van spieëls, die stil uitroep

van rimpelings in water

dat ek jou liefhet

my skaduwee, my donker kameraad

my beskermer en my bedreiger

dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen

of die geheim van ’n telefoonhokkie, die rugkant

van gesprekke skugter vorentoe gebuig:

om na jou te verlang

is om na die verlange self te verlang

.

Die gedigte belig verskillende fasette van donkerwerk, maar hou nie noodwendig verband met mekaar nie. In die gedig “Genus” word daar onder meer na die sones van die oseaan gekyk; die leser daal as’t ware 11 000 meter onder die seevlak áf teen die vastelandhelling, op pad na die hadalpelagiese sone, oftewel die diepsee met sy bentoniese trôe (ook Hades genoem). Dit is waarskynlik een van die onherbergsaamste en donkerste plekke op aarde: navorsers kan dit nie daar waag nie – as gevolg van die geweldige waterdruk sal die liggaam van ’n mens inplof. Op die seebodem woon skrikwekkende en wonderlike gediertes sonder oë, bleek, maar met sintuie wat aan dié van ekstraterrestriële wesens herinner. Die gedig signaleer waarskynlik iets van die oer-credo van die nietigheid van die mens teenoor die grootsheid van die skepping. En die spel met stof/stofnaam, met die mens as weerlose kollektief, ontuis en vervreem van sy aardse woning. Met die liefdesgedig, Donkerwerk maak jy die interessante stelling dat die liefdesvers vermorf tot ’n gesprek met die Self. Dit is inderdaad ’n moontlikheid. Maar dit kan ook dui op verlange en vrees vir die geliefde, die verskillende Janus-gesigte van die liefde, die skadukant van ’n liefdesverhouding. Die digotomieë van die liefde en die gepaardgaande smet van die menslike kondisie. Dit is oop vir interpretasie en dis vir die leser om daaruit te neem wat hy wil.

Nini, jy is eintlik ʼn bekroonde skrywer in meer as een genre. As kortverhaalskrywer het jy groot sukses behaal en jy is ook bekend as interessante blogger. Verkies jy enige genre bo die ander? Watter kruisbestuiwing vind moontlik tussen die genres vir jou plaas? Is die gedigte saadjies vir die kortverhale, of vervaag grense in die organiese proses?

Verder stel ek ook belang in die timbre van jou algehele oeuvre tot op hede. Die leser vermoed ʼn skerp analitiese brein, aangetrokke tot geheimnisse, dikwels die afwykend-kriminele en soms selfs die makabere.  Vertel gerus breedvoerig!

René, ek wens ek kon vir jou ’n klinkklare en eerlike antwoord gee, maar ek is nie seker nie – ek vermoed ek is die een of ander hibried. Iets van beide, dalk. Ná Donkerwerk het ek weer begin kortprosa skryf. Dit het ’n rukkie geneem om gewoond te raak aan vertel – ’n gedig is ’n ding wat stadig en staties groei, soos ’n kristal. Kortverhale beweeg en soek momentum. Ek het, om die aanvanklike gebrek aan beweging te oorkom, letterlik begin stap om die storie los te skryf of raak te sien. (Soms stap ek ver vir ’n storie en neem klanknotas op my selfoon se bandmasjien, of maak aantekeninge in my foon se Notepad-funksie.) Met prosa voel ek minder kwesbaar as met poësie. Byvoorbeeld: as iemand my ontstel, dan kan ek daardie persoon verreken teen ’n fiktiewe karakter of werklikheid. Ek wissel die twee genres af na gelang my gemoedstoestand. Soms daag ’n intrige ongevraagd op en vra om neergeskryf te word. Om prosa en poësie gelyktydig te bemeester, vereis die balans van ’n bergbok. Ja, die lewe is absurd en waansin is nooit ver nie. Ek vermoed party mense het ’n natuurlike aantrekkingskrag tot die makabere en groteske, en nie almal herken dit, of is ontvanklik daarvoor nie. Ek het my nering as kriminoloog jare gelede prysgegee, maar nooit my belangstelling in misdaadverwante verskynsels verloor nie. Ek werk op die oomblik aan moordverhale; nié die tipe populêre fiksie met ’n speurder en skelm nie, en om dan vraag 2 hiér te antwoord: ek poog met laasgenoemde verhale om die diepgaande donkerte aan die kaak te stel. Om die moordverhaal uit sy kussings te lig en te transponeer na ’n (meer) literêre medium, sou dit moontlik wees. Eindelik, in restrospeksie, vervaag die grense tussen genres in die organiese skeppingsproses.

Myns insiens het ons in Donkerwerk veel minder met buitestanderskap te doene as in Boekstaaf. In albei bundels kom voëls, vlerke, vlieg en vlug egter heel dikwels voor. Uit ʼn Jungiaanse oogpunt beskou, het ons te make met simboliek van die siel en met vryheid. Ek vermoed egter méér en veral meervlakkig, by die digter Nini Bennett. Sien ek ornitologie? Soeke na ʼn vryheidsbegrip? Of is dit nog iets anders ook?

