Wicus Luwes. Die bekoring van bouvalle en ruïnes

Ek word bekoor deur plekke wat leegstaan. Miskien moet ek dit anders stel: Sonder inhoud, maar tog nie regtig leeg nie. Daar is baie sulke plekke rondom ons. Plekke wat deur vure verwoes is of plekke wat in die vagevuur van afgestorwe boedels se fynskrif toegesluit staan. Terwyl die horlosie se wysers draai en die kalendermaande een na die ander afgeskeur word, staan hierdie plekke en wag. Hulle wag op die lewe wat eens deur hul gevloei het.

Bo: Foto’s van ‘n bouval in Midrand (Foto’s met toestemming van die fotograaf, Candice Brophy, geplaas.) Die brand van die grasdak, het die einde van hierdie huis beteken.

 

Sondagmiddag

die ruïne waar ek en jy rondkrap
een Sondagmiddag, lustelose honde, ná
die middagmaal (die mense slaap in die huis)
oplaas moeg gebaklei, versigtig die woorde
wat ons kies, tingerige sinne, geluide eintlik
maar om mekaar oor stilte se rand
te help, op so ‘n Sondagmiddag, die ruïne
op julle plaas: ag, ‘n blote bouval eintlik
‘n huis sonder herinneringe, net fondasie
en halwe mure wat nog staan, jare gelede
al tot toeval en stof gedoem: tussen
klippe kry ek die geraamte van ‘n akkedis
en wonder of ek en jy dan so voorspelbaar
soos ‘n Afrikaanse liefdesgedig is, en jy maak
‘n stok tussen ‘n paar bakstene staan:
dit was seker ‘n vuurmaakplek
‘n oorstaanplek een nag
skaars wegkruipplek

– deur Desmond Painter uit ‘Nuwe Stemme 5’ (Tafelberg:2013)

Bo: In Hillbrow

 

 

huise. melville/weltevredenpark

in elke vertrek
sien ek ‘n optekening
van ‘n skerf geskiedenis
om soos ‘n afgesplinterde geen
iewers vas te kleef –

‘n portret of meubelstuk wat weinig

vooraf verraai
en niks daarna

want alles is maar slegs
‘n bietjie brood en suiker
lank gelede uit my huis
vlytig soos miere aangedra
na die eerste eie nes –

wie weet
op ‘n dag moet dit ‘n blom word oor ‘n wond
op ‘n dag word dit ‘n duif in ‘n leë kamer
‘n blaar se drif op die wind
deur uitsiglose vensters in ‘n buurt

selfs hier

nog steeds

sal ek oor die merke
van my lessenaar streel en dink:

hier het my vader gesit

en hier
het sy hand gerus

– deur Marlise Joubert uit ‘bladspieël’ (Human & Rousseau:2015)

Bo: Johannesburg Algemene Hospitaal

 

Ons drome van gister
Word somber en sinister
Want kyk alles het ‘n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke
Maar die slopers is betrokke
En ons drome is bloot skadu’s teen die muur

– deur Koos du Plessis uit ‘Skadu’s teen die muur’

 

Bo: Kempton Park Hospitaal

Die foto’s vang slegs ‘n klein gedeelte van die bekoring vas. Dit vang die leegheid wat nooit werklik leeg is nie tussen die mure van die bouvalle en ruïnes vas. Die kaggel brand steeds, al is dit net in ons gedagtes. Die kinders speel en die kos word steeds in die kombuis gemaak. Dit resoneer en herinner ons aan die bouvalle en ruïnes wat ons in ons drome besoek. Die bekoring lê eintlik in die dinge wat was en die dinge wat weer kan wees. Die bekoring lê in die bouvalle en ruïnes van ons gedagtes.

Bookmark and Share

Comments are closed.