Wicus Luwes. As die hoed jou pas

Ek is nie geheel en al gekant teen ander mense se vlooie en luise nie. Daar is sekerlik ‘n saak te maak vir ander mense se vlooie en luise, maar ek is nie seker of ek die aangewese persoon is om daardie saak te maak nie. Ek dink dat dit eerder ‘n geval van oordrewe liefde vir my eie luise is. By geleentheid moes ek die rekenaarbedrading by ‘n konstruksie area gaan inspekteer. Omdat ek nie ‘n veiligsheidshoed gehad het nie, het die voorman ‘n veiligheidshoed uit harde plastiek aan my oorhandig om te dra. Terwyl ek dit wou opsit, het my kollega my arm gegryp en gefluister: “As jy vlooie wil hê moet jy daardie hoed opsit.” Ek het toe maar met die hoed in my hand rondgeloop tydens die besoek.

Ons dra daagliks ‘n hoed wat deur iemand anders aan jou gegee word. Soms is dit ‘n hoed wat van geslag tot geslag oorgeërf word. Ander kere is dit ‘n hoed wat jy by ‘n vriend gekry het. ‘n Avontuur is nie ‘n behoorlike avontuur sonder ‘n argeoloog se Indiana Jones-hoed nie. Wat is ‘n feëverhaal sonder ‘n kroon of ridder se helm? Selfs die sport waaraan ons deelneem word dikwels met gholfkeps of ‘n Hansie Cronjé-hoed afgerond. Die hoed werk amper soos die maskers wat ons dra, maar ons kruip nie gewoonlik onder (of agter) ‘n hoed weg nie.

Ek het ‘n week of drie gelede TV gekyk terwyl die klank baie sag gestel was. (‘n Mens kan steeds die nuus volg, sonder om te hoor wat hulle sê. Ek geniet die nuus eintlik meer op daardie manier, want jy kan jou eie storie skep.) Daar het ‘n man op die skerm verskyn met ‘n droë stuk landbougrond in die agtergrond. Hy het een van daardie materiaalhoedjies opgehad. Dit het amper soos die kommando-hoedens van ouds gelyk, maar hierdie was ‘n blou hoed. Dit was ‘n verbleikte blou hoed. Die man het die hoed in die middel van die onderhoud afgehaal en jy kon sien dat hy daardie hoed feitlik daagliks dra, want die son het ‘n lyn oor sy voorkop getrek en net die onderkant van sy voorkop was ingekleur. Die man het die materiaalhoed opgerol en teen sy bors gedruk. Dit was nie moeilik om af te lei waaroor die berig of onderhoud gehandel het nie. Die hoed het my alles van die droogte vertel.

Ek het kontak gemaak met ‘n paar digters wie se gedigte in Nuwe Stemme 6 gepubliseer is. Die gedigte van ongepubliseerde digters word in Nuwe Stemme uitgegee. ‘n Hele aantal digters het al Nuwe Stemme gebruik as vastrapplek om (met valhelm) die lewe van ‘n digter aan te pak – sonder die oefenwiele. Ek wonder watter hoed die beste by ‘n digter sou pas. Die digter dra dikwels meer as een hoed, maar op ‘n manier steek daardie digtershoed mos maar altyd onder die ander hoed uit.

Aan die agterkant van die Nuwe Stemme 6-bundel is daar ‘n kort biografie van die metaforiese hoedens wat die digters al gedra het en steeds dra. Ek deel graag drie van die digters se hoedens met jul:

Marthe McLoud het al die hoed van maatskaplike werkster gedra. Marthé het na ‘n kostuumplek gegaan om ‘n paar hoedens aan te pas.

Marthé McLoud in ‘n flaneur-hoed

Marthé in haar humor-hoed

Kyk, my asem vloei weg

Sal jy nog vir my liefdesappels voer
noudat die grond onder my meegee,
die almanak skeur,
my dae aan repe hang?

Sal jy nog met my sekelmaan lê
noudat grys duiwe
in my hare nesmaak,
my spatare soos blaarskelette lyk?

Sal daar nog bloeisels in jou hande wees
noudat boomrimpels
om my mond kring
en ek skuifelbeentjie stap?

Kyk, my asem vloei weg
soos dun heuning
uit ‘n fles

Wanneer my oë verstar en splinterbreek
gaan ek my neerlê in die reuk
van verlepte blomme:

Daar waar jy al jare vir my wag.

 

-deur Marthé McLoud uit Nuwe Stemme 6

 

Elna van Niekerk het al die hoed van filosofie-lektor op ‘n tyd gedra. Sy het ook al die hoed van busbestuurder en navorser gedra.

Elna van Niekerk

 

sarkofaag

miskien is dit in hierdie huis
wat ek sal doodgaan:
stik aan ‘n appel
om ‘n lemveeg bloed

die dood is ‘n anti-
klimaks,
maar die lyf mak soms
‘n laaste orgasme na

              soos in sepies en violent movies

ek weet klaar:
dit sal net so stil wees,
soos nou.

 

-deur Elna van Niekerk uit Nuwe Stemme 6

Hannes Visser

Hannes Visser het laat weet dat hy nie ‘n hoed besit nie. Hannes het al voorheen die hoed van ‘n onderwyser gedra. Tans dra hy die hoed van ‘n redakteur by ‘n koerant. Iets om na uit te sien: Hannes se bundel, ‘Die jaar toe Pa…’ verskyn eersdaags by Naledi-uitgewers.

Donderdag 5 Januarie

pa kap ‘n bordjie in
op die pavement
voor die huis
for sale

antie rosie van oorkant
bel ma by die werk
jy moet kom, piet verkoop jou huis

pa sê hy koop ‘n plaas met perde
ma sê jy’s mal
welders op die myn
koop nie plase en perde nie

pa sê fokkof ek weet
toe kom die dokter met ‘n
swart tas in ‘n swart ford

oom swanepoel bring die
dominee met blink kop
hy bid vir pa se drink en sy suiker

fokkof skreeu pa los my uit
ma huil en antie rosie gee vir my
rooi kool-aid en blinkpapierbiscuits
toe almal loop

 

-deur Hannes Visser uit Nuwe Stemme 6

Daar is ‘n paar ikoniese hoedens in die geskiedenis vasgevang. Napoleon het sy Bicorne gehad, Jackie Kennedy het haar pilbokshoed gehad. Theodore Roosevelt het die Panamahoed bekend gemaak en Paul Kruger het sy uitrusting met ‘n kuil afgerond. ‘n Goeie kunstenaar hoef slegs Sherlock Holmes of Robin Hood se hooftooisels te teken om iemand aan die karakters te laat dink. Die vraag is dus of ‘n hoed ‘n verlengstuk van die mens kan wees of miskien kan word.

Daar is ‘n straatmusikant wat gereeld buite my woonbuurt se kruidenierswinkel sit en kitaar speel. Hy is ‘n gekwalifiseerde masjienoperateur en vurkhyserbestuurder. Hy vertel my dat hy nie meer CV’s uitstuur nie. Hy het moed opgegee en sal slegs weer CV’s stuur as hy van ‘n spesifieke geleentheid te hore kom. Sommige dae speel hy saksofoon en sit op twee bakstene. Hy wissel die kitaar en die saksofoon af. ‘n Mens kan ‘n munstuk of twee in sy kitaarsak gooi as jy iets vir hom wil gee. Wanneer hy die dag saksofoon speel, is die kitaarsak nie byderhand nie. Op sulke dae gooi mens sommer jou oortollige muntstukke in sy hoed.

Bookmark and Share

Comments are closed.