Daar is ornitologie en ’n soeke na vryheid. Ek het ook geskryf oor die trekduif, Martha Washington (so vernoem na die presidentsvrou) wat in 1914  in die Cincinnati Diere- en Botaniese Tuin uitgesterf het. Hierdie duifsoort, Ectopistes migratorius, was eens op ’n tyd ’n geil bevolkte spesie van ongeveer 5 miljard duiwe. As gevolg van die industriële rewolusie en ontbossing, en gevolglike verlies aan habitat, is dié duif tragies en deur die toedoen van die mens uitgewis. Martha het 29 jaar oud geword, ’n hoë ouderdom vir ’n duif. Haar laaste dae is goed gedokumenteer deur wetenskaplikes, en al wat oorgebly het van ’n eens glorieryke spesie was die opgestopte spesimen van Martha, ’n fossieleier, bandopnames van die duiwe se sang en stukke onvoltooide navorsing. Hierdie uitgestorwe duifsoort het my bewus gemaak van ekologiese broosheid en van bloedlyne wat bly voortbestaan, aldan nie. Die gedagte aan mortaliteit en die trekduif, Martha, het voorts verse rondom ’n vrou se kinderloosheid geïnspireer, ’n ánder vorm van ekologiese kwesbaarheid.

Films en musiek speel ʼn deurlopende rol in jou digkuns. Jy slaag daarin om soms in kort verse ʼn uitklophou toe te dien, na aanleiding van beide. ’n Treffende voorbeeld vind ons op bladsy 74. Hoe bind jy die sintuiglike ervarings tot een kragtige emosie? Vertel van jou passie vir musiek, jou kennis van films.

Welkom in Sarajevo

Na die film, 1997

.

’n Man speel tjello tussen

die puinhope van Sarajevo.

Daar is niks so stil soos

’n slagveld ná ’n oorlog nie.

Die gesigloses, die bouvalle,

die bloedige flettervure, ja,

selfs die kwartels luister na

Albinoni se Adagio.

Die harpuis se snykant vlym.

Eindelik speel die man

die stomviool van die lewe.

Daar is niks so inheems

soos ’n begraafplaas nie.

Die stryker wond die swye;

’n lykdig wat om ’n amen vra.

.

Ek en Mellet het ’n digitale filmoteek van ongeveer vyfduisend films, en ons musiekversameling beslaan oor die agtienduisend albums. Tog, te midde van soveel te kus en te keur as idees vir poësie, kom meld sekere tonele en musiek hulself aan as boustof vir nuwe gedigte. Ek is werklik lief vir beide genres en sien musiek en filmkuns as ’n verlengstuk – of matrys – vir potensiële verse. Hier geld geen voorafbeplanning nie; die poëtiese snellers sal wel arriveer. Dit is normaalweg ’n gewaarwording, ’n oomblikflits wat sy opwagting maak diep uit die donkerkamers van die onderbewussyn. Alle kuns is familie van mekaar. Wanneer ek skryf, luister ek na klassieke musiek of Gotiese musiek, afhangend van die stemming. Soms probeer ek die atmosfeer van ’n song kaap. Ek luister ook na musiek met ’n verteerbare ritme (‘beat’), sou die vers wat ek skryf, wel ’n sekere metriek vereis. ‘Sagte’ Goth het sulke ritmes. Met die skryf van Donkerwerk het ek baie na Rachmaninoff geluister, maar ook na neo-klassieke musiek, soos epiese musiek en trailer music. My musieksmaak is uiteenlopend en divers. Ek kyk graag na ’n wye korpus films, maar vind die inkleding van veral Andrei Tarkovsky en Terrence Malick se films inspirerend – dit beweeg soos vloeibare poësie. Musiek is baie persoonlik, later word dit deel van jou en kan jy dit enige tyd in jou binne-oor herroep en luister. Soortgelyk aan sekere filmtonele wat eindeloos in die teater van die verbeelding bly afspeel.

Ek wou nog vra oor die vele Duitse elemente wat ek deur die jare telkens in jou gedigte opmerk. Soms is dit figure, soms musiek, soms direk die taal, soos “Im Abendrot” in Donkerwerk, byvoorbeeld. Het jy ʼn Duitse agtergrond? Duitse studies agter die rug?

Ek het Duits as vak op skool en universiteit geneem en sederdien ’n liefde vir Duitse letterkunde ontwikkel (ook die Duitse kortverhaalkuns wat vir my persoonlik uitstaan bó hulle Europese tydgenote). Van die eerste invloede op my jong skrywersgemoed was dan inderdaad dié van Duitse skrywers, digters en dramaturge. Op skool het die Duits-onderwyseres vir my boeke van Friedrich Dürrenmatt, Günter Grass, Wolgang Borchert, Thomas Mann, Hermann Hesse en ander gegee, asook armsvol Duitse tydskrifte om my woordeskat te help uitbrei. Dit was ’n ontdekkingsreis! Dekades later kan ek nog daardie invloede en kennis herroep; dit het onaangeraak deur die lewe iewers bewaar gebly. ’n Tweede tema wat my boei, is die Tweede Wêreldoorlog (en uiteraard Duitsland se aandeel daarin). Daar is altyd nóg ’n fokale punt, ’n verhaal, ’n perspektief, ’n vergete anekdote iewers: die stories rondom WO II sal nooit uitgeskryf raak nie.

Gebrokenheid en wonde is aan die orde van die dag in ʼn bundel wat Carl Jung in die motto het. Aangrypend is dan die kort gedig op bladsy 72

Die gedroomdes

Bachmann aan Celan

.

Ons is net

fragmente in die donker.

Klee my met jou naaktheid,

want ek kan nooit weer heel.

.

Verduidelik asseblief die interteks, Nini, asook die begrippe hoop en hopeloosheid in jou bundel.

Ek het ’n ruk gelede ’n boek bestel: Correspondence. Ingeborg Bachmann and Paul Celan (2010). Dit handel oor die liefdesverhouding en briewewisseling tussen die Roemeense en Joods-gebore digter, Paul Celan en Ingeborg Bachmann, die dogter van ’n Nazi-partylid. Ek het ook dokumentêre films oor dié komplekse en intense verbintenis tussen hierdie Duitse digters gekyk: en wat ’n verstommende stukkie geskiedenis van twee intellektuele wat probeer sien maak uit die chaos van die lewe ná die Tweede Wêreldoorlog! Celan se familie is dood in ’n strafkamp – en Bachmann, op haar beurt, het gebuk gegaan onder ’n enorme ideologiese skuldbesef. Beide was lede van die Gruppe 47, ’n literêre beweging wat hulle onder meer beywer het vir Trümmerliteratur (“rubble literature”), wat op sy beurt in opstand gekom het teen die arrogante, militêre en kanonieke Duits van die dag en ’n minimalistiese en gestroopte taalgebruik bepleit het as deel van ’n versoenende ná-oorlogse bewussyn. Die simbool van vuur is prominent in Bachmann se poësie. Só skryf sy byvoorbeeld lank voor haar dood: “Mit meiner verbrannten Hand schreibe ich über das Wesen des Feuers” / “I am writing with my burnt hand about the nature of fire.” “Die gedroomdes” wat jy hier aanhaal, volg op die gedig “Lied van die bomkraters (Celan aan Bachmann)”, as deel van ’n gesprek tussen Celan en Bachmann. In “Lied van die bomkraters” kry die beginsel van vuur, soos genoem, momentum aan die hand van vuurkruid wat in bomkraters groei. Vuurkruid is een van die kragtigste plante op aarde; dis ’n pionierspesie wat letterlik uit as en klip kan opstaan, wat die grond genees van trauma (soos ontploffings), en die weg baan vir nuwe lewe, vir vegetatiewe groei. Ironies genoeg – en amper soos ’n selfvervullende profesie – het Bachmann sélf in ’n brand gesterf. Sy was verslaaf aan barbiturate en alkohol en het aan die slaap geraak met ’n sigaret en só haar woonstel aan die brand gesteek. Die twee gedigte figureer as ’n spel tussen hoop en wanhoop (verwoesting, bomontploffings) en die genesende vuurkruid, terwyl die aangehaalde gedig iets van die verwonding probeer oordra; nederig en minimalisties, soos die na-oorlogse diskoers.

Jou verwysingsveld is wyd. Van die mooiste verse verhef nederige wesens tot konings en keisers – ek dink byvoorbeeld aan die purperslak. Ek wil egter nie te veel weggee nie, die lesers moet met afwagting die bundel oopslaan! Bespeur ek ʼn volgehoue bewondering by die spreker, Nini, of is die afstandelike voyeur met die verkyker besonder woordbehendig? Watter gedig sou jy kies om my sarsie vrae mee af te sluit? Dankie vir weldeurdagte antwoorde, mag die bundel deur vuur en wind reis na ʼn helder ontvangs.

Baie dankie, René. Ja, ek is en bly in verwondering oor dinge. Om ’n nuwe tema of onderwerp te ontdek, is seker soortgelyk aan ’n kind se soektog tydens ’n skattejag. Maar ek verkies om ’n waarnemer te bly, om te eksperimenteer met verskillende maniere van fokus – en om die lense deurentyd te toets en te verstel.

L’envoi  

 

Dat die sensitiefste

van alle diere

tot boodskapper bestem is:

My duif is die spioen

van seevaarders, haar stertvere

hang teen die Botsende Rotse

en sy sweef deur smal seestrate,

die gesant van die Goue Vlies.

My duif is die verspieder

van gode, sy keer terug

met ’n olyfblaar, want die land styg

sigbaar en groen. My dapper duif,

die skip Argo en die ark weet ―

vlieg hoog oor die skeurwonde

van rotse, word deel

van die wolke, die verdwaalde hemelvaart

van wolke.

.

Dankie vir ’n lekker onderhoud en prikkelende vrae.

.

Die bundel kan bestel word by www.naledi.online,  of skakel Tertia Swart by 078 648 8616 (tertiaswart@naledi.online).

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